Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lukas—’n Geliefde medewerker

Lukas—’n Geliefde medewerker

Lukas—’n Geliefde medewerker

DIT was die jaar 65 G.J. Die plek was Rome. Lukas het geweet hoe gevaarlik dit is om hom te identifiseer as ’n vriend van die apostel Paulus, wat op daardie stadium tereggestaan het weens sy geloof. Paulus sou blykbaar die doodstraf kry. Maar op daardie kritieke tyd was net Lukas saam met die apostel.—2 Timoteus 4:6, 11.

Bybellesers ken die naam Lukas omdat die Evangelie wat hy geskryf het, sy naam dra. Lukas het lang afstande gereis saam met Paulus, wat hom “die geliefde geneesheer” en ’n ‘medewerker’ genoem het (Kolossense 4:14; Filemon 24). Die Skrif voorsien min inligting omtrent Lukas en noem sy naam net drie keer. Maar nadat jy gesien het wat navorsing omtrent Lukas openbaar, sal jy waarskynlik dieselfde waardering vir hierdie getroue Christen hê as wat Paulus gehad het.

Skrywer en sendeling

Lukas se Evangelie en die boek Handelinge van die Apostels is gerig aan Teofilus, wat daarop dui dat Lukas albei hierdie goddelik geïnspireerde dokumente saamgestel het (Lukas 1:3; Handelinge 1:1). Lukas beweer nie dat hy ’n ooggetuie van Jesus Christus se bediening was nie. Hy sê eerder dat hy inligting van ooggetuies ontvang het en “alles van die begin af noukeurig nagespeur het” (Lukas 1:1-3). Lukas het dus heel moontlik die een of ander tyd ná Pinkster 33 G.J. ’n volgeling van Christus geword.

Party meen dat Lukas van Antiogië in Sirië afkomstig was. Hulle wys daarop dat Handelinge uitvoerig vertel van gebeure in daardie stad en dat die boek spesifiek noem dat een van die sewe “manne van goeie getuienis” “’n proseliet van Antiogië” was, terwyl die stede van die ander ses manne nie gemeld word nie. Ons kan natuurlik nie seker wees dat dit spesiale aandag vestig op Antiogië as Lukas se geboortestad nie.—Handelinge 6:3-6.

Hoewel Lukas nie in Handelinge genoem word nie, dui die gebruik van die voornaamwoord “ons” aan dat hy deel was van party gebeure wat in die boek beskryf word. Wanneer Lukas die roete beskryf wat Paulus en sy metgeselle deur Klein-Asië gevolg het, sê hy: “Hulle het Misië . . . verbygegaan en afgekom na Troas.” Dit was in Troas waar Paulus ’n visioen gehad het van ’n Masedoniese man wat hom gesoebat het: “Kom oor na Masedonië en help ons.” Lukas voeg by: “En onmiddellik nadat hy die visioen gesien het, het ons ’n manier gesoek om na Masedonië te gaan” (Handelinge 16:8-10). Die oorskakeling van “hulle” na “ons” gee te kenne dat Lukas in Troas by Paulus se groep aangesluit het. Daarna beskryf Lukas die predikingswerk in Filippi in die eerste persoon meervoud, wat aandui dat hy daaraan deelgeneem het. “Op die sabbatdag”, skryf hy, “het ons uitgegaan tot buite die poort, langs ’n rivier, waar ons gedink het ’n bidplek is; en ons het gaan sit en met die vroue begin praat wat bymekaargekom het.” Gevolglik het Lidia en al haar huisgenote die goeie nuus aangeneem en is hulle gedoop.—Handelinge 16:11-15.

Hulle het teenstand ondervind in Filippi, waar Paulus ’n diensmeisie genees het wat voorspellings gemaak het onder die invloed van “’n waarsêende demoon”. Toe haar here sien dat hulle hulle bron van inkomste verloor het, het hulle Paulus en Silas gegryp, wat toe geslaan en in die gevangenis gegooi is. Lukas is klaarblyklik nie in hegtenis geneem nie, want hy beskryf sy metgeselle se beproewing in die derde persoon. Toe Paulus en Silas vrygelaat is, “het hulle [die broers] aangemoedig en vertrek”. Lukas het eers weer oorgeslaan na die eerste persoon toe Paulus later na Filippi teruggekeer het (Handelinge 16:16-40; 20:5, 6). Dalk het Lukas in Filippi gebly om toesig te hou oor die werk daar.

Hoe die inligting versamel is

Waar het Lukas die inligting vir sy Evangelie en die boek Handelinge gekry? Die gedeeltes van Handelinge wat in die eerste persoon geskryf is—dié waar Lukas homself in die vertelling ingesluit het—dui aan dat hy saam met Paulus van Filippi na Jerusalem gereis het, waar die apostel weer eens in hegtenis geneem is. Op pad soontoe het Paulus se groep by Filippus, die evangeliedienaar, in Sesarea gebly (Handelinge 20:6; 21:1-17). Lukas kon inligting oor die vroeë sendingbedrywighede in Samaria vir sy verslag verkry het van Filippus, wat die leiding daar geneem het in die predikingswerk (Handelinge 8:4-25). Maar wie was Lukas se ander bronne?

Gedurende die twee jaar wat Paulus in Sesarea in die gevangenis deurgebring het, het Lukas waarskynlik navorsing gedoen vir sy Evangelieverslag. Jerusalem was nie ver daarvandaan nie, waar hy Jesus se geslagsregister kon navors. Lukas het baie gebeure in Jesus se lewe en bediening opgeteken wat uniek is aan sy Evangelie. Een geleerde het tot 82 sulke unieke gedeeltes geïdentifiseer.

Dit is moontlik dat Lukas dinge omtrent Johannes se geboorte uitgevind het by Elisabet, die moeder van Johannes die Doper. Besonderhede omtrent Jesus se geboorte en vroeë jare is dalk verkry van Jesus se moeder, Maria (Lukas 1:5-80). Dalk het Petrus, Jakobus of Johannes Lukas van die wonderdadige visvangs vertel (Lukas 5:4-10). Slegs in Lukas se Evangelie hoor ons van party van Jesus se gelykenisse, soos die barmhartige Samaritaan, die nou deur, die verlore dragma, die verlore seun, en die ryk man en Lasarus.—Lukas 10:29-37; 13:23, 24; 15:8-32; 16:19-31.

Lukas het opregte belangstelling in mense getoon. Hy het dinge opgeteken soos Maria se reinigingsofferande, die opstanding van ’n weduwee se seun en ’n vrou wat Jesus se voete salf. Lukas meld die vroue wat Christus bedien het, en sê vir ons dat Marta en Maria Hom as ’n gas in hulle huis ontvang het. Die Evangelie van Lukas vertel van die genesing van ’n vrou wat krom getrek was, en dié van ’n man wat aan watersug gely het, sowel as die reiniging van tien melaatses. Lukas vertel van klein Saggeus, wat in ’n boom geklim het om Jesus te sien, en meld die berouvolle gesindheid van een misdadiger wat langs Christus aan ’n paal gehang is.—Lukas 2:24; 7:11-17, 36-50; 8:2, 3; 10:38-42; 13:10-17; 14:1-6; 17:11-19; 19:1-10; 23:39-43.

Dit is opmerkenswaardig dat Lukas se Evangelie praat van die behandeling van ’n wond deur die barmhartige Samaritaan in Jesus se illustrasie. Omdat Lukas klaarblyklik ’n dokter was, het hy Jesus se beskrywing opgeteken van die behandeling wat gegee is, insluitende wyn as ’n ontsmettingsmiddel, olie weens die strelende eienskappe daarvan en die gebruik van verbande.—Lukas 10:30-37.

’n Gevangene se metgesel

Lukas was besorg oor die apostel Paulus. Toe Paulus by Sesarea in hegtenis geneem is, het die Romeinse prokurator Feliks beveel dat “niemand van [Paulus se] mense” verbied moet word “om hom te bedien nie” (Handelinge 24:23). Lukas was waarskynlik onder hierdie mense. Aangesien Paulus nie altyd baie gesond was nie, was een van “die geliefde geneesheer” se take waarskynlik om hom te versorg.—Kolossense 4:14; Galasiërs 4:13.

Toe Paulus hom op die keiser beroep het, het die Romeinse prokurator Festus die apostel na Rome gestuur. Lukas het die gevangene getrou vergesel op die lang reis na Italië en ’n lewendige verslag geskryf van hoe hulle skipbreuk gely het (Handelinge 24:27; 25:9-12; 27:1, 9-44). Terwyl Paulus onder huisarres in Rome was, het hy ’n aantal geïnspireerde briewe geskryf en in twee van hulle na Lukas verwys (Handelinge 28:30; Kolossense 4:14; Filemon 24). Dit was moontlik gedurende hierdie tweejaarperiode wat Lukas die boek Handelinge geskryf het.

Paulus se verblyfplek in Rome was ongetwyfeld ’n miernes van geestelike bedrywigheid. Hier sou Lukas kontak hê met party van Paulus se ander medewerkers—Tigikus, Aristargus, Markus, Justus, Epafras en Onesimus, om maar ’n paar te noem.—Kolossense 4:7-14.

Tydens Paulus se tweede gevangenskap, toe hy gedink het dat sy dood naby was, was die lojale en dapper Lukas aan sy sy, selfs al het ander die apostel verlaat. Lukas het dalk gebly ondanks die gevaar dat hy sy eie vryheid kon verloor. Lukas het moontlik as ’n sekretaris opgetree en Paulus se woorde neergeskryf: “Net Lukas is by my.” Volgens tradisie is Paulus kort daarna onthoof.—2 Timoteus 4:6-8, 11, 16.

Lukas was selfopofferend en beskeie. Hy het nie gespog met sy geleerdheid of homself op die voorgrond geplaas nie. Ja, hy kon sy loopbaan as ’n dokter voortgesit het, maar hy het gekies om Koninkryksbelange te bevorder. Mag ons, soos Lukas, die goeie nuus onselfsugtig verkondig en nederig tot die heerlikheid van Jehovah dien.—Lukas 12:31.

[Venster op bladsy 19]

WIE WAS TEOFILUS?

Lukas het sy Evangelie en Handelinge van die Apostels aan Teofilus gerig. In Lukas se Evangelie word hierdie man “hoogedele Teofilus” genoem (Lukas 1:3). “Hoogedele” was ’n aanspreekvorm wat gebruik is vir ’n vooraanstaande persoon wat baie ryk was, sowel as vir hooggeplaaste amptenare in die Romeinse regering. Die apostel Paulus het Festus, die Romeinse prokurator van Judea, op ’n soortgelyke manier aangespreek.—Handelinge 26:25.

Teofilus het blykbaar gehoor van die boodskap oor Jesus en het daarin belangstel. Lukas het gehoop dat sy Evangelieverslag Teofilus in staat sou stel om “ten volle [te] kan weet hoe seker die dinge is wat [hy] mondeling geleer is”.—Lukas 1:4.

Volgens Richard Lenski, ’n geleerde in Griekse geskrifte, is dit onwaarskynlik dat Teofilus ’n gelowige was toe Lukas hom “hoogedele” genoem het, want “in alle Christelike literatuur . . . word geen Christenbroer ooit aangespreek met so ’n titel wat op wêreldse eerbetoning dui nie”. Toe Lukas later die boek Handelinge geskryf het, het hy nie die titel “hoogedele” gebruik nie, maar eenvoudig “o Teofilus” gesê (Handelinge 1:1). Lenski kom tot die gevolgtrekking: “Toe Lukas sy Evangelie aan Teofilus geskryf het, was hierdie vername man nog nie ’n Christen nie, maar hy het baie belanggestel in die Christelike godsdiens; teen die tyd dat Lukas egter vir hom die Handelinge gestuur het, het Teofilus hom al bekeer.”