Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat ons uit Maria se voorbeeld kan leer

Wat ons uit Maria se voorbeeld kan leer

Wat ons uit Maria se voorbeeld kan leer

Het jy al ooit oorweldig gevoel deur ’n onverwagte uitdaging of verantwoordelikheid? Voel jy afgemat weens die daaglikse stryd om die pot aan die kook te hou? Miskien is jy een van die miljoene wat verward en bang voel omdat hulle hulle vaderland as vlugtelinge moes verlaat. En wie van ons het nog nie diepe pyn en leegheid ervaar nadat ons ’n geliefde aan die dood afgestaan het nie?

HET jy geweet dat Maria, die moeder van Jesus, voor al hierdie uitdagings te staan gekom het? Wat meer is, sy het dit met welslae die hoof gebied! Wat kan ons uit haar voorbeeld leer?

Maria is beslis wêreldwyd bekend. En dit is geen wonder nie, want sy het ’n unieke rol in die vervulling van God se voornemens gespeel. Maria word ook deur miljoene mense vereer. Die Katolieke Kerk vereer haar as ’n geliefde Moeder en as ’n voorbeeld van geloof, hoop en menseliefde. Baie persone is geleer dat Maria mense na God lei.

Hoe beskou jy Jesus se moeder? En nog belangriker, hoe beskou God haar?

’n Unieke toewysing

Maria, die dogter van Heli, het tot die Israelitiese stam Juda behoort. Sy word die eerste keer in die Bybel gemeld in verband met ’n buitengewone gebeurtenis. ’n Engel het haar besoek en gesê: “Goeiedag, hoogbegunstigde, Jehovah is met jou.” Maria was aanvanklik verontrus en “het begin wonder watter soort groet dit kon wees”. Die engel het toe vir haar gesê dat sy gekies is vir die ongelooflike maar ook uiters verantwoordelike toewysing om met God se Seun swanger te word, aan hom geboorte te gee en hom groot te maak.—Lukas 1:26-33.

Wat ’n verantwoordelikheid is tog op die skouers van hierdie jong, ongetroude vrou geplaas! Hoe het sy gereageer? Maria het heel moontlik gewonder wie haar sou glo. Sou hierdie swangerskap haar die liefde van Josef, haar verloofde, kos of haar aan openbare skande blootstel? (Deuteronomium 22:20-24). Sy het nie gehuiwer om hierdie gewigtige toewysing te aanvaar nie.

Maria se sterk geloof het haar in staat gestel om haar aan die wil van haar God, Jehovah, te onderwerp. Sy was daarvan oortuig dat hy vir haar sou sorg. Daarom het sy uitgeroep: “Kyk! Jehovah se slavin! Mag dit met my gebeur volgens u verklaring.” Maria was bereid om die uitdagings wat voorgelê het, te aanvaar omdat sy die geestelike voorreg wat sy gegee is, waardeer het.—Lukas 1:38.

Toe Maria vir Josef sê dat sy swanger is, wou hy hulle verlowing verbreek. Dit moes vir hulle albei ’n baie spanningsvolle tyd gewees het. Die Bybel sê nie hoe lank hierdie moeilike tydperk geduur het nie. Maar Maria sowel as Josef het sekerlik baie verlig gevoel toe Jehovah se engel aan Josef verskyn het. Hierdie hemelse boodskapper het Maria se buitengewone swangerskap verklaar en vir Josef gesê om haar as sy vrou huis toe te neem.—Matteus 1:19-24.

Moeilike tye

Vandag tref talle aanstaande moeders maande lank voorbereidings vir die koms van ’n baba, en Maria het dalk dieselfde gedoen. Dit sou haar eerste kind wees. Maar onverwagte gebeure het haar planne gekompliseer. Keiser Augustus het bepaal dat ’n sensus gehou moet word, wat vereis het dat almal in hulle dorp van herkoms geregistreer word. Josef het dus vir Maria, wat nou in die negende maand van haar swangerskap was, op ’n reis van ongeveer 150 kilometer geneem, waarskynlik op die rug van ’n donkie! Betlehem was stampvol, en Maria moes ’n privaat plek hê om geboorte te gee, maar die enigste beskikbare plek was ’n stal. Dit moes vir Maria moeilik gewees het om in ’n stal geboorte te gee. Dit was heel moontlik vir haar ’n verleentheid, en dalk was sy bang.

In hierdie kritieke oomblikke van haar lewe het Maria ongetwyfeld haar hart voor Jehovah uitgestort, in die vertroue dat hy vir haar en haar baba sou sorg. Later het ’n paar herders daar aangekom, gretig om die baba te sien. Hulle het gemeld dat engele hierdie kind “’n Redder . . . , wat Christus die Here is”, genoem het. Dan lees ons: “Maria het al hierdie woorde begin bewaar, terwyl sy in haar hart gevolgtrekkings gemaak het.” Sy het oor hierdie woorde gepeins en krag daaruit geput.—Lukas 2:11, 16-19.

Wat van ons? Ons sal waarskynlik pynlike ondervindinge in die lewe deurmaak. En die Bybel toon dat “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” enigeen van ons kan tref en allerhande ontberinge en uitdagings in ons weg kan lê (Prediker 9:11). Raak ons verbitterd en blameer ons God wanneer dit gebeur? Sal dit nie beter wees om Maria se gesindheid na te volg en nader aan Jehovah God te kom deur sy Woord, die Bybel, te bestudeer en dan te peins oor wat ons geleer het nie? As ons dit doen, sal dit ons beslis help om beproewinge te verduur.

Arm en ’n vlugteling

Maria het ook ander ontberinge deurgemaak—sy was arm en moes uit haar vaderland vlug. Het jy al met sulke uitdagings te kampe gehad? Volgens een verslag lewe “die helfte van die wêreld—byna driemiljard mense—van minder as twee dollar per dag”, en miljoene sukkel om ’n bestaan te maak al woon hulle in sogenoemde ryk lande. Wat van jou? Laat die daaglikse geswoeg om jou gesin van voedsel, klere en onderdak te voorsien, jou soms uitgeput, of selfs oorweldig, voel?

Die Bybel toon dat Josef en Maria redelik arm was. Hoe so? Een van die paar feite wat die Evangelies—Matteus, Markus, Lukas en Johannes—omtrent hierdie egpaar noem, is dat Maria en Josef, 40 dae nadat sy geboorte gegee het, na die tempel gegaan het om die vereiste offerande te bring—“’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe” (Lukas 2:22-24). a Hierdie offerande is slegs toegelaat in die geval van persone wat te arm was om ’n jong skaapram te offer. Dit was dus heel moontlik vir Josef en Maria moeilik om kop bo water te hou. Hulle het nietemin baie goed daarin geslaag om ’n liefdevolle gesinsmilieu te skep. Geestelike sake was ongetwyfeld vir hulle van die allergrootste belang.—Deuteronomium 6:6, 7.

Kort ná Jesus se geboorte is Maria se lewe weer eens ontwrig. ’n Engel het vir Josef gesê om sy gesin te neem en na Egipte te vlug (Matteus 2:13-15). Dit was die tweede keer dat Maria ’n bekende omgewing moes verlaat, maar dié keer moes sy na ’n vreemde land gaan. Egipte het ’n groot Joodse gemeenskap gehad, wat dit dalk vir Maria en Josef moontlik gemaak het om onder hulle eie mense te woon. Dit kan nogtans moeilik en ontwrigtend wees om in ’n vreemde land te woon. Is jy en jou gesin onder die miljoene wat hulle vaderland verlaat het, dalk ter wille van die welsyn van hulle kinders of om gevaar te ontvlug? Dan kan jy party van die ontberinge wat Maria moontlik in Egipte deurgemaak het, goed verstaan.

’n Toegewyde vrou en moeder

Met die uitsondering van die verslae oor Jesus se geboorte en kinderjare word Maria min in die Evangelies genoem. Maar ons weet dat Maria en Josef ten minste ses ander kinders gehad het. Dit verbaas jou dalk. Maar kyk wat die Evangelies sê.

Josef het groot respek gehad vir Maria se voorreg om God se Seun te baar. Gevolglik het hy voor Jesus se geboorte nie geslagsomgang met haar gehad nie. Matteus 1:25 sê dat Josef “geen gemeenskap met haar gehad [het] totdat sy aan ’n seun geboorte gegee het nie”. Die woord “totdat” in hierdie vers dui daarop dat Josef en Maria ná Jesus se geboorte normale geslagsomgang as man en vrou gehad het. Die Evangelieverslae sê dat Maria gevolglik kinders, seuns sowel as dogters, by Josef gehad het. Jakobus, Josef, Simon en Judas was Jesus se halfbroers. En Maria het ten minste twee dogters gehad (Matteus 13:55, 56). Sy het egter op die gewone manier met hierdie kinders swanger geword. b

Maria was ’n geestelikgesinde persoon. Hoewel die Wet nie vereis het dat vroue die Pasgaviering bywoon nie, was dit Maria se gewoonte om elke jaar saam met Josef vir die fees na Jerusalem te reis (Lukas 2:41). Dit sou elke jaar ’n heen- en terugreis van byna 300 kilometer behels het—en dit met ’n groeiende gesin! Maar hierdie reise was ongetwyfeld vreugdevolle gesinsgeleenthede.

Baie vrouens volg vandag Maria se goeie voorbeeld. Hulle werk hard en onselfsugtig om hulle skriftuurlike verpligtinge na te kom. Hoe dikwels lê hierdie toegewyde vrouens tog groot geduld, volharding en nederigheid aan die dag! Bepeinsing oor Maria se gesindheid help hulle om geestelike sake bo hulle eie begeerte na gemak en plesier te stel. Hulle weet, soos Maria ongetwyfeld ook geweet het, dat dit hulle gesin versterk en verenig as hulle God saam met hulle man en kinders aanbid.

Eenkeer, toe Maria en Josef op pad terug was van ’n fees in Jerusalem—teen dié tyd waarskynlik al met ’n paar kinders—het hulle besef dat die 12-jarige Jesus nie by hulle was nie. Kan jy jou voorstel hoe benoud Maria was terwyl hulle drie dae lank naarstig na haar seun gesoek het? Toe sy en Josef hom uiteindelik in die tempel vind, het Jesus gesê: “Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Die verslag sê dat Maria weer “al hierdie woorde sorgvuldig in haar hart bewaar” het. Dit is nog ’n aanduiding dat Maria ’n baie geestelikgesinde persoon was. Sy het diep gepeins oor alles wat in verband met Jesus gebeur het. Jare later het sy waarskynlik duidelike herinneringe oor hierdie en ander gebeure in Jesus se vroeë lewe aan die Evangelieskrywers vertel.—Lukas 2:41-52.

Volharding ondanks lyding en die dood van geliefdes

Wat het van Josef, Jesus se pleegvader, geword? Nadat hy kortliks verskyn in die beskrywing van daardie een voorval in Jesus se jeug, verdwyn Josef uit die Evangelieverslag. Party meen dat daar nie weer na Josef verwys word nie omdat hy gesterf het voordat Jesus se bediening begin het. c Hoe dit ook al sy, Maria was blykbaar ’n weduwee teen die einde van Jesus se bediening. Net voordat Jesus gesterf het, het hy sy moeder aan die apostel Johannes se sorg toevertrou (Johannes 19:26, 27). Jesus sou dit waarskynlik nie gedoen het as Josef nog gelewe het nie.

Maria en Josef het soveel dinge saam beleef! Hulle is deur engele besoek, het van ’n tiran af weggevlug, moes verskeie kere verhuis en het ’n groot gesin grootgemaak. Hoeveel aande het hulle nie dalk oor Jesus gesit en praat nie, terwyl hulle gewonder het wat in die toekoms op hom wag en of hulle hom op die regte manier oplei en voorberei? En toe was Maria skielik alleen.

Het jy jou huweliksmaat aan die dood afgestaan? Voel jy nog die pyn en leegheid wat so ’n verlies meebring, selfs ná baie jare? Maria het ongetwyfeld vertroosting geput uit haar geloof en uit die wete dat daar ’n opstanding sal wees (Johannes 5:28, 29). d Sulke vertroostende gedagtes het egter nie Maria se probleme beëindig nie. Soos talle enkelmoeders van vandag het sy die moeilike taak gehad om sonder ’n man se hulp vir haar kinders te sorg.

Dit is redelik om te glo dat Jesus ná Josef se dood die vernaamste broodwinner van die gesin geword het. Namate Jesus se broers groter geword het, sou hulle hulle deel van die gesinsverantwoordelikhede kon dra. Toe Jesus “omtrent dertig jaar oud” was, het hy die huis verlaat en met sy bediening begin (Lukas 3:23). Die meeste ouers het gemengde gevoelens wanneer ’n volwasse seun of dogter die huis verlaat. Soveel tyd, energie en emosie word aan kinders gewy dat dit kan voel of daar ’n groot leemte is wanneer hulle die huis verlaat. Het enige van jou seuns of dogters die huis verlaat om hulle doelwitte na te streef? Is jy trots op hulle, maar wens jy soms ook dat hulle nader is? Dan kan jy jou voorstel hoe Maria dalk gevoel het toe Jesus die huis verlaat het.

Onverwagte beproewinge

Nog ’n beproewing wat Maria deurgemaak het, was een wat sy waarskynlik nooit verwag het nie. Terwyl Jesus gepreek het, het baie mense hom gevolg—maar nie sy eie broers nie. “Sy broers het in werklikheid nie geloof in hom beoefen nie”, sê die Skrif (Johannes 7:5). Maria het ongetwyfeld vir hulle vertel wat die engel vir haar gesê het—dat Jesus “God se Seun” is (Lukas 1:35). Maar vir Jakobus, Josef, Simon en Judas was Jesus net hulle oudste broer. Maria het haar dus in ’n gesin met verskillende godsdiensbeskouings bevind.

Het Maria mismoedig geraak en tou opgegooi? Beslis nie! Toe Jesus eenkeer in Galilea gepreek het, het hy na ’n huis gegaan om te eet, en ’n skare het byeengekom om na hom te luister. Wie was buite, op soek na hom? Maria en Jesus se broers. Wanneer Jesus dus naby die gesin se huis was, het sy hom gevolg en blykbaar haar ander kinders saam met haar geneem, miskien in die hoop dat hulle hulle gesindheid teenoor hom sou verander.—Matteus 12:46, 47.

Jy het moontlik ook te kampe met die uitdaging om Jesus te probeer volg terwyl ander lede van jou gesin dit nie wil doen nie. Moenie mismoedig raak nie, en moenie tou opgooi nie! Baie het al, soos Maria, gesinslede jare lank geduldig aangemoedig voordat hulle werklik enige verandering gesien het. Sulke volharding is vir God kosbaar, of ander reageer of nie.—1 Petrus 3:1, 2.

Die moeilikste uitdaging

Maria se laaste beproewing wat in die Skrif opgeteken is, was ongetwyfeld die hartverskeurendste. Sy het haar geliefde seun ’n pynlike dood sien sterf nadat hy deur sy volksgenote verwerp is. Die dood van ’n kind is al beskryf as “die grootste verlies”, “die verpletterendste dood”, hetsy die kind nog jonk of al ’n volwassene is. Net soos dekades tevore voorspel is, het dit vir Maria gevoel asof sy met ’n swaard deurboor word!—Lukas 2:34, 35.

Het Maria toegelaat dat hierdie laaste toets haar verpletter of haar geloof in Jehovah laat verswak? Nee. Die volgende keer dat Maria in die Bybelverslag genoem word, is sy by Jesus se dissipels, waar sy saam met hulle “volhard in gebed”. En sy is nie alleen nie. Haar ander seuns, wat teen dié tyd geloof in hulle oudste broer begin beoefen het, is saam met haar. Hoe moes dit Maria tog vertroos het! eHandelinge 1:14.

Maria het ’n vol en bevredigende lewe gelei as ’n getroue vrou, eggenoot en moeder. Sy het talle geestelik verrykende ondervindinge gehad. Sy het baie toetse en beproewinge te bowe gekom. Wanneer ons met onverwagte uitdagings te kampe het of ons oor gesinsprobleme kwel, kan ons beslis uit haar voorbeeld van getroue volharding leer.—Hebreërs 10:36.

Maar wat kan gesê word oor Maria as ’n voorwerp van spesiale godsdiensverering? Regverdig die Bybelverslag van Maria se unieke rol dat sy vereer word?

[Voetnote]

a Een van die voëls is as ’n sondoffer gebring (Levitikus 12:6, 8). Deur hierdie offerande te bring, het Maria erken dat sy, soos alle ander onvolmaakte mense, die gevolge van die sonde van Adam, die eerste mens, geërf het.—Romeine 5:12.

c Daar is al genoem dat Josef se afwesigheid in die verslag van Jesus se bediening opmerkenswaardig is, want Jesus se ander gesinslede—sy moeder, broers en susters—word gemeld. By die huweliksfees in Kana sien ons byvoorbeeld dat Maria betrokke is by die gebeure en selfs inisiatief aan die dag lê, maar daar is geen teken van Josef nie (Johannes 2:1-11). By ’n ander geleentheid vind ons dat die mense van Christus se tuisdorp nie na Jesus verwys as die seun van Josef nie, maar as “die seun van Maria”.—Markus 6:3.

d Vir meer inligting oor die Bybel se belofte van ’n opstanding, sien hoofstuk 7 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

e Sien die venster  “Sy het die moed gehad om te verander”, op bladsy 7.

[Venster/Prent op bladsy 6]

 Het Jesus broers en susters gehad?

Ja, hy het. Party teoloë het hierdie waarheid probeer wegredeneer, al kom die feit etlike kere duidelik na vore in die Evangelies (Matteus 12:46, 47; 13:54-56; Markus 6:3). Maar Bybelgeleerdes het twee dinge gemeld omtrent die teorieë dat Maria geen ander kinders gehad het nie. Eerstens, daar is ’n motief agter hierdie teorieë—naamlik om ’n leerstelling te staaf wat veel later ontstaan het, die kerklering dat Maria haar hele lewe lank ’n maagd gebly het. Tweedens, wanneer die teorieë self noukeurig ondersoek word, hou dit nie stand nie.

Byvoorbeeld, een van hierdie teorieë voer aan dat die “broers” wat gemeld word, stiefbroers is—seuns van Josef uit ’n vorige huwelik. Hierdie idee dra geen gewig nie, want dit sou Jesus in werklikheid die wetlike reg van die eersgeborene om die koningskap van Dawid te erf, ontsê het.—2 Samuel 7:12, 13.

’n Ander teorie is dat hierdie broers eintlik neefs van Jesus was, maar die Griekse Geskrifte gebruik verskillende woorde vir “broer”, “neef” en “familielid”. Die geleerde Frank E. Gaebelein bestempel dus hierdie teologiese teorieë as vergesog. Hy kom tot die slotsom: “Die natuurlikste manier om ‘broers’ te verstaan, . . . is dat die woord verwys na seuns van Maria en Josef en derhalwe na broers van Jesus aan moederskant.”

[Venster op bladsy 7]

 Sy het die moed gehad om te verander

Maria is uit ’n Joodse gesin gebore en was ’n aanhanger van die Joodse godsdiens. Sy het na die plaaslike sinagoge gegaan, soos die Joodse plek van aanbidding genoem word, en het die tempel in Jerusalem besoek. Namate Maria se kennis van God se voornemens toegeneem het, het sy egter tot die besef gekom dat die tradisies van haar voorvaders nie meer God se goedkeuring geniet nie. Joodse godsdiensleiers het haar Seun, die Messias, laat doodmaak. Voordat dit gebeur het, het Jesus hulle meegedeel: “Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matteus 23:38). God het sy seën onttrek aan die godsdiensstelsel waarin Maria grootgemaak is.—Galasiërs 2:15, 16.

Toe die Christengemeente gevorm is, was Maria moontlik sowat 50 jaar oud. Wat sou sy doen? Het sy geredeneer dat sy as lid van die Joodse godsdiensstelsel gebore is en dat sy lojaal wou bly aan die tradisies van haar voorvaders? Het sy gesê dat sy te oud is om te verander? Natuurlik nie! Maria het besef dat God se seën nou op die Christengemeente rus, en daarom het sy die geloof en moed gehad om te verander.

[Prent op bladsy 5]

Hulle vlug na Egipte

[Prent op bladsy 8]

Die ergste ondervinding wat ’n moeder kan deurmaak