Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 13

Vierings wat God mishaag

Vierings wat God mishaag

“Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is.”—EFESIËRS 5:10.

1. Watter soort mense trek Jehovah na hom toe aan, en waarom moet ons geestelik waaksaam bly?

“DIE ware aanbidders”, het Jesus gesê, “[sal] die Vader met gees en waarheid . . . aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid” (Johannes 4:23). Wanneer Jehovah sulke persone vind—soos hy ook vir jou gevind het—trek hy hulle na hom en sy Seun toe aan (Johannes 6:44). Wat ’n eer is dit tog! Liefhebbers van Bybelwaarheid moet egter “[aanhou] om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is”, want Satan is ’n meesterbedrieër.—Efesiërs 5:10; Openbaring 12:9.

2. Verduidelik hoe Jehovah diegene beskou wat ware en valse aanbidding probeer vermeng.

2 Dink aan wat naby die berg Sinai gebeur het toe die Israeliete vir Aäron gevra het om vir hulle ’n god te maak. Aäron het ingestem en ’n goue kalf gemaak, maar het te kenne gegee dat dit Jehovah verteenwoordig. “Môre is daar ’n fees vir Jehovah”, het hy gesê. Het dit vir Jehovah enigsins saak gemaak dat ware en valse aanbidding hier vermeng is? Beslis. Hy het omtrent drieduisend afgodedienaars laat doodmaak (Eksodus 32:1-6, 10, 28). Die les? As ons ons in God se liefde wil hou, moet ons “aan niks [raak] wat onrein is nie” en die waarheid ywerig beskerm teen enige soort verdorwenheid.—Jesaja 52:11; Esegiël 44:23; Galasiërs 5:9.

3, 4. Waarom moet ons noukeurig aandag gee aan Bybelbeginsels wanneer ons gewilde gebruike en vierings ondersoek?

 3 Ná die dood van die apostels, wat as ’n teëhouer teen afvalligheid gedien het, het sogenaamde Christene wat geen liefde vir die waarheid gehad het nie, heidense gebruike, vierings en “heilige” dae begin aanneem, wat hulle as Christelik bestempel het (2 Tessalonisense 2:7, 10). Terwyl jy ’n paar van hierdie vierings ondersoek, let op hoe hulle die gees van die wêreld weerspieël, nie die gees van God nie. Oor die algemeen het wêreldse vierings sekere aspekte in gemeen: Dit is gemik op vleeslike begeertes en bevorder valse godsdiensoortuigings en spiritisme—die kenmerkende eienskappe van “Babilon die Grote” (Openbaring 18:2-4, 23). * Hou ook in gedagte dat Jehovah eerstehands die walglike heidense godsdiensgebruike waargeneem het waaruit talle gewilde gebruike ontstaan het. Hy vind sulke vierings ongetwyfeld vandag nog net so afstootlik. Behoort sý beskouing dan nie vir ons van die allergrootste belang te wees nie?—2 Johannes 6, 7.

4 As ware Christene weet ons dat sekere vierings nie Jehovah se goedkeuring wegdra nie. Maar ons moet in ons hart vasbeslote wees om hoegenaamd niks daarmee te doen te hê nie. ’n Hersiening van waarom sulke vierings Jehovah mishaag, sal ons versterk in ons voorneme om enigiets te vermy wat dalk kan verhinder dat ons in God se liefde bly.

KERSFEES—SONAANBIDDING MET ’N NUWE NAAM

5. Waarom kan ons seker wees dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie?

5 Die Bybel maak geen melding van ’n verjaarsdagviering vir Jesus nie. Trouens, sy presiese geboortedatum is onbekend. Maar ons kan seker wees dat hy nie gebore is op  25 Desember, wat in daardie deel van die wêreld in die hartjie van die winter is nie. * Om maar een ding te noem, volgens Lukas se verslag het “herders [met Jesus se geboorte] in die oop veld gebly” en hulle kuddes opgepas (Lukas 2:8-11). As dit hulle gewoonte was om heeljaar deur “in die oop veld” te bly, sou dit nie noemenswaardig gewees het nie. Maar omdat Betlehem koue reën en sneeu kry, is kuddes gedurende die winter onderdak gebring en sou herders nie “in die oop veld” gebly het nie. Daarbenewens het Josef en Maria na Betlehem gegaan omdat keiser Augustus beveel het dat ’n sensus gehou moes word (Lukas 2:1-7). Dit is hoogs onwaarskynlik dat die keiser ’n volk wat Romeinse heerskappy gehaat het, sou beveel om in die hartjie van die winter na hulle voorvaderlike stede te reis.

6, 7. (a) Wat is die oorsprong van baie Kersgebruike? (b) Watter kontras is daar tussen die gesindheid waarmee daar tydens die Kerstyd gegee word en die gesindheid waarmee Christene gee?

6 Die oorsprong van Kersfees word nie in die Skrif gevind nie, maar wel in eertydse heidense feeste, soos die Romeinse Saturnalieë, ’n viering ter ere van Saturnus, die god van die landbou. Volgens hulle berekeninge het aanhangers van die god Mitra ook 25 Desember gevier as die “geboortedag van die onoorwinlike son”, sê die New Catholic Encyclopedia. “Kersfees het ontstaan op ’n tyd toe die sonkultus in Rome besonder sterk was”, omtrent drie eeue ná die dood van Christus.

Ware Christene gee uit liefde

7 Gedurende hulle vierings het heidene vir mekaar geskenke gegee en feesgevier—gebruike wat in Kersfees behoue gebly het. Maar soos vandag ook gebeur, is baie Kersgeskenke destyds nie in die gees van 2 Korintiërs 9:7 gegee nie, waar ons lees: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem  het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.” Ware Christene gee uit liefde, hulle geskenke word nie beperk tot ’n spesifieke datum nie en hulle verwag geen geskenke terug nie (Lukas 14:12-14; Handelinge 20:35). Daarbenewens is hulle baie dankbaar dat hulle bevry is van die dolle gejaag van Kersfees en verlig is van die swaar skuldlas waarmee baie mense hulle in hierdie tyd van die jaar opsaal.—Matteus 11:28-30; Johannes 8:32.

8. Het die sterrewiggelaars vir Jesus verjaarsdaggeskenke gebring? Verduidelik.

8 Maar party redeneer dalk: Het die sterrewiggelaars nie vir Jesus verjaarsdaggeskenke gebring nie? Nee. Die geskenke wat hulle gebring het, was net ’n manier om eer te bewys aan ’n belangrike persoon, ’n algemene gebruik in Bybeltye (1 Konings 10:1, 2, 10, 13; Matteus 2:2, 11). Trouens, hulle was nie eers daar op die nag toe Jesus gebore is nie.  Toe hulle daar aangekom het, was Jesus nie ’n baba in ’n krip nie; hy was ’n hele paar maande oud en het in ’n huis gewoon.

BYBELSE LIG OP VERJAARSDAE

9. Wat is betekenisvol met betrekking tot verjaarsdagvierings in die Bybel?

9 Al was die geboorte van ’n baba nog altyd ’n rede tot groot vreugde, maak die Bybel geen melding van ’n verjaarsdagviering vir ’n kneg van God nie (Psalm 127:3). Is dit net oor die hoof gesien? Nee, want twee verjaarsdagvierings word wel genoem—dié van ’n farao van Egipte en dié van Herodes Antipas (Genesis 40:20-22; Markus 6:21-29). Maar albei gebeurtenisse word in ’n slegte lig voorgestel—veral laasgenoemde, toe Johannes die Doper onthoof is.

10, 11. Hoe het die vroeë Christene verjaarsdagvierings beskou, en waarom?

 10 “Die vroeë Christene”, sê The World Book Encyclopedia, “het die viering van enigiemand se geboorte as ’n heidense gebruik beskou.” Die eertydse Grieke het byvoorbeeld geglo dat elke mens ’n beskermgees het wat by sy geboorte teenwoordig is en daarna oor hom waak. Daardie gees “het ’n mistieke verhouding gehad met die god op wie se verjaarsdag die persoon gebore is”, sê die boek The Lore of Birthdays. Verjaarsdae het ook ’n langdurige en noue verbintenis met astrologie en die horoskoop.

11 Behalwe dat God se knegte van ouds verjaarsdaggebruike verwerp het weens die heidense en spiritistiese oorsprong daarvan, het hulle dit ook waarskynlik uit beginsel verwerp. Waarom? Hulle was nederige, beskeie mans en vroue wat nie hulle aankoms in die wêreld as so belangrik beskou het dat dit gevier moes word nie (Miga 6:8; Lukas 9:48). * Hulle het eerder Jehovah verheerlik en hom gedank vir die kosbare gawe van lewe. *Psalm 8:3, 4; 36:9; Openbaring 4:11.

12. Hoe kan die dag van ons dood beter wees as die dag van ons geboorte?

12 Alle handhawers van onkreukbaarheid is by hulle dood veilig in God se geheue, en hulle toekomstige lewe is gewaarborg (Job 14:14, 15). Prediker 7:1 sê: “’n Naam is beter as goeie olie, en die sterfdag as die dag dat iemand gebore word.” Ons “naam” is die goeie reputasie wat ons weens getroue diens by God opgebou het. Dit is betekenisvol dat die enigste herdenking wat Christene beveel word om te  onderhou, nie ’n geboorte is nie, maar ’n dood—dié van Jesus, wie se voortreflike “naam” die sleutel tot ons redding is.—Lukas 22:17-20; Hebreërs 1:3, 4.

PAASFEES—VRUGBAARHEIDSAANBIDDING VERMOM

13, 14. Wat is die oorsprong van gewilde Paasgebruike?

13 Hoewel Paasfees as ’n viering van Christus se opstanding voorgestel word, het dit in werklikheid sy oorsprong in valse godsdiens. Die Engelse naam vir Paasfees, Easter, is al verbind met Eostre, of Ostara, die Angel-Saksiese godin van die dagbreek en die lente. En hoe het eiers en hase deel van Paasfeesvierings geword? Eiers “is algemene simbole van nuwe lewe en opstanding”, sê die Encyclopædia Britannica, terwyl die haas al lank ’n simbool van vrugbaarheid is. Paasfees is dus in werklikheid ’n vrugbaarheidsritus wat effentjies vermom is as ’n viering van Christus se opstanding. *

14 Sou Jehovah dit goedkeur dat sy Seun se opstanding herdenk word deur middel van ’n walglike vrugbaarheidsritus? Nooit nie! (2 Korintiërs 6:17, 18). Trouens, die Skrif beveel nie dat Jesus se opstanding herdenk moet word nie en dit gee ook nie toestemming daarvoor nie. Om dit in die naam van Paasfees te doen, sal dus selfs groter dislojaliteit toon.

ALLERHEILIGEAAND IS ALLESBEHALWE HEILIG

15. Wat is die oorsprong van Allerheiligeaand, en wat is interessant omtrent die dag wat vir hierdie viering gekies is?

15 Allerheiligeaand (Halloween) is bekend vir sy hekse, spoke en ander grillerige versierings en bykomstighede en kan tot die eertydse Kelte van Brittanje en Ierland teruggevoer word. Op die volmaan naaste aan 1 November het hulle die fees Samhain gevier, wat “einde van die somer” beteken.  Hulle het geglo dat die sluier tussen die wêreld van die mense en die bonatuurlike wêreld gedurende Samhain oopgaan en dat geeste, goed sowel as sleg, op die aarde wandel. Die siele van die dooies het glo na hulle huise teruggekeer, en hulle gesinne het kos en drank vir hulle spookbesoekers uitgesit om hulle te paai. Wanneer kinders hulle vandag soos spoke of hekse aantrek en van huis tot huis gaan en dreig om die huisbewoner ’n poets te bak tensy hulle iets lekkers kry, laat hulle dus onwetend die ritusse van Samhain voortbestaan.

HOU JOU TROUDAG ONBESOEDEL

16, 17. (a) Waarom moet Christenpaartjies wat wil trou, plaaslike huweliksgebruike in die lig van Bybelbeginsels ondersoek? (b) Wat moet Christene in ag neem met betrekking tot gebruike soos om rys of iets soortgelyks te gooi?

16 Binnekort sal “geen stem van ’n bruidegom en van ’n bruid . . . ooit weer in [Babilon die Grote] gehoor word nie” (Openbaring 18:23). Waarom nie? Gedeeltelik weens haar spiritistiese gebruike, wat ’n huwelik van die troudag af kan besoedel.—Markus 10:6-9.

17 Gebruike verskil van land tot land. Party gebruike wat miskien onskuldig lyk, het dalk hulle oorsprong in Babiloniese gebruike wat veronderstel is om ‘geluk’ te bring vir die bruidspaar of hulle gaste (Jesaja 65:11). Een van hierdie tradisies is om rys of iets soortgelyks te gooi. Hierdie gebruik het moontlik sy oorsprong in die idee dat kos bose geeste paai en dat dit hulle daarvan weerhou om die bruid en bruidegom leed aan te doen. Daarbenewens het rys al ’n lang, mistieke verhouding met vrugbaarheid, geluk en langlewendheid. Dit is baie duidelik dat almal wat in God se liefde wil bly, sulke onrein gebruike sal vermy.—2 Korintiërs 6:14-18.

18. Watter Bybelbeginsels behoort die paartjie wat ’n troue beplan, en die genooide gaste, te rig?

18 Knegte van Jehovah vermy ook wêreldse gebruike wat  troues en huweliksonthale van Christelike waardigheid kan beroof of wat dalk party se gewete kan pla. Hulle vermy byvoorbeeld toesprake wat vol kwetsende sarkasme of seksuele sinspelings is, en weerhou hulle daarvan om poetse te bak of aanmerkings te maak wat die pasgetroudes of ander in die verleentheid kan stel (Spreuke 26:18, 19; Lukas 6:31; 10:27). Hulle vermy ook oordadige sprokiesagtige onthale wat nie beskeidenheid weerspieël nie, maar eerder “die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” (1 Johannes 2:16). As jy ’n troue beplan, moet jy nooit vergeet dat Jehovah wil hê dat jou spesiale dag iets moet wees waarop jy altyd met vreugde sal terugkyk, nie met spyt nie. *

HEILDRONKE—HET DIT ’N GODSDIENSTIGE BETEKENIS?

19, 20. Wat sê een sekulêre bron oor die oorsprong van heildronke, en waarom is hierdie gebruik onaanvaarbaar vir Christene?

19 ’n Algemene gebruik by troues en ander sosiale geleenthede is om heildronke in te stel. Die International Handbook on Alcohol and Culture van 1995 sê: “Heildronke . . . is waarskynlik ’n sekulêre oorblyfsel van eertydse drankoffers waarin ’n heilige vloeistof aan die gode geoffer is . . . in ruil vir die vervulling van ’n wens, ’n gebed wat saamgevat word in die woorde ‘lank lewe . . . !’ of ‘op jou gesondheid!’”

20 Baie mense dink weliswaar nie dat heildronke ’n godsdienstige of bygelowige betekenis het nie. Maar die gebruik om glase hemelwaarts te lig, kan beskou word as ’n versoek om ’n seën wat tot die “hemel”—’n bomenslike krag—gerig word op ’n manier wat nie in ooreenstemming is met die Skrif nie.—Johannes 14:6; 16:23. *

 “JULLE WAT JEHOVAH LIEFHET, HAAT DIE KWAAD”

21. Watter gewilde vierings moet Christene vermy, al het dit nie ’n godsdienstige tema nie, en waarom?

21 Die verkrummelende standaarde van die wêreld van vandag—’n tendens wat direk of indirek deur Babilon die Grote bevorder word—word weerspieël in die feit dat party lande jaarlikse karnavalle of Mardi Gras’s borg, feeste waartydens daar op wellustige wyse gedans word en wat dalk selfs homoseksuele en lesbiese lewenstyle verheerlik. Sou dit vir iemand “wat Jehovah liefhet”, gepas wees om so ’n gebeurtenis by te woon of waar te neem? Sou dit ’n ware haat vir die kwaad openbaar as hy dit doen? (Psalm 1:1, 2; 97:10). Hoeveel beter sou dit tog wees om die gesindheid van die psalmis na te volg, wat gebid het: “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie”!—Psalm 119:37.

22. Wanneer kan ’n Christen op grond van sy eie gewete besluit of hy aan ’n viering sal deelneem of nie?

22 Op dae van wêreldse vierings sal ’n Christen versigtig wees om nie deur sy gedrag vir ander die indruk te gee dat hy aan die viering deelneem nie. “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen”, het Paulus geskryf, “doen alles tot heerlikheid van God.” (1 Korintiërs 10:31; sien die venster “ Neem wyse besluite.”) Aan die ander kant, as ’n gebruik of ’n viering geen verbintenis met valse godsdiens oorgehou het nie, niks met ’n politieke of patriotiese herdenking te doen het nie en geen Bybelbeginsels skend nie, kan elke Christen self besluit of hy daaraan sal deelneem of nie. Terselfdertyd sal hy ook die gevoelens van ander in ag neem sodat hy nie ’n oorsaak van struikeling word nie.

VERHEERLIK GOD IN WOORD EN DAAD

23, 24. Hoe kan ons ’n goeie getuienis gee oor Jehovah se regverdige standaarde?

23 Baie mense beskou die dae van sekere gewilde vierings hoofsaaklik as geleenthede om as families en vriende  bymekaar te kom. As iemand dus verkeerdelik aanneem dat ons skriftuurlike standpunt liefdeloos of te streng is, kan ons vriendelik verduidelik dat Jehovah se Getuies waarde heg aan heilsame samekomste van familie en vriende (Spreuke 11:25; Prediker 3:12, 13; 2 Korintiërs 9:7). Ons geniet die geselskap van ons geliefdes op ander tye deur die hele jaar, maar weens ons liefde vir God en vir sy regverdige standaarde wil ons nie sulke vreugdevolle geleenthede bederf deur gebruike wat hom aanstoot gee nie.—Sien die venster “ Ware aanbidding bring die grootste vreugde.”

24 Party Getuies het gedagtes uit hoofstuk 16 van die boek Wat leer die Bybel werklik? * met welslae gebruik om ons standpunt te verduidelik aan mense wat opreg navraag doen. Maar onthou dat ons doel is om harte te wen, nie argumente nie. Wees dus respekvol, bly kalm en “laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout”.—Kolossense 4:6.

25, 26. Hoe kan ouers hulle kinders help om in geloof en liefde vir Jehovah toe te neem?

25 As Jehovah se knegte is ons goed ingelig. Ons weet waarom ons sekere dinge glo en doen en waarom ons van ander dinge wegbly (Hebreërs 5:14). Ouers, leer julle kinders dus om oor Bybelbeginsels te redeneer. Deur dit te doen, bou julle hulle geloof op, help julle hulle om skriftuurlike antwoorde te gee vir dié wat hulle oortuigings bevraagteken en verseker julle hulle van Jehovah se liefde.—Jesaja 48:17, 18; 1 Petrus 3:15.

26 Almal wat God “met gees en waarheid” aanbid, vermy nie net onskriftuurlike vierings nie, maar streef ook daarna om in elke aspek van die lewe eerlik te wees. Vandag beskou baie mense eerlikheid as onprakties. Maar soos ons in die volgende hoofstuk sal sien, is God se weë altyd die beste.

^ par. 3 Sien die venster “ Moet ek aan die viering deelneem?” ’n Aantal spesifieke “heilige” dae en vierings word aangegee in die Watch Tower Publications Index, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 5 Volgens Bybelse berekeninge en sekulêre geskiedenis is Jesus waarskynlik in 2 v.G.J. gebore in die Joodse maand Etanim, wat ooreenstem met September/Oktober op ons huidige kalender.—Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 56-7, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 11 Sien die venster “ ‘Heilige’ dae en Satanisme.”

^ par. 11 Die Wetsverbond het vereis dat ’n vrou, nadat sy geboorte gegee het, ’n sondoffer aan God bring (Levitikus 12:1-8). Hierdie wetlike vereiste was ’n treffende herinnering aan die feit dat mense sonde aan hulle kinders oordra en het die Israeliete gehelp om ’n gebalanseerde beskouing van die geboorte van ’n kind te hê en het hulle dalk daarvan ontmoedig om heidense verjaarsdaggebruike aan te neem.—Psalm 51:5.

^ par. 13 Paasfees is ook al gekoppel aan die aanbidding van die Fenisiese vrugbaarheidsgodin, Astarte, wie se simbole die eier en die haas was. Beelde van Astarte het haar dikwels uitgebeeld met vergrote geslagsorgane of met ’n haas langs haar en ’n eier in haar hand.

^ par. 18 Sien die drie artikels oor troues en gesellighede in Die Wagtoring van 15 Oktober 2006, bladsye 18-31.

^ par. 20 Sien Die Wagtoring van 15 Februarie 2007, bladsye 30-1.

^ par. 24 Uitgegee deur Jehovah se Getuies.