Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 87

Beplan vooruit – Gebruik praktiese wysheid

Beplan vooruit – Gebruik praktiese wysheid

LUKAS 16:1-13

  • ILLUSTRASIE VAN DIE ONREGVERDIGE BESTUURDER

  • ‘MAAK VRIENDE’ DEUR JOU RYKDOM

Die illustrasie van die verlore seun, wat Jesus so pas vertel het, moet die belastinggaarders, skrifgeleerdes en Fariseërs wat luister, laat besef dat God bereid is om sondaars wat berou toon, te vergewe (Lukas 15:1-7, 11). Nou praat Jesus met sy dissipels. Hy gebruik hierdie keer ’n ander illustrasie oor ’n ryk man wat uitvind dat die bestuurder van sy huis nie reg opgetree het nie.

Jesus sê dat die bestuurder daarvan beskuldig word dat hy sy meester se huishouding swak bestuur het. Daarom sê die meester dat die bestuurder nie meer sy huis sal bestuur nie. Die bestuurder wonder: “Wat gaan ek doen? Want my meester gaan my nie meer toelaat om sy huis te bestuur nie. Ek is nie sterk genoeg om te spit nie, en ek is te skaam om te bedel.” Hy wil voorbereid wees op wat kom en sê vir homself: “Ek weet wat ek sal doen sodat mense my in hulle huise sal verwelkom wanneer ek nie meer die bestuurder is nie.” Hy roep onmiddellik dié wat sy meester iets skuld en vra hulle: “Hoeveel skuld jy my meester?” – Lukas 16:3-5.

Die eerste een antwoord: “Honderd maat olyfolie.” Dit is omtrent 2 200 liter olie. Die persoon het dalk ’n groot olyfboord gehad of handel gedryf met olie. Die bestuurder sê vir hom: “Neem jou skuldbewys terug en gaan sit en skryf gou 50 [1 100 liter].” – Lukas 16:6.

Die bestuurder vra vir ’n ander een: “En jy, hoeveel skuld jy?” Hy antwoord: “Honderd groot maat koring.” Dit is omtrent 22 000 liter. Die bestuurder sê vir hom: “Neem jou skuldbewys terug en skryf 80.” Hy verminder die skuld dus met 20 persent. – Lukas 16:7.

Die bestuurder is nog steeds in beheer van die meesters se finansiële sake, en daarom het hy nog steeds die gesag om sulke skuld te verminder. Deur die skuld te verminder, maak die bestuurder vriende met dié wat dalk vir hom ’n guns sal doen nadat hy sy werk verloor het.

Later vind die meester uit wat gebeur het. Al was die bestuurder “onregverdig” en het hy vir die meester ’n verlies veroorsaak, is die meester beïndruk met hom en prys hy hom omdat hy “met praktiese wysheid opgetree” het. Jesus voeg by: “Die kinders van hierdie wêreld is in ’n praktiese opsig wyser teenoor mekaar as die kinders van die lig.” – Lukas 16:8.

Jesus veroordeel nie die bestuurder se metodes nie, en hy moedig mense ook nie aan om slinks op te tree wanneer hulle besigheid doen nie. Wat is dan sy punt? Hy spoor die dissipels aan: “Maak vir julle vriende deur middel van die rykdom van hierdie onregverdige wêreld, sodat hulle julle in die ewige woonplekke sal ontvang wanneer hierdie rykdom wegval” (Lukas 16:9). Ja, Jesus leer mense hier dat hulle vooruit moet dink en praktiese wysheid moet gebruik. God se knegte, “die kinders van die lig”, moet hulle geld en besittings verstandig gebruik, met die ewige toekoms in gedagte.

 Slegs Jehovah God en sy Seun kan iemand ontvang in die hemelse Koninkryk of in die Paradys op aarde onder daardie Koninkryk. Ons moet hard werk om hulle vriende te word deur die materiële rykdom wat ons het, te gebruik om Koninkryksbelange te ondersteun. Ons ewige toekoms sal dus seker wees wanneer goud, silwer en ander materiële rykdom nie meer daar sal wees nie.

Jesus sê verder dat dié wat getrou is in die manier waarop hulle materiële dinge gebruik, ook getrou sal wees wanneer dit kom by belangriker dinge. Jesus sê dus: “As julle dan nie getrou was in verband met die rykdom van hierdie onregverdige wêreld nie, wie sal aan julle toevertrou wat waar is [soos Koninkryksbelange]?” – Lukas 16:11.

Jesus wys vir sy dissipels dat daar baie van hulle verwag sal word as hulle “die ewige woonplekke” wil binnegaan. Iemand kan nie ’n ware kneg van God wees en ook ’n slaaf van onregverdige, materiële rykdom wees nie. Jesus sluit af deur te sê: “Niemand kan ’n slaaf vir twee meesters wees nie, want hy sal die een haat en die ander een liefhê, of hy sal lojaal wees aan die een en die ander een nie kan verdra nie. Julle kan nie slawe van God en van Rykdom wees nie.” – Lukas 16:9, 13.