Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Troues wat eerbaar is in die oë van God en die mens

Troues wat eerbaar is in die oë van God en die mens

Troues wat eerbaar is in die oë van God en die mens

“’n Huweliksfees [het] in Kana . . . plaasgevind . . . Jesus en sy dissipels is ook na die huweliksfees genooi.”—JOHANNES 2:1, 2.

1. Waarop vestig die verslag oor Jesus in Kana die aandag?

 JESUS, sy moeder en party van sy dissipels het die vreugde geken wat ’n eerbare troue onder God se knegte kan bring. Christus het selfs een troue iets besonders gemaak deur sy eerste opgetekende wonderwerk by daardie geleentheid te verrig, wat tot die genot daarvan bygedra het (Johannes 2:1-11). Dalk het jy dit al geniet om troues by te woon van Christene wat Jehovah as gelukkige egpare wil dien. Of jy sien dalk uit na jou eie troue of om ’n vriend of vriendin te help om ’n sukses van sy of haar troue te maak. Wat kan hiertoe bydra?

2. Watter inligting bevat die Bybel oor troues?

2 Christene het gevind dat die raad in God se geïnspireerde Woord baie nuttig is wanneer ’n man en ’n vrou trouplanne het (2 Timoteus 3:16, 17). Die Bybel sit egter nie presiese prosedures vir ’n Christentroue uiteen nie. Dit is te verstane omdat gebruike en selfs wetlike vereistes van plek tot plek en in verskillende tydperke verskil. In eertydse Israel was daar byvoorbeeld geen formele huwelikseremonie nie. Op die troudag het die bruidegom sy bruid na sý huis of sy vader se huis geneem (Genesis 24:67; Jesaja 61:10; Matteus 1:24). Hierdie openbare stap is as die troue beskou, sonder die formele seremonie wat vandag by baie troues algemeen is.

3. Tot die sukses van watter gebeurtenis in Kana het Jesus bygedra?

3 Die Israeliete het daardie stap erken as die huwelik of troue. Daarna het hulle dalk ’n fees ter viering daarvan gehad, soos die een waarvan Johannes 2:1 melding maak. Baie Bybelvertalings gee hierdie vers soos volg weer: “Daar was ’n troue in Kana.” Maar gepaste vertalings van die woord in die oorspronklike taal is woorde soos “huweliksfees” of “bruilof” (Matteus 22:2-10; 25:10; Lukas 14:8). a Die verslag toon duidelik dat Jesus ’n fees wat met ’n Joodse troue gepaardgegaan het, bygewoon en tot die sukses daarvan bygedra het. Maar ’n sleutelgedagte is dat ’n troue destyds verskil het van wat vandag algemeen is.

4. Watter soort troue kies party Christene, en waarom?

4 In baie lande is daar vandag sekere wetlike vereistes waaraan Christene wat wil trou, moet voldoen. As hulle daaraan voldoen, kan hulle op enige wetlik aanvaarde manier trou. Dit kan in ’n klein, eenvoudige seremonie wees wat behartig word deur ’n regter, ’n burgemeester of godsdiensbedienaar wat deur die Staat gemagtig is. Party verkies om so te trou, en hulle nooi moontlik ’n paar familielede of Christenvriende om dit by te woon as wettige getuies of om eenvoudig in die vreugde van hierdie belangrike geleentheid te deel (Jeremia 33:11; Johannes 3:29). Ander Christene besluit dalk ook om nie ’n groot viering of onthaal te hou wat baie beplanning en geld sal verg nie. Hulle reël dalk eerder ’n kleinerige ete saam met ’n paar intieme vriende. Ongeag wat ons persoonlike voorkeure in dié verband is, ons moet besef dat ander ryp Christene se beskouings van ons s’n kan verskil.—Romeine 14:3, 4.

5. Waarom wil baie Christene ’n troutoespraak hê wanneer hulle trou, en waarop vestig dit die aandag?

5 Die meeste Christenpaartjies verkies om ’n Bybeltoespraak by hulle troue te hê. b Hulle besef dat Jehovah die Insteller van die huwelik is en dat hy in sy Woord wyse raad gee oor hoe die huwelik suksesvol kan wees en geluk kan meebring (Genesis 2:22-24; Markus 10:6-9; Efesiërs 5:22-33). En die meeste paartjies wil hê dat Christenvriende en -familielede die gelukkige geleentheid saam met hulle moet geniet. Maar hoe moet ons die groot verskeidenheid wetlike vereistes, prosedures en selfs algemene plaaslike gebruike beskou? Hierdie artikel sal situasies in verskillende wêrelddele bespreek. Party verskil dalk hemelsbreed van wat jy ken of in julle gebied gedoen word. Nietemin kan jy let op sekere gemeenskaplike beginsels of aspekte wat belangrik is vir God se knegte.

’n Eerbare huwelik—’n wettige huwelik

6, 7. Waarom moet ons belangstel in die wetlike aspekte van ’n huwelik, en hoe toon ons dit?

6 Hoewel Jehovah die huwelik ingestel het, het menseregerings ’n mate van beheer oor wat diegene wat trou, moet doen. Dit is gepas. Jesus het gesê: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Markus 12:17). Die apostel Paulus het eweneens gemaan: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede, want daar is geen gesag behalwe deur God nie; die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas.”—Romeine 13:1; Titus 3:1.

7 In die meeste lande bepaal die keiser, of die burgerlike owerheid, wie wetlik mag trou. Wanneer twee Christene wat skriftuurlik vry is, besluit om te trou, sal hulle dus die plaaslike wet pligsgetrou nakom. Dit kan insluit dat hulle ’n huwelikslisensie by ’n huweliksbevestiger kry wat deur die Staat erken word, en moontlik die bevestigde huwelik registreer. Toe keiser Augustus ’n “registrasie” vereis het, het Maria en Josef die bevel gehoorsaam en na Betlehem gereis “om geregistreer te word”.—Lukas 2:1-5.

8. Hoe bindend is die huwelik, en watter beleid van Jehovah se Getuies weerspieël hierdie begrip?

8 Wanneer twee Christene op ’n wettige en erkende manier trou, is daardie verbintenis bindend in God se oë. Daarom herhaal Jehovah se Getuies nie ’n huweliksplegtigheid deur verskeie wetlike seremonies te hê nie, en hulle hernieu ook nie hulle huweliksgeloftes, soos op ’n egpaar se 25ste of 50ste huweliksherdenking nie (Matteus 5:37). (Party kerke erken nie ’n wetlik goedgekeurde burgerlike huwelikseremonie nie, omdat dit in hulle oë nie werklik ’n geldige huwelik is nie, tensy ’n priester of ’n geestelike ’n ritueel uitvoer of die paartjie in die huwelik bevestig.) In baie lande gee die regering aan ’n bedienaar van Jehovah se Getuies die reg om huwelike te voltrek. As dit die geval is, sal hy dit waarskynlik laat saamval met ’n troutoespraak by die Koninkryksaal. Dit is die plaaslike sentrum van ware aanbidding en ’n gepaste plek vir ’n toespraak oor hierdie reëling, wat deur Jehovah God ingestel is.

9. (a) Wat wil ’n Christenpaartjie wat ’n burgerlike troue gaan hê, dalk doen? (b) Hoe kan die ouer manne by die trouplanne betrek word?

9 In ander lande vereis die wet dat ’n paartjie hulle huwelik laat voltrek by ’n regeringskantoor, soos ’n stadsaal, of deur ’n aangewese staatsamptenaar. Christene wil dikwels ná daardie wetlike stap ’n troutoespraak by die Koninkryksaal hê, op dieselfde of die volgende dag. (Hulle moenie toelaat dat baie dae tussen die burgerlike seremonie en die Bybeltoespraak verloop nie, want in die oë van God en die mens, wat die Christengemeente insluit, is hulle getroud.) As ’n paartjie wat ’n burgerlike troue gaan hê, graag ’n toespraak by ’n sekere Koninkryksaal wil hê, moet hulle vooraf die toestemming verkry van die ouer manne wat die Gemeentelike Dienskomitee uitmaak. Hierdie opsieners moet bevestig dat die paartjie ’n goeie reputasie het en ook seker maak dat die tyd van die troue nie met die gereelde vergaderinge en vasgestelde programme by die saal sal bots nie (1 Korintiërs 14:33, 40). Hulle sal ook enige versoeke van die paartjie oorweeg wat voorbereidings by die saal betref en besluit of hulle ’n aankondiging oor die gebruik van die saal moet maak.

10. Hoe sal dit die troutoespraak raak as daar ’n burgerlike troue was?

10 Die ouer man wat die troutoespraak hou, sal probeer om die bespreking hartlik, geestelik opbouend en waardig te hou. As die paartjie reeds deur ’n burgerlike seremonie in die eg verbind is, sal hy duidelik sê dat hulle reeds volgens die keiser se wet getroud is. As geen huweliksgeloftes tydens die burgerlike seremonie afgelê is nie, sal die paartjie dit dalk graag gedurende die toespraak wil doen. c As daardie burgerlike seremonie wel geloftes ingesluit het, maar die pas getroude paartjie geloftes voor Jehovah en die gemeente wil aflê, moet die bewoording daarvan in die verlede tyd wees, ’n teken dat hulle reeds “onder een juk saamgevoeg” is.—Matteus 19:6; 22:21.

11. Hoe word paartjies op sekere plekke in die eg verbind, en hoe raak dit die troutoespraak?

11 Op sekere plekke vereis die wet nie dat ’n paartjie enige seremonie het wanneer hulle trou nie, selfs nie eens voor ’n regeringsbeampte nie. Die huwelik word voltrek wanneer hulle ’n getekende huweliksregistrasievorm aan ’n beampte voorlê. Daarna word ’n huweliksertifikaat uitgereik. Die paartjie word dan as man en vrou beskou, en dit is die datum van hulle troue. Soos hierbo gemeld is, sal ’n paartjie wat op dié manier getroud is, dalk reël dat ’n Bybeltoespraak onmiddellik ná die registrasie by die Koninkryksaal gehou word. Die geestelik bekwame broer wat gevra word om die toespraak te hou, sal die gehoor inlig dat die paartjie reeds getroud is op grond van die registrasie wat plaasgevind het. Enige geloftes wat afgelê word, moet in ooreenstemming wees met wat in paragraaf 10 en die voetnoot uiteengesit is. Dié wat die toespraak by die Koninkryksaal bywoon, sal deel in die paartjie se vreugde en baat vind by die raad wat uit God se Woord gegee word.—Hooglied 3:11.

Tradisionele en burgerlike huwelike

12. Wat is ’n tradisionele huwelik, en wat moet verkieslik ná so ’n troue gedoen word?

12 In party lande tree paartjies in ’n sogenaamde tradisionele (of stam-) huwelik. Dit verwys nie na twee persone wat net saamlewe nie, en dit verwys ook nie na ’n gemeenregtelike situasie wat op party plekke ’n mate van erkenning geniet maar nie ’n ten volle wettige huwelik is nie. d Ons praat van ’n huwelik wat volgens die openbare erkende gebruik van ’n stam of gebied voltrek is. Dit kan die volle betaling en aanvaarding van ’n bruidsprys behels, waarna die paartjie wettig en skriftuurlik getroud is. Die regering beskou sulke tradisionele huwelike as geldig, wettig en bindend. Daarna is dit gewoonlik vir die egpaar moontlik om die tradisionele huwelik te registreer en wanneer hulle dit doen, sal die egpaar dalk ’n amptelike sertifikaat ontvang. Registrasie kan beskerming bied vir die egpaar of vir die vrou as sy ’n weduwee word of vir enige toekomstige kinders. Die gemeente moet enigeen wat so ’n stamhuwelik aangaan, aanspoor om dit so gou moontlik te laat registreer. Dit is interessant dat huwelike en geboortes onder die Mosaïese Wet blykbaar amptelik opgeteken is.—Matteus 1:1-16.

13. Wat sal gepas wees wat ’n troutoespraak betref nadat ’n tradisionele huwelik voltrek is?

13 Die paartjie wat wettig verenig is in so ’n tradisionele huwelik, word man en vrou wanneer daardie huwelik voltrek word. Soos hierbo gemeld is, wil Christene wat so ’n wettige huwelik aangaan, dalk ’n troutoespraak, met huweliksgeloftes, by die Koninkryksaal hê. Indien wel, sal die spreker noem dat die paartjie reeds in ooreenstemming met die wette van die keiser getroud is. Net een troutoespraak sal gehou word. Daar is net een huweliksbevestiging, in dié geval die wetlik erkende tradisionele huwelik, en een skriftuurlike toespraak. Om die twee aspekte so na as moontlik aan mekaar te hou, verkieslik op dieselfde dag, sal daartoe bydra dat die Christelike huwelik in die oë van die gemeenskap eerbaar sal wees.

14. Wat kan ’n Christen doen as ’n tradisionele sowel as ’n burgerlike huwelik moontlik is?

14 In party lande waar tradisionele huwelike as wettig beskou word, is daar ook voorsienings vir ’n burgerlike (of, wetlike) huwelik. ’n Burgerlike huwelik word gewoonlik voor ’n staatsamptenaar voltrek, en dit kan insluit dat huweliksgeloftes afgelê word sowel as dat ’n register geteken word. Party Christenpaartjies verkies hierdie burgerlike huwelik bo ’n tradisionele huwelik. Uit ’n wetlike oogpunt is albei nie nodig nie; albei hierdie prosedures is op sigself wetlik geldig. Wat in paragrawe 9 en 10 oor ’n troutoespraak en huweliksgeloftes gesê is, geld ook hier. Die hoofsaak is dat die paartjie getroud is op ’n manier wat eerbaar is voor God en die mens.—Lukas 20:25; 1 Petrus 2:13, 14.

Eer in die huwelik

15, 16. Hoe moet eer toegeken word in ’n huwelik en by ’n troue?

15 Toe ’n probleem in die huwelik van ’n Persiese koning ontstaan het, het ’n hoofraadgewer genaamd Memugan raad gegee wat ’n positiewe uitwerking kon hê—‘dat al die vrouens eer gee aan hulle mans’ (Ester 1:20). In Christenhuwelike hoef dit nie deur ’n mensekoning verorden te word nie; vrouens wil hulle mans eer. So ook moet Christenmans eer toeken aan hulle huweliksmaats en hulle prys (Spreuke 31:11, 30; 1 Petrus 3:7). Eer is nie iets wat eers ná jare ’n deel van die huwelik moet word nie. Dit moet van die begin af daar wees, ja, van die troudag af.

16 Die man en die vrou is nie die enigste persone wat op die troudag eer moet bewys nie. As ’n Christen- ouer man ’n troutoespraak hou, moet ook dít deur eer gekenmerk word. Die toespraak moet tot die paartjie gerig word. As deel van die eer wat aan hulle gegee word, sal die spreker nie grappies maak of van volksgesegdes gebruik maak nie. Hy moet ook nie opmerkings maak wat te persoonlik raak en die paartjie en die gehoor in die verleentheid kan stel nie. Hy sal eerder hartlik en opbouend probeer wees en die aandag op die Insteller van die huwelik en Sy uitstekende raad vestig. Ja, die ouer man se waardige troutoespraak sal bydra tot ’n troue wat Jehovah God vereer.

17. Waarom het Christenhuwelike ’n wetlike aspek?

17 Jy het waarskynlik in hierdie artikel baie punte oor die wetlike besonderhede van ’n huwelik gesien. Sekere aspekte is dalk nie spesifiek in julle gebied van toepassing nie. Maar almal van ons moet besef hoe belangrik dit is dat die manier waarop Jehovah se Getuies troues reël, respek toon vir plaaslike wette, asook die vereistes van die keiser (Lukas 20:25). Paulus het ons aangespoor: “Gee aan almal wat hulle toekom: aan hom wat die belasting verlang, die belasting; aan hom wat die skatting verlang, die skatting; . . . aan hom wat eer verlang, sulke eer” (Romeine 13:7). Ja, dit is gepas dat Christene, van die troudag af, die reëling eer wat God vir ons tyd daargestel het.

18. Watter opsionele kenmerk van ’n troue verdien ons aandag, en waar kan ons inligting hieroor vind?

18 Baie Christentroues word gevolg deur ’n geselligheid—’n bruilof, ’n ete of ’n onthaal. Onthou dat Jesus so ’n fees bygewoon het. As daar so ’n geselligheid gaan wees, is die vraag: Hoe kan raad uit die Bybel ons help om te verseker dat ook dít God sal vereer en die pasgetroudes asook die Christengemeente in ’n goeie lig sal stel? Die volgende artikel sal daardie saak bespreek. e

[Voetnote]

a Dieselfde woord kan gebruik word vir ’n fees wat nie met ’n troue gepaardgegaan het nie.—Ester 9:22, Septuagint.

b ’n Skets vir ’n toespraak van 30 minute met die tema “’n Eerbare huwelik in God se oë” word deur Jehovah se Getuies gebruik. Dit bespreek uitstekende skriftuurlike raad wat in die boek Die geheim van gesinsgeluk en ander publikasies van Jehovah se Getuies gevind word. Die bespreking is nuttig vir die paartjie wat trou en vir almal wat die troue bywoon.

c Tensy die plaaslike wet iets anders vereis, word hierdie geloftes wat God eer, gebruik. Vir die bruidegom: “Ek [naam van bruidegom], neem jou [naam van bruid], tot my wettige vrou, om lief te hê en te koester ooreenkomstig die goddelike wet vir Christenmans soos uiteengesit in die Heilige Skrif solank as wat ons albei saam op aarde lewe onder God se huweliksreëling.” Vir die bruid: “Ek [naam van bruid], neem jou [naam van bruidegom], tot my wettige man, om lief te hê en te koester en te eerbiedig, ooreenkomstig die goddelike wet vir Christenvrouens soos uiteengesit in die Heilige Skrif solank as wat ons albei saam op aarde lewe onder God se huweliksreëling.”

d The Watchtower van 1 Mei 1962, bladsy 287, bevat ’n bespreking oor gemeenregtelike huwelike.

e Sien ook die artikel “Vergroot die vreugde en waardigheid van jou troudag”, op bladsy 28.

Onthou jy?

• Waarom moet ons belangstel in die wetlike sowel as die geestelike aspekte van troues?

• As twee Christene tydens ’n burgerlike seremonie trou, wat sal hulle dalk besluit om kort daarna te hou?

• Waarom word troutoesprake by die Koninkryksaal gehou?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 18]

Wanneer eertydse Israeliete getrou het, het die bruidegom die bruid na sý huis of na sy vader se huis gebring

[Prent op bladsy 21]

Christene wil dalk ná ’n tradisionele huwelikseremonie ’n toespraak by die Koninkryksaal hê