Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 10

Die huwelik—’n gawe van ’n liefdevolle God

Die huwelik—’n gawe van ’n liefdevolle God

“’n Driedubbele tou kan nie gou in twee gebreek word nie.”—PREDIKER 4:12.

1, 2. (a) Waaroor wonder ons soms wanneer ’n paartjie trou, en waarom? (b) Watter vrae sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

GENIET jy dit om troues by te woon? Baie mense hou daarvan omdat sulke geleenthede baie genotvol kan wees. Die paartjie is deftig uitgevat. Nie net dit nie, hulle gesigte straal van geluk! Op hierdie dag glimlag hulle van oor tot oor, en hulle toekoms lyk rooskleurig.

2 Nietemin moet daar erken word dat die huwelik as instelling vandag in baie opsigte in ’n benarde toestand is. Hoewel ons pas getroude paartjies die beste toewens, wonder ons soms: ‘Sal hierdie huwelik gelukkig wees? Sal dit blywend wees?’ Die antwoorde op hierdie vrae sal daarvan afhang of die man en die vrou God se raad oor die huwelik vertrou en dit toepas (Spreuke 3:5, 6). Hulle moet dit doen om in God se liefde te kan bly. Kom ons skenk nou aandag aan die Bybel se antwoord op hierdie vier vrae: Waarom wil ’n mens trou? As jy trou, wie moet jy kies as ’n maat? Hoe kan jy jou vir die huwelik voorberei? En wat kan ’n egpaar help om gelukkig getroud te bly?

WAAROM WIL ’N MENS TROU?

3. Waarom sou dit onverstandig wees om sommer om ’n onbenullige rede te trou?

3 Party mense glo dat ’n mens getroud moet wees om gelukkig te wees—dat ’n mens nie bevrediging of geluk in die lewe kan hê tensy jy ’n maat gevind het nie. Dit is eenvoudig nie waar nie! Jesus, ’n ongetroude man, het die ongetroude staat ’n gawe genoem en diegene wat daarvoor plek kan maak, aangespoor om dit te doen (Matteus 19:11, 12). Die apostel Paulus het ook die voordele van die ongetroude staat bespreek (1 Korintiërs 7:32-38). Nie Jesus of Paulus het ’n reël in hierdie verband gemaak nie; trouens, om “mense [te] verbied om te trou”, word genoem onder die “leringe van demone” (1 Timoteus 4:1-3). Nogtans kan die ongetroude staat baie voordele inhou vir diegene wat Jehovah wil dien sonder om afgelei te word. Dit sou dus nie verstandig wees om sommer om enige onbenullige rede, soos portuurdruk, te trou nie.

4. Watter grondslag voorsien ’n suksesvolle huwelik om kinders groot te maak?

4 Maar is daar grondige redes om te trou? Ja. Ook die huwelik is ’n gawe van ons liefdevolle God (Genesis 2:18). Dit hou dus sekere voordele in en het die potensiaal om seëninge mee te bring. Byvoorbeeld, ’n suksesvolle huwelik is die beste grondslag vir die gesinslewe. Kinders het ’n stabiele omgewing nodig met ouers wat hulle sal grootmaak, hulle sal liefhê en dissipline en leiding sal voorsien (Psalm 127:3; Efesiërs 6:1-4). Maar om kinders groot te maak, is nie die enigste rede om te trou nie.

5, 6. (a) Wat is volgens Prediker 4:9-12 ’n paar praktiese voordele van ’n hegte vriendskap? (b) Hoe kan ’n huwelik soos ’n driedubbele tou wees?

5 Kyk na die temateks van hierdie hoofstuk in sy konteks: “Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk. Want as een van hulle val, kan die ander sy metgesel ophelp. Maar hoe sal dit wees met net die een wat val wanneer daar nie ’n ander is om hom op te help nie? Wat meer is, as twee bymekaar lê, sal hulle ook beslis warm word; maar hoe kan net een warm bly? En as iemand een alleen sou kon oorweldig, sou twee saam teen hom kon staande bly. En ’n driedubbele tou kan nie gou in twee gebreek word nie.”—Prediker 4:9-12.

6 Hierdie Skrifgedeelte handel hoofsaaklik oor die waarde van vriendskap. Die huwelik is natuurlik die hegste soort vriendskap. Soos hierdie teks toon, kan so ’n verbintenis hulp, vertroosting en beskerming bied. ’n Huwelik is besonder sterk as dit meer is as net ’n band tussen twee mense. ’n Dubbele tou kan, soos hierdie vers impliseer, gebreek word. Maar drie drade wat saamgeweef of -gevleg is, sal nie so maklik gebreek kan word nie. Wanneer dit vir die man sowel as vir die vrou van die allergrootste belang is om Jehovah te behaag, is hulle huwelik soos daardie driedubbele tou. Jehovah is ’n wesenlike deel van hulle huwelik, en gevolglik is die band besonder sterk.

7, 8. (a) Watter raad het Paulus gegee aan ongetroude Christene wat met seksuele begeertes worstel? (b) Watter realistiese beskouing van die huwelik gee die Bybel ons?

7 Die huwelik is die enigste gepaste verhouding waarin seksuele begeertes bevredig kan word. In hierdie konteks word geslagsomgang tereg beskou as ’n bron van genot (Spreuke 5:18). Wanneer ’n ongetroude persoon verby die stadium is wat die Bybel “die bloei van die jeug” noem—die tyd wanneer geslagsdrange sterk begin word—sal hy of sy dalk nog steeds met seksuele begeertes worstel. As dit nie beheers word nie, kan sulke begeertes tot onrein of onbetaamlike gedrag lei. Paulus is geïnspireer om hierdie raad aan ongetroudes te gee: “As hulle nie selfbeheersing het nie, laat hulle trou, want dit is beter om te trou as om van hartstog te brand.”—1 Korintiërs 7:9, 36; Jakobus 1:15.

8 Ongeag om watter redes iemand wil trou, dit is goed om realisties te wees. Soos Paulus dit gestel het, sal diegene wat trou, “verdrukking in hulle vlees hê” (1 Korintiërs 7:28). Getroudes het te kampe met uitdagings wat ongetroudes nie sal hê nie. Maar as jy wel besluit om te trou, hoe kan jy die uitdagings verminder en die seëninge vermeerder? Een manier is om ’n huweliksmaat wyslik te kies.

WIE SAL ’N GOEIE HUWELIKSMAAT WEES?

9, 10. (a) Hoe het Paulus die gevaar daarvan toegelig om hegte bande met ongelowiges te smee? (b) Wat gebeur dikwels as God se raad om nie met ’n ongelowige te trou nie, geïgnoreer word?

9 Paulus is geïnspireer om ’n noodsaaklike beginsel neer te skryf wat ’n mens moet toepas wanneer jy ’n huweliksmaat kies: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie” (2 Korintiërs 6:14). Sy illustrasie is gegrond op ’n feit van die landboulewe. As twee diere wat baie verskil in grootte of krag onder dieselfde juk ingespan word, sal albei swaar trek. Net so sal ’n gelowige en ’n ongelowige wat deur die huwelik onder dieselfde juk saamgevoeg is, ongetwyfeld wrywing en spanning ondervind. As een maat in Jehovah se liefde wil bly en dit vir die ander een van min of geen belang is nie, sal hulle prioriteite in die lewe nie dieselfde wees nie en sal dit waarskynlik tot baie probleme lei. Paulus het Christene dus vermaan om “net in die Here” te trou.—1 Korintiërs 7:39.

10 In sommige gevalle het ongetroude Christene tot die slotsom gekom dat ’n ongelyke juk beter sal wees as die eensaamheid wat hulle tans ervaar. Party besluit om die Bybel se raad te ignoreer en trou met iemand wat Jehovah nie dien nie. Dit het keer op keer droewige gevolge. Hierdie persone vind op die ou end dat hulle getroud is met iemand met wie hulle nie die belangrikste dinge in die lewe kan deel nie. Hierdie eensaamheid kan baie erger wees as wat hulle ervaar het voordat hulle getrou het. Gelukkig is daar derduisende ongetroude Christene wat op God se raad in hierdie verband vertrou en lojaal daarby bly (Psalm 32:8). Al hoop hulle om eendag te trou, bly hulle ongetroud totdat hulle ’n maat vind onder dié wat Jehovah God aanbid.

11. Wat kan jou help om ’n huweliksmaat wyslik te kies? (Sien ook die venster “ Waarna soek ek in ’n huweliksmaat?”)

11 ’n Mens kan dit natuurlik nie as vanselfsprekend aanneem dat elke kneg van Jehovah ’n geskikte huweliksmaat is nie. As jy wil trou, moet jy na iemand soek wie se persoonlikheid, geestelike doelwitte en liefde vir God verenigbaar is met joune. Die ‘getroue slaaf’-klas het baie stof tot nadenke oor hierdie onderwerp voorsien, en dit sal goed wees as jy sulke skriftuurlike raad biddend oorweeg en toelaat dat dit jou rig wanneer jy hierdie belangrike besluit neem. *Psalm 119:105.

12. Watter gebruik aangaande die huwelik is algemeen in baie lande, en watter Bybelse voorbeeld voorsien riglyne in verband hiermee?

12 In baie lande is dit die gebruik dat ouers ’n huweliksmaat vir hulle kind kies. Oor die algemeen word daar in dié kulture aanvaar dat ouers die nodige wysheid en ondervinding het om so ’n belangrike keuse te kan maak. Gereëlde huwelike is, soos in Bybeltye, dikwels suksesvol. Die voorbeeld van Abraham wat sy dienskneg gestuur het om vir Isak ’n vrou te vind, is insiggewend vir ouers wat vandag moontlik in ’n soortgelyke situasie is. Geld en sosiale status was nie vir Abraham van belang nie. Hy het eerder groot moeite gedoen om vir Isak ’n vrou te vind onder mense wat Jehovah aanbid het. *Genesis 24:3, 67.

HOE KAN JY JOU VIR ’N SUKSESVOLLE HUWELIK VOORBEREI?

13-15. (a) Hoe kan die beginsel in Spreuke 24:27 ’n jong man help wat wil trou? (b) Wat kan ’n jong vrou doen om haar vir die huwelik voor te berei?

13 As jy ernstig dink aan trou, sal dit goed wees as jy jou afvra: ‘Is ek werklik reg hiervoor?’ Die antwoord hang nie net af van hoe jy oor liefde, seks, kameraadskap of kinders voel nie. Daar is eerder spesifieke doelwitte waaraan elke voornemende man of vrou moet dink.

14 ’n Jong man wat wil trou, moet goed nadink oor hierdie beginsel: “Maak jou werk buitenshuis klaar, en maak dit vir jou op die land gereed. Daarna moet jy ook jou huisgesin opbou” (Spreuke 24:27). Wat is die punt hiervan? As ’n man destyds sy “huisgesin [wou] opbou”, oftewel ’n gesin wou begin deur te trou, moes hy hom afvra: ‘Is ek reg om vir ’n vrou en enige kinders wat ons dalk later sal hê, te sorg en hulle te onderhou?’ Hy moes eers werk en na sy landerye, of gesaaides, omsien. Dieselfde beginsel geld vandag. ’n Man wat wil trou, moet hom vir hierdie verantwoordelikheid voorberei. Solank hy fisies daartoe in staat is, sal hy moet werk. God se Woord toon dat ’n man wat nie na die fisiese, emosionele en geestelike behoeftes van sy gesin omsien nie, erger as ’n ongelowige is!—1 Timoteus 5:8.

15 ’n Vrou wat besluit om te trou, aanvaar eweneens ’n aantal gewigtige verantwoordelikhede. Die Bybel praat met lof van party vaardighede en eienskappe wat ’n vrou dalk sal nodig hê terwyl sy haar man help en na haar huisgesin omsien (Spreuke 31:10-31). Mans en vroue wat oorhaastig trou sonder om hulle voor te berei vir die verantwoordelikhede wat dit behels, is eintlik selfsugtig en dink nie aan wat hulle ’n potensiële maat kan bied nie. Maar diegene wat wil trou, moet bowenal geestelik voorbereid wees.

16, 17. Oor watter skriftuurlike beginsels moet diegene wat hulle vir die huwelik voorberei, peins?

16 Om vir die huwelik voor te berei, behels dat ’n mens peins oor die rolle wat God aan die man en die vrou gegee het. ’n Man moet weet wat dit beteken om die hoof van ’n Christengesin te wees. Hierdie rol gee hom nie toestemming om ’n tiran te wees nie. Hy moet eerder die manier navolg waarop Jesus hoofskap uitoefen (Efesiërs 5:23). ’n Christenvrou moet eweneens die waardige rol van die vrou verstaan. Sal sy bereid wees om haar aan “die wet van haar man” te onderwerp? (Romeine 7:2). Sy is reeds onder die wet van Jehovah en van Christus (Galasiërs 6:2). Haar man se gesag in die gesin verteenwoordig ’n ander wet. Kan sy die gesag van ’n onvolmaakte man ondersteun en haar daaraan onderwerp? As dit nie vir haar ’n aangename vooruitsig is nie, moet sy eerder nie trou nie.

17 Daarbenewens moet elke maat bereid wees om na die spesiale behoeftes van die ander persoon om te sien (Filippense 2:4). Paulus het geskryf: “Elkeen van julle moet . . . afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê.” Onder goddelike inspirasie het Paulus ingesien dat die man ’n spesiale behoefte daaraan het om sy vrou se diep respek vir hom aan te voel. En die vrou het ’n spesiale behoefte daaraan om te voel dat haar man haar liefhet.—Efesiërs 5:21-33.

Baie paartjies wat mekaar die hof maak, reël wyslik dat hulle ’n chaperone het

18. Waarom moet paartjies selfbeheersing beoefen wanneer hulle mekaar die hof maak?

18 Wanneer ’n man en vrou mekaar die hof maak, is dit dus nie net ’n tyd vir pret nie. Dit is ’n tyd wanneer hulle kan leer wat die gepaste manier is om mekaar te behandel, sodat hulle kan sien of dit verstandig sal wees om te trou of nie. Dit is ook ’n tyd om selfbeheersing te beoefen! Die versoeking om fisies intiem te raak, kan baie sterk wees—die aantrekking is immers natuurlik. Maar diegene wat mekaar werklik liefhet, sal dit vermy om enigiets te doen wat ’n geliefde geestelik skade kan berokken (1 Tessalonisense 4:6). As jy iemand die hof maak, moet jy dus selfbeheersing beoefen; jy kan jou hele lewe lank baat vind by hierdie eienskap, of jy nou trou of nie.

HOE KAN JY JOU HUWELIK BLYWEND MAAK?

19, 20. In watter opsig moet ’n Christen se beskouing van die huwelik anders wees as dié van baie in vandag se wêreld? Lig toe.

19 As ’n paartjie hulle huwelik blywend wil maak, moet hulle die regte beskouing van verbondenheid in die huwelik hê. In romans en rolprente is ’n troue dikwels die gelukkige einde wat mense wil sien. Maar in die werklike lewe is ’n troue nie die einde nie; dit is die begin—die begin van iets wat Jehovah ingestel het om blywend te wees (Genesis 2:24). Ongelukkig is dit nie hoe dit oor die algemeen in vandag se wêreld beskou word nie. Wanneer mense trou, word dit in party kulture daarmee vergelyk om twee toue aanmekaar te knoop. Hulle besef dalk nie hoe gepas hierdie illustrasie is om die algemene beskouing van die huwelik te beskryf nie. Hoe so? Hoewel ’n goeie knoop moet hou so lank as wat dit nodig is, is ’n ander belangrike vereiste dat dit maklik moet wees om dit vas en los te maak.

20 Vandag beskou baie mense die huwelik as tydelik. Hulle trou maklik omdat hulle dink dat dit hulle behoeftes sal vervul, maar hulle verwag om daaruit te kan kom sodra dit moeilik lyk. Maar onthou die illustrasie wat in die Bybel gebruik word vir ’n band soos die huwelik—’n tou. Toue wat vir seilskepe gemaak is, is bedoel om te hou, om nooit te verslyt of uit te rafel nie, nie eers in die kwaaiste storm nie. Net so is die huwelik bedoel om blywend te wees. Onthou, Jesus het gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matteus 19:6). As jy trou, moet jy ook hierdie beskouing van die huwelik hê. Lei hierdie soort verbondenheid daartoe dat die huwelik ’n las word? Nee.

21. Watter gesindheid moet ’n man en vrou teenoor mekaar behou, en wat kan hulle help om dit te doen?

21 ’n Man en vrou moet die regte beskouing van mekaar behou. As elkeen daarna streef om te fokus op die goeie eienskappe en dade van hulle maat, sal die huwelik ’n bron van vreugde en verkwikking wees. Is dit onrealisties om so ’n positiewe beskouing van ’n onvolmaakte huweliksmaat te hê? Jehovah is nooit onrealisties nie, en tog vertrou ons dat hy ’n positiewe beskouing van ons sal behou. Die psalmis het gevra: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Psalm 130:3). Mans en vrouens moet net so ’n positiewe beskouing van mekaar hê en net so vergewensgesind wees.—Kolossense 3:13.

22, 23. Hoe het Abraham en Sara ’n goeie voorbeeld gestel vir egpare van vandag?

22 Die huwelik kan met die jare ’n groter seën word. Die Bybel gee ons insae in die huwelik van Abraham en Sara toe hulle ’n bejaarde egpaar was. Hulle lewe was beslis nie sonder teëspoed en uitdagings nie. Stel jou voor hoe Sara, ’n vrou wat moontlik in haar sestigerjare was, moes gevoel het om haar gerieflike huis in die welvarende stad Ur te verlaat en vir die res van haar lewe in tente te woon. Nogtans het sy haar aan haar man se hoofskap onderwerp. Sy was ’n ware komplement en helper vir Abraham, en sy het sy besluite eerbiedig ondersteun. En haar onderdanigheid was nie oppervlakkig nie. Selfs “by haarself” het sy haar man haar heer genoem (Genesis 18:12; 1 Petrus 3:6). Haar respek vir Abraham het uit haar hart gekom.

23 Dit beteken natuurlik nie dat Abraham en Sara oor alles saamgestem het nie. Sy het eenkeer ’n voorstel gemaak wat Abraham “baie mishaag” het. Maar op Jehovah se bevel het Abraham nederig na die stem van sy vrou geluister, en dit het tot seëninge vir die gesin gelei (Genesis 21:9-13). Mans en vrouens van vandag, selfs dié wat al dekades lank getroud is, kan baie leer uit die voorbeeld van hierdie godvrugtige egpaar.

24. Watter soort huwelike strek Jehovah God tot eer, en waarom?

24 In die Christengemeente is daar derduisende gelukkige huwelike—huwelike waarin die vrou diep respek het vir haar man, die man sy vrou liefhet en eer en albei saam werk om die uitvoering van Jehovah se wil in alles eerste te stel. Mag jy, as jy besluit om te trou, jou maat wyslik kies, jou goed voorberei vir die huwelik en werk om ’n vreedsame, liefdevolle huwelik te hê wat Jehovah God tot eer strek. Dan sal jou huwelik jou sonder twyfel help om in God se liefde te bly.

^ par. 11 Sien hoofstuk 2 van Die geheim van gesinsgeluk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 12 Party getroue aartsvaders het meer as een vrou gehad. Toe Jehovah met die aartsvaders en met vleeslike Israel gehandel het, het hy veelwywery toegelaat. Hy het dit nie ingestel nie, maar hy het dit gereguleer. Christene moet egter in gedagte hou dat Jehovah nie meer veelwywery onder sy aanbidders toelaat nie.—Matteus 19:9; 1 Timoteus 3:2.