Spring na inhoud

Vroue in die Bybel – Wat kan ons by hulle leer?

Vroue in die Bybel – Wat kan ons by hulle leer?

Die Bybel se antwoord

In die Bybel lees ons oor baie vroue by wie ons belangrike lewenslesse kan leer (Romeine 15:4; 2 Timoteus 3:16, 17). Hierdie artikel bespreek kortliks net ’n paar van die vroue wat in die Bybel genoem word. Baie van hulle is uitstekende voorbeelde wat ons kan navolg. Ander is waarskuwende voorbeelde. – 1 Korintiërs 10:11; Hebreërs 6:12.

  Abigail

Wie was Abigail? Sy was die vrou van ’n ryk maar wrede man met die naam Nabal. Maar Abigail was verstandig en nederig. Sy was ’n mooi vrou met eienskappe waarvan Jehovah gehou het. – 1 Samuel 25:3.

Wat het sy gedoen? Abigail het wys en met goeie oordeel opgetree, en dit het baie swaarkry voorkom. Sy en Nabal het in die streek gebly waar Dawid, Israel se toekomstige koning, as ’n vlugteling weggekruip het. Terwyl Dawid en sy manne daar was, het hulle Nabal se skape teen diewe beskerm. Maar toe Dawid se boodskappers Nabal vir kos gevra het, het Nabal onbeskof geweier om dit vir hulle te gee. Dawid was woedend! Daarom het hy en sy manne gegaan om Nabal en die manne in sy huis dood te maak. – 1 Samuel 25:10-12, 22.

Abigail het vinnig iets gedoen toe sy hoor wat haar man aangevang het. Sy het vir haar knegte kos gegee om na Dawid en sy manne te vat, en sy het agterna gegaan om Dawid vir genade te smeek (1 Samuel 25:14-19, 24-31). Toe Dawid haar geskenk en haar nederigheid sien en haar wyse woorde hoor, het hy besef dat God haar gebruik het om te keer dat iets baie sleg gebeur (1 Samuel 25:32, 33). Kort daarna het Nabal gesterf en Abigail het Dawid se vrou geword. – 1 Samuel 25:37-41.

Wat kan ons by Abigail leer? Hoewel Abigail mooi en ryk was, het sy nie te veel van haarself gedink nie. Om die vrede te bewaar, was sy bereid om jammer te sê vir iets wat nie haar skuld was nie. Sy het ’n stresvolle situasie op ’n kalm en intelligente manier hanteer, en sy was ook taktvol en dapper.

  Debora

Wie was Debora? Sy was ’n profetes wat Israel se God, Jehovah, gebruik het om sy wil bekend te maak oor sake wat sy volk geraak het. God het haar ook gebruik om probleme onder die Israeliete op te los. – Rigters 4:4, 5.

Wat het sy gedoen? Die profetes Debora het God se aanbidders moedig ondersteun. God het vir haar gesê om Barak te laat roep sodat hy ’n Israelitiese leërmag teen hulle Kanaänitiese onderdrukkers kon lei (Rigters 4:6, 7). Toe Barak vir Debora gevra het om saam met hom te gaan, het sy nie toegelaat dat vrees haar terughou nie. Sy was bereid om saam met hom te gaan. – Rigters 4:8, 9.

Nadat God die Israeliete laat wen het, het Debora ten minste ’n deel van die lied geskryf wat sy en Barak gesing het om die verhaal te vertel. In daardie lied noem sy die rol wat Jael, nog ’n dapper vrou, gespeel het om die Kanaäniete te verslaan. – Rigters hoofstuk 5.

Wat kan ons by Debora leer? Debora was selfopofferend en dapper. Sy het ander aangemoedig om die regte ding in God se oë te doen. Wanneer hulle dit gedoen het, het sy dadelik vir hulle die eer gegee wat hulle verdien het.

  Delila

Wie was Delila? Sy was ’n vrou op wie die Israelitiese regter Simson verlief geraak het. – Rigters 16:4, 5.

Wat het sy gedoen? Sy het geld gevat van Filistynse amptenare om Simson te verraai. God het hom gebruik om die Israeliete te bevry van die Filistyne. Die Filistyne kon hom nie verslaan nie as gevolg van sy wonderdadige fisiese krag (Rigters 13:5). Daarom het die Filistynse amptenare na Delila gegaan om hulle te help.

Die Filistyne het Delila omgekoop. Hulle wou hê sy moes uitvind hoe Simson sy krag gekry het. Delila het die geld gevat en nadat sy ’n paar keer probeer het, het sy uiteindelik uitgevind wat Simson se geheim is (Rigters 16:15-17). Sy het toe sy geheim aan die Filistyne vertel, en hulle het Simson toe gevang en hom in die tronk gegooi. – Rigters 16:18-21.

Wat kan ons by Delila leer? Delila is ’n waarskuwende voorbeeld. Omdat sy gierig was, het sy op ’n bedrieglike, dislojale en selfsugtige manier opgetree teenoor ’n kneg van Jehovah God.

  Ester

Wie was Ester? Sy was ’n Joodse meisie wat deur die Persiese koning Ahasveros gekies is om sy koningin te word.

Wat het sy gedoen? Koningin Ester het haar invloed gebruik om die massamoord van haar eie mense te voorkom. Sy het ontdek dat ’n amptelike wet gemaak is wat ’n spesifieke dag opsygesit het waarop alle Jode wat in die Persiese Ryk bly, doodgemaak sou word. Hierdie wrede plan was die werk van ’n man met die naam Haman, die eerste minister (Ester 3:13-15; 4:1, 5). Ester het haar lewe in gevaar gestel en met die hulp van haar ouer familielid, Mordegai, het sy die plan aan haar man, koning Ahasveros, bekendgemaak (Ester 4:10-16; 7:1-10). Ahasveros het Ester en Mordegai toegelaat om nog ’n wet te maak wat die Jode die reg gegee het om hulleself te verdedig. Die Jode het hulle vyande heeltemal verslaan. – Ester 8:5-11; 9:16, 17.

Wat kan ons by Ester leer? Koningin Ester het ’n uitstekende voorbeeld gestel van dapperheid, nederigheid en beskeidenheid (Psalm 31:24; Filippense 2:3). Al was sy pragtig en het sy ’n hoë posisie gehad, het sy nog altyd vir raad en hulp gevra. Toe sy met haar man gepraat het, was sy taktvol en respekvol maar nog steeds dapper. En op ’n baie gevaarlike tyd vir die Jode, het sy moedig haarself as een van hulle geïdentifiseer.

  Eva

Wie was Eva? Sy was die eerste vrou op die aarde en die eerste vrou wat in die Bybel genoem word.

Wat het sy gedoen? Eva was ongehoorsaam aan ’n duidelike bevel van God. Soos haar man, Adam, was Eva geskep as ’n volmaakte mens met wilsvryheid en die vermoë om dieselfde eienskappe wat God het, soos liefde en wysheid, aan te leer (Genesis 1:27). Eva het geweet dat God vir Adam gesê het dat hulle sou sterf as hulle van ’n sekere boom geëet het. Maar Satan het haar bedrieg en haar oorreed dat sy nie sou sterf nie. Om die waarheid te sê, sy is oorreed om te glo dat sy ’n beter lewe sou hê as sy ongehoorsaam was aan God. Sy het toe van die vrug geëet en het later haar man oortuig om ook daarvan te eet. – Genesis 3:1-6; 1 Timoteus 2:14.

Wat kan ons by Eva leer? Eva is ’n waarskuwende voorbeeld wat wys hoe gevaarlik dit is om oor verkeerde begeertes te tob. Sy het teen God se duidelike bevel gegaan en ’n sterk begeerte ontwikkel om iets te vat wat nie aan haar behoort het nie. – Genesis 3:6; 1 Johannes 2:16.

  Hanna

Wie was Hanna? Sy was die vrou van Elkana en die ma van Samuel, wat ’n bekende profeet in Israel geword het. – 1 Samuel 1:1, 2, 4-7.

Wat het sy gedoen? Toe Hanna nie kinders kon kry nie, het sy vir God gevra om haar te vertroos. Hanna se man het twee vroue gehad. Sy ander vrou, Peninna, het kinders gehad. Maar Hanna kon jare lank nadat sy getrou het, nie kinders kry nie. Peninna het haar wreed uitgetart, maar Hanna het tot God gebid vir vertroosting. Sy het ’n gelofte aan God gemaak en gesê dat as God vir haar ’n seun gee, sy die kind aan hom sou gee deur te reël dat die kind by die tabernakel dien. Dit was ’n tent wat geskuif kon word en deur die Israeliete gebruik is vir aanbidding. – 1 Samuel 1:11.

God het Hanna se gebed verhoor, en sy het geboorte gegee aan Samuel. Hanna het haar belofte gehou en Samuel na die tabernakel geneem om daar te dien toe hy nog maar net ’n klein seuntjie was (1 Samuel 1:27, 28). Jaar ná jaar het sy ’n moulose jassie vir hom gemaak en dit na hom geneem. God het Hanna toe later geseën met nog vyf kinders – drie seuns en twee dogters. – 1 Samuel 2:18-21.

Wat kan ons by Hanna leer? Omdat Hanna uit die hart gebid het, het dit haar gehelp om deur moeilike tye te kom. Haar gebed van dankbaarheid wat in 1 Samuel 2:1-10 opgeteken is, wys hoe sterk haar geloof in God was.

  Isebel

Wie was Isebel? Sy was die vrou van die Israelitiese koning Agab. Sy was nie ’n Israeliet nie en het nie vir Jehovah aanbid nie. Sy het eerder die Kanaänitiese god Baäl aanbid.

Wat het sy gedoen? Koningin Isebel wou almal oorheers, sy was gewetenloos en gewelddadig. Sy het die aanbidding van Baäl bevorder en ook die seksuele sonde wat daarmee saamgegaan het. Terselfdertyd het sy probeer om die aanbidding van die ware God, Jehovah, uit te wis. – 1 Konings 18:4, 13; 19:1-3.

Isebel het gelieg en mense doodgemaak om te kry wat sy wil hê (1 Konings 21:8-16). Soos God voorspel het, het sy gewelddadig gesterf en is sy nie begrawe nie. – 1 Konings 21:23; 2 Konings 9:10, 32-37.

Wat kan ons by Isebel leer? Isebel is ’n waarskuwende voorbeeld. Sy het nie omgegee om verkeerde dinge te doen nie en was bereid om enigiets te doen om haar sin te kry. Haar naam laat ’n mens dink aan iemand wat skaamteloos en onsedelik is en wat gedoen het net wat hulle wou.

  Jael

Wie was Jael? Sy was die vrou van Heber, iemand wat nie ’n Israeliet was nie. Jael het moedig opgestaan vir God se mense.

Wat het sy gedoen? Jael het dadelik opgetree toe Sisera, die hoof van die Kanaänitiese leërmag, by haar kamp opgedaag het. Sisera het sy geveg teen die Israeliete verloor en het na ’n plek gesoek om weg te kruip en te rus. Jael het hom in haar tent ingenooi sodat hy kon rus. Terwyl hy geslaap het, het sy hom doodgemaak. – Rigters 4:17-21.

Wat Jael gedoen het, het ’n profesie wat Debora gegee het, vervul: “Jehovah sal Sisera in die hand van ’n vrou verkoop” (Rigters 4:9). Jael is vir haar rol geprys as “hoogs geseënd . . . onder die vroue”. – Rigters 5:24.

Wat kan ons by Jael leer? Jael het inisiatief getoon en was dapper. Haar ondervinding wys hoe God dinge kan laat gebeur sodat profesie vervul kan word.

  Lea

Wie was Lea? Sy was Jakob se eerste vrou. Haar jonger suster, Ragel, was sy ander vrou. – Genesis 29:20-29.

Wat het sy gedoen? Lea het die ma van ses van Jakob se seuns geword (Rut 4:11). Jakob wou eintlik met Ragel getrou het, nie Lea nie. Maar die meisies se pa, Laban, het gereël dat Lea met Jakob trou en nie Ragel nie. En toe Jakob besef dat hy mislei is, het hy Laban gekonfronteer. Laban het die verskoning gebruik dat dit nie die gewoonte is vir die jonger dogter om voor die ouer dogter te trou nie. ’n Week later het Jakob met Ragel getrou. – Genesis 29:26-28.

Jakob was liewer vir Ragel as vir Lea (Genesis 29:30). Die gevolg was dat Lea jaloers geword het en met haar suster gekompeteer het vir Jakob se liefde. God het gesien hoe Lea voel en het haar met sewe kinders geseën – ses seuns en een dogter. – Genesis 29:31.

Wat kan ons by Lea leer? Lea het tot God gebid vir ondersteuning, en al het sy probleme in haar familie gehad, het sy nog steeds besef dat God haar help (Genesis 29:32-35; 30:20). Haar lewensverhaal wys op ’n realistiese manier dat dit nie werk as ’n man met meer as een vrou op ’n slag getroud is nie. Dit is ’n reëling wat God net vir ’n sekere tyd verdra het. Die enigste standaard wat hy vir die huwelik goedkeur, is dat ’n man of vrou net een huweliksmaat het. – Matteus 19:4-6.

  Maria (Jesus se ma)

Wie was Maria? Sy was ’n jong Joodse vrou, en sy was ’n maagd toe Jesus gebore is omdat sy wonderdadig swanger geword het met God se seun.

Wat het sy gedoen? Maria het nederig God se wil gedoen. Sy was verloof aan Josef toe ’n engel aan haar verskyn het en vir haar gesê het dat sy swanger sou word en geboorte sou gee aan die langverwagte Messias (Lukas 1:26-33). Sy het gewillig haar rol aanvaar. Nadat Jesus gebore is, het Maria en Josef saam vier seuns en ten minste twee dogters gehad. So, Maria het nie ’n maagd gebly nie (Matteus 13:55, 56). Al het sy hierdie unieke voorreg gehad, wou sy nooit geprys of spesiaal behandel word gedurende Jesus se bediening of as ’n lid van die vroeë Christengemeente nie.

Wat kan ons by Maria leer? Maria was ’n getroue vrou wat bereid was om ’n ernstige verantwoordelikheid te aanvaar. Sy het die Skrif baie goed geken. Daar word geskat dat sy sowat 20 keer uit die Skrif aangehaal het in die gedeelte wat opgeteken is in Lukas 1:46-55.

  Maria (Marta en Lasarus se suster)

Wie was Maria? Sy was saam met haar broer, Lasarus, en haar suster, Marta, goeie vriende van Jesus.

Wat het sy gedoen? Maria het herhaaldelik haar waardering getoon vir Jesus as die Seun van God. Sy het geglo dat Jesus die dood van haar broer, Lasarus, kon keer en sy was daar toe Jesus hom opgewek het. Haar suster, Marta, het Maria gekritiseer toe Maria eerder na Jesus geluister het as om haar in die huis te help. Maar Jesus het Maria geprys omdat sy geestelike dinge eerste gestel het. – Lukas 10:38-42.

By ’n ander geleentheid was Maria baie vrygewig toe sy “kosbare welriekende olie” op Jesus se kop en sy voete gegooi het (Matteus 26:6, 7). Ander mense wat daar was, het gesê dat sy geld mors. Maar Jesus het haar verdedig en gesê: “Oral waar hierdie goeie nuus [van God se Koninkryk] in die hele wêreld verkondig word, sal wat hierdie vrou gedoen het, ook vertel word ter gedagtenis aan haar.” – Matteus 24:14; 26:8-13.

Wat kan ons by Maria leer? Maria het sterk geloof opgebou. Sy het die aanbidding van God bo alledaagse dinge gestel. En sy het nederig eer aan Jesus betoon, selfs al het dit haar baie geld gekos om dit te doen.

  Maria Magdalena

Wie was Maria Magdalena? Sy was ’n lojale dissipel van Jesus.

Wat het sy gedoen? Maria Magdalena was een van ’n paar vroue wat saam met Jesus en sy dissipels gereis het. Sy was baie vrygewig en het haar eie geld gebruik om vir hulle te sorg (Lukas 8:1-3). Sy het Jesus gevolg tot aan die einde van sy bediening, en sy het naby hom gebly totdat hy doodgemaak is. Sy het die voorreg gehad om een van die eerste mense te wees wat Jesus gesien het nadat hy opgewek is. – Johannes 20:11-18.

Wat kan ons by Maria leer? Maria Magdalena was vrygewig en het Jesus se bediening ondersteun. En sy het ’n getroue dissipel gebly.

  Marta

Wie was Marta? Sy was Lasarus en Maria se suster, en hulle al drie het naby Jerusalem in die dorpie Betanië gebly.

Wat het sy gedoen? Marta was goeie vriende met Jesus, wat “Marta en haar suster en Lasarus liefgehad” het (Johannes 11:5). Marta was baie gasvry. Toe Jesus eenkeer by hulle gekuier het, het Maria eerder na Jesus geluister terwyl Marta besig was met dinge in die huis. Marta het by hom gekla omdat Maria haar nie gehelp het nie. Jesus het Marta op ’n mooi manier gehelp om die regte beskouing te kry. – Lukas 10:38-42.

Toe Lasarus siek geword het, het Marta en haar suster gevra dat Jesus moet kom omdat hulle oortuig was dat hy hulle broer gesond kon maak (Johannes 11:3, 21). Maar Lasarus het gesterf. Marta se gesprek met Jesus het gewys dat sy geglo het in die Bybel se belofte van ’n opstanding en in die feit dat Jesus haar broer weer kon laat lewe. – Johannes 11:20-27.

Wat kan ons by Marta leer? Marta was baie gasvry. Sy was bereid om raad te aanvaar. Dit was maklik vir haar om oor haar gevoelens en haar geloof te praat.

  • Om meer oor Marta te leer, lees gerus die artikel “Ek het geglo”.

  Mirjam

Wie was Mirjam? Sy was Moses en Aäron se suster. Sy is die eerste vrou in die Bybel wat ’n profetes genoem word.

Wat het sy gedoen? As ’n profetes het sy God se boodskappe aan ander oorgedra. Sy het ’n belangrike posisie in Israel gehad en het ’n oorwinningslied saam met die manne gesing nadat God die Egiptiese leërmag in die Rooisee vernietig het. – Eksodus 15:1, 20, 21.

’n Ruk later het Mirjam en Aäron teen Moses gepraat. Hulle was moontlik trots en jaloers. God “het geluister” en hy het vir Mirjam en Aäron ernstig raad gegee (Numeri 12:1-9). God het Mirjam toe met melaatsheid getref moontlik omdat sy met die negatiewe praatjies begin het. Toe Moses God namens haar gesmeek het, het God haar gesond gemaak. Nadat sy sewe dae onder kwarantyn was, is sy toegelaat om weer by die kamp van Israel aan te sluit. – Numeri 12:10-15.

Die Bybel wys dat Mirjam die straf aanvaar het. Baie jare later het God na haar unieke voorreg verwys toe hy die Israeliete herinner het: “Ek het Moses, Aäron en Mirjam voor jou uit gestuur.” – Miga 6:4.

Wat kan ons by Mirjam leer? Wat met Mirjam gebeur het, wys vir ons dat God luister na wat sy aanbidders vir mekaar en oor mekaar sê. Ons leer ook dat om God gelukkig te maak, moet ons onredelike trots en jaloesie vermy. Dit is eienskappe wat kan veroorsaak dat ons ander se goeie reputasie deur die modder sleep.

 Ragab

Wie was Ragab? Sy was ’n prostituut wat in die Kanaänitiese stad Jerigo gewoon het, en sy het ’n aanbidder van Jehovah God geword.

Wat het sy gedoen? Ragab het twee Israeliete wat die land verken het, weggesteek. Sy het dit gedoen omdat sy gehoor het hoe die Israeliete se God, Jehovah, sy volk uit Egipte bevry het. Sy het ook gehoor hoe hy hulle later gered het toe ’n stam wat die Amoriete genoem is, hulle aangeval het.

Ragab het die spioene gehelp en hulle gesmeek om haar en haar familie te red wanneer die Israeliete kom om Jerigo te vernietig. Hulle het ingestem, maar hulle het sekere voorwaardes gehad: Sy moes die feit dat hulle daar was, ’n geheim hou. Sy en haar familie moes in haar huis bly wanneer die Israeliete die stad aanval, en sy moes ’n rooi tou by haar venster uithang sodat hulle kon sien watter een haar huis was. Ragab was gehoorsaam aan al die instruksies, en daarom is sy en haar familie gered toe die Israeliete Jerigo aangeval het.

Ragab het later met ’n Israeliet getrou en ’n voorouer van koning Dawid en van Jesus Christus geword. – Josua 2:1-24; 6:25; Matteus 1:5, 6, 16.

Wat kan ons by Ragab leer? Die Bybel beskryf haar as ’n uitstekende voorbeeld van geloof (Hebreërs 11:30, 31; Jakobus 2:25). Haar verhaal wys dat God vergewensgesind en onpartydig is. Hy seën dié wat op hom vertrou, maak nie saak wat hulle agtergrond is nie.

  Ragel

 Wie was Ragel? Sy was die dogter van Laban en die gunsteling vrou van Jakob.

Wat het sy gedoen? Ragel het met Jakob getrou en het twee seuns by hom gehad. Hulle was deel van die stamvaders van die 12 stamme van Israel. Ragel het haar toekomstige man ontmoet terwyl sy haar pa se skape opgepas het (Genesis 29:9, 10). Sy was “pragtig” in vergelyking met haar ouer suster, Lea. – Genesis 29:17.

Jakob het verlief geraak op Ragel en hy het ingestem om sewe jaar te werk sodat hy met haar kon trou (Genesis 29:18). Maar Laban het Jakob mislei om eers met Lea te trou, en daarna het Laban Jakob toegelaat om met Ragel te trou. – Genesis 29:25-27.

Jakob was liewer vir Ragel en haar twee seuns as vir Lea en sy kinders wat hy by haar gehad het (Genesis 37:3; 44:20, 27-29). As gevolg hiervan het die twee vroue nie met mekaar oor die weg gekom nie. – Genesis 29:30; 30:1, 15.

Wat kan ons by Ragel leer? Al was Ragel se familielewe moeilik, het sy nie moed verloor dat God haar gebede sal verhoor nie (Genesis 30:22-24). Haar verhaal wys hoeveel druk veelwywery op ’n familie sit. Ragel se ondervinding wys vir ons hoe wys God was toe hy die oorspronklike standaard vir die huwelik ingestel het, dat ’n man net met een vrou moet trou. – Matteus 19:4-6.

  Rebekka

Wie was Rebekka? Sy was Isak se vrou en die ma van hulle tweelingseuns, Jakob en Esau.

Wat het sy gedoen? Rebekka het God se wil gedoen, selfs al was dit moeilik. Terwyl sy water uit ’n put gehaal het, het ’n man haar gevra vir ’n bietjie water om te drink. Rebekka het dadelik vir hom water gegee om te drink en aangebied om ook vir sy kamele water te gee (Genesis 24:15-20). Daardie man was Abraham se kneg, en hy het van ver gekom om ’n vrou vir Isak, Abraham se seun, te kry (Genesis 24:2-4). Hy het ook vir God se seën gebid. Toe hy sien hoe hardwerkend en gasvry Rebekka is, het hy besef dat dit God se antwoord op sy gebed is. Dit het gewys dat God vir Rebekka kies om Isak se vrou te wees. – Genesis 24:10-14, 21, 27.

Toe Rebekka uitvind hoekom die kneg gekom het, het sy ingestem om saam met hom te gaan en Isak se vrou te word (Genesis 24:57-59). Rebekka het later tweelingseuns gehad. God het vir haar gewys dat die ouer seun, Esau, die jonger seun, Jakob, sou dien (Genesis 25:23). Toe Isak gereël het dat Esau die seën van die eersgeborene moet kry, het Rebekka seker gemaak dat Jakob die seën kry. Sy het geweet dat dit God se wil is. – Genesis 27:1-17.

Wat kan ons by Rebekka leer? Rebekka was beskeie, hardwerkend en gasvry. Dit is eienskappe wat haar ’n suksesvolle vrou, ma en aanbidder van die ware God gemaak het.

  Rut

Wie was Rut? Sy was ’n Moabitiese vrou wat haar gode en geboorteland agtergelaat het om ’n aanbidder van Jehovah in die land Israel te word.

Wat het sy gedoen? Rut was baie lief vir haar skoonma, Naomi. Naomi en haar man en hulle twee seuns het na Moab getrek om weg te kom van die hongersnood in Israel. Die seuns het later met die Moabitiese vroue, Rut en Orpa, getrou. Maar later het Naomi se man en twee seuns gesterf en drie weduwees agtergelaat.

Naomi het besluit om na Israel terug te gaan, waar die droogte toe verby was. Rut en Orpa het gekies om saam met haar te gaan. Maar Naomi het hulle gevra om terug te gaan na hulle familie. Orpa het dit gedoen (Rut 1:1-6, 15). Maar Rut was lojaal en het by haar skoonma gebly. Sy was lief vir Naomi en wou Naomi se God, Jehovah, aanbid. – Rut 1:16, 17; 2:11.

Omdat Rut ’n lojale skoondogter en ’n harde werker was, het sy gou ’n goeie naam in Naomi se geboortedorp, Betlehem, gekry. ’n Ryk grondeienaar met die naam Boas was baie beïndruk met Rut en hy was vrygewig en het vir haar en Naomi kos gegee (Rut 2:5-7, 20). Rut het later met Boas getrou en ’n voorouer van koning Dawid en Jesus Christus geword. – Matteus 1:5, 6, 16.

Wat kan ons by Rut leer? Omdat Rut lief was vir Naomi en Jehovah, was sy bereid om alles wat sy ken, agter te laat. Sy was hardwerkend, toegewyd en lojaal, selfs al het sy moeilike tye deurgegaan.

  Sara

Wie was Sara? Sy was Abraham se vrou en die ma van Isak.

Wat het sy gedoen? Sara het haar gemaklike lewe in die ryk stad Ur agtergelaat omdat sy geloof gehad het in God se belofte aan haar man, Abraham. God het vir Abraham gesê om van Ur af weg te trek en na die land Kanaän te gaan. God het belowe om hom te seën en om hom ’n groot nasie te maak (Genesis 12:1-5). Op daardie stadium was Sara dalk in haar 60’s. Van daardie tyd af het Sara en haar man in tente gebly en van plek tot plek getrek.

Hoewel hierdie soort lewe gevaarlik was vir Sara, het sy vir Abraham ondersteun omdat hy gehoorsaam was aan God (Genesis 12:10, 15). Sara kon vir baie jare nie kinders hê nie, en dit het haar baie hartseer gemaak. Maar God het belowe om Abraham se nageslag te seën (Genesis 12:7; 13:15; 15:18; 16:1, 2, 15). Later het God belowe dat Sara Abraham se kind sou hê. Sy het geboorte gegee al was sy baie ouer as wat vrouens gewoonlik is wanneer hulle geboorte gee. Sy was 90 jaar oud en haar man was 100 jaar oud (Genesis 17:17; 21:2-5). Hulle het die kind Isak genoem.

Wat kan ons by Sara leer? Sara se voorbeeld leer ons dat ons altyd kan vertrou dat God sy beloftes sal laat waar word, selfs al lyk dit onmoontlik! (Hebreërs 11:11). En haar voorbeeld as ’n vrou wys hoe belangrik dit is dat daar respek in die huwelik moet wees. – 1 Petrus 3:5, 6.

  Die Sulammitiese meisie

Wie was die Sulammitiese meisie? Sy was ’n pragtige meisie van die platteland en die hoofkarakter in die Bybelboek Hooglied van Salomo. Die Bybel sê nie wat haar naam is nie.

Wat het sy gedoen? Die Sulammitiese meisie het lojaal gebly aan die herderseun vir wie sy lief was (Hooglied 2:16). Maar sy was so mooi dat die ryk koning Salomo haar raakgesien het en haar aandag probeer kry het (Hooglied 7:6). Hoewel ander mense vir haar gesê het om Salomo te kies, het die Sulammitiese meisie geweier. Sy was lief vir die eenvoudige herderseun en was lojaal aan hom. – Hooglied 3:5; 7:10; 8:6.

Wat kan ons by die Sulammitiese meisie leer? Sy het nie te veel van haarself gedink nie, al was sy pragtig en het sy baie aandag van ander gekry. Sy het nie toegelaat dat ander mense of die belofte van rykdom en aansien haar gevoelens beïnvloed nie. Sy het haar emosies onder beheer gehou en ’n skoon en goeie lewe gelei.

  Vrou van Lot

Wie was Lot se vrou? Die Bybel sê nie wat haar naam is nie. Maar dit sê wel dat sy twee dogters gehad het en dat sy en haar gesin in die stad Sodom gewoon het. – Genesis 19:1, 15.

Wat het sy gedoen? Sy was ongehoorsaam aan God se opdrag. God het besluit om Sodom en die stede daar naby te vernietig as gevolg van hulle vieslike seksuele sonde. Omdat God lief was vir Lot en sy gesin, wat in Sodom gewoon het, het God twee engele gestuur om hulle na veiligheid te neem. – Genesis 18:20; 19:1, 12, 13.

Die engele het vir Lot se gesin gesê om uit die gebied te vlug en nie terug te kyk nie, anders sou hulle sterf (Genesis 19:17). Lot se vrou het “begin omkyk, en sy het ’n soutpilaar geword”. – Genesis 19:26.

Wat kan ons by die vrou van Lot leer? Haar verhaal wys hoe gevaarlik dit is om materiële dinge so lief te hê dat jy ongehoorsaam is aan God. Jesus het gesê dat sy ’n waarskuwende voorbeeld is. Hy het gesê: “Dink aan die vrou van Lot.” – Lukas 17:32.

 Tydlyn van vroue in die Bybel

  1.  Eva

  2. Vloed (2370 VHJ)

    1.  Sara

    2.  Vrou van Lot

    3.  Rebekka

    4.  Lea

    5.  Ragel

  3. Eksodus (1513 VHJ)

    1.  Mirjam

    2.  Ragab

    3.  Rut

    4.  Debora

    5.  Jael

    6.  Delila

    7.  Hanna

  4. Israel se eerste koning (1117 VHJ)

    1.  Abigail

    2.  Die Sulammitiese meisie

    3.  Isebel

    4.  Ester

    5.  Maria (Jesus se ma)

  5. Jesus se doop (29 HJ)

    1.  Marta

    2.  Maria (Marta en Lasarus se suster)

    3.  Maria Magdalena

  6. Jesus se dood (33 HJ)