Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK TWAALF

Hy het vertroosting in sy God gevind

Hy het vertroosting in sy God gevind

1, 2. Wat het op die mees gebeurtenisvolle dag van Elia se lewe gebeur?

ELIA het deur die reën gehardloop terwyl dit al hoe donkerder geword het. Hy moes nog ver gaan voordat hy Jisreël sou bereik, en hy was nie meer ’n jong man nie. Maar hy het onvermoeid aangehou hardloop, want “die hand van Jehovah” was op hom. ’n Heeltemal ongekende energie het deur sy liggaam gestroom. Hy het selfs die span perde verbygesteek wat koning Agab se koninklike strydwa trek!—Lees 1 Konings 18:46.

2 Nou het die oop pad voor hom gelê. Stel jou voor hoe Elia sy oë knip om die reëndruppels uit sy oë te hou terwyl hy hardloop en nadink oor die mees gebeurtenisvolle dag van sy lewe. Dit was sonder twyfel ’n glorieryke oorwinning vir Elia se God, Jehovah, en vir ware aanbidding. Ver agter hom, onsigbaar in die stortreën, het die winderige hoogtes van die berg Karmel gelê, waar Jehovah Elia gebruik het om Baälaanbidding ’n swaar en wonderdadige slag toe te dien. Honderde Baälprofete is as bose bedrieërs ontmasker en is tereg doodgemaak. Toe het Elia tot Jehovah gebid om die droogte te beëindig wat die land drie en ’n half jaar lank geteister het. Die reën het geval!—1 Kon. 18:18-45.

3, 4. (a) Waarom het Elia dalk hoë verwagtinge gehad terwyl hy op pad na Jisreël was? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

3 Terwyl Elia daardie 30 kilometer in die reën na Jisreël gehardloop het, het hy moontlik hoë verwagtinge gehad. Dit het dalk vir hom gelyk of daar uiteindelik ’n ware keerpunt gekom het. Agab sou moes verander! Ná wat hy gesien het, sou hy sekerlik nie anders kon as om Baälaanbidding agter te laat, sy koningin, Isebel, in toom te hou en die vervolging van Jehovah se knegte stop te sit nie.

“Elia [het] die hele pad tot by Jisreël voor Agab uit gehardloop”

4 Wanneer dit lyk of sake vir ons goed verloop, is dit net natuurlik om optimisties te begin voel. Ons dink dalk dat toestande in ons lewe sal aanhou verbeter en miskien selfs dat ons ergste probleme uiteindelik agter die rug is. As Elia so gedink het, sal dit nie verbasend wees nie, want hy “was ’n mens met gevoelens soos ons s’n” (Jak. 5:17). Maar Elia se probleme was in werklikheid nog lank nie verby nie. Trouens, net ’n paar uur later sou Elia so bang wees, so neerslagtig, dat hy sou wou sterf. Wat het gebeur, en hoe het Jehovah sy profeet gehelp om sy geloof en sy moed te herwin? Kom ons kyk.

’n Onverwagse wending

5. Het Agab ná die gebeure op die berg Karmel geleer om Jehovah meer te respekteer, en hoe weet ons?

5 Het Agab, toe hy by sy paleis in Jisreël aangekom het, enige aanduiding gegee dat hy ’n veranderde mens is? Ons lees: “Agab [het] vir Isebel alles vertel wat Elia gedoen het, ja, alles, ook hoe hy al die profete met die swaard doodgemaak het” (1 Kon. 19:1). Let op dat Agab se beskrywing van die dag se gebeure geen melding van Elia se God, Jehovah, gemaak het nie. Omdat Agab ’n vleeslike mens was, het hy die dag se wonderdadige gebeure bloot vanuit ’n menslike oogpunt gesien—as iets wat “Elia gedoen het”. Dit is duidelik dat hy nie geleer het om Jehovah God te respekteer nie. En hoe het sy wraaksugtige vrou gereageer?

6. Watter boodskap het Isebel aan Elia gestuur, en wat het dit beteken?

6 Isebel was briesend! Rasend van woede het sy hierdie boodskap aan Elia gestuur: “Mag die gode so doen, en mag hulle so daaraan toevoeg as ek hierdie tyd môre nie jou siel soos die siel van elkeen van hulle maak nie!” (1 Kon. 19:2). Dit was ’n doodsdreigement van die ergste graad. Isebel het in werklikheid gesweer dat sy self moes sterf as sy Elia nie binne een dag kon laat doodmaak om haar Baälprofete te wreek nie. Stel jou voor hoe Elia daardie stormagtige nag in ’n nederige huisie in Jisreël wakker gemaak word en dan die koningin se boodskapper hierdie verskriklike woorde hoor oordra. Watter uitwerking het dit op hom gehad?

Oorweldig deur ontmoediging en vrees

7. Watter uitwerking het Isebel se dreigement op Elia gehad, en wat het hy gedoen?

7 As Elia hoegenaamd gedink het dat die stryd teen Baälaanbidding so goed as verby was, is sy verwagtinge op daardie oomblik verpletter. Isebel het haar nie laat afskrik nie. Baie van Elia se getroue medewerkers is reeds op haar bevel tereggestel, en nou het dit gelyk of hy volgende sou wees. Watter uitwerking het Isebel se dreigement op Elia gehad? Die Bybel sê vir ons: “Hy het bang geword.” Het Elia hom voorgestel watter verskriklike dood Isebel vir hom in gedagte gehad het? As hy oor sulke gedagtes getob het, is dit geen wonder dat sy moed hom begewe het nie. Hoe dit ook al sy, Elia het “ter wille van sy siel weggegaan”—hy het vir sy lewe gevlug.—1 Kon. 18:4; 19:3.

As ons moedig wil bly, moet ons nie tob oor die gevare wat ons bang maak nie

8. (a) Hoe was Petrus se probleem soortgelyk aan dié van Elia? (b) Watter les kan ons by Elia en Petrus leer?

8 Elia is nie die enigste man van geloof wat al ooit deur vrees oorweldig is nie. Heelwat later het die apostel Petrus ’n soortgelyke probleem gehad. Toe Jesus Petrus byvoorbeeld in staat gestel het om saam met Hom op die water te loop, het die apostel ‘na die windstorm begin kyk’. Toe het sy moed hom begewe, en hy het begin sink. (Lees Matteus 14:30.) Die voorbeeld van Elia en Petrus leer ons dus ’n waardevolle les. As ons moedig wil bly, moet ons nie tob oor die gevare wat ons bang maak nie. Ons moet ons toespits op die Bron van ons hoop en krag.

“Dit is genoeg!”

9. Beskryf Elia se reis en sy gemoedstoestand terwyl hy gevlug het.

9 Aangedryf deur vrees, het Elia ongeveer 150 kilometer in ’n suidwestelike rigting na Berseba gevlug, ’n dorp naby die suidelike grens van Juda. Daar het hy sy dienaar agtergelaat en alleen die wildernis ingegaan. Die verslag sê dat hy “’n dagreis ver” gegaan het; hy het dus waarskynlik met sonsopkoms, blykbaar sonder enige kos of water, in die pad geval. Terneergedruk en steeds aangedryf deur vrees, het hy onder die bloedige son oor die ruwe en woeste terrein aangesukkel. Toe daardie gloeiende skyf geleidelik rooier geword en begin sak het, het Elia se krag ingegee. Uitgeput het hy onder ’n besemstruik gaan sit—die enigste skuiling wat daardie barre landskap gebied het.—1 Kon. 19:4.

10, 11. (a) Wat het Elia se gebed tot Jehovah beteken? (b) Gebruik die teksverwysings om die gevoelens te beskryf van ander godvrugtige persone wat neerslagtig geword het.

10 Elia het in volslae wanhoop gebid. Hy het gevra om te sterf. Hy het gesê: “Ek is nie beter as my voorvaders nie.” Hy het geweet dat sy voorvaders al teen daardie tyd net stof en beendere in die graf was, nie in staat om enigiets vir enigiemand te doen nie (Pred. 9:10). Elia het net so waardeloos gevoel. Geen wonder dat hy uitgeroep het nie: “Dit is genoeg!” Waarom sou hy nog aanhou lewe?

11 Moet dit ons skok dat ’n man van God so neerslagtig kon word? Nie eintlik nie. ’n Aantal getroue manne en vroue in die Bybel het so bedroef gevoel dat hulle wou sterf—onder hulle was Rebekka, Jakob, Moses en Job.—Gen. 25:22; 37:35; Num. 11:13-15; Job 14:13.

12. In watter opsig moet jy Elia se voorbeeld volg as jy ooit baie terneergedruk voel?

12 Vandag lewe ons in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, en daarom is dit nie verbasend dat baie mense, selfs getroue knegte van God, soms terneergedruk voel nie (2 Tim. 3:1). As jy jou ooit in so ’n desperate situasie bevind, moet jy Elia se voorbeeld in hierdie opsig volg: Stort jou hart voor God uit. Jehovah is immers “die God van alle vertroosting”. (Lees 2 Korintiërs 1:3, 4.) Het hy Elia vertroos?

Jehovah het sy profeet onderskraag

13, 14. (a) Hoe het Jehovah deur middel van ’n engel liefdevolle besorgdheid oor Sy verontruste profeet getoon? (b) Waarom is dit vertroostend dat Jehovah alles omtrent elkeen van ons weet, insluitende ons beperkings?

13 Hoe dink jy het Jehovah gevoel toe hy vanuit die hemel afgekyk en sy geliefde profeet onder daardie boom in die wildernis sien lê het en hom hoor smeek het om te sterf? Ons hoef nie te raai nie. Nadat Elia aan die slaap geraak het, het Jehovah ’n engel na hom toe gestuur. Die engel het Elia wakker gemaak deur liggies aan hom te raak en gesê: “Staan op, eet.” Elia het dit gedoen, want die engel het goedgunstig vir hom ’n eenvoudige ete voorgesit—vars, warm brood sowel as water. Het hy die engel darem bedank? Die verslag sê net dat die profeet geëet en gedrink en toe weer aan die slaap geraak het. Was hy te mismoedig om te praat? Hoe dit ook al sy, die engel het hom ’n tweede keer wakker gemaak, miskien met dagbreek. Weer eens het hy Elia aangespoor: “Staan op, eet”, en hy het hierdie merkwaardige woorde bygevoeg: “Want die reis is vir jou te veel.”—1 Kon. 19:5-7.

14 Danksy godgegewe insig het die engel geweet waarheen Elia op pad is. Hy het ook geweet dat die reis vir Elia te veel sou wees om in sy eie krag af te lê. Hoe vertroostend is dit tog om ’n God te dien wat ons doelwitte en beperkings beter ken as wat ons dit self ken! (Lees Psalm 103:13, 14.) Hoe het Elia by hierdie ete baat gevind?

15, 16. (a) Wat het die voedsel wat Jehovah voorsien het, Elia in staat gestel om te doen? (b) Waarom moet ons die manier waardeer waarop Jehovah vandag sy knegte onderskraag?

15 Ons lees: “Hy [het] opgestaan en geëet en gedrink, en hy het veertig dae en veertig nagte deur die krag van daardie voedsel voortgegaan tot by die berg van die ware God, Horeb” (1 Kon. 19:8). Soos Moses ongeveer ses eeue voor hom en Jesus byna tien eeue ná hom, het Elia 40 dae en 40 nagte gevas (Eks. 34:28; Luk. 4:1, 2). Daardie enkele ete het nie al sy probleme laat verdwyn nie, maar dit het hom op wonderdadige wyse krag gegee. Stel jou voor hoe daardie bejaarde man byna ’n maand en ’n half lank, dag ná dag, week ná week, deur die woeste wildernis aansukkel!

16 Jehovah onderskraag ook vandag sy knegte, nie met wonderdadige fisiese voedsel nie, maar op ’n baie belangriker manier. Hy sorg geestelik vir sy knegte (Matt. 4:4). As ons van God leer uit sy Woord en uit publikasies wat stewig gegrond is op die Bybel, word ons geestelik versterk. Wanneer ons sulke geestelike voedsel inneem, laat dit miskien nie al ons probleme verdwyn nie, maar dit kan ons help om te verduur wat ons andersins dalk nie sou kon verduur het nie. Dit lei ook tot “die ewige lewe”.—Joh. 17:3.

17. Waarheen het Elia gegaan, en waarom was dit ’n plek van belang?

17 Elia het byna 320 kilometer ver geloop totdat hy uiteindelik by die berg Horeb gekom het. Dit was ’n plek van groot belang, want daar het Jehovah God lank tevore deur middel van ’n engel in die brandende doringbos aan Moses verskyn, en daar het Jehovah ook later die Wetsverbond met Israel gesluit. Elia het skuiling in ’n grot gevind.

Hoe Jehovah sy profeet vertroos en versterk het

18, 19. (a) Watter vraag het Jehovah se geesboodskapper gestel, en hoe het Elia gereageer? (b) Watter drie redes vir sy neerslagtigheid het Elia geopenbaar?

18 By Horeb het Jehovah se “woord”—blykbaar oorgedra deur ’n geesboodskapper—hierdie eenvoudige vraag gestel: “Wat maak jy hier, Elia?” Die vraag is waarskynlik op ’n vriendelike manier gestel, want Elia het dit beskou as ’n uitnodiging om sy hart uit te stort. En dit is wat hy gedoen het! Hy het gesê: “Ek was absoluut jaloers ten opsigte van Jehovah, die God van die leërs; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, hulle het u altare afgebreek, en hulle het u profete met die swaard doodgemaak, sodat ek alleen oorgebly het; en nou soek hulle my siel om dit weg te neem” (1 Kon. 19:9, 10). Elia se woorde openbaar ten minste drie redes vir sy neerslagtigheid.

19 Eerstens, Elia het gevoel dat sy werk tevergeefs was. Ten spyte daarvan dat hy jare lank “absoluut jaloers” was in sy diens aan Jehovah en God se heilige naam en aanbidding bo alle ander dinge gestel het, het Elia gesien dat toestande blykbaar net slegter geword het. Die volk was nog steeds ontrou en opstandig, terwyl valse aanbidding hoogty gevier het. Tweedens, Elia het alleen gevoel. “Ek alleen [het] oorgebly”, het hy gesê, asof hy die laaste persoon in daardie nasie was wat Jehovah nog gedien het. Derdens, Elia was bang. Baie van sy medeprofete is reeds doodgemaak, en hy was seker dat hy volgende sou wees. Dit was dalk nie vir Elia maklik om te erken dat hy so voel nie, maar hy het nie toegelaat dat trots of verleentheid hom terughou nie. Deur sy hart in gebed voor sy God uit te stort, het hy ’n goeie voorbeeld vir alle getroue mense gestel.—Ps. 62:8.

20, 21. (a) Beskryf wat Elia vanuit die ingang van die grot op die berg Horeb gesien het. (b) Wat het Jehovah se vertonings van krag Elia geleer?

20 Hoe het Jehovah op Elia se vrese en kwellinge gereageer? Die engel het vir Elia gesê om by die ingang van die grot te gaan staan. Hy het dit gedoen, al het hy nie geweet wat gaan gebeur nie. ’n Sterk wind het opgekom! Dit moes ’n oorverdowende geraas gemaak het, want dit was so kragtig dat dit berge en rotse uitmekaargeskeur het. Stel jou voor hoe Elia sy oë probeer beskerm en terselfdertyd sy swaar, growwe kleed van hare vashou terwyl die wind daaraan ruk en pluk. Toe moes hy sukkel om op sy voete te bly, want die grond het begin dein en skud—’n aardbewing het die streek getref! Hy het beswaarlik tot verhaal gekom toe ’n groot vuur verbykom, wat hom in die grot teruggedwing het om weg te kom van die versengende hitte.—1 Kon. 19:11, 12.

Jehovah het sy ontsagwekkende krag gebruik om Elia te vertroos en aan te moedig

21 In al drie gevalle herinner die verslag ons daaraan dat Jehovah nie in hierdie skouspelagtige vertonings van natuurkrag te vinde was nie. Elia het geweet dat Jehovah nie die een of ander mitiese natuurgod is nie, soos Baäl, wat deur sy misleide aanbidders die “ruiter van die wolke”, oftewel bringer van reën, genoem is. Jehovah is die ware Bron van al die ontsagwekkende krag wat in die natuur gevind word, maar hy is ook oneindig groter as enigiets wat hy gemaak het. Selfs die fisiese hemele kan hom nie bevat nie! (1 Kon. 8:27). Hoe het dit alles Elia gehelp? Dink aan hoe bang hy was. Met ’n God soos Jehovah aan sy kant, ’n God wat al daardie oorweldigende krag tot Sy beskikking het, het Elia geen rede gehad om Agab en Isebel te vrees nie!—Lees Psalm 118:6.

22. (a) Hoe het die “kalm, sagte stem” Elia verseker dat hy allesbehalwe waardeloos is? (b) Wie was moontlik die bron van die “kalm, sagte stem”? (Sien die voetnoot.)

22 Ná die vuur het ’n stilte neergedaal en het Elia “’n kalm, sagte stem” gehoor. Dit het Elia genooi om weer sy gedagtes uit te spreek, en hy het dit gedoen; hy het ’n tweede keer aan sy kwellinge uiting gegee. * Miskien het dit hom verdere verligting gebring. Maar Elia het ongetwyfeld selfs meer vertroosting geput uit wat die “kalm, sagte stem” toe vir hom gesê het. Jehovah het Elia verseker dat hy allesbehalwe waardeloos is. Hoe so? God het baie oor sy langtermynvoorneme in verband met die stryd teen Baälaanbidding in Israel geopenbaar. Dit was duidelik dat Elia se werk nie tevergeefs was nie, want God se voorneme het onstuitbaar vooruitbeweeg. Verder het Elia nog steeds ’n rol in daardie voorneme gespeel, want Jehovah het hom met spesifieke instruksies teruggestuur om sy werk voort te sit.—1 Kon. 19:12-17.

23. Watter twee dinge het Jehovah omtrent Elia se gevoelens van eensaamheid gedoen?

23 Wat van Elia se gevoelens van eensaamheid? Jehovah het twee dinge hieromtrent gedoen. Eerstens, hy het vir Elia gesê om Elisa te salf as die profeet wat hom uiteindelik sou opvolg. Hierdie jonger man sou etlike jare lank Elia se metgesel en helper wees. Hoe prakties was hierdie vertroosting tog! Tweedens, Jehovah het hierdie opwindende nuus geopenbaar: “Ek het seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie, en elke mond wat hom nie gesoen het nie” (1 Kon. 19:18). Elia was glad nie alleen nie. Dit moes sy hart verbly het om te hoor van daardie duisende getroue mense wat geweier het om Baäl te aanbid. Om hulle te help, moes Elia volhou met sy getroue diens om in daardie donker tye ’n voorbeeld van onwrikbare lojaliteit aan Jehovah te stel. Dit moes Elia diep geraak het om daardie woorde deur middel van Jehovah se boodskapper, die “kalm, sagte stem” van sy God, te hoor.

Die Bybel kan soos daardie “kalm, sagte stem” wees as ons toelaat dat dit ons vandag lei

24, 25. (a) In watter sin kan ons vandag na Jehovah se “kalm, sagte stem” luister? (b) Waarom kan ons seker wees dat Elia die vertroosting aanvaar het wat Jehovah hom gegee het?

24 Net soos Elia, word ons dalk met ontsag vervul deur die indrukwekkende natuurkragte wat in die skepping gesien kan word, en heel tereg. Die skepping weerspieël die Skepper se krag op treffende wyse (Rom. 1:20). Jehovah gebruik nog steeds graag sy onbeperkte mag om sy getroue knegte te help (2 Kron. 16:9). Maar God praat die duidelikste met ons deur sy Woord, die Bybel. (Lees Jesaja 30:21.) In sekere sin kan die Bybel soos daardie “kalm, sagte stem” wees as ons toelaat dat dit ons vandag lei. In die kosbare bladsye daarvan wys Jehovah ons tereg, moedig hy ons aan en verseker hy ons van sy liefde.

25 Het Elia die vertroosting aanvaar wat Jehovah hom op die berg Horeb gegee het? Sonder twyfel! Hy was gou weer aan die gang as die moedige, getroue profeet wat teen die boosheid van valse aanbidding gestry het. As ons ook die geïnspireerde woorde van God, “die vertroosting van die Skrif”, ter harte neem, sal ons Elia se geloof kan navolg.—Rom. 15:4.

^ par. 22 Die bron van hierdie “kalm, sagte stem” was moontlik dieselfde gees wat gebruik is om “Jehovah se woord” oor te dra wat in 1 Konings 19:9 genoem word. In vers 15 word daar eenvoudig na hierdie gees verwys as “Jehovah”. Dit laat ons miskien dink aan die geespersoon wat Jehovah gebruik het om Israel in die wildernis te lei en van wie God gesê het: “My naam is in hom” (Eks. 23:21). Ons kan natuurlik nie dogmaties wees hieroor nie, maar dit is opmerkenswaardig dat Jesus in sy voormenslike bestaan gedien het as “die Woord”, die spesiale Woordvoerder aan Jehovah se knegte.—Joh. 1:1.