Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moses—Hoe sy lewe jou raak

Moses—Hoe sy lewe jou raak

VIR baie geleerdes en kritici is Moses bloot ’n mitologiese persoon. Hulle verwerp die Bybelverslag en voer bewysgronde aan wat sou vereis dat manne soos Plato en Sokrates ook as mites verwerp moet word.

Maar soos ons gesien het, is daar geen grondige rede om Bybelverslae oor Moses te verwerp nie. Inteendeel, vir mense van geloof is daar oorvloedige bewyse dat die hele Bybel “die woord van God” is (1 Tessalonisense 2:13; Hebreërs 11:1). a Vir hierdie mense is ’n studie van Moses se lewe nie bloot ’n akademiese oefening nie, maar eerder ’n manier om hulle geloof op te bou.

Die ware Moses

Rolprentvervaardigers vestig dikwels die aandag op Moses se heldhaftigheid en fisiese moed—eienskappe wat vir kykers aantreklik is. Moses het weliswaar moed gehad (Eksodus 2:16-19). Maar hy was allereers ’n man van geloof. God was vir Moses ’n werklikheid—in so ’n mate dat die apostel Paulus later gesê het dat Moses “standvastig gebly [het] asof hy die Onsigbare sien”.Hebreërs 11:24-28.

Moses leer ons dus dat dit nodig is om ’n verhouding met God aan te kweek. Ons kan ons ook in ons daaglikse lewe gedra asof ons God sien! As ons dit doen, sal ons nooit op ’n manier wil optree wat hom mishaag nie. Let ook daarop dat Moses se geloof by hom ingeskerp is terwyl hy nog ’n kindjie was. Sy geloof was sterk genoeg om ondanks blootstelling aan “al die wysheid van die Egiptenaars” behoue te bly (Handelinge 7:22). Watter aanmoediging is dit tog vir ouers om hulle kinders van kleintyd af van God te begin leer!—Spreuke 22:6; 2 Timoteus 3:15.

Moses se nederigheid was ook merkwaardig. Hy was “die sagmoedigste van al die mense wat op die oppervlak van die aarde was” (Numeri 12:3). Moses was dus bereid om sy foute te erken. Hy skryf van sy eie nalatigheid deur nie sy seun te besny nie (Eksodus 4:24-26). Hy vertel openlik van sy versuim om God by een geleentheid heerlikheid te gee en die swaar straf wat God toegedien het (Numeri 20:2-12; Deuteronomium 1:37). Daarbenewens was Moses bereid om raad van ander te aanvaar (Eksodus 18:13-24). Sou dit nie vir mans, vaders en ander manne in gesagsposisies verstandig wees om Moses na te volg nie?

Dit is waar dat party kritici die feit dat Moses werklik sagmoedig was, in twyfel trek deur te verwys na die gewelddadige dinge wat hy gedoen het (Eksodus 32:26-28). Die skrywer Jonathan Kirsch sê: “Die Moses in die Bybel is selde nederig en nooit sagmoedig nie, en sy gedrag kan nie altyd as regverdig beskou word nie. Op sekere skrikwekkende oomblikke . . . word Moses as verwaand, bloeddorstig en wreed uitgebeeld.” Hierdie kritiek is uiters kleingeestig. Dit neem nie in ag dat Moses se dade aangedryf is, nie deur wreedheid nie, maar deur ’n sterk liefde vir geregtigheid en onverdraagsaamheid teenoor goddeloosheid. In ons tyd waarin dit mode is om onsedelike lewenswyses te duld, is Moses ’n herinnering aan hoe belangrik dit is om onwrikbare sedelike standaarde te hê.—Psalm 97:10.

Moses se geskrifte

Moses het ’n verbasende versameling geskrifte agtergelaat. Daaronder is poësie (Job, Psalm 90), geskiedkundige prosa (Genesis, Eksodus, Numeri), geslagsregisters (Genesis, hoofstukke 5, 11, 19, 22, 25) en ’n merkwaardige versameling wette wat die Wet van Moses genoem word (Eksodus, hoofstukke 20-40; Levitikus; Numeri; Deuteronomium). Hierdie goddelik geïnspireerde Wet het begrippe, wette en beginsels in verband met staatsbestuur bevat wat hulle tyd eeue vooruit was.

In lande waar die staatshoof ook die hoof van die Kerk is, is die gevolg dikwels onverdraagsaamheid, godsdiensonderdrukking en magsmisbruik. Die Wet van Moses het die beginsel van die skeiding van Kerk en Staat ingesluit. Die koning is nie toegelaat om priesterlike pligte op hom te neem nie.—2 Kronieke 26:16-18.

Die Wet van Moses het ook beginsels van higiëne en siektebeheer bevat, soos om siek mense onder kwarantyn te plaas en van menslike ontlasting ontslae te raak, wat met die hedendaagse wetenskap ooreenstem (Levitikus 13:1-59; 14:38, 46; Deuteronomium 23:13). Dit is merkwaardig aangesien baie van die Egiptiese geneeskunde in Moses se dag ’n gevaarlike mengsel van kwaksalwery en bygeloof was. In ontwikkelende lande van vandag kan miljoene mense siekte en die dood vryspring as hulle die standaarde van higiëne toepas wat deur Moses geleer is.

Christene is nie verplig om die Mosaïese Wet te onderhou nie (Kolossense 2:13, 14). Maar dit is nog steeds baie voordelig om dit te bestudeer. Hierdie Wet het Israel aangespoor om uitsluitlike toegewydheid aan God te gee en afgodediens te vermy (Eksodus 20:4; Deuteronomium 5:9). Dit het kinders beveel om hulle ouers te eer (Eksodus 20:12). Die Wet het ook moord, egbreuk, diefstal, leuens en hebsugtige begeertes veroordeel (Eksodus 20:13-17). Hedendaagse Christene heg baie waarde aan hierdie beginsels.

Beginsels van higiëne wat in die Mosaïese Wet geleer is, kan siektes help voorkom

’n Profeet soos Moses

Net Jesus was werklik ’n profeet soos Moses

Ons lewe in angswekkende tye. Die mensdom het beslis ’n leier soos Moses nodig—iemand wat nie net mag en gesag het nie, maar ook integriteit, moed, medelye en ’n hartgrondige liefde vir geregtigheid. Toe Moses gesterf het, het die Israeliete sekerlik gewonder: ‘Sal die wêreld weer iemand soos hy sien?’ Moses het self daardie vraag beantwoord.

Moses se geskrifte verduidelik hoe dit gebeur het dat mense siek word en doodgaan en waarom God toegelaat het dat goddeloosheid voortduur (Genesis 3:1-19; Job, hoofstukke 1, 2). In Genesis 3:15 is die heel eerste goddelike profesie opgeteken—’n belofte dat boosheid uiteindelik uit die weg geruim sal word! Hoe? Die profesie het getoon dat ’n mens gebore sou word deur wie redding sou kom. Hierdie belofte het die hoop laat ontstaan dat ’n Messias sou opstaan en die mensdom sou verlos. Maar wie sou die Messias wees? Moses help ons om hom sonder enige twyfel te identifiseer.

Teen die einde van sy lewe het Moses hierdie belangrike woorde gesê: “’n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek, sal Jehovah jou God vir jou verwek—na hom moet julle luister” (Deuteronomium 18:15). Die apostel Petrus het later hierdie woorde regstreeks op Jesus toegepas.—Handelinge 3:20-26.

Die meeste Joodse kommentators ontken ten sterkste dat Moses in enige opsig met Jesus ooreenkom. Hulle voer aan dat die woorde van hierdie teks van toepassing is op enige ware profeet wat ná Moses gekom het. Maar volgens Tanakh—The Holy Scriptures, deur die Joodse Uitgewersgenootskap, sê Deuteronomium 34:10: “Nooit weer het daar in Israel ’n profeet opgestaan soos Moses nie—vir wie die HERE van aangesig tot aangesig uitgekies het.”

Ja, talle getroue profete, soos Jesaja en Jeremia, het ná Moses gekom. Maar nie een het die unieke verhouding met God gehad wat Moses geniet het nie—hy het “van aangesig tot aangesig” met hom gepraat. Moses se belofte van ’n profeet ‘soos hy’ moet dus van toepassing wees op net een mens—die Messias! Dit is opmerkenswaardig dat Joodse geleerdes dieselfde beskouing gehad het voor die koms van die Christelike godsdiens—en godsdiensvervolging deur valse Christene. Bewyse hiervan kan gesien word in Joodse geskrifte, soos die Midrash Rabbah, wat Moses die voorloper van die “laaste Verlosser”, of Messias, noem.

Die feit dat Jesus in baie opsigte soos Moses was, kan nie ontken word nie. (Sien die venster “ Jesus—’n profeet soos Moses.”) Jesus het mag en gesag (Matteus 28:19). Jesus is “saggeaard en nederig van hart” (Matteus 11:29). Jesus haat wetteloosheid en ongeregtigheid (Hebreërs 1:9). Hy kan dus die leierskap voorsien wat ons so nodig het! Hy sal binnekort ’n einde aan goddeloosheid maak en die paradystoestande wat die Bybel beskryf het, op die aarde tot stand bring. b

a Sien die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b As jy meer oor die Bybel se belofte van ’n aardse paradys onder Christus se Koninkryk wil leer, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in verbinding tree. Hulle sal met graagte die Bybel kosteloos met jou bestudeer.