Psalms 31:1-24
Vir die musiekleier. ’n Melodie van Dawid.
31 By u, o Jehovah, het ek beskerming kom soek.+
Mag ek nooit verneder word nie.+
Red my weens u regverdigheid.+
2 Skenk aandag aan* my.
Kom gou en red my.+
Word vir my ’n bergvesting,’n versterkte plek om my te red.+
3 Want u is my groot rots en my vesting,+en u sal my lei en my rig ter wille van u naam.+
4 U sal my bevry uit die net wat hulle in die geheim vir my gestel het,+want u is my vesting.+
5 In u hand gee ek my gees oor.+
U het my verlos, o Jehovah, die God van waarheid.*+
6 Ek haat dié wat waardelose, nuttelose afgode vereer,maar wat my betref, ek vertrou op Jehovah.
7 Ek sal vreugdevol wees oor u lojale liefde,want u het gesien hoe ek swaarkry.+
U is bewus van my groot angs.
8 U het my nie aan die vyand oorgelewer nie,maar u laat my op ’n veilige plek* staan.
9 Wees genadig teenoor my, o Jehovah, want ek is in groot moeilikheid.
My angs het my oë sowel as my hele liggaam* swak laat word.+
10 My lewe word deur droefheid verslind,+en my jare deur ’n gekreun.+
My krag word al hoe minder as gevolg van my oortreding,en al my bene word swak.+
11 Al my vyande bespot my,+veral my bure.
Mense wat my ken, is bang vir my.
Wanneer hulle my in die openbaar sien, vlug hulle weg van my af.+
12 Ek is nie meer in hulle hart* nie, en hulle het van my vergeet, asof ek dood is.
Ek is soos ’n stukkende houer.
13 Ek het talle slegte gerugte gehoor,en vrees omring my.+
Wanneer hulle soos een man teen my saamspan,beraam hulle planne om my dood te maak.+
14 Maar ek vertrou op u, o Jehovah.+
Ek sê: “U is my God.”+
15 My dae* is in u hand.
Red my uit die hand van my vyande en van dié wat my vervolg.+
16 Betoon goedheid aan u kneg.+
Red my deur u lojale liefde.
17 O Jehovah, moenie toelaat dat ek verneder word wanneer ek tot u roep nie.+
Laat die goddeloses verneder word.+
Laat hulle in die Graf* stilgemaak word.+
18 Laat valse lippe stom word,+lippe wat hoogmoedig teen die regverdiges praat en hulle bespot.
19 Hoe oorvloedig is u goedheid tog!+
U het dit as ’n skat bewaar vir dié wat u vrees,+en u het dit voor alle mense getoon ter wille van dié wat beskerming by u kom soek.+
20 U sal hulle beskerm in die geheime plek van u teenwoordigheid+teen die slinkse planne van mense.
U sal hulle in u skuilplek wegsteek
om hulle te beskerm wanneer hulle met woorde aangeval word.*+
21 Mag Jehovah geloof word,want hy het op ’n wonderlike wyse sy lojale liefde aan my betoon+ in ’n stad wat omsingel is.+
22 Ek het paniekerig geraak en gesê:
“Ek sal voor u sterf.”+
Maar u het my smekinge om hulp gehoor toe ek tot u geroep het.+
23 Wees lief vir Jehovah, almal van julle wat lojaal is aan hom!+
Jehovah beskerm die getroues,+maar enigiemand wat hoogmoedig is, straf hy swaar.+
24 Wees moedig, en mag julle hart sterk wees,+julle almal wat op Jehovah wag.+
Voetnote
^ Of “Buig neer en luister na”.
^ Of “die getroue God”.
^ Of “ruim plek”.
^ Of “my siel en my maag”.
^ Of “gedagtes”.
^ Lett. “tye”.
^ Lett. “teen die gestryery van tonge”.