Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ondersteun jy Jehovah se soewereiniteit?

Ondersteun jy Jehovah se soewereiniteit?

Ondersteun jy Jehovah se soewereiniteit?

“Sê onder die nasies: ‘Jehovah het koning geword.’”—PSALM 96:10.

1, 2. (a) Watter betekenisvolle gebeurtenis het omstreeks Oktober 29 G.J. plaasgevind? (b) Wat het hierdie gebeurtenis vir Jesus beteken?

 ’N BETEKENISVOLLE gebeurtenis, een wat nog nooit tevore op aarde gesien is nie, het omstreeks Oktober 29 G.J. plaasgevind. Die Evangelieskrywer Matteus vertel: “Nadat Jesus gedoop is, het hy onmiddellik uit die water opgekom; en kyk! die hemele is geopen, en [Johannes die Doper] het gesien hoe God se gees soos ’n duif neerdaal en op [Jesus] kom. Kyk! Ook was daar ’n stem uit die hemele wat gesê het: ‘Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het.’” Dit is een van die min gebeurtenisse wat deur al vier Evangelieskrywers opgeteken is.—Matteus 3:16, 17; Markus 1:9-11; Lukas 3:21, 22; Johannes 1:32-34.

2 Die sigbare uitstorting van heilige gees op Jesus het hom geïdentifiseer as die Gesalfde, wat Messias, of Christus, beteken (Johannes 1:33). Die beloofde “saad” het uiteindelik verskyn! Voor Johannes die Doper het die een gestaan wat deur Satan in die hakskeen gewond sou word en wat die kop van hierdie aartsvyand van Jehovah en Sy soewereiniteit sou vermorsel (Genesis 3:15). Van toe af was Jesus ten volle bewus van die feit dat hy hom moet beywer om Jehovah se voorneme aangaande Sy soewereiniteit en die Koninkryk te verwesenlik.

3. Hoe het Jesus hom voorberei vir die rol wat hy moes speel in die ondersteuning van Jehovah se soewereiniteit?

3 Om voorbereid te wees vir die taak wat voorgelê het, het “Jesus . . . vol heilige gees van die Jordaan af weggegaan, en hy is deur die gees in die wildernis rondgelei” (Lukas 4:1; Markus 1:12). Daar het Jesus, 40 dae lank, tyd gehad om diep na te dink oor die soewereiniteitsgeskil wat Satan geopper het en oor die weg wat Hy moet volg om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun. Alle intelligente skepsele—in die hemel en op die aarde—is by hierdie geskil betrokke. Daarom moet ons Jesus se getroue weg ondersoek en kyk wat ons moet doen om te toon dat ons ook Jehovah se soewereiniteit wil ondersteun.—Job 1:6-12; 2:2-6.

Soewereiniteitsgeskil na vore gebring

4. Wat het Satan gedoen wat die soewereiniteitsgeskil na vore gebring het?

4 Nie een van die gebeure wat so pas genoem is, het natuurlik Satan se aandag ontgaan nie. Hy het geen tyd verspil nie en sy aanval teen die vernaamste lid van die “saad” van God se “vrou” geloods (Genesis 3:15). Satan het Jesus drie keer versoek deur voor te stel dat Jesus iets moet doen wat hom oënskynlik sou bevoordeel, in plaas van te doen wat sy Vader wou hê hy moet doen. Die derde versoeking in die besonder het die soewereiniteitsgeskil na vore gebring. Satan het vir Jesus “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid” gewys en onbeskaamd vir hom gesê: “Al hierdie dinge sal ek jou gee as jy neerval en ’n daad van aanbidding teenoor my verrig.” Jesus, wat ten volle daarvan bewus was dat die Duiwel wél beheer oor “al die koninkryke van die wêreld” het, het getoon waar Hy ten opsigte van die soewereiniteitsgeskil staan deur te sê: “Gaan weg, Satan! Want daar staan geskrywe: ‘Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig.’”—Matteus 4:8-10.

5. Watter veeleisende taak moes Jesus uitvoer?

5 Jesus se lewensweg het duidelik getoon dat die ondersteuning van Jehovah se soewereiniteit vir hom die hoofsaak was. Jesus het goed geweet dat hy getrou moet bly tot die dood wat Satan oor hom sou bring—profeties beskryf as die wond in die hakskeen van die vrou se “saad”—om die regmatigheid van God se soewereiniteit te bewys (Matteus 16:21; 17:12). Hy moes ook getuig dat die Koninkryk van God die instrument is wat deur Jehovah gemagtig is om die opstandige Satan te oorwin en vrede en orde in die hele skepping te herstel (Matteus 6:9, 10). Wat het Jesus gedoen om hierdie veeleisende taak uit te voer?

“Die koninkryk van God het naby gekom”

6. Hoe het Jesus bekend gemaak dat die Koninkryk die middel is wat God sal gebruik om “die werke van die Duiwel te verbreek”?

6 Om mee te begin, “het Jesus na Galilea gegaan en die goeie nuus van God verkondig en gesê: ‘Die vasgestelde tyd is vervul, en die koninkryk van God het naby gekom’” (Markus 1:14, 15). Trouens, hy het gesê: “Ek [moet] die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Lukas 4:18-21, 43). Jesus het die land deurkruis en “gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak” (Lukas 8:1). Jesus het ook talle kragtige werke verrig—hy het die skares gevoed, storms gestil, siekes gesond gemaak en dooies opgewek. Deur middel van hierdie wonderwerke het Jesus bewys dat God al die skade en lyding wat deur die opstand in Eden veroorsaak is, ongedaan kan maak en sodoende “die werke van die Duiwel [kan] verbreek”.—1 Johannes 3:8.

7. Wat het Jesus sy volgelinge beveel om te doen, en met watter gevolg?

7 Om te verseker dat die goeie nuus van die Koninkryk so deeglik moontlik verkondig word, het Jesus ’n groep getroue volgelinge versamel en hulle opgelei om hierdie werk te doen. Hy het eers sy 12 apostels die opdrag gegee en “hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig” (Lukas 9:1, 2). Daarna het hy 70 ander uitgestuur om die boodskap te verkondig: “Die koninkryk van God het naby julle gekom” (Lukas 10:1, 8, 9). Toe hierdie dissipels teruggekeer en vir Jesus vertel het hoe suksesvol hulle in die Koninkrykspredikingswerk was, het hy gesê: “Ek het begin sien dat Satan reeds soos weerlig uit die hemel geval het.”—Lukas 10:17, 18.

8. Wat het Jesus se lewensweg duidelik getoon?

8 Jesus het hom ingespan en elke geleentheid gebruik om van die Koninkryk te getuig. Hy het onvermoeid gewerk, dag en nag gearbei, selfs die gewone materiële geriewe prysgegee. “Jakkalse het gate en voëls van die hemel het slaapplekke, maar die Seun van die mens het geen plek om sy kop neer te lê nie”, het hy gesê (Lukas 9:58; Markus 6:31; Johannes 4:31-34). Kort voor sy dood het Jesus moedig voor Pontius Pilatus verklaar: “Hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). Jesus se hele lewensweg het getoon dat hy gekom het, nie om bloot ’n groot leermeester of ’n wonderdoener of selfs net ’n selfopofferende Verlosser te wees nie, maar om Jehovah se soewereine wil te ondersteun en te getuig van God se vermoë om dit deur middel van die Koninkryk te volbring.—Johannes 14:6.

“Dit is volbring!”

9. Hoe het Satan uiteindelik daarin geslaag om die “saad” van God se vrou in die hakskeen te wond?

9 Alles wat Jesus met betrekking tot die Koninkryk gedoen het, het die Teenstander, Satan die Duiwel, gegrief. Satan het herhaaldelik, deur middel van die aardse deel van sy “saad”—polities sowel as godsdienstig—die “saad” van God se vrou probeer stilmaak. Van sy geboorte tot die einde van sy aardse lewe was Jesus die teiken van Satan en sy trawante. In die noordelike lente van 33 G.J. het die tyd uiteindelik aangebreek vir die Seun van die mens om in die hande van die Teenstander oorgelewer te word om deur hom in die hakskeen gewond te word (Matteus 20:18, 19; Lukas 18:31-33). Die Evangelieverslae toon duidelik hoe mense—van Judas Iskariot tot die hoofpriesters, skrifgeleerdes, Fariseërs en Romeine—deur Satan gemanipuleer is om Jesus te veroordeel en hom ’n pynlike dood aan ’n folterpaal te laat sterf.—Handelinge 2:22, 23.

10. Wat het Jesus hoofsaaklik volbring deur sy dood aan die folterpaal?

10 Waaraan laat Jesus se stadige en pynlike dood aan die folterpaal jou dink? Dalk dink jy aan die losprysoffer wat Jesus onselfsugtig ten behoewe van die sondige mensdom voorsien het (Matteus 20:28; Johannes 15:13). Of jy verwonder jou oor die groot liefde wat Jehovah getoon het deur hierdie offerande te voorsien (Johannes 3:16). Miskien voel jy soos die Romeinse leëroffisier wat beweeg is om te sê: “Hy was beslis God se Seun” (Matteus 27:54). Dit alles is ongetwyfeld gepaste reaksies. Maar onthou dat Jesus se laaste woorde aan die folterpaal was: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). Wat is volbring? Het Jesus, hoewel hy baie dinge deur sy lewe en dood bereik het, nie hoofsaaklik aarde toe gekom om die geskil oor Jehovah se soewereiniteit te besleg nie? En is daar nie voorspel dat hy as die “saad” tot die uiterste deur Satan getoets sou word om Jehovah se naam van alle smaad te reinig nie? (Jesaja 53:3-7). Dit was gewigtige verantwoordelikhede, maar Jesus het dit in elke opsig nagekom. Ja, hy het alles volbring!

11. Wat sal Jesus doen om die profesie wat in Eden uitgespreek is, ten volle te vervul?

11 Weens sy getrouheid en lojaliteit is Jesus opgewek, nie as ’n mens nie, maar as “’n lewegewende gees” (1 Korintiërs 15:45; 1 Petrus 3:18). Jehovah se belofte aan sy verheerlikte Seun was: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak” (Psalm 110:1). Hierdie “vyande” bestaan uit die grootste oortreder, Satan, en almal wat sy “saad” uitmaak. As Koning van Jehovah se Messiaanse Koninkryk sal Jesus Christus die leiding daarin neem om alle opstandelinge, in die hemel en op die aarde, te vernietig (Openbaring 12:7-9; 19:11-16; 20:1-3, 10). Dan sal die profesie in Genesis 3:15 ten volle vervul word, asook die gebed wat Jesus sy volgelinge geleer het: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:10; Filippense 2:8-11.

’n Voorbeeld om te volg

12, 13. (a) Watter reaksie op die goeie nuus van die Koninkryk word vandag gesien? (b) Wat moet ons onthou wanneer ons Christus se voetstappe volg?

12 Vandag word die goeie nuus van die Koninkryk in baie lande verkondig, soos Jesus voorspel het (Matteus 24:14). Gevolglik het miljoene mense hulle lewe aan God toegewy. Hulle is opgewonde oor die seëninge wat die Koninkryk sal bring. Hulle sien daarna uit om vir ewig in vrede en veiligheid op ’n paradysaarde te lewe, en hulle vertel ander vreugdevol van hulle hoop (Psalm 37:11; 2 Petrus 3:13). Is jy een van hierdie Koninkryksverkondigers? Indien wel, is dit prysenswaardig. Maar daar is iets anders waaroor elkeen van ons moet nadink.

13 Die apostel Petrus het geskryf: “Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Let daarop dat Petrus in hierdie geval nie Jesus se ywer in die predikingswerk of sy vaardigheid as onderrigter genoem het nie, maar sy lyding. As ’n ooggetuie het Petrus goed geweet tot watter mate Jesus bereid was om te ly om hom aan Jehovah se soewereiniteit te onderwerp en te bewys dat Satan inderdaad ’n leuenaar is. Op watter maniere kan ons dan Jesus se voetstappe volg? Ons moet ons afvra: ‘Tot watter mate is ek bereid om te ly om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun en te verheerlik? Toon ek deur die manier waarop ek my lewe lei en my bediening uitvoer dat dit vir my van die allergrootste belang is om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun?’—Kolossense 3:17.

14, 15. (a) Hoe het Jesus gereageer op misplaaste voorstelle en aanbiedings, en waarom? (b) Watter geskil moet ons altyd voor oë hou? (Sluit kommentaar in oor die venster “Skaar jou aan Jehovah se kant”.)

14 Ons kom elke dag voor groot en klein beproewinge en besluite te staan. Wat moet bepaal hoe ons sal optree? Hoe reageer ons byvoorbeeld wanneer ons in die versoeking kom om iets te doen wat ons goeie naam as ’n Christen in gevaar sal stel? Wat was Jesus se reaksie toe Petrus vir hom gesê het om goed vir homself te wees? “Gaan agter my, Satan!” het Jesus uitgeroep. “Jy dink nie God se gedagtes nie, maar dié van mense” (Matteus 16:21-23). Of wanneer ons geleenthede gebied word om ten koste van ons geestelike welsyn finansieel of in ons loopbaan vooruitgang te maak, reageer ons dan soos Jesus gereageer het? Toe Jesus besef dat diegene wat sy wonderwerke gesien het, “op die punt staan om hom te kom gryp om hom koning te maak”, het hy gou van hulle af weggegaan.—Johannes 6:15.

15 Waarom het Jesus by hierdie en ander geleenthede met soveel beslistheid opgetree? Omdat hy duidelik gesien het dat meer as sy persoonlike veiligheid of voordeel hier betrokke was. Hy wou sy Vader se wil doen en Jehovah se soewereiniteit ten alle koste ondersteun (Matteus 26:50-54). As ons dus nie, soos Jesus, die ware geskil te alle tye duidelik voor oë hou nie, is daar altyd die gevaar dat ons sal swig of faal. Waarom? Omdat ons maklik ’n slagoffer kan word van die sette van Satan, wat op meesterlike wyse dit wat verkeerd is, begeerlik kan laat lyk, soos hy gedoen het toe hy Eva versoek het.—2 Korintiërs 11:14; 1 Timoteus 2:14.

16. Wat moet ons uiteindelike doel wees wanneer ons ander help?

16 In ons bediening probeer ons om met mense te praat oor dinge wat hulle bekommer en hulle die Bybel se antwoorde te wys. Dit is ’n doeltreffende manier om hulle belangstelling in ’n studie van die Bybel te wek. Maar ons uiteindelike doel is nie net om mense te help om kennis op te doen van wat die Bybel sê of watter seëninge God se Koninkryk sal bring nie. Ons moet hulle help om te besef wat die ware geskil is. Is hulle bereid om ware Christene te word en hulle “folterpaal” op te neem en ter wille van die Koninkryk te ly? (Markus 8:34). Is hulle gereed om hulle te skaar by diegene wat Jehovah se soewereiniteit ondersteun en sodoende te bewys dat Satan ’n leuenaar en ’n lasteraar is? (Spreuke 27:11). Dit is ons voorreg om onsself en ander te help om dit te doen.—1 Timoteus 4:16.

Wanneer God “alles vir elkeen” word

17, 18. Na watter glorieryke tyd kan ons uitsien as ons toon dat ons Jehovah se soewereiniteit ondersteun?

17 Terwyl ons nou ons uiterste bes doen om deur ons gedrag en ons bediening te toon dat ons Jehovah se soewereiniteit ondersteun, kan ons uitsien na die tyd wanneer Jesus Christus “die koninkryk aan sy God en Vader oorgee”. Wanneer sal dit gebeur? Die apostel Paulus verduidelik: “Wanneer hy alle regering en alle gesag en mag tot niet gemaak het. Want hy moet as koning heers totdat God alle vyande onder sy voete gestel het. . . . Dan sal die Seun self hom ook onderwerp aan die Een wat alles aan hom onderwerp het, sodat God alles vir elkeen kan wees.”—1 Korintiërs 15:24, 25, 28.

18 Wanneer God “alles vir elkeen” word—wat ’n glorieryke tyd sal dit tog wees! Die Koninkryk sal in sy doel geslaag het. Alle teenstanders van Jehovah se soewereiniteit sal verwyder wees. Vrede en orde sal dwarsdeur die heelal herstel wees. Soos die psalmis dit gestel het, sal die hele skepping sing: “Skryf aan Jehovah die heerlikheid toe wat sy naam toekom . . . Sê onder die nasies: ‘Jehovah het koning geword.’”—Psalm 96:8, 10.

Kan jy antwoord?

• Hoe het Jesus die geskil oor God se soewereiniteit voor oë gehou?

• Wat het Jesus hoofsaaklik volbring deur sy bediening en sy dood?

• Op watter maniere kan ons Jesus se voorbeeld volg terwyl ons toon dat ons Jehovah se soewereiniteit ondersteun?

[Studievrae]

[Venster/Prente op bladsy 29]

SKAAR JOU AAN JEHOVAH SE KANT

Soos baie broers in Korea en elders weet, is dit goed as Christene wat voor hewige beproewinge te staan kom, die rede vir hierdie beproewinge helder voor oë hou.

“Wat ons gehelp het om te volhard”, het een van Jehovah se Getuies gesê wat gedurende die voormalige Sowetregime in die tronk was, “was ’n duidelike begrip van die geskil wat in die tuin van Eden geopper is—die geskil oor God se reg om te regeer. . . . Ons het geweet dat ons ’n geleentheid het om Jehovah se heerskappy te ondersteun. . . . Dit het ons sterk gemaak en ons in staat gestel om ons onkreukbaarheid te handhaaf.”

’n Ander Getuie het verduidelik wat hom en mede-Getuies in ’n strafkamp gehelp het. “Jehovah het ons onderskraag”, het hy gesê. “Ten spyte van die moeilike omstandighede was ons geestelik wakker. Ons het mekaar altyd opgebeur met die positiewe gedagte dat ons ons aan Jehovah se kant geskaar het in die geskil oor universele soewereiniteit.”

[Prent op bladsy 26]

Hoe het Jesus Jehovah se soewereiniteit ondersteun toe hy deur Satan versoek is?

[Prent op bladsy 28]

Wat is deur Jesus se dood volbring?