Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 117

Die Here se Aandmaal

Die Here se Aandmaal

MATTEUS 26:21-29 MARKUS 14:18-25 LUKAS 22:19-23 JOHANNES 13:18-30

  • JUDAS WORD AS ’N VERRAAIER GEÏDENTIFISEER

  • JESUS BEGIN ’N NUWE HERDENKING

Vroeër die aand het Jesus sy apostels ’n les in nederigheid geleer deur hulle voete te was. Nou, blykbaar ná die Pasgamaaltyd, haal hy Dawid se profetiese woorde aan: “Die man wat in vrede met my gelewe het, die een wat ek vertrou het, wat my brood geëet het, het sy hakskeen teen my opgelig.” Dan verduidelik hy: “Een van julle sal my verraai.” – Psalm 41:9; Johannes 13:18, 21.

Die apostels kyk na mekaar, en elkeen vra vir Jesus: “Here, dit is tog seker nie ek nie?” Selfs Judas Iskariot doen dit. Petrus sê vir Johannes, wat langs Jesus by die tafel is, om uit te vind wie dit is. En daarom beweeg Johannes nader aan Jesus en vra hy: “Here, wie is dit?” – Matteus 26:22; Johannes 13:25.

Jesus antwoord: “Dit is die een vir wie ek die stukkie brood sal gee wat ek in die bak steek.” Jesus steek ’n stukkie brood in ’n bak op die tafel, gee dit vir Judas en sê: “Dit is waar dat die Seun van die mens weggaan, net soos daar oor hom geskryf is, maar dit sal sleg gaan met die man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie” (Johannes 13:26; Matteus 26:24). Dan gaan Satan in Judas in. Hierdie man, wat alreeds korrup is, gee hom nou oor aan die Duiwel om sy wil te doen en word dus “die seun van die vernietiging”. – Johannes 6:64, 70; 12:4; 17:12.

Jesus sê vir Judas: “Wat jy doen, doen dit nog gouer.” Die ander apostels dink dat Jesus vir Judas, wat die geldkissie hou, sê “om te koop wat hulle vir die fees nodig het of om iets vir die armes te gee” (Johannes 13:27-30). Maar Judas gaan om Jesus te verraai.

Op hierdie selfde aand as die Pasgamaaltyd, begin Jesus ’n nuwe herdenking. Hy neem ’n  brood, doen ’n dankgebed, breek die brood en gee dit vir sy apostels om te eet. Hy sê: “Dit beteken my liggaam, wat vir julle gegee sal word. Hou aan om dit te doen as ’n herinnering aan my” (Lukas 22:19). Die stukkie brood word omgestuur en die apostels eet daarvan.

Nou neem Jesus ’n beker wyn, doen ’n dankgebed en gee dit vir sy apostels om van te drink. Elkeen drink van die beker, en Jesus sê: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond wat bevestig word deur my bloed, wat vir julle uitgestort sal word.” – Lukas 22:20.

Op hierdie manier reël Jesus dat sy dood elke jaar op 14 Nisan deur sy volgelinge herdenk word. Dit sal mense herinner aan wat Jesus en sy Vader gedoen het om mense wat geloof het, van sonde en die dood te red. Hierdie viering het ’n groter betekenis as die Pasga van die Jode, want dit herinner mense aan Jesus se dood wat ware bevryding sal gee vir mense wat geloof beoefen.

Jesus sê dat sy bloed “uitgestort sal word sodat baie mense se sondes vergewe kan word”. Sy getroue apostels en ander soos hulle is deel van die baie mense wat vergewe sal word. Dit is hulle wat saam met hom in die Koninkryk van sy Vader sal wees. – Matteus 26:28, 29.