Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 17

‘Bou julle op julle allerheiligste geloof op’

‘Bou julle op julle allerheiligste geloof op’

‘Bou julle op julle allerheiligste geloof op, en hou julle sodoende in God se liefde.’—JUDAS 20, 21.

1, 2. Met watter bouprojek is jy besig, en waarom is die gehalte van jou werk so belangrik?

JY IS besig met ’n bouprojek. Die bouwerk is al ’n geruime tyd aan die gang en sal nog ’n hele ruk lank voortduur. Tot dusver was die werk ’n uitdaging, maar ’n genot. Ongeag wat gebeur, jy is vasbeslote om nie op te hou werk of jou werk af te skeep nie, want die gehalte van jou werk sal jou lewe nou, en selfs jou toekoms, raak. Waarom? Want die gebou is jy!

2 Die dissipel Judas het die aandag gevestig op die bouwerk wat ons aan onsself doen. Toe hy Christene aangespoor het om hulle “in God se liefde [te] hou”, het hy in dieselfde gedeelte ook getoon wat die sleutel is om dit te doen: “[Julle] moet julle op julle allerheiligste geloof opbou” (Judas 20, 21). Op watter maniere kan jy jou opbou en jou geloof versterk sodat jy in God se liefde sal bly? Kom ons kyk na drie aspekte van die geestelike bouprojek waarmee jy besig is.

HOU AAN OM GELOOF IN JEHOVAH SE REGVERDIGE VEREISTES OP TE BOU

3-5. (a) Satan wil jou graag mislei om watter beskouing van Jehovah se vereistes te hê? (b) Wat moet ons beskouing van God se vereistes wees, en hoe moet dit ons laat voel? Lig toe.

3 Eerstens moet ons ons geloof in God se wette versterk. Terwyl jy hierdie boek bestudeer het, het jy ’n hele paar van Jehovah se regverdige vereistes in verband met gedrag ondersoek. Wat is jou beskouing daarvan? Satan wil jou graag mislei sodat jy Jehovah se wette, beginsels en standaarde as beperkend, selfs onderdrukkend, sal beskou. Hy gebruik hierdie taktiek al sedert dit destyds in Eden so doeltreffend was (Genesis 3:1-6). Sal sy taktiek in jou geval werk? Dit sal grootliks afhang van jou beskouing.

4 Ter toeligting: Terwyl jy in ’n pragtige park loop, sien jy ’n sterk, hoë heining wat toegang tot ’n deel van die park versper. Die landskap agter die heining lyk baie mooi. Eers beskou jy die heining dalk as ’n onnodige beperking van jou vryheid. Maar aan die ander kant van die heining sien jy ’n gevaarlike leeu wat prooi bekruip! Nou besef jy waarom dit eintlik daar is—dit is om jou te beskerm. Is daar ’n gevaarlike roofvyand wat jóú nou bekruip? God se Woord waarsku: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind.”—1 Petrus 5:8.

5 Satan is ’n wrede roofvyand. Omdat Jehovah nie wil hê dat ons Satan se prooi moet word nie, het Hy wette ingestel om ons te beskerm teen die talle “listige dade” van die bose (Efesiërs 6:11, voetnoot in NW). Wanneer ons ook al oor God se wette peins, moet ons dus die liefde van ons hemelse Vader daarin sien. As ons dit so beskou, sal God se wette ’n bron van veiligheid en vreugde wees. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Hy wat diep kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort en daarby bly, . . . [sal] gelukkig wees deurdat hy dit doen.”—Jakobus 1:25.

6. Wat is die beste manier om geloof in God se regverdige wette en beginsels op te bou? Gee ’n voorbeeld.

6 Die beste manier om ons geloof in die Wetgewer en in die wysheid van sy wette op te bou, is om volgens God se gebooie te lewe. Byvoorbeeld, “die wet van die Christus” sluit Jesus se opdrag in om ander ‘alles te leer wat hy beveel het’ (Galasiërs 6:2; Matteus 28:19, 20). Christene beskou ook die bevel om voortdurend vir aanbidding en opbouende assosiasie te vergader, in ’n ernstige lig (Hebreërs 10:24, 25). Verder sluit God se gebooie die vermaning in om gereeld, herhaaldelik en uit die hart tot Jehovah te bid (Matteus 6:5-8; 1 Tessalonisense 5:17). Wanneer ons volgens hierdie gebooie lewe, sien ons al hoe duideliker watter liefdevolle riglyne dit voorsien. Gehoorsaamheid daaraan bring ’n mate van vreugde en tevredenheid mee wat ons nêrens anders in hierdie veelbewoë wêreld kan vind nie. Word jou geloof in God se wette nie sterker wanneer jy peins oor hoe jy daarby baat gevind het om in ooreenstemming daarmee te lewe nie?

7, 8. Hoe stel God se Woord diegene gerus wat bekommerd is dat hulle met die verloop van jare dalk nie ’n regverdige weg sal kan handhaaf nie?

7 Soms voel party bekommerd dat hulle met die verloop van jare dit moeilik sal vind om by Jehovah se wette te bly. Hulle is bang dat hulle dalk in die een of ander opsig sal faal. As jy ooit so voel, kan jy hierdie woorde in gedagte hou: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel. Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see” (Jesaja 48:17, 18). Het jy al ooit nagedink oor hoe gerusstellend hierdie woorde is?

8 Hier herinner Jehovah ons daaraan dat ons onsself bevoordeel as ons aan hom gehoorsaam is. Hy belowe twee seëninge as ons dit doen. Eerstens, ons vrede sal soos ’n rivier wees—rustig, oorvloedig, standhoudend. Tweedens, ons regverdigheid sal soos die golwe van die see wees. As jy op ’n strand staan en kyk hoe die golwe een ná die ander aangerol kom, gee dit jou ongetwyfeld ’n gevoel van bestendigheid. Jy weet dat die golwe vir ontelbare eeue nog op daardie strand sal breek. Jehovah sê dat jou regverdigheid—jou lewenswyse in ooreenstemming met wat reg is—so kan wees. Solank jy probeer om aan hom getrou te bly, sal hy nooit toelaat dat jy faal nie! (Psalm 55:22). Bou sulke bemoedigende beloftes nie jou geloof op in Jehovah en in sy regverdige vereistes nie?

‘BEUR VOORT TOT VOLWASSENHEID’

9, 10. (a) Waarom is geestelike rypheid ’n uitstekende doelwit vir Christene? (b) Hoe dra ’n geestelike beskouing by tot vreugde?

9 ’n Tweede aspek van jou bouprojek word in hierdie geïnspireerde woorde geopenbaar: “Laat ons . . . tot volwassenheid voortbeur” (Hebreërs 6:1). Geestelike volwassenheid, of rypheid, is ’n uitstekende doelwit vir ’n Christen. In teenstelling met volmaaktheid, wat op dié stadium buite die bereik van mense is, is geestelike rypheid ’n bereikbare doelwit. Wat meer is, Christene put groter vreugde uit hulle diens aan Jehovah namate hulle tot geestelike rypheid vorder. Hoe so?

10 ’n Ryp Christen is ’n geestelike persoon. Hy beskou dinge vanuit Jehovah se oogpunt (Johannes 4:23). Paulus het geskryf: “Dié wat in ooreenstemming met die vlees is, rig hulle verstande op die dinge van die vlees, maar dié wat in ooreenstemming met die gees is, op die dinge van die gees” (Romeine 8:5). ’n Vleeslike beskouing bring min vreugde mee, want dit is geneig om egosentries, kortsigtig en op materiële dinge toegespits te wees. ’n Geestelike beskouing is vreugdevol, want dit is toegespits op Jehovah, “die gelukkige God” (1 Timoteus 1:11). ’n Geestelike persoon is gretig om Jehovah gelukkig te maak en is selfs tydens beproewing vreugdevol. Waarom? Beproewinge bied die geleentheid om te bewys dat Satan ’n leuenaar is en om ons onkreukbaarheid te versterk, waardeur ons ons hemelse Vader behaag.—Spreuke 27:11; Jakobus 1:2, 3.

11, 12. (a) Wat het Paulus oor die “waarnemingsvermoëns” van ’n Christen gesê, en wat beteken die woord wat met “geoefen” vertaal word? (b) Watter oefening het die liggaam nodig om volwasse te word en vaardighede aan te leer?

11 Geestelikheid en rypheid is die resultaat van oefening. Let op hierdie vers: “Vaste voedsel is vir volwasse mense, vir dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Toe Paulus gepraat het van ons waarnemingsvermoëns wat “geoefen” word, het hy ’n Griekse woord gebruik wat waarskynlik algemeen was in die gimnasiums van eerste-eeuse Griekeland, want dit kan vertaal word as ‘geoefen soos ’n gimnas’. Dink vir ’n oomblik aan wat sulke oefening behels.

’n Gimnas se liggaam word deur gebruik geoefen

12 Toe ons gebore is, was ons liggaam nie geoefen nie. ’n Baba verstaan byvoorbeeld nie juis hoe sy ledemate werk nie. Gevolglik swaai hy sy arms rond en klap hy homself selfs in die gesig, tot sy groot ontsteltenis en verbasing. Maar die liggaam word geleidelik deur gebruik geoefen. Die baba kruip, die kleuter loop, die kindjie hardloop. * Maar wat van ’n gimnas? Wanneer jy sien hoe so ’n atleet met die grootste grasie en presisie duik en tuimel, bestaan daar by jou geen twyfel dat die liggaam soos ’n fyn ingestelde masjien is nie. Die gimnas se vaardigheid het nie sommer vanself gekom nie—dit het baie ure van oefening geverg. Die Bybel sê dat liggaamlike oefening wel “voordeel” het. Van hoeveel groter waarde is dit tog om ons geestelike waarnemingsvermoëns te oefen!—1 Timoteus 4:8.

13. Hoe kan ons ons waarnemingsvermoëns oefen?

13 In hierdie boek het ons baie gedagtes bespreek wat jou sal help om jou waarnemingsvermoëns te oefen sodat jy as ’n geestelike persoon aan Jehovah getrou kan bly. Dink biddend na oor goddelike beginsels en wette terwyl jy in jou daaglikse lewe besluite neem. Vra jou af met elke besluit wat jy moet neem: ‘Watter Bybelwette of -beginsels geld in hierdie geval? Hoe kan ek dit toepas? Wat sal my hemelse Vader gelukkig maak?’ (Spreuke 3:5, 6; Jakobus 1:5). Elke besluit wat so geneem word, sal jou waarnemingsvermoëns verder oefen. Sulke oefening sal jou help om ’n waarlik geestelike persoon te word en te bly.

14. Watter begeerte moet ons ontwikkel om geestelik te groei, maar watter waarskuwing moet ons in gedagte hou?

14 Hoewel rypheid bereikbaar is, is daar altyd ruimte vir geestelike groei. Voedsel is nodig om te groei. Paulus het dus gesê: “Vaste voedsel is vir volwasse mense.” Om jou geloof op te bou, is dit noodsaaklik om voortdurend vaste geestelike voedsel in te neem. Wysheid is om die dinge wat jy leer, toe te pas, en die Bybel sê: “Wysheid kom eerste.” Ons moet dus ’n opregte begeerte ontwikkel na die kosbare waarhede wat ons Vader voorsien (Spreuke 4:5-7; 1 Petrus 2:2). Dit gee ons natuurlik geen rede om selfvoldaan of hoogmoedig te raak as ons kennis en goddelike wysheid verwerf het nie. Ons moet onsself gereeld ondersoek om seker te maak dat trots of ’n ander swakheid nie in ons hart wortelskiet en groei nie. Paulus het geskryf: “Toets voortdurend of julle in die geloof is, stel julleself voortdurend op die proef.”—2 Korintiërs 13:5.

15. Waarom is liefde noodsaaklik vir geestelike groei?

15 Die bouwerk aan ’n huis kom dalk tot ’n einde, maar die werk hou nie op nie. Instandhouding en herstelwerk is noodsaaklik, en dit is dalk nodig om aan te bou wanneer omstandighede verander. Wat het ons nodig om geestelik ryp te word en ons geestelikheid in stand te hou? In die eerste plek, liefde. Ons moet aanhou toeneem in liefde vir Jehovah en vir ons medegelowiges. As ons nie liefde het nie, sal al ons kennis en werke heeltemal tevergeefs wees—soos ’n sinlose geraas (1 Korintiërs 13:1-3). Met liefde kan ons Christelike rypheid bereik en voortgaan om geestelik te groei.

HOU JOU VERSTAND GERIG OP DIE HOOP WAT JEHOVAH VOORSIEN

16. Watter soort denke bevorder Satan, en watter verdediging voorsien Jehovah?

16 Kom ons kyk na nog ’n aspek van jou bouprojek. Om jou as ’n ware volgeling van Christus op te bou, moet jy jou denke bewaak. Satan, die heerser van hierdie wêreld, is uiters bedrewe daarin om mense oor te haal tot negatiewe denke, pessimisme, agterdog en wanhoop (Efesiërs 2:2). Sulke denke is vir ’n Christen so gevaarlik soos droëvrot vir ’n houtgebou. Gelukkig voorsien Jehovah ’n noodsaaklike verdedigingsmiddel—hoop.

17. Hoe lig God se Woord die belangrikheid van hoop toe?

17 Die Bybel gee ’n lys van die verskillende dele van die geestelike wapenrusting wat ons nodig het in ons stryd teen Satan en hierdie wêreld. ’n Belangrike deel van die wapenrusting is die helm, “die hoop op redding” (1 Tessalonisense 5:8). ’n Soldaat in Bybeltye het geweet dat hy sonder sy helm nie lank in die stryd staande sou kon bly nie. Die helm, wat dikwels van metaal gemaak en met vilt of leer gevoer is, het gesorg dat die meeste kophoue sonder veel skade wegskram. Net soos ’n helm die kop beskerm, kan hoop jou verstand, jou denke, beskerm.

18, 19. Watter voorbeeld het Jesus daarin gestel om sy hoop lewendig te hou, en hoe kan ons hom navolg?

18 Jesus het die beste voorbeeld gestel van iemand wat sy hoop lewendig gehou het. Onthou wat hy gedurende die laaste nag van sy lewe op aarde verduur het. ’n Intieme vriend het hom verraai vir geld. ’n Ander een het gesê dat hy hom nie eers ken nie. Die ander het hom verlaat en gevlug. Sy eie landgenote het teen hom gedraai en daarop aangedring dat hy ’n marteldood deur die toedoen van Romeinse soldate sterf. Ons kan met redelike sekerheid sê dat Jesus swaarder beproewinge deurgemaak het as wat ons ooit sal verduur. Wat het hom gehelp? Hebreërs 12:2 antwoord: “Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en het hy aan die regterhand van die troon van God gaan sit.” Jesus het nooit “die vreugde wat hom voorgehou is”, uit die oog verloor nie.

19 Watter vreugde is Jesus voorgehou? Wel, hy het geweet dat hy deur sy volharding tot die heiliging van Jehovah se naam sou bydra. Hy sou die grootste moontlike bewys verskaf dat Satan ’n leuenaar is. Geen ander hoop kon Jesus groter vreugde verskaf nie! Hy het ook geweet dat Jehovah sy getrouheid ryklik sou beloon—dat ’n wonderlike tyd vir hom voorgelê het wanneer hy met sy Vader herenig sou wees. Jesus het gedurende die moeilikste tye hierdie vreugdevolle hoop voor oë gehou. Ons moet dieselfde doen. Ons het ook ’n vreugdevolle vooruitsig. Jehovah het elkeen van ons die voorreg gegee om te help om sy groot naam te heilig. Ons kan bewys dat Satan ’n leuenaar is deur Jehovah as ons Soewerein te kies en ons veilig in die liefde van ons Vader te hou, ongeag voor watter beproewinge en versoekings ons te staan kom.

20. Wat kan jou help om jou denke positief en hoopvol te hou?

20 Jehovah is nie net bereid om sy getroue knegte te beloon nie—hy is gretig om dit te doen (Jesaja 30:18; Maleagi 3:10). Hy skep behae daarin om sy knegte se gepaste hartsbegeertes te bevredig (Psalm 37:4). Hou jou verstand dus gerig op die hoop voor jou. Moet nooit voor die negatiewe, verdorwe, verwronge denke van Satan se ou wêreld swig nie. As jy agterkom dat die gees van hierdie wêreld in jou verstand en hart begin posvat, moet jy ernstig tot Jehovah bid vir “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”. Daardie godgegewe vrede sal jou hart en jou verstandelike vermoëns bewaak.—Filippense 4:6, 7.

21, 22. (a) Watter wonderlike hoop koester diegene wat deel is van die “groot menigte”? (b) Watter aspek van die Christelike hoop beteken vir jou die meeste, en wat is jou vaste voorneme?

21 Wat ’n wonderlike hoop het jy tog om oor te peins! As jy deel is van die “groot menigte”, wat “uit die groot verdrukking [sal] kom”, dink aan die lewe wat jy binnekort sal kan geniet (Openbaring 7:9, 14). Met Satan en sy demone uit die pad, sal jy verligting ondervind wat jy jou op hierdie stadium moeilik kan indink. Wie van ons het immers al ervaar hoe dit is om sonder die druk van Satan se verderflike invloed te lewe? Wanneer daardie druk nie meer bestaan nie, sal dit voorwaar ’n vreugde wees om te help om die aarde in ’n paradys te omskep, onder leiding van Jesus en sy 144 000 hemelse medeheersers! Hoeveel blydskap verskaf die vooruitsig ons tog dat alle siektes en kwale iets van die verlede sal wees, dat ons ons geliefdes uit die graf sal terugverwelkom, dat ons sal lewe soos God wou hê ons moet lewe! Namate ons tot volmaaktheid vorder, sal ’n selfs groter beloning al hoe nader kom, die belofte waarvan ons in Romeine 8:21 lees—“die glorieryke vryheid van die kinders van God”.

22 Die vryheid wat Jehovah wil hê jy moet geniet, is groter as wat jy jou selfs kan voorstel. Gehoorsaamheid is die sleutel tot daardie vryheid. Is dit nie al die inspanning werd wat dit nou van jou verg om dag na dag aan Jehovah gehoorsaam te wees nie? Doen dus alles in jou vermoë om jou op jou allerheiligste geloof op te bou, sodat jy tot in alle ewigheid in God se liefde kan bly!

^ par. 12 Wetenskaplikes sê dat ons ’n spesiale bewustheid genaamd propriosepsie ontwikkel, wat die liggaam se bewustheid van sy eie posisie en die beweging van die ledemate is. Dit stel jou byvoorbeeld in staat om jou hande te klap terwyl jou oë toe is. Een volwasse pasiënt wat haar propriosepsie verloor het, kon as gevolg daarvan nie staan, loop of selfs regop sit nie.