Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe ons Kristi geleer het om God lief te hê

Hoe ons Kristi geleer het om God lief te hê

Hoe ons Kristi geleer het om God lief te hê

ONS dogter, Kristi, is in 1977 gebore. Kort daarna het ons dokter ons die skokkende nuus meegedeel: Kristi is met ernstige gehoorverlies en ’n ligte vorm van serebrale verlamming gebore. Min het ons geweet hoe dit ons lewe sou verander.

’n Paar maande later het ek en my man, Gary, spesiale klasse in die stad Melbourne, Australië, begin bywoon, waar ons geleer het hoe ons ons dogter kon help. Ons het ook die Nasionale Akoestiese Laboratorium in Melbourne besoek. Daar het hulle vir Kristi, wat tien maande oud was, klein gehoortoestelletjies gegee. Sy het glad nie van die toestelletjies gehou nie, en omdat daar drade aan was, het sy dit net so vinnig uitgetrek as wat ons dit in haar oortjies kon terugsit! Sy moes ook ’n harnas vir die batterye dra, wat nogal swaar was.

As gevolg van die serebrale verlamming was dit vir Kristi moeilik om te leer loop. Dit het beteken dat sy elke week ’n fisioterapeut moes sien. Maar toe Kristi drie was, het sy self begin loop, hoewel sy baie geval het. Sy het fisioterapie ontvang totdat sy vyf was. Intussen het ons na die nabygeleë dorp Benalla getrek, waar Gary sy besigheid gehad het.

Kristi se opvoeding

’n Onderwyser wat vir dowes skoolgehou het, het ons aandag gevestig op die spesiale opvoedkundige behoeftes wat Kristi sou hê. Dit het beteken dat ons weer moes trek, hierdie keer na Bendigo, ’n stad wat ’n doweskool gehad het. Aangesien ek ons tweede kind verwag het, het ons gewag totdat Kristi vier jaar oud en ons nuwe seun, Scott, vyf maande oud was voor ons verhuis het. Sy het elke week by ’n hospitaal in Bendigo spraakterapie begin kry—behandeling wat sy tien jaar lank sou ontvang. Ek en Gary het ook gebaretaal begin leer.

Ons grootste bekommernis was Kristi se geestelike opvoeding. Ek en Gary is albei Getuies van Jehovah, en ons was vasbeslote om Kristi “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” groot te maak (Efesiërs 6:4). Maar hoe kon ons dit doen? Kristi se skoolhoof het gesê: “Om Kristi van God te leer, sal die moeilikste konsep wees om vir haar te leer. ’n Mens kan God nie sien nie; hoe sal julle hom dan aan haar verduidelik?” Voor wat ’n groot uitdaging het ons nou te staan gekom! Ons het spoedig geleer dat dit baie tyd, studie en geduld sou verg.

Aan die begin het ons prente en tekeninge gebruik en ons taal so eenvoudig moontlik gehou. Ons het haar saamgeneem na die Christelike vergaderinge en in die predikingswerk, al het sy nie eintlik verstaan wat aangaan nie. Namate Kristi bedrewe geraak het in gebaretaal, het ’n hele nuwe wêreld vir haar begin oopgaan! Daar was nietemin baie woorde, frases en konsepte in die Bybel wat moeilik was om te verduidelik. Een van haar geliefkoosde boeke was My boek met Bybelverhale, a wat spesifiek vir kinders geskryf is. Die kleurvolle prente—tesame met ’n paar tekeninge wat ons gemaak het—was van onskatbare waarde. Mettertyd het ’n liefde vir God in Kristi se hart begin groei.

Kristi se skoolhoof was so vriendelik om ons in aanraking te bring met ander Getuies wat dowe kinders het. Dit was ’n groot hulp toe hulle verduidelik het hoe die dowes vir die horendes kan getuig. Een manier was om vir hulle ’n kaart met ’n skriftuurlike boodskap daarop te gee. Toe Kristi dus gereed was om Bybelwaarhede aan ander mee te deel, kon sy dit maklik doen! Sy het op 14 ’n ongedoopte verkondiger van die goeie nuus geword. Sy was 17 toe sy in 1994 gedoop is.

Kristi het egter heilsame assosiasie nodig gehad, en dit was moeilik vir haar om vriendskappe met horende Getuies op te bou. Daarom het ek en Gary gebaretaalklasse begin hou vir broers en susters in ons gemeente wat daarin belanggestel het om met dowes te werk. Party wat ons klasse bygewoon het, het later werk gekry waar hulle vir die dowes getolk het. Maar nog belangriker, baie wat gebaretaal geleer het, het dit baie geniet om met Kristi te kommunikeer. Kristi kon nou in groter mate by ons Christelike vergaderinge en byeenkomste baat vind. Tot vandag toe het sy ’n aktiewe deelname daaraan. Kristi is baie dankbaar vir die liefdevolle belangstelling wat die broers en susters in haar toon.

Op ’n dag het Kristi vir ons gesê dat sy ’n gewone pionier, of voltydse evangeliedienaar, wil word. Gary het haar gehelp om ’n bestuurderslisensie te kry, en nadat ’n paar ander reëlings getref is, is Kristi in 1995 as ’n gewone pionier aangestel. In die jaar 2000 was sy ook in staat om deeltyds by ’n primêre skool te begin werk. Sy help daar met die opvoeding van dowe kinders.

Kristi, Gary, ons seun, Scott, en ek smaak vandag almal die vreugde om as gewone pioniers te dien. Ons geniet dit baie om mense van ons God, Jehovah, te leer!

‘Die versoeke van ons hart’

Kristi se doofheid is ’n voortdurende uitdaging vir ons almal. Partykeer wanneer Kristi aan die Christelike bediening deelneem, is daar niemand wat vir haar kan tolk nie, niemand met wie sy oor haar gedagtes en gevoelens kan praat nie. Sy sê: “Dit voel asof ek in ’n land woon waar almal ’n ander taal praat.” Ons almal het nietemin geleer om haar situasie goed te hanteer.

Ons vind vertroosting in die woorde van Psalm 37:4: “Verlustig jou . . . in Jehovah, en hy sal jou die versoeke van jou hart gee.” Kristi koester die innige hoop om musiek en natuurgeluide te hoor en hoorbaar met haar geliefdes te gesels. Ek sien uit na die dag wanneer Kristi my stem sal kan hoor. Ons het die vaste vertroue dat hierdie versoeke van ons hart binnekort aan ons toegestaan sal word, net soos die Bybel belowe.—Jesaja 35:5.—Bygedra.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 14]

Kristi, op 14 maande, met “My boek met Bybelverhale”

[Prent op bladsy 15]

Kristi bied die goeie nuus aan met behulp van ’n geskrewe boodskap

[Prent op bladsy 15]

Scott, Kristi, Gary en Heather Forbes vandag