Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOLG HULLE GELOOF NA | SARA

‘Jy is ’n vrou wat pragtig is’

‘Jy is ’n vrou wat pragtig is’

SARA staan in die middel van die kamer en kyk om haar rond. Stel jou ’n Midde-Oosterse vrou voor met treffende, donker oë vol uitdrukking. Is daar ’n tikkie hartseer in haar oë? Dit sal nie moeilik wees om te verstaan hoekom nie. Daar het baie in hierdie huis gebeur. Sy en haar geliefde man, Abraham, het jare lank gelukkig hier gebly. * Saam het hulle dit hulle huis gemaak.

Hulle het in Ur gebly, ’n besige en suksesvolle stad met baie ambagsmanne en verkoopsmanne. Daarom sou hulle beslis baie besittings gehad het. Maar Sara se huis was vir haar meer as net ’n plek om mooi dinge in te sit. Hier was sy en haar man nie net gelukkig nie, maar hulle het ook saam teleurstellings deurgemaak. Hier het hulle baie keer tot hulle geliefde God, Jehovah, gebid. Sara het meer as genoeg rede gehad om vir hierdie plek lief te wees.

En tog was Sara bereid om weg te trek van alles wat sy so goed geken het. Al was sy omtrent 60 jaar oud, sou sy na onbekende plekke reis en ’n lewe vol gevaar en swaarkry aanpak, sonder die vooruitsig om ooit weer terug te kom. Wat het tot hierdie groot verandering in haar lewe gelei? En wat kan ons uit haar geloof leer?

“TREK WEG UIT JOU LAND”

Sara het heel moontlik in Ur grootgeword. Al wat vandag van hierdie stad oor is, is ’n hoop klippe. Maar in Sara se dag het handelaars met hulle bote op en af met die Eufraatrivier en sy kanale gevaar en waardevolle goedere van verafgeleë plekke na hierdie besige stad gebring. Ur se nou, kronkelende strate het gewemel van mense. Skepe het langs die dokke teen mekaar gestamp en stoot, en daar was goedere te kies en te keur in die markte. Dit is in hierdie besige stad waar Sara grootgeword het, en sy het baie van die mense persoonlik geken. Hulle het ook geweet wie sy is omdat sy so ’n mooi vrou was en uit ’n groot familie gekom het.

Volgens die Bybel het Sara groot geloof gehad. Sy het nie geloof gehad in die maangod wat oral in Ur aanbid is en vir wie daar ’n groot toring in die stad gebou was nie. Sara het eerder die ware God, Jehovah, aanbid. Die Bybel sê nie hoe sy in God begin glo het nie, maar ons weet dat haar pa ten minste ’n tyd lank afgode aanbid het. Ons weet ook dat sy met Abraham getrou het, wat tien jaar ouer as sy was (Genesis 17:17). * Hy het later bekend geword as “die vader . . . van almal wat geloof het” (Romeine 4:11). Saam het hulle ’n goeie, sterk huwelik opgebou. ’n Huwelik gekenmerk deur respek, goeie kommunikasie en ’n gewilligheid om saam deur moeilike probleme te werk. Maar die belangrikste kenmerk van hulle huwelik was hulle liefde vir hulle God.

 Sara het haar man baie liefgehad, en die twee het naby hulle familielede in Ur gebly. Maar nie lank daarna nie het hulle voor ’n hartseer probleem te staan gekom. Die Bybel sê vir ons dat Sara “onvrugbaar gebly [het]; sy het geen kind gehad nie” (Genesis 11:30). In daardie tyd en kultuur was Sara se situasie ’n groot probleem. Maar Sara het getrou aan haar God en haar man gebly. Hulle vaderlose broerskind Lot het soos ’n seun vir hulle geword. Die lewe het aangegaan—tot die dag dat alles verander het.

Abraham het na Sara toe gekom, hy was baie opgewonde. Hy kon skaars glo wat so pas gebeur het. Hulle God het met hom gepraat, selfs aan hom verskyn, ongetwyfeld deur middel van ’n engel! Stel jou voor hoe Sara met groot oë na haar man kyk en hom verbaas vra: “Wat het hy vir jou gesê? Asseblief, sê my!” Dalk het Abraham eers gesit om sy gedagtes bymekaar te kry. Toe het hy haar vertel wat Jehovah gesê het: “Trek weg uit jou land en van jou familielede en kom na die land wat ek jou sal wys” (Handelinge 7:2, 3). Nadat hulle opgewondenheid bietjie bedaar het, het hulle begin dink oor wat hierdie toewysing van Jehovah vir hulle sou beteken. Hulle sou hulle gevestigde en gemaklike lewe moes agterlaat en as swerwers lewe! Hoe het Sara hieroor gevoel? Abraham het haar fyn dopgehou. Sou sy bereid wees om saam met hom hierdie groot verandering in hulle lewe te maak?

Dalk was ons nog nooit in ’n situasie soos Sara s’n nie. Ons dink moontlik: ‘Wel, God het my of my maat nog nooit gevra om so iets te doen nie!’ Maar moet ons nie almal ’n soortgelyke keuse maak nie? Ons lewe in ’n materialistiese wêreld wat ons aanmoedig om ons eie gemak, besittings en sekuriteit eerste in ons lewe te stel. Maar die Bybel spoor ons aan om ’n ander keuse te maak. Dit spoor ons aan om geestelike dinge eerste te stel, om God eerder gelukkig te maak as onsself (Matteus 6:33). Wanneer ons dink oor wat Sara gedoen het, kan ons ons afvra: ‘Watter keuse sal ek in die lewe maak?’

HULLE HET ‘UIT DIE LAND WEGGETREK’

Terwyl Sara haar goed ingepak het, moes sy besluit wat om saam te vat en wat om te los, en dit was nie maklik nie. Sy kon niks saam vat wat te groot was vir ’n karavaan van donkies en kamele om te dra nie. Sy kon ook niks vat wat onprakties in die lewe van ’n swerwer sou wees nie. Sy moes baie van haar goed verkoop of weggee. Sy sou ook nie meer die gerief van die stadslewe hê nie—markte en basaars waar sy gou-gou graan, vleis, vrugte, klere en ander benodigdhede kon gaan koop.

Omdat Sara geloof gehad het, kon sy haar gerieflike huis agterlaat

Die moeilikste ding vir Sara om op te gee, was seker haar huis. As dit soos baie van die huise was wat deur argeoloë in Ur opgegrawe is, het Sara beslis ’n baie gerieflike huis opgegee. Party van hierdie huise het meer as 12 vertrekke gehad, sowel as lopende  water en fonteine met vars water. Selfs ’n eenvoudige huis het ’n stewige dak, mure en ’n deur met ’n slot gehad. Kon ’n tent dieselfde beskerming teen diewe bied? Wat nog te sê van leeus, luiperds, bere en wolwe—diere wat in daardie tyd algemeen in Bybellande voorgekom het?

En wat van haar familie? Wie sou Sara daar agterlaat? God het beveel: “Trek weg uit jou land en van jou familielede.” Dit moes veral vir haar moeilik gewees het. Sy was ’n warm, liefdevolle vrou en het heel moontlik broers en susters, niggies en nefies en ooms en tannies gehad vir wie sy baie lief was en wat sy seker nooit weer sou sien nie. Maar Sara het dapper voortgegaan en dag na dag gepak en dinge begin regkry sodat hulle kon vertrek.

Ten spyte van alles het Sara klaar gepak en was sy reg om te gaan op die groot dag. As hoof van die gesin het Tera saam met Abraham en Sara getrek, al was hy omtrent 200 jaar oud (Genesis 11:31). Sara het heel moontlik hard gewerk om na haar pa te kyk. Lot het ook saamgegaan toe hulle Jehovah gehoorsaam het en “uit die land van die Galdeërs weggetrek” het.—Handelinge 7:4.

Die karavaan het al langs die Eufraatrivier gereis en eers na Haran gegaan, sowat 960 kilometer noordwes van Ur. Die familie het ’n ruk lank in Haran gebly. Tera het moontlik op hierdie stadium swak geword en kon nie verder reis nie. Die familie het daar gebly totdat hy op die ouderdom van 205 jaar gesterf het. Die een of ander tyd voordat hulle verder gereis het, het Jehovah weer met Abraham gepraat. Jehovah het nog ’n keer vir hom gesê om hierdie land te verlaat en na die land te gaan wat hy hom sou wys. Hierdie keer het God ’n wonderlike belofte gemaak: “Ek sal jou ’n groot nasie maak” (Genesis 12:2-4). Maar toe hulle Haran verlaat, was Abraham 75 en Sara 65 jaar oud, en hulle het nie kinders gehad nie. Hoe kon ’n nasie dan van Abraham afstam? Sou hy nog ’n vrou neem? Dit was algemeen in daardie dae vir ’n man om meer as een vrou te hê, en Sara het seker hieroor gewonder.

Hulle het Haran toe verlaat en die lang pad aangepak. Maar let op wie was nou saam met hulle. Die Bybel sê dat Abraham se familie weggetrek het met al die rykdom wat hulle daar bymekaargemaak het, sowel as “die siele wat hulle in Haran verwerf het” (Genesis 12:5). Wie was hierdie mense? Heel moontlik diensknegte. Maar Abraham en Sara het sekerlik vir dié wat wou luister, van hulle geloof vertel. ’n Ou Joodse bron sê dat die mense waarna hier verwys word, proseliete was of mense wat Jehovah begin aanbid het saam met Abraham en Sara. As dit die geval was, het Sara se diep geloof haar beweeg om oortuigend vir ander van haar God en haar hoop te vertel. Dit is iets waaroor ons moet nadink, want ons lewe in ’n tyd waarin geloof en hoop bitter skaars is. Kan jy vir iemand vertel van die goeie dinge wat jy uit die Bybel geleer het?

HULLE GAAN “NA EGIPTE”

Nadat hulle deur die Eufraatrivier getrek het, waarskynlik op 14 Nisan 1943 VHJ, het hulle suidwaarts getrek en die land binnegegaan wat Jehovah hulle belowe het (Eksodus 12:40, 41). Kan jy jou voorstel hoe Sara haar verkyk aan die natuurskoon en die groot verskeidenheid om haar en hoe sy die aangename klimaat van die land geniet. Jehovah het weer aan Abraham verskyn naby die groot bome van More, naby Sigem, en gesê: “Aan jou saad gaan ek hierdie land gee.” Hierdie woord “saad” het groot betekenis vir Abraham gehad. Dit het hom laat dink aan die tuin van Eden toe Jehovah voorspel het dat ’n saad Satan in die toekoms sou vernietig. Jehovah het reeds vir Abraham gesê dat mense regoor die aarde geseën sal word deur die nasie wat van hom sou afstam.—Genesis 3:15; 12:2, 3, 6, 7.

Maar dit het nie beteken dat die familie nie die probleme van hierdie wêreld sou ondervind nie. ’n Hongersnood het in die land Kanaän uitgebreek, en Abraham het besluit om sy familie suid na Egipte te neem. Maar hy het geweet dat daar ’n kans is dat iets slegs met hulle kon gebeur. Daarom het hy vir Sara gesê: “Kyk tog! Ek weet goed dat jy ’n vrou is wat pragtig in voorkoms is. Daarom sal die Egiptenaars jou sekerlik sien en sê: ‘Dit is sy vrou.’ En hulle sal my beslis doodmaak, maar jou sal hulle laat lewe. Sê asseblief dat jy my suster is, sodat dit met my goed kan gaan om jou onthalwe, en my siel sal sekerlik  weens jou lewe” (Genesis 12:10-13). Hoekom het Abraham haar gevra om dit te doen?

Abraham was nie ’n leuenaar of ’n bangbroek, soos party beweer nie. Sara was in werklikheid sy halfsuster. En Abraham was nie verniet versigtig nie. Abraham en Sara het geweet dat niks belangriker is as God se voorneme om ’n spesiale saad en ’n nasie deur middel van Abraham voort te bring nie. Daarom was dit baie belangrik dat Abraham bly lewe. En daar is argeologiese bewyse dat dit niks vreemds was vir belangrike manne in Egipte om ’n vrou te ontvoer en haar man dood te maak nie. Dit was ’n goeie ding dat Abraham so opgetree het, en Sara het nederig met sy plan saamgewerk.

Wat Abraham gevrees het, het toe wel gebeur. Party van Farao se prinse het gesien hoe mooi Sara is, al was sy nie meer jonk nie. Hulle het vir Farao van haar vertel, en hy het beveel dat sy na hom toe gebring moet word! Kan jy jou voorstel hoe stresvol dit vir Abraham was en hoe bang Sara moes gevoel het? Dit lyk asof sy nie as ’n gevangene behandel is nie, maar eerder as ’n spesiale gas. Dalk het Farao beplan om haar te kry om verlief te word op hom deur haar te beïndruk met sy rykdom. Dan sou hy met haar “broer” onderhandel om haar sy vrou te maak.—Genesis 12:14-16.

Dink hoe Sara by die paleis se venster of balkon staan en oor die Egiptiese natuurskoon uitkyk. Hoe het sy gevoel noudat sy weer in ’n plek met mure en ’n dak kon woon? Wat nog te sê van die lekker kos wat vir haar aangedra is. Het sy hierdie weelderige lewe begeer? ’n Lewe met selfs meer rykdom en gemak as die lewe wat sy in Ur gehad het? Dink net hoe bly Satan sou gewees het as sy Abraham gelos het en Farao se vrou geword het! Maar dit is nie wat Sara gedoen het nie. Sy was getrou aan haar man, haar huwelik en haar God. As alle getroude mense in hierdie goddelose wêreld maar net so lojaal soos Sara kon wees! Kan jy Sara se getrouheid navolg in jou verhoudings met jou vriende en geliefdes?

Al kon Sara al die rykdom en gemak in Farao se paleis geniet, het sy getrou aan haar huweliksmaat gebly

Jehovah het ingegryp en hierdie geliefde vrou beskerm deur plae oor Farao en sy huishouding te bring. Toe Farao uitvind dat Sara Abraham se vrou is, het hy haar na hom toe teruggestuur en gevra dat Abraham en almal wat saam met hom is, Egipte moet verlaat (Genesis 12:17-20). Hoe bly was Abraham tog toe hy en sy geliefde vrou weer bymekaar is! Al het hy vir haar gesê: “Ek weet goed dat jy ’n vrou is wat pragtig in voorkoms is”, was sy nie net vir hom pragtig oor hoe sy gelyk het nie. Sara was mooi van binne, iets wat vir Jehovah baie belangrik is (1 Petrus 3:1-5). Dit is die soort innerlike skoonheid wat ons almal kan verkry. Ons kan Sara se geloof navolg deur geestelike dinge bo materiële dinge te stel, ander van God te vertel en getrou aan God se standaarde te bly al word ons versoek.

^ par. 3 Hulle name was eers Abram en Sarai, maar die meeste mense ken eerder die name wat Jehovah hulle later gegee het.—Genesis 17:5, 15.

^ par. 8 Tera was Sara en Abraham se pa, maar hulle het nie dieselfde ma gehad nie. Daarom was Sara Abraham se halfsuster (Genesis 20:12). Hoewel so ’n huwelik vandag heeltemal verkeerd sal wees, moet ons in gedagte hou dat dinge baie anders was in daardie tyd. Die mens was nader aan die volmaaktheid wat Adam en Eva gehad het, maar toe verloor het. Vir sulke sterk, gesonde mense het ’n huwelik tussen onmiddellike familielede nie dieselfde genetiese gevare vir hulle kinders ingehou as wat vandag die geval is nie. Sowat 400 jaar later, toe mense omtrent so lank gelewe het as wat ons vandag lewe, het die Mosaïese Wet seks tussen onmiddellike familielede verbied.—Levitikus 18:6.