Josua 2:1-24

  • Josua stuur twee spioene na Jerigo (1-3)

  • Ragab steek spioene weg (4-7)

  • Belofte aan Ragab (8-21a)

    • Helderrooi tou as teken (18)

  • Spioene keer terug na Josua (21b-24)

2  Toe het Josua, die seun van Nun, in die geheim twee manne uit Sittim+ as spioene uitgestuur. Hy het vir hulle gesê: “Gaan verken die land, veral Jeʹrigo.” Toe het hulle gegaan en by die huis gekom van ’n prostituut met die naam Ragab,+ en hulle het daar gebly.  Daar is vir die koning van Jeʹrigo gesê: “Kyk! Israelitiese manne het vanaand hierheen gekom om die land te verken.”  Toe het die koning van Jeʹrigo die volgende boodskap na Ragab gestuur: “Bring die manne uit wat by jou in die huis is, want hulle het gekom om die hele land te verken.”  Maar die vrou het die twee manne weggesteek. Toe het sy gesê: “Ja, die manne het na my toe gekom, maar ek het nie geweet waarvandaan hulle kom nie.  En toe dit donker geword het, net voordat die stadspoort toegemaak moes word, het die manne uitgegaan. Ek weet nie waarheen die manne gegaan het nie, maar as julle gou maak en hulle agternasit, sal julle hulle inhaal.”  (Eintlik het sy hulle na die dak opgeneem en hulle weggesteek tussen vlasstingels wat in rye op die dak gesit is.)  Die koning se manne het hulle agternagesit in die rigting van die Jordaanrivier by die driwwe,+ en die stadspoort is toegemaak nadat die agtervolgers uitgegaan het.  Voordat die manne gaan slaap het, het sy na hulle toe gekom op die dak.  Sy het vir hulle gesê: “Ek weet dat Jehovah die land aan julle sal gee+ en dat die vrees vir julle ons oorweldig het.+ Al die inwoners van die land het moed verloor as gevolg van julle,+ 10  want ons het gehoor hoe Jehovah die water van die Rooisee voor julle laat opdroog het toe julle Egipte verlaat het+ en wat julle gedoen het aan Sihon+ en Og,+ die twee konings van die Amoriete, wat julle aan die ander kant* van die Jordaanrivier vernietig het. 11  Toe ons daarvan hoor, het ons baie bang geword,* en almal het moed verloor* as gevolg van julle, want Jehovah julle God is God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder.+ 12  Sweer dan nou asseblief vir my by Jehovah dat julle lojale liefde aan my pa se huisgesin sal betoon omdat ek lojale liefde aan julle betoon het, en julle moet my ’n betroubare teken gee. 13  Julle moet die lewens spaar van my pa, my ma, my broers, my susters en almal wat aan hulle behoort, en julle moet ons* van die dood red.”+ 14  Toe het die manne vir haar gesê: “Mag ons* in julle plek sterf as ons nie ons belofte hou nie! As julle vir niemand sê waarmee ons besig is nie, sal ons lojale liefde aan julle betoon en ons woord hou wanneer Jehovah ons die land gee.” 15  Daarna het sy hulle met ’n tou deur die venster laat afklim, want sy het op die muur gewoon. Haar huis was aan ’n kant van die stadsmuur.+ 16  Toe het sy vir hulle gesê: “Gaan na die bergstreek en kruip drie dae lank daar weg, sodat julle agtervolgers julle nie sal vind nie. Dan, wanneer julle agtervolgers teruggekom het, kan julle verder gaan.” 17  Die manne het vir haar gesê: “Ons sal slegs gebind wees aan hierdie eed wat jy ons laat sweer het+ 18  as jy die volgende doen wanneer ons in die land inkom: Jy moet hierdie helderrooi tou waarmee jy ons laat afklim het, aan die venster vasbind. Jy moet jou pa, jou ma, jou broers en jou pa se hele huisgesin by jou in die huis laat bymekaarkom.+ 19  Dan, as enigiemand jou huis verlaat en buitentoe gaan, sal dit sy eie skuld wees as hy sterf,* en ons sal vry wees van skuld. Maar as enigiemand iets oorkom* wat by jou in die huis is, sal ons daarvoor verantwoordelik wees.* 20  Maar as jy vir enigiemand sê wat ons doen,+ sal ons nie meer gebind wees aan hierdie eed wat jy ons laat sweer het nie.” 21  Sy het gesê: “Laat dit gebeur soos julle gesê het.” Toe het sy hulle weggestuur, en hulle het weggegaan. Daarna het sy die helderrooi tou aan die venster vasgebind. 22  Hulle het toe gegaan en in die bergstreek gekom en drie dae daar gebly totdat die agtervolgers teruggekom het. Die agtervolgers het hulle op elke pad gesoek, maar kon hulle nie vind nie. 23  Die twee manne het toe afgekom van die bergstreek af en die rivier oorgesteek en by Josua, die seun van Nun, gekom. Hulle het vir hom alles vertel wat met hulle gebeur het. 24  Toe het hulle vir Josua gesê: “Jehovah het die hele land aan ons gegee,+ en al die inwoners van die land het moed verloor as gevolg van ons.”+

Voetnote

D.w.s. die oostekant.
Lett. “het ons harte gesmelt”.
Lett. “en gees het nie meer in ’n man opgekom nie”.
Of “ons siele”.
Of “ons siele”.
Lett. “sal sy bloed op sy kop wees”.
Of “as ’n hand op enigiemand gelê word”.
Lett. “sal sy bloed op ons kop wees”.