Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrees Jehovah en onderhou sy gebooie

Vrees Jehovah en onderhou sy gebooie

Vrees Jehovah en onderhou sy gebooie

“Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—PREDIKER 12:13, NW.

1, 2. (a) Hoe kan vrees ons fisies beskerm? (b) Waarom probeer verstandige ouers ’n heilsame vrees by hulle kinders inskerp?

 “NET soos moed lewe in gevaar stel, beskerm vrees dit”, het Leonardo da Vinci gesê. Bravade, of waaghalsigheid, maak ’n mens blind vir gevaar, terwyl vrees jou daaraan herinner om versigtig te wees. As ons byvoorbeeld na aan die rand van ’n afgrond kom en sien hoe ver ons kan val, tree die meeste van ons instinktief terug. Net so ook bevorder ’n heilsame vrees nie net ’n goeie verhouding met God nie, soos ons in die vorige artikel geleer het, maar dit help ook om ons teen leed te beskerm.

2 Vrees vir talle hedendaagse gevare moet egter aangeleer word. Aangesien jong kinders nie bewus is van die gevare van elektrisiteit of stadsverkeer nie, kan hulle maklik ’n ernstige ongeluk hê. a Verstandige ouers probeer ’n heilsame vrees by hulle kinders inskerp deur hulle herhaaldelik te waarsku oor die gevare om hulle. Ouers weet dat hierdie vrees hulle kinders se lewe kan red.

3. Waarom en hoe waarsku Jehovah ons teen geestelike gevare?

3 Jehovah toon soortgelyke besorgdheid oor ons welsyn. As ’n liefdevolle Vader onderrig hy ons deur sy Woord en sy organisasie sodat ons onsself kan bevoordeel (Jesaja 48:17, NW). Hierdie Goddelike onderrigprogram sluit waarskuwings in wat hy “keer op keer” gee teen geestelike slaggate sodat ons ’n heilsame vrees vir sulke gevare kan aankweek (2 Kronieke 36:15, NW; 2 Petrus 3:1). Deur die geskiedenis heen kon talle geestelike gevare vermy en baie lyding voorkom geword het ‘as mense net hierdie hart van hulle daartoe geneig het om God te vrees en sy gebooie te onderhou’ (Deuteronomium 5:29, NW). Hoe kan ons, in hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, ons hart neig om God te vrees en geestelike gevaar vermy?—2 Timoteus 3:1.

Wyk af van die kwaad

4. (a) Watter haat moet Christene aankweek? (b) Hoe voel Jehovah oor sondige gedrag? (Sien voetnoot.)

4 Die Bybel verduidelik dat “die vrees van Jehovah beteken om te haat wat sleg is” (Spreuke 8:13, NW). ’n Bybelwoordeboek beskryf hierdie haat as “’n emosionele gesindheid teenoor mense en dinge wat teëgestaan, verafsku, verag word en waarmee ’n mens geen kontak of verhouding wil hê nie”. Godvrugtige vrees sluit dus ’n innerlike afsku of afkeer in van alles wat sleg is in Jehovah se oë (Psalm 97:10). b Dit dring ons om af te wyk van die kwaad, net soos ons sou terugtree van die rand van ’n afgrond wanneer ons instinktiewe vrees die alarmsein gee. “In die vrees van Jehovah wyk ’n mens af van die kwaad”, sê die Bybel.—Spreuke 16:6NW.

5. (a) Hoe kan ons ons godvrugtige vrees en ons haat vir wat sleg is, versterk? (b) Wat leer die geskiedenis van die nasie Israel ons in dié verband?

5 Ons kan hierdie heilsame vrees en haat vir wat sleg is, versterk deur na te dink oor die skadelike gevolge wat sonde noodwendig meebring. Die Bybel verseker ons dat ons sal maai wat ons saai—hetsy ons volgens die vlees of volgens die gees saai (Galasiërs 6:7, 8). Om dié rede gee Jehovah ’n duidelike beskrywing van die onvermydelike gevolge as sy gebooie verontagsaam en ware aanbidding die rug toegekeer word. Sonder God se beskerming sou die klein, kwesbare nasie Israel aan die genade van wrede en magtige buurnasies oorgelewer gewees het (Deuteronomium 28:15, 45-48). Die tragiese gevolge van Israel se ongehoorsaamheid is in volle besonderhede in die Bybel opgeteken “as ’n waarskuwing” sodat ons daaruit kan leer en godvrugtige vrees kan aankweek.—1 Korintiërs 10:11.

6. Na watter skriftuurlike voorbeelde kan ons kyk om godvrugtige vrees te leer? (Sien voetnoot.)

6 Die Bybel vertel nie net wat met die nasie Israel as geheel gebeur het nie, maar dit bevat ook werklike ondervindinge van persone wat deur jaloesie, onsedelikheid, gierigheid of trots oormeester is. c Party van hierdie manne het Jehovah jare lank gedien, maar op een kritieke oomblik in hulle lewe was hulle vrees vir God nie sterk genoeg nie, en hulle het die wrange vrugte daarvan gepluk. As ons oor sulke skriftuurlike voorbeelde nadink, kan dit ons meer vasbeslote maak om nie soortgelyke foute te begaan nie. Hoe jammer sou dit tog wees as ons sou wag totdat ons ’n persoonlike tragedie ervaar voordat ons God se raad ter harte neem! In teenstelling met die algemene opvatting is ondervinding—veral dié wat opgedoen word as ’n mens aan jou begeertes toegee—nie die beste leermeester nie.—Psalm 19:7NW.

7. Wie word deur Jehovah na sy figuurlike tent genooi?

7 Nog ’n kragtige rede om godvrugtige vrees aan te kweek, is ons begeerte om ons verhouding met God te bewaar. Ons wil nie Jehovah mishaag nie omdat sy vriendskap vir ons kosbaar is. Wie word deur God as ’n vriend beskou, iemand wat hy na sy figuurlike tent sal nooi? Net die een “wat onberispelik wandel en regverdigheid beoefen” (Psalm 15:1, 2, NW). As ons hierdie bevoorregte verhouding met ons Skepper waardeer, sal ons seker maak dat ons onberispelik in sy oë wandel.

8. Hoe het party Israeliete in Maleagi se dag vriendskap met God as vanselfsprekend aangeneem?

8 Ongelukkig het party Israeliete in Maleagi se dag vriendskap met God as vanselfsprekend aangeneem. In plaas van Jehovah te vrees en te eer, het hulle siek en kreupel diere op sy altaar geoffer. Hulle gebrek aan godvrugtige vrees is ook weerspieël in hulle gesindheid teenoor die huwelik. Hulle het om onbenullige redes van die vrouens van hulle jeug geskei om met jonger vroue te trou. Maleagi het vir hulle gesê dat Jehovah “egskeiding” haat en dat hulle verraderlikheid hulle van hulle God vervreem het. Hoe kon hulle offerandes God se goedkeuring wegdra as die altaar figuurlik gesproke bedek is met trane—die bitter trane van die verstote vrouens? Hierdie skaamtelose minagting van Jehovah se standaarde het hom laat vra: “Waar is die vrees vir my?”—Maleagi 1:6-8; 2:13-16NW.

9, 10. Hoe kan ons toon dat ons Jehovah se vriendskap waardeer?

9 Vandag sien Jehovah ook die hartseer van talle onskuldige huweliksmaats en kinders wat verpletter word deur selfsugtige en onsedelike mans en vaders of selfs vrouens en moeders. Dit bedroef hom beslis. ’n Vriend van God sal dinge sien soos God dit sien en sal hom inspan om sy huwelik te versterk, wêreldse denke verwerp wat minagting toon vir die belangrikheid van die huweliksband en ‘vir die hoerery vlug’.—1 Korintiërs 6:18.

10 In die huwelik sowel as op ander gebiede van ons lewe sal haat vir alles wat sleg is in Jehovah se oë, tesame met ’n diepe waardering vir sy vriendskap, Jehovah se guns en goedkeuring meebring. Die apostel Petrus het met beslistheid gesê: “Ek bemerk vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Ons het baie skriftuurlike voorbeelde wat toon hoe godvrugtige vrees persone beweeg het om in allerhande beproewende omstandighede te doen wat reg is.

Drie wat God gevrees het

11. Onder watter omstandighede is Abraham “godvresend” genoem?

11 Daar is een man in die Bybel wat Jehovah self sy vriend genoem het—die aartsvader Abraham (Jesaja 41:8). Abraham se godvrugtige vrees is op die proef gestel toe God hom gevra het om sy enigste seun, Isak, te offer, deur wie God sy belofte sou vervul dat Abraham se nageslag ’n groot nasie sou word (Genesis 12:2, 3; 17:19). Sou “Jehovah se vriend” hierdie pynlike toets slaag? (Jakobus 2:23). Die oomblik toe Abraham sy mes gelig het om Isak dood te maak, het Jehovah se engel gesê: “Moenie jou hand teen die seun uitsteek nie en moet hoegenaamd niks aan hom doen nie, want nou weet ek dat jy godvresend is, deurdat jy jou seun, jou enigste, nie van my teruggehou het nie.”—Genesis 22:10-12NW.

12. Wat was die dryfkrag agter Abraham se godvrugtige vrees, en hoe kan ons ’n soortgelyke gesindheid aan die dag lê?

12 Hoewel Abraham voorheen bewys het dat hy Jehovah vrees, het hy by daardie geleentheid sy godvrugtige vrees op ’n uitsonderlike wyse geopenbaar. Sy gewilligheid om Isak te offer, was baie meer as net ’n vertoon van eerbiedige gehoorsaamheid. Abraham is beweeg deur onwrikbare vertroue dat sy hemelse Vader Sy belofte sou nakom deur Isak op te wek indien nodig. Soos Paulus geskryf het, was Abraham ‘heeltemal daarvan oortuig dat God ook kon doen wat hy beloof het’ (Romeine 4:16-21). Is ons bereid om God se wil te doen selfs wanneer dit groot opofferinge vereis? Het ons die volle vertroue dat sulke gehoorsaamheid langtermynvoordele sal meebring, in die wete dat Jehovah “die beloner [is] van dié wat hom ernstig soek”? (Hebreërs 11:6). Dít is ware vrees vir God.—Psalm 115:11.

13. Waarom kon Josef homself tereg beskryf as ’n man wat ‘die ware God vrees’?

13 Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld van godvrugtige vrees in aksie—dié van Josef. As ’n slaaf in Potifar se huis het Josef daagliks te kampe gehad met druk om egbreuk te pleeg. Daar was klaarblyklik geen manier waarop hy kontak met sy heer se vrou kon vermy nie, wat hom voortdurend met onsedelike versoeke lastig geval het. Toe sy hom op die ou end ‘gryp’, het hy “gevlug en na buite gegaan”. Wat het hom beweeg om onmiddellik af te wyk van die kwaad? Die hooffaktor was ongetwyfeld vrees vir God, die begeerte om nie ‘hierdie groot kwaad te doen en in werklikheid teen God te sondig’ nie (Genesis 39:7-12, NW). Josef kon homself tereg beskryf as ’n man wat ‘die ware God vrees’.—Genesis 42:18NW.

14. Hoe het Josef se barmhartigheid ware vrees vir God weerspieël?

14 Jare later het Josef sy broers, wat hom op hartelose wyse as slaaf verkoop het, van aangesig tot aangesig ontmoet. Hy kon maklik hulle dringende behoefte aan voedsel gebruik het as ’n geleentheid om hulle te vergeld vir die onreg wat hulle hom aangedoen het. Maar tirannieke behandeling van ander weerspieël nie vrees vir God nie (Levitikus 25:43, NW). Toe Josef oorvloedige bewyse van sy broers se veranderde gesindheid gesien het, het hy hulle dus uit barmhartigheid vergewe. Soos Josef sal ons godvrugtige vrees ons beweeg om die kwaad met die goeie te oorwin en ook keer dat ons voor versoeking swig.—Genesis 45:1-11; Psalm 130:3, 4; Romeine 12:17-21.

15. Waarom het Job se gedrag Jehovah se hart verbly?

15 Job was nog ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat God gevrees het. Jehovah het vir die Duiwel gesê: “Het jy jou hart op my kneg Job gerig, dat daar niemand soos hy op die aarde is nie, ’n onberispelike en regskape man, wat God vrees en afwyk van die kwaad?” (Job 1:8, NW). Job se onberispelike gedrag het sy hemelse Vader se hart baie jare lank verbly. Job het God gevrees omdat hy geweet het dat dit die regte ding is om te doen en die beste manier is om te lewe. “Kyk! Die vrees van Jehovah—dit is wysheid”, het Job uitgeroep, “en om van die kwaad af te wyk, is verstand” (Job 28:28, NW). As ’n getroude man het Job nie ongepaste aandag aan jong vroue geskenk nie, en hy het ook nie owerspelige planne in sy hart beraam nie. Hoewel hy ’n ryk man was, het hy geweier om sy vertroue in rykdom te stel, en hy het elke vorm van afgodediens verwerp.—Job 31:1, 9-11, 24-28.

16. (a) Op watter maniere het Job liefderyke goedhartigheid aan die dag gelê? (b) Hoe het Job getoon dat hy nie vergifnis teruggehou het nie?

16 Maar vrees vir God beteken om goed te doen sowel as om af te wyk van wat sleg is. Daarom het Job goedhartige belangstelling in die blindes, die kreupeles en die armes getoon (Levitikus 19:14; Job 29:15, 16). Job het verstaan dat enigiemand ‘wat liefderyke goedhartigheid van sy naaste terughou, ook selfs die vrees vir die Almagtige sal laat vaar’ (Job 6:14, NW). Om liefderyke goedhartigheid terug te hou, kan insluit dat vergifnis teruggehou of ’n wrok gekoester word. Job het God se opdrag gehoorsaam en vir sy drie metgeselle, wat hom soveel smart veroorsaak het, gebid (Job 42:7-10). Kan ons so ’n vergewensgesinde gees openbaar teenoor ’n medegelowige wat ons moontlik op die een of ander manier seergemaak het? ’n Opregte gebed vir die een wat ons aanstoot gegee het, kan ons baie help om nie ’n wrok te koester nie. Die seëninge wat Job weens sy godvrugtige vrees geniet het, gee ons ’n voorsmakie van ‘die oorvloedige goedheid wat Jehovah as skat bewaar het vir dié wat hom vrees’.—Psalm 31:19, NW; Jakobus 5:11.

Vrees vir God teenoor mensevrees

17. Wat kan mensevrees aan ons doen, maar waarom is sulke vrees kortsigtig?

17 Terwyl vrees vir God ons kan dring om te doen wat reg is, kan mensevrees ons geloof ondermyn. Daarom het Jesus, toe hy die apostels aangemoedig het om ywerige verkondigers van die goeie nuus te wees, vir hulle gesê: “Moenie bevrees word vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees hom eerder wat siel sowel as liggaam in Gehenna kan vernietig” (Matteus 10:28). Mensevrees is kortsigtig, het Jesus verduidelik, want mense kan nie ons vooruitsigte op toekomstige lewe vernietig nie. Bowendien vrees ons God omdat ons sy ontsaglike krag erken, en in vergelyking daarmee is die mag van al die nasies onbeduidend (Jesaja 40:15). Soos Abraham het ons onwrikbare vertroue in Jehovah se mag om Sy getroue knegte op te wek (Openbaring 2:10). Gevolglik sê ons vol vertroue: “As God vir ons is, wie sal teen ons wees?”—Romeine 8:31.

18. Hoe beloon Jehovah diegene wat hom vrees?

18 Hetsy dit ’n gesinslid of ’n afknouer by die skool is wat ons teëstaan, ons sal vind dat daar ‘in die vrees van Jehovah sterk vertroue lê’ (Spreuke 14:26, NW). Ons kan tot God bid vir krag, in die wete dat hy ons sal hoor (Psalm 145:19). Jehovah vergeet nooit diegene wat hom vrees nie. Deur sy profeet Maleagi verseker hy ons: “Toe het dié wat Jehovah vrees, met mekaar gepraat, elkeen met sy metgesel, en Jehovah het aandag bly skenk en geluister. En ’n gedenkboek is voor hom geskryf vir dié wat Jehovah vrees en vir dié wat aan sy naam dink.”—Maleagi 3:16NW.

19. Watter soort vrees sal tot ’n einde kom, maar watter soort sal vir ewig bestaan?

19 Die tyd is op hande wanneer almal op aarde Jehovah sal aanbid en wanneer mensevrees sal verdwyn (Jesaja 11:9). Vrees vir honger, siekte, misdaad en oorlog sal ook iets van die verlede wees. Maar vrees vir God sal tot in alle ewigheid bestaan, terwyl sy getroue knegte in die hemel en op aarde aanhou om hom die eerbied, gehoorsaamheid en eer te gee wat hom toekom (Openbaring 15:4). Laat ons almal intussen die geïnspireerde raad van Salomo ter harte neem: “Laat jou hart nie afgunstig wees op sondaars nie, maar wees die hele dag in die vrees van Jehovah. Want dan sal daar ’n toekoms wees, en jou hoop sal nie afgesny word nie.”—Spreuke 23:17, 18NW.

[Voetnote]

a Party volwassenes verloor hulle vrees vir gevaar wanneer hulle hulle gereeld in gevaarlike situasies bevind weens hulle werk. Toe ’n ervare vakman gevra is waarom soveel skrynwerkers ’n af vinger het, was sy eenvoudige antwoord: “Hulle verloor hulle vrees vir daardie hoëspoed- elektriese sae.”

b Jehovah self het hierdie afkeer. In Efesiërs 4:29 word vuil taal byvoorbeeld ’n “slegte woord” genoem. Die Griekse woord wat vir “slegte” gebruik word, verwys letterlik na verrottende vrugte, vis of vleis. Hierdie term beskryf op treffende wyse die weersin wat ons in skel- of vuil taal behoort te hê. Afgode word eweneens dikwels in die Skrif as “drekgode” beskryf (Deuteronomium 29:17; Esegiël 6:9). Ons natuurlike afsku van drek, of ontlasting, help ons om God se afkeer van enige vorm van afgodediens te verstaan.

c Kyk byvoorbeeld na die skriftuurlike verslae van Kain (Genesis 4:3-12); Dawid (2 Samuel 11:2–12:14); Gehasi (2 Konings 5:20-27) en Ussia (2 Kronieke 26:16-21).

Onthou jy?

• Hoe leer ons om te haat wat sleg is?

• Hoe het party Israeliete in Maleagi se dag Jehovah se vriendskap as vanselfsprekend aangeneem?

• Wat kan ons by Abraham, Josef en Job leer omtrent vrees vir God?

• Watter vrees sal altyd bestaan, en waarom?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 19]

Verstandige ouers skerp ’n heilsame vrees by hulle kinders in

[Prent op bladsy 20]

Net soos vrees ons gevare laat vermy, laat godvrugtige vrees ons afwyk van wat sleg is

[Prent op bladsy 23]

Job het sy vrees vir God behou selfs toe hy met drie valse vriende te doen gehad het

[Erkenning]

Uit die Bybelvertaling Vulgata Latina, 1795