Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOLG HULLE GELOOF NA | REBEKKA

“Ek is bereid om te gaan”

“Ek is bereid om te gaan”

REBEKKA het na die ruwe landskap om haar gekyk terwyl die skaduwees al hoe langer geword het. Sy was reeds weke lank op reis en het uiteindelik gewoond begin raak aan die gewieg van die kameel waar sy hoog op sy rug gesit het. Haar ouerhuis in Haran was nou ver weg, honderde kilometers in ’n noordoostelike rigting. Sy sou haar familie dalk nooit weer sien nie. Vrae oor haar toekoms het ongetwyfeld in haar kop gemaal—veral noudat die einde van haar reis in sig was.

Die karavaan het deur ’n groot deel van Kanaän getrek en was nou in ’n dorre gebied, die Negeb (Genesis 24:62). Rebekka het waarskynlik hier en daar skape gesien. Die landskap was moontlik te woes en droog om op groot skaal te boer, maar daar was genoeg weiding. Haar bejaarde gids het hierdie gebied goed geken. Hy het gebrand om die goeie nuus vir sy heer te vertel—Rebekka gaan Isak se vrou word! Maar Rebekka het moontlik gewonder watter soort lewe sy in hierdie land sou lei. Watter soort man sou haar bruidegom, Isak, wees? Hulle het nog nooit ontmoet nie! Sou hy in sy skik wees wanneer hy haar sien? En hoe sou sy oor hom voel?

Vandag vind mense in baie wêrelddele dit vreemd dat huwelike gereël word. In ander gebiede is dit algemeen. Ongeag jou agtergrond, jy sal saamstem dat ’n onbekende lewe vir Rebekka voorgelê het. Sy het in werklikheid merkwaardige moed en geloof gehad. Ons het albei hierdie eienskappe nodig wanneer ons voor verandering in ons lewe te staan kom. Rebekka se geloof het ook met ander pragtige en seldsame eienskappe gepaardgegaan.

“OOK VIR U KAMELE SAL EK WATER SKEP”

Die groot verandering in Rebekka se lewe het moontlik vir haar op ’n heel gewone manier begin. Sy het grootgeword in of naby Haran, ’n stad in Mesopotamië. Haar ouers was anders as die meeste mense in Haran. Hulle het nie die maangod Sin aanbid nie. Hulle God was Jehovah.—Genesis 24:50.

Rebekka het ’n pragtige jong vrou geword, maar sy was nie verwaand of lui nie. Sy was lewenslustig, en sy het sedelik rein gebly. Haar gesin was ryk genoeg om diensknegte te hê, maar Rebekka is nie opgepiep of soos ’n prinses behandel nie; sy is geleer om hard te werk. Soos baie vroue wat in daardie tyd gelewe het, moes Rebekka moeilike take verrig, soos om water vir die gesin te gaan haal. Vroegaand het sy gewoonlik ’n waterkruik op haar skouer gesit en na die fontein toe gestap.—Genesis 24:11, 15, 16.

Een aand, nadat sy haar waterkruik vol gemaak het, het ’n bejaarde man vinnig na haar toe aangeloop gekom. Hy het vir haar gesê: “Gee my asseblief ’n slukkie water uit jou kruik.” Dit was ’n beskeie versoek, en hy het so mooi gevra! Rebekka kon sien dat die man ver gereis het. Daarom het sy die kruik vinnig van haar skouer afgehaal en hom water laat drink, nie net ’n slukkie nie, maar genoeg van die vars, koel water. Sy het sy karavaan van tien kamele gesien en opgelet dat die drinkbak nog nie vol water was nie. Sy kon sien dat sy vriendelike oë haar fyn dophou, en sy wou so vrygewig as moontlik wees. Daarom het sy gesê: “Ook vir u kamele sal ek water skep totdat hulle klaar gedrink het.”—Genesis 24:17-19.

Let op dat Rebekka nie aangebied het om die tien kamele net ’n bietjie water te gee nie, maar om hulle genoeg water te gee. As ’n kameel baie dors is, kan hy meer as 95 liter water drink! As al tien kamele so dors was, sou Rebekka ure lank hard moes werk. Maar die kamele was heel moontlik nie baie  dors nie. * Het Rebekka dit geweet toe sy aangebied het om vir hulle water te skep? Nee. Sy was gewillig, selfs gretig, om so hard te werk as wat nodig was om gasvryheid aan hierdie bejaarde vreemdeling te toon. Hy het haar aanbod aanvaar. Toe het hy haar met groot belangstelling dopgehou terwyl sy heen en weer gehardloop het om haar waterkruik ’n hele paar keer vol te maak en dan weer in die drinkbak leeg te maak.—Genesis 24:20, 21.

Rebekka was hardwerkend en gasvry

Rebekka het ’n uitstekende voorbeeld vir ons gestel. Ons lewe in ’n tyd waarin selfsug aan die orde van die dag is. Soos voorspel is, het mense “liefhebbers van hulleself” geword en is hulle nie bereid om moeite te doen vir ander nie (2 Timoteus 3:1-5). Christene wat hierdie neiging wil weerstaan, kan nadink oor die Bybelse verhaal van hierdie jong vrou wat heen en weer na die put toe gehardloop het.

Rebekka het ongetwyfeld opgelet dat die bejaarde man haar dophou. Hy het nie op ’n ongepaste manier na haar gekyk nie; ’n mens kon eerder verbasing, verwondering en vreugde op sy gesig sien. Toe Rebekka uiteindelik klaar was, het hy haar geskenke gegee—waardevolle juwele! Daarna het hy gevra: “Wie se dogter is jy? Vertel my asseblief. Is daar in die huis van jou vader vir ons plek om te oornag?” Toe sy vir hom sê wie haar familie is, het sy vreugde toegeneem. Sy het moontlik geesdriftig bygevoeg: “Daar is strooi sowel as baie voer by ons, ook plek om te oornag.” Haar aanbod het van groot gasvryheid getuig, aangesien die bejaarde man nie alleen was nie. Toe het sy voor hom uit gehardloop om haar ma te gaan vertel wat gebeur het.—Genesis 24:22-28, 32.

Dit is duidelik dat Rebekka geleer is om gasvry te wees. Hierdie eienskap is vandag blykbaar ook aan die afneem—en dit is nog ’n rede waarom ons die geloof van hierdie goedhartige jong vrou wil navolg. Geloof in God moet ons beweeg om gasvry te wees. Jehovah is gasvry, want hy is vrygewig teenoor almal, en hy wil hê dat sy aanbidders sy voorbeeld moet volg. As ons gasvry is, selfs teenoor dié wat ons nooit kan vergoed nie, behaag ons ons hemelse Vader.—Matteus 5:44-46; 1 Petrus 4:9.

 “JY MOET ’N VROU VIR MY SEUN NEEM”

Wie was die bejaarde man by die put? Hy was Abraham se dienskneg, en Abraham was die broer van Rebekka se oupa. Hy was dus welkom in die huis van Betuel, Rebekka se pa. Hierdie dienskneg se naam was waarskynlik Eliëser. * Die gesin het vir hom ’n ete aangebied, maar hy het daarop aangedring om eers te sê wat die rede vir sy besoek is (Genesis 24:31-33). Ons kan ons voorstel hoe hy opgewonde gepraat het, want hy het so pas kragtige bewyse gesien dat sy God, Jehovah, hom op hierdie belangrike sending geseën het. Hoe so?

Stel jou voor hoe Eliëser sy verhaal vertel terwyl Rebekka se pa, Betuel, sowel as haar broer Laban, aandagtig luister. Hy het hulle vertel dat Jehovah Abraham grootliks in Kanaän geseën het en dat Abraham en Sara ’n seun, Isak, gehad het wat alles sou erf. Abraham het Eliëser ’n baie belangrike opdrag gegee: Hy moes vir Isak ’n vrou gaan vind onder Abraham se familielede in Haran.—Genesis 24:34-38.

Abraham het Eliëser ’n eed laat aflê dat hy nie vir Isak ’n vrou sou kies onder die vroue van Kanaän nie. Waarom nie? Omdat die Kanaäniete Jehovah God nie gerespekteer of aanbid het nie. Abraham het geweet dat Jehovah hulle op Sy bestemde tyd vir hulle goddelose gebruike sou straf. Abraham wou nie hê dat sy geliefde seun, Isak, aan hierdie mense en hulle onsedelike weë verbind moes wees nie. Hy het ook geweet dat sy seun ’n noodsaaklike rol sou speel in die vervulling van God se beloftes.—Genesis 15:16; 17:19; 24:2-4.

Eliëser het verder vir hulle vertel dat hy tot Jehovah God gebid het toe hy by die put naby Haran aangekom het. Hy het Jehovah in werklikheid gevra om die jong vrou te kies met wie Isak sou trou. Hoe? Eliëser het God gevra om seker te maak dat die meisie met wie Hy wil hê Isak moet trou, na die put toe kom. Wanneer hy haar vir ’n bietjie water vra, moet sy aanbied om nie net vir hom iets te drinke te gee nie, maar om ook vir sy kamele water te skep (Genesis 24:12-14). En wie het gekom en presies dit gedoen? Rebekka! Stel jou voor hoe sy sou voel as sy die verhaal gehoor het wat Eliëser vir haar gesinslede vertel het!

Betuel en Laban is diep getref deur Eliëser se verhaal. Hulle het gesê: “Van Jehovah het hierdie saak uitgegaan.” Volgens die gebruik het hulle ’n huweliksverbond gesluit waardeur Rebekka in die huwelik aan Isak beloof is (Genesis 24:50-54). Maar beteken dit dat Rebekka geen sê in die saak gehad het nie?

Eliëser het weke tevore hierdie einste saak aangeroer toe hy vir Abraham gevra het: “Sê nou die vrou wil nie saam met my kom nie?” Abraham het gesê: “Dan sal jy vry wees van die verpligting teenoor my weens die eed” (Genesis 24:39, 41). In Betuel se huis is die jong vrou se gevoelens ook in ag geneem. Eliëser was so opgewonde oor die sukses van sy sending dat hy die volgende oggend gevra het of hy onmiddellik met Rebekka na Kanaän kan terugkeer. Maar die gesin wou hê dat sy ten minste nog tien dae by hulle bly. Uiteindelik het hulle die saak opgelos deur te sê: “Laat ons die jong vrou roep en uit haar mond verneem.”—Genesis 24:57.

Rebekka het nou voor ’n groot kruispad in haar lewe te staan gekom. Wat sou sy sê? Sou sy op haar pa en broer se gevoelens speel en pleit om nie saam te gaan op hierdie reis na ’n vreemde land nie? Of sou sy dit as ’n voorreg beskou om ’n aandeel te hê aan die gebeure wat ongetwyfeld deur Jehovah gerig is? Haar antwoord het getoon hoe sy gevoel het oor hierdie skielike en groot verandering in haar lewe. Sy het eenvoudig gesê: “Ek is bereid om te gaan.”—Genesis 24:58.

Wat ’n merkwaardige gesindheid! Vandag verskil ons gebruike dalk grootliks wanneer dit by die huwelik kom, maar ons kan nog steeds baie by Rebekka leer. Haar eie voorkeure was nie vir haar van die grootste belang nie, sy wou haar eerder onderwerp aan die wil van haar God, Jehovah. Vandag bied God se Woord steeds die beste raad wanneer dit by die huwelik kom—raad oor watter soort maat om te kies en hoe om ’n goeie man of vrou te wees (2 Korintiërs 6:14, 15; Efesiërs 5:28-33). Ons kan gerus  Rebekka se voorbeeld navolg en dinge op God se manier probeer doen.

“WIE IS DAARDIE MAN DAAR?”

Betuel se familie het hulle geliefde Rebekka geseën. Toe het sy en die vrou wat haar van kleins af versorg het, Debora, sowel as ’n paar diensmeisies, saam met Eliëser en sy manne vertrek (Genesis 24:59-61; 35:8). Kort voor lank het Haran ver agter hulle gelê. Dit was ’n lang reis van sowat 800 kilometer en het moontlik drie weke geduur. Dit was waarskynlik nie ’n gemaklike reis nie. Rebekka het al baie kamele in haar leeftyd gesien, maar ons kan nie aanneem dat sy dikwels op kamele gery het nie. Die Bybel beskryf haar familie as herders, nie as handelaars wat karavane kamele gehad het nie (Genesis 29:10). Mense wat nie daaraan gewoond is om op kamele te ry nie, kla dikwels van ongemak—selfs ná net ’n kort rit!

Maar Rebekka was opgewonde en het ongetwyfeld soveel as moontlik by Eliëser probeer uitvind oor Isak en sy familie. Stel jou voor hoe die bejaarde man by ’n kampvuur met haar sit en gesels en haar vertel van Jehovah se belofte aan Sy vriend Abraham. God sou uit Abraham se geslagslyn ’n nakomeling verwek deur wie die hele mensdom geseën sou word. Dink aan die ontsag wat Rebekka se hart gevul het toe sy besef het dat Jehovah se belofte deur haar aanstaande man, Isak, vervul sou word—en gevolglik ook deur haar!—Genesis 22:15-18.

Rebekka se nederigheid was seldsaam en kosbaar

Uiteindelik het die dag aangebreek wat ons aan die begin van hierdie artikel beskryf het. Terwyl die karavaan deur die Negeb getrek het en dit skemer begin word het, het Rebekka ’n man in die veld sien loop. Dit het gelyk asof hy diep ingedagte is. Sy het “vinnig van die kameel afgegly”, lees ons—dalk het sy nie eens gewag dat die dier kniel nie—en haar gids gevra: “Wie is daardie man daar wat ons in die veld tegemoetloop?” Toe sy hoor dat dit Isak is, het sy haar kop bedek (Genesis 24:62-65). Waarom? Dit was blykbaar om respek te toon vir haar toekomstige man. Sulke onderdanigheid word vandag moontlik deur baie mense as outyds beskou. Maar in werklikheid kan mans sowel as vroue ’n les uit Rebekka se nederigheid leer, want ons almal kan hierdie pragtige eienskap beslis in groter mate betoon!

Isak, wat ongeveer 40 jaar oud was, het nog getreur oor die dood van sy ma, Sara, wat drie jaar tevore gesterf het. Ons kan dus aflei dat Isak ’n liefdevolle man met tere gevoelens was. Wat ’n seën was dit tog vir hierdie man om ’n vrou te kry wat so hardwerkend, gasvry en nederig was! Hoe het hulle oor die weg gekom? Die Bybel sê eenvoudig: “Hy het haar liefgekry.”—Genesis 24:67; 26:8.

Dit is selfs vir ons, sowat 39 eeue later, maklik om lief te wees vir Rebekka. Ons kan nie anders as om haar te bewonder vir haar moed, hardwerkendheid, gasvryheid en nederigheid nie! Ons almal—jonk en oud, mans en vroue, getroud en ongetroud—kan gerus haar geloof navolg!

^ par. 10 Dit was reeds aand. Daar is geen aanduiding in die verslag dat Rebekka ure lank by die put besig was nie. Die verslag impliseer nie dat haar gesin al geslaap het teen die tyd dat sy klaar was nie of dat enigiemand kom kyk het waarom sy so lank wegbly nie.

^ par. 15 Eliëser se naam word nie in hierdie verslag genoem nie, maar hy was waarskynlik die dienskneg waarvan gepraat word. Abraham wou eenkeer al sy eiendom aan Eliëser bemaak, ingeval hy nie ’n natuurlike erfgenaam sou hê nie. Eliëser was dus ongetwyfeld Abraham se oudste en betroubaarste dienskneg. En dit is hoe die dienskneg in hierdie verslag beskryf word.—Genesis 15:2; 24:2-4.