Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK SESTIEN

Sy het verstandig, moedig en onselfsugtig opgetree

Sy het verstandig, moedig en onselfsugtig opgetree

1-3. (a) Hoe was dit vir Ester om haar man se troon te nader? (b) Hoe het die koning op Ester se besoek gereageer?

ESTER het met ’n bonsende hart stadig na die troon toe gestap. Stel jou voor hoe ’n stilte oor die groot troonsaal in die Persiese paleis in Susan neerdaal, so ’n groot stilte dat Ester haar sagte voetstappe en die geritsel van haar koninklike klere kon hoor. Sy kon nie haar aandag laat aflei deur die prag van die koninklike hof, die sierlike pilare, die ryklik gegraveerde plafon van sederhout wat uit die vergeleë Libanon ingevoer is nie. Sy het al haar aandag toegespits op die man wat op die troon sit, die man in wie se hande haar lewe is.

2 Die koning het stip na haar gekyk terwyl sy nader gekom het en hy sy goue septer na haar uitgehou het. Dit was ’n eenvoudige gebaar, maar dit het Ester se lewe beteken, want hierdeur het die koning haar die oortreding vergewe wat sy so pas gepleeg het—om sonder ’n koninklike uitnodiging voor hom te verskyn. Toe Ester by die troon kom, het sy haar hand uitgesteek en dankbaar aan die punt van die septer geraak.—Est. 5:1, 2.

Ester het die koning se barmhartigheid nederig erken

3 Alles omtrent koning Ahasveros het van sy ontsaglike rykdom en mag getuig. Die koninklike klere van die destydse Persiese monarge was na bewering in waarde gelykstaande aan honderdmiljoene rande. Maar Ester kon tekens van geneentheid in haar man se oë sien; hy het haar op sy eie manier liefgehad. Hy het gesê: “Wat het jy, o koningin Ester, en wat is jou versoek? Tot die helfte van die koningskap—laat selfs dit aan jou gegee word!”—Est. 5:3.

4. Watter uitdagings het vir Ester voorgelê?

4 Ester het reeds merkwaardige geloof en moed aan die dag gelê; sy het voor die koning verskyn om haar volk te beskerm teen ’n komplot om hulle almal uit te wis. Tot dusver was sy suksesvol, maar groter uitdagings het voorgelê. Sy moes hierdie trotse monarg oortuig dat sy mees vertroude raadgewer ’n bose man is wat hom op slinkse wyse gekry het om Ester se volk ter dood te veroordeel. Hoe sou sy hom oorreed, en wat kan ons uit haar geloof leer?

 Sy het wyslik “’n tyd om te praat”, gekies

5, 6. (a) Hoe het Ester die beginsel in Prediker 3:1, 7 toegepas? (b) Hoe het Ester wysheid aan die dag gelê in die manier waarop sy haar man genader het?

5 Moes Ester die hele probleem voor die koninklike hof aan die koning bekend gemaak het? Dit sou hom dalk verneder het en sy raadgewer Haman moontlik tyd gegee het om haar aanklagte te betwis. Wat het Ester dus gedoen? Eeue vroeër is die wyse koning Salomo geïnspireer om te skryf: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, . . . ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Pred. 3:1, 7). Ons kan ons voorstel dat Ester se pleegvader, die getroue man Mordegai, die jong vrou sulke beginsels geleer het terwyl sy onder sy sorg grootgeword het. Ester het beslis verstaan hoe belangrik dit is om die “tyd om te praat”, versigtig te kies.

6 Ester het gesê: “As die koning dit goedvind, laat die koning vandag saam met Haman na die feesmaal kom wat ek vir hom berei het” (Est. 5:4). Die koning het ingestem en het Haman ontbied. Kan jy sien hoe verstandig Ester was in wat sy gesê het? Sy het haar  man sy waardigheid laat behou en ’n geskikter geleentheid geskep om met hom te praat oor wat haar kwel.—Lees Spreuke 10:19.

7, 8. Hoe was Ester se eerste feesmaal, maar waarom het sy nie toe die saak met die koning bespreek nie?

7 Ester het daardie fees ongetwyfeld met groot sorg voorberei en toegesien dat alles presies na haar man se smaak is. Daar was ook goeie wyn by die feesmaal om ’n gemoedelike atmosfeer te bevorder (Ps. 104:15). Ahasveros het die feesmaal geniet, en hy het Ester weer gevra wat haar versoek is. Was dit nou die tyd om te praat?

8 Ester het nie so gedink nie. Sy het eerder die koning en Haman genooi om die volgende dag na ’n tweede feesmaal te kom (Est. 5:7, 8). Waarom het sy gewag? Hou in gedagte dat Ester se hele volk die dood in die gesig gestaar het as gevolg van die koning se bevel. Met soveel op die spel moes Ester seker maak dat sy die regte oomblik kies. Daarom het sy gewag en nog ’n geleentheid geskep om vir haar man te wys watter hoë agting sy vir hom het.

9. Waarom is geduld voordelig, en hoe kan ons Ester se voorbeeld in hierdie opsig volg?

 9 Geduld is ’n seldsame en kosbare eienskap. Hoewel Ester ontsteld was en graag wou sê wat sy op die hart het, het sy geduldig vir die regte oomblik gewag. Ons kan baie uit haar voorbeeld leer, want ons almal het waarskynlik al onregte gesien wat reggestel moet word. As ons iemand in ’n gesagsposisie wil oortuig om ’n probleem te hanteer, moet ons moontlik, soos Ester, geduldig wees. Spreuke 25:15 sê: “Deur geduld word ’n aanvoerder oorgehaal, en ’n sagte tong kan die gebeente breek.” As ons geduldig vir die regte oomblik wag en, soos Ester, op sagmoedige wyse praat, kan selfs teenstand wat so hard soos been is, gebreek word. Het Ester se God, Jehovah, haar geduld en wysheid geseën?

Geduld baan die weg vir geregtigheid

10, 11. Waarom het Haman se stemming verander nadat hy die eerste feesmaal verlaat het, en wat het sy vrou en vriende hom aangespoor om te doen?

10 Ester se geduld het die weg gebaan vir ’n merkwaardige reeks  gebeure. Haman het die eerste feesmaal in ’n baie opgewekte stemming verlaat, “vreugdevol en vrolik van hart” omdat hy soveel guns in die oë van die koning en koningin gevind het. Maar toe Haman deur die kasteel se poort stap, het hy Mordegai gesien, daardie Jood wat nog steeds geweier het om spesiale eer aan hom te bewys. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, het Mordegai se redes niks te doen gehad met ’n gebrek aan respek nie, maar eerder met sy gewete en sy verhouding met Jehovah God. Maar Haman is ‘onmiddellik met woede vervul’.—Est. 5:9.

11 Toe Haman sy vrou en vriende van hierdie minagting vertel, het hulle hom aangespoor om ’n groot paal, meer as 22 meter hoog, te laat maak en dan die koning se toestemming te vra om Mordegai daaraan te hang. Haman het gehou van hulle idee en onmiddellik die paal laat maak.—Est. 5:12-14.

12. Waarom het die koning die amptelike staatsverslae aan hom laat voorlees, en wat het hy gevolglik uitgevind?

12 Intussen het die koning ’n ongewone nag gehad. “Die koning se slaap [het] gewyk”, sê die Bybel vir ons, en daarom het hy die amptelike staatsverslae aan hom laat voorlees. Die voorlesing het die verslag van ’n sluipmoordkomplot teen Ahasveros ingesluit. Hy het die saak onthou; die voornemende moordenaars is gevang en tereggestel. Maar wat van die man wat die komplot onthul het—Mordegai? Die koning was skielik wawyd wakker en wou weet hoe Mordegai beloon is. Die antwoord? Hoegenaamd niks is vir die man gedoen nie.—Lees Ester 6:1-3.

13, 14. (a) Hoe het dinge vir Haman begin skeef loop? (b) Wat het Haman se vrou en vriende vir hom gesê?

13 Ontsteld het die koning gevra watter hofbeamptes beskikbaar is om hom te help om hierdie oorsig reg te stel. Ironies genoeg was Haman in die koning se voorhof—hy het blykbaar vroeg gekom omdat hy gretig was om toestemming te verkry om Mordegai tereg te stel. Maar voordat Haman sy versoek kon rig, het die koning hom gevra wat die beste manier sal wees om ’n man te vereer wat die koning se guns gewen het. Haman het aangeneem dat die koning van hom praat. Gevolglik het Haman iets baie besonders uitgedink om hierdie man te vereer: Klee die man in koninklike klere, en laat ’n hooggeplaaste amptenaar hom op die koning se perd in Susan rondlei terwyl hy die man se lof besing sodat almal dit kan hoor. Stel jou die uitdrukking op Haman se gesig voor toe hy hoor dat Mordegai die man is wat vereer moet word! En wie het die koning aangewys om Mordegai se lof te besing? Haman!—Est. 6:4-10.

14 Haman het hierdie taak, wat vir hom iets verskrikliks was,  teësinnig uitgevoer en toe ontsteld reguit huis toe gegaan. Sy vrou en vriende het gesê dat hierdie wending niks goeds voorspel nie; hy sou sekerlik die onderspit delf in sy stryd teen die Jood Mordegai.—Est. 6:12, 13.

15. (a) Watter goeie gevolg het Ester se geduld gehad? (b) Waarom is dit verstandig van ons om ’n “wagtende houding” in te neem?

15 Omdat Ester geduldig was en daardie een dag langer gewag het om haar versoek tot die koning te rig, is Haman tyd gegee om die grondslag vir sy eie ondergang te lê. En was Jehovah God nie dalk verantwoordelik vir die koning se slapeloosheid nie? (Spr. 21:1). Geen wonder dat God se Woord ons aanspoor om ’n “wagtende houding” in te neem nie! (Lees Miga 7:7.) Wanneer ons op God wag, vind ons moontlik dat sy oplossings vir ons probleme baie beter is as enigiets waarmee ons dalk self vorendag sou gekom het.

Sy het haar moedig uitgespreek

16, 17. (a) Wanneer het Ester se “tyd om te praat”, aangebreek? (b) Hoe het Ester verskil van Vasti, die koning se vorige vrou?

16 Ester kon dit nie waag om die koning se geduld verder op die proef te stel nie; by haar tweede feesmaal moes sy met alles uitkom. Maar hoe? Wel, die koning het haar die geleentheid gegee toe hy haar weer vra wat haar versoek is (Est. 7:2). Ester se “tyd om te praat”, het aangebreek.

17 Ons kan dink dat Ester moontlik ’n stille gebed tot haar God gedoen het voordat sy gesê het: “As ek guns in u oë gevind het, o koning, en as die koning dit goedvind, laat my siel aan my gegee word op my bede en my volk op my versoek” (Est. 7:3). Let op dat sy die koning verseker het dat sy sy oordeelsvermoë respekteer.  Hoe het Ester tog verskil van Vasti, die koning se vorige vrou, wat haar man opsetlik verneder het! (Est. 1:10-12). Ester het die koning ook nie gekritiseer omdat hy so dwaas was om Haman te vertrou nie. Sy het die koning eerder gesmeek om haar lewe te beskerm.

18. Hoe het Ester die probleem aan die koning geopenbaar?

18 Hierdie versoek moes sekerlik die koning se hart geraak het, en dit moes hom ook verbaas het. Wie sou dit waag om sy koningin se lewe te bedreig? Ester het verder gesê: “Ons is verkoop, ek en my volk, om verdelg, doodgemaak en uitgeroei te word. En as ons as blote slawe en as blote diensmeisies verkoop is, sou ek stilgebly het. Maar die benoudheid is nie gepas wanneer dit met skade vir die koning gepaardgaan nie” (Est. 7:4). Let op dat Ester reguit gesê het wat die probleem is, maar bygevoeg het dat sy sou stilgebly het as die gevaar bloot slawerny was. Maar omdat hierdie volksmoord die koning self te veel sou kos, kon sy nie stilbly nie.

19. Wat kan ons by Ester leer oor die oorredingskuns?

19 Ester se voorbeeld leer ons baie oor die oorredingskuns. As jy ooit ’n ernstige probleem onder die aandag van ’n geliefde of selfs iemand in ’n gesagsposisie moet bring, kan ’n kombinasie van geduld, respek en openhartigheid grootliks help.—Spr. 16:21, 23.

20, 21. (a) Hoe het Ester Haman ontmasker, en watter reaksie het dit by die koning uitgelok? (b) Hoe het Haman gereageer toe hy as ’n slinkse lafaard ontmasker is?

20 Ahasveros wou weet: “Wie is dit, en presies waar is die een wat so vermetel was om dit te doen?” Stel jou voor hoe Ester met ’n vinger na Haman wys terwyl sy sê: “Die man, die teenstander en vyand, is hierdie slegte Haman.” Die aantyging het in die lug  gehang. Groot vrees het Haman beetgepak. Stel jou voor hoe die opvlieënde monarg rooi in die gesig word wanneer hy besef dat sy vertroude raadgewer hom mislei het om ’n bevel te onderteken wat sy eie geliefde vrou se lewe sal kos! Die koning het uitgestorm na die tuin om af te koel.—Est. 7:5-7.

Ester het Haman se boosheid moedig blootgelê

21 Haman, wat as ’n slinkse lafaard ontmasker is, het hom by die koningin se voete neergewerp. Toe die koning in die vertrek terugkom en Haman op Ester se slaapbank sien terwyl hy by haar pleit, het hy Haman woedend daarvan beskuldig dat hy die koningin in die koning se eie huis probeer verkrag. Dit het die doodsklok vir Haman gelui. Sy gesig is bedek, en hy is weggeneem. Een van die koning se amptenare het die koning toe vertel van die groot paal wat Haman vir Mordegai laat maak het. Ahasveros het dadelik beveel dat Haman daaraan gehang word.—Est. 7:8-10.

22. Hoe kan Ester se voorbeeld ons leer om nooit moed op te gee, sinies te word of ons geloof te verloor nie?

22 In vandag se onregverdige wêreld is dit maklik om te dink dat reg nooit sal geskied nie. Het jy al ooit so gevoel? Ester het nooit moed opgegee nie, nooit sinies geword nie, nooit haar geloof verloor nie. Toe die tyd daarvoor aangebreek het, het sy moedig opgekom vir wat reg is, en sy het op Jehovah vertrou om die res te doen. Laat ons dit ook doen! Jehovah het nie sedert Ester se dag verander nie. Hy is nog steeds heeltemal in staat om die goddelose en slinkse mense in hulle eie strikke te laat trap, net soos hy in die geval van Haman gedoen het.—Lees Psalm 7:11-16.

Sy het onselfsugtig vir Jehovah en sy volk opgetree

23. (a) Hoe het die koning Mordegai en Ester beloon? (b) Hoe is Jakob se sterfbedprofesie oor Benjamin vervul? (Sien die venster “ ’n Vervulde profesie”.)

23 Uiteindelik het die koning uitgevind wie Mordegai is—nie net die een wat hom lojaal teen ’n sluipmoordpoging beskerm het nie, maar ook Ester se pleegvader. Ahasveros het Haman se posisie as eerste minister aan Mordegai gegee. Haman se huis—met inbegrip van sy ontsaglike fortuin—het die koning aan Ester gegee, en sy het Mordegai daaroor aangestel.—Est. 8:1, 2.

24, 25. (a) Waarom kon Ester nie ontspan nadat Haman se komplot onthul is nie? (b) Hoe het Ester weer haar lewe gewaag?

 24 Kon koningin Ester ontspan, noudat sy en Mordegai veilig was? Net as sy selfsugtig was. Op daardie oomblik was Haman se opdrag om al die Jode dood te maak, op pad na elke uithoek van die ryk. Haman het die lot, of die Pur, gewerp—klaarblyklik ’n vorm van spiritisme—om die beste tyd vir hierdie wrede aanval vas te stel (Est. 9:24-26). Dit was nog maande voor daardie dag, maar dit het vinnig nader gekom. Kon die ramp nog afgeweer word?

25 Ester het weer haar lewe op onselfsugtige wyse gewaag en nog ’n keer sonder ’n amptelike uitnodiging voor die koning verskyn. Hierdie keer het sy oor haar volk gehuil en haar man gesmeek om die verskriklike verordening te herroep. Maar wette wat in die naam van die Persiese koning uitgevaardig is, kon nie herroep word nie (Dan. 6:12, 15). Gevolglik het die koning Ester en Mordegai die gesag gegee om ’n nuwe wet uit te vaardig. ’n Tweede proklamasie is uitgestuur waarin die Jode die reg gegee is om hulle te verdedig. Ruiters het hulle na elke deel van die ryk gehaas om hierdie goeie nuus na die Jode te neem. Hoop het weer in baie harte opgeflikker (Est. 8:3-16). Ons kan ons voorstel hoe die Jode oral in daardie uitgestrekte ryk hulle bewapen het en gereedgemaak het om te veg, iets wat hulle nooit sonder daardie nuwe verordening sou kon doen nie. Maar nog belangriker, sou “Jehovah van die leërs” met sy volk wees?—1 Sam. 17:45.

Ester en Mordegai het proklamasies aan die Jode van die Persiese Ryk gestuur

26, 27. (a) Hoe groot en volkome was die oorwinning wat Jehovah sy volk oor hulle vyande gegee het? (b) Watter profesie is vervul toe Haman se seuns doodgemaak is?

 26 Toe die aangewese dag uiteindelik aanbreek, was God se volk gereed. Selfs baie Persiese amptenare was nou aan hulle kant, aangesien die nuus in verband met die nuwe eerste minister, die Jood Mordegai, wyd en syd versprei het. Jehovah het sy volk ’n groot oorwinning gegee. Hy het ongetwyfeld sy volk teen vreeslike weerwraak beskerm deur hulle vyande ’n algehele nederlaag te laat ly. *Est. 9:1-6.

27 Verder sou dit nooit vir Mordegai veilig gewees het om Haman se huis te bestuur terwyl die tien seuns van daardie bose man nog gelewe het nie. Hulle is ook doodgemaak (Est. 9:7-10). ’n Bybelprofesie is sodoende vervul, want God het vroeër die algehele uitwissing van die Amalekiete voorspel, wat bose vyande van sy volk was (Deut. 25:17-19). Die seuns van Haman was heel moontlik van die allerlaaste lede van daardie veroordeelde nasie.

28, 29. (a) Waarom was dit Jehovah se wil dat Ester en haar volk by oorlogvoering betrokke raak? (b) Waarom is Ester se voorbeeld vandag vir ons ’n seën?

28 Ester moes swaar laste op haar jong skouers neem—soos koninklike verordeninge in verband met oorlog en teregstelling. Dit kon nie maklik gewees het nie. Maar Jehovah se wil het vereis dat sy volk teen uitwissing beskerm word; die nasie Israel moes die beloofde Messias voortbring, die een bron van hoop vir die hele mensdom! (Gen. 22:18). Hedendaagse knegte van God is verheug om te weet dat toe die Messias, Jesus, aarde toe gekom het, hy sy volgelinge verbied het om van daardie tyd af aan fisiese oorlogvoering deel te neem.—Matt. 26:52.

29 Christene neem egter wel aan geestelike oorlogvoering deel; Satan is baie gretig om ons geloof in Jehovah God te vernietig. (Lees 2 Korintiërs 10:3, 4.) Wat ’n seën is dit tog om Ester as ’n voorbeeld te hê! Mag ons, soos sy, geloof toon deur ons verstandige en geduldige gebruik van oorredingsvermoë, deur ons moed en deur ons onselfsugtige bereidwilligheid om vir God se volk op te kom.

^ par. 26 Die koning het die Jode ’n tweede dag gegee om hulle verowering van hulle vyande te voltooi (Est. 9:12-14). Die Jode vier vandag nog hierdie oorwinning elke jaar in die maand Adar, wat met einde Februarie en begin Maart ooreenstem. Hierdie fees staan bekend as Purim en is vernoem na die lot wat Haman gewerp het in sy poging om Israel uit te wis.