Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK ELF

Hy was waaksaam, en hy het gewag

Hy was waaksaam, en hy het gewag

1, 2. Watter onaangename taak het op Elia gewag, en in watter opsigte het hy en Agab verskil?

ELIA wou baie graag alleen wees met sy hemelse Vader. Maar die skare om hom het so pas gesien dat hierdie ware profeet vuur uit die hemel neergeroep het, en baie van die mense was ongetwyfeld gretig om sy guns te wen. Voordat Elia na die top van die berg Karmel kon opklim en Jehovah God in ’n persoonlike gebed kon nader, het ’n onaangename taak op hom gewag. Hy moes met koning Agab praat.

2 Die twee mans het soos dag en nag verskil. Agab, getooi in koninklike klere, was ’n gierige, ruggraatlose afvallige. Elia het die ampskleed van ’n profeet gedra—’n eenvoudige, growwe kleed, moontlik van diervel of van geweefde kameel- of bokhaar. Hy was ’n man van groot moed, onkreukbaarheid en geloof. Die dag wat nou byna verby was, het baie geopenbaar oor die karakter van albei mans.

3, 4. (a) Waarom was dit ’n slegte dag vir Agab en ander Baälaanbidders? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

3 Dit was ’n slegte dag vir Agab en ander Baälaanbidders. Die heidense godsdiens wat Agab en sy vrou, koningin Isebel, in die tienstammeryk van Israel bevorder het, is ’n swaar slag toegedien. Baäl is as vals blootgelê. Hierdie lewelose god kon nie ’n eenvoudige vuur aansteek in antwoord op die desperate pleidooie, danse en rituele bloedlating van sy profete nie. Baäl kon nie daardie 450 manne teen hulle welverdiende teregstelling beskerm nie. Maar die valse god het in nog iets misluk, en hierdie mislukking sou kort voor lank volkome wees. Die Baälprofete het hulle god meer as drie jaar lank gesmeek om ’n einde te maak aan die droogte wat die land geteister het, maar Baäl kon dit nie doen nie. Jehovah sou kort voor lank sy oppermag toon deur die droogte te beëindig.—1 Kon. 16:30–17:1; 18:1-40.

4 Maar wanneer sou Jehovah optree? Wat sou Elia intussen  doen? En wat kan ons by hierdie man van geloof leer? Kom ons kyk terwyl ons die verslag ondersoek.—Lees 1 Konings 18:41-46.

’n Biddende gesindheid

5. Wat het Elia Agab aangesê om te doen, en lyk dit of Agab enigiets uit die dag se gebeure geleer het?

5 Elia het na Agab toe gegaan en gesê: “Gaan op, eet en drink; want daar is die geluid van die gedruis van ’n stortreën.” Het hierdie goddelose koning enigiets uit die dag se gebeure geleer? Die verslag sê nie spesifiek nie, maar ons vind hier geen woorde van berou nie, geen versoek dat die profeet hom moet help om Jehovah te nader en vergifnis te vra nie. Nee, Agab het eenvoudig “opgegaan om te eet en te drink” (1 Kon. 18:41, 42). Wat van Elia?

6, 7. Waarvoor het Elia gebid, en waarom?

6 “Wat Elia betref, hy het na die top van die Karmel opgeklim en op die aarde begin hurk en sy gesig tussen sy knieë gehou.” Terwyl Agab sy maag gaan vul het, het Elia ’n geleentheid gehad om tot sy hemelse Vader te bid. Let op die nederige liggaamshouding wat hier beskryf word—Elia het op die grond gekniel met sy kop so laag gebuig dat sy gesig naby sy knieë was.  Wat het Elia gedoen? Ons hoef nie te raai nie. Die Bybel sê vir ons in Jakobus 5:18 dat Elia gebid het dat die droogte moet eindig. Dit is waarskynlik waaroor hy op die top van Karmel gebid het.

Elia se gebede het bewys gelewer van sy opregte begeerte om te sien dat God se wil geskied

7 Jehovah het vroeër gesê: “Ek [is] vasbeslote . . . om reën op die oppervlak van die aarde te gee” (1 Kon. 18:1). Elia het dus gebid dat Jehovah se verklaarde wil volbring word, iets waarvoor Jesus ook sy volgelinge sowat eenduisend jaar later leer bid het.—Matt. 6:9, 10.

8. Wat leer Elia se voorbeeld ons omtrent gebed?

8 Elia se voorbeeld leer ons baie omtrent gebed. Die belangrikste saak in Elia se gedagtes was dat God se wil volbring word. Wanneer ons bid, is dit goed om te onthou dat God “ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Joh. 5:14). Dit is dus duidelik dat ons moet weet wat God se wil is as ons op aanneemlike wyse wil bid—’n goeie rede om Bybelstudie deel van ons daaglikse lewe te maak. Elia wou ongetwyfeld ook sien dat die droogte tot ’n einde kom weens al die lyding onder die volk van sy vaderland. Sy hart was waarskynlik vol dankbaarheid ná die wonderwerk wat hy Jehovah daardie dag sien verrig het. Ons wil ook hê dat ons gebede opregte dankbaarheid en besorgdheid oor die welsyn van ander moet weerspieël.—Lees 2 Korintiërs 1:11; Filippense 4:6.

Vol vertroue en waaksaam

9. Wat het Elia vir sy dienaar gesê om te doen, en watter twee eienskappe sal ons bespreek?

9 Elia was seker dat Jehovah ’n einde aan die droogte sou maak, maar hy was nie seker wanneer Jehovah dit sou doen nie. Wat het die profeet dus intussen gedoen? Let op wat die verslag sê: “Hy [het] vir sy dienaar gesê: ‘Klim asseblief op. Kyk in die rigting van die see.’ En hy het opgeklim en gekyk en toe gesê: ‘Daar is hoegenaamd niks.’ En hy het gesê: ‘Gaan terug’, sewe keer” (1 Kon. 18:43). Ons leer ten minste twee lesse uit Elia se voorbeeld. Eerstens dat die profeet vol vertroue was. Tweedens dat hy waaksaam was.

Elia het gretig gesoek na bewyse dat Jehovah weldra sou optree

10, 11. (a) Hoe het Elia getoon dat hy vertroue in Jehovah se belofte stel? (b) Waarom kan ons soortgelyke vertroue hê?

10 Omdat Elia vertroue gestel het in Jehovah se belofte, het hy gretig gesoek na bewyse dat Jehovah weldra sou optree. Hy  het sy dienaar na ’n hoë uitkykpunt gestuur om te kyk of daar enige tekens van naderende reën op die horison is. Toe die dienaar terugkom, het hy hierdie teleurstellende berig gebring: “Daar is hoegenaamd niks.” Die horison was skoon, en die lug was klaarblyklik wolkloos. Het jy egter iets ongewoons opgemerk? Onthou, Elia het kort tevore vir koning Agab gesê: “Daar is die geluid van die gedruis van ’n stortreën.” Hoe kon die profeet so iets sê terwyl daar geen teken van reënwolke was nie?

11 Elia het geweet van Jehovah se belofte. As Jehovah se profeet en verteenwoordiger was hy seker dat sy God Sy woord sou vervul. Elia was vol vertroue—in so ’n mate dat hy as ’t ware reeds die stortreën kon hoor. Dit laat ons dalk dink aan die Bybel se beskrywing van Moses: “Hy het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien.” Is God so werklik vir jou? Hy voorsien ons van oorgenoeg rede om sulke geloof in hom en sy beloftes te stel.—Heb. 11:1, 27.

12. Hoe het Elia getoon dat hy waaksaam is, en hoe het hy gereageer op die nuus dat daar een klein wolkie is?

12 Let nou op hoe waaksaam Elia was. Hy het sy dienaar teruggestuur, nie een of twee keer nie, maar sewe keer! Ons kan ons voorstel dat die dienaar moeg geword het om dieselfde ding oor en oor te doen, maar Elia het gretig op ’n teken bly wag en het nie opgegee nie. Uiteindelik, ná die sewende keer, het die dienaar berig: “Kyk! ’n Klein wolkie soos ’n man se palm kom uit die see uit op.” Kan jy in jou verbeelding sien hoe daardie dienaar sy arm uitgestrek en met sy palm die grootte probeer aandui het van een klein wolkie wat oor die horison van die Groot See opkom? Die dienaar was miskien nie beïndruk nie. Maar vir Elia was hierdie wolkie betekenisvol. Hy het nou vir sy dienaar dringende instruksies gegee: “Gaan op, sê vir Agab: ‘Span in! En gaan af sodat die stortreën u nie ophou nie!’”—1 Kon. 18:44.

13, 14. (a) Hoe kan ons Elia se waaksaamheid navolg? (b) Watter redes het ons om met dringendheid op te tree?

13 Elia het weer eens vir ons ’n kragtige voorbeeld gestel. Ons lewe ook in ’n tyd wanneer God binnekort gaan optree om sy verklaarde voorneme te vervul. Elia het gewag op die einde van ’n droogte; God se hedendaagse knegte wag op die einde van ’n verdorwe wêreldstelsel van dinge (1 Joh. 2:17). Totdat Jehovah God optree, moet ons, soos Elia, aanhou waak. God se eie Seun, Jesus, het sy volgelinge gemaan: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie” (Matt. 24:42). Het Jesus bedoel dat sy volgelinge heeltemal in die duister sou wees oor  wanneer die einde sou kom? Nee, want hy het breedvoerig vertel hoe die wêreld in die dae net voor die einde sou wees. Ons kan almal die vervulling van hierdie uitvoerige teken van “die voleinding van die stelsel van dinge” sien.—Lees Matteus 24:3-7.

Een klein wolkie was genoeg om Elia te oortuig dat Jehovah weldra sou optree. Die teken van die laaste dae bied dwingende redes om met dringendheid op te tree

14 Elke faset van hierdie teken vorm ’n kragtige, oortuigende bewys. Is hierdie bewyse genoeg om ons te beweeg om met dringendheid in ons diens aan Jehovah op te tree? Een klein wolkie wat oor die horison opgekom het, was genoeg om Elia te oortuig dat Jehovah weldra sou optree. Is die getroue profeet teleurgestel?

Jehovah bring verligting en seëninge

15, 16. Watter gebeure het vinnig ontvou, en wat het Elia miskien oor Agab gewonder?

15 Die verslag sê vir ons: “Intussen het die hemel donker geword van wolke en wind, en ’n groot stortreën het begin val. En Agab het voortgery en na Jisreël gegaan” (1 Kon. 18:45). Gebeure het vinnig begin ontvou. Terwyl Elia se dienaar die profeet se boodskap aan Agab gaan oordra het, het daardie klein wolkie vermenigvuldig sodat die lug bewolk en donker geword het. ’n Sterk wind het gewaai. Uiteindelik, ná drie en ’n half jaar, het reën op die grond van Israel geval. Die dorre aarde het die druppels opgesuig. Toe die reën ’n stortreën geword het, het die Kisonrivier geswel en ongetwyfeld die bloed van die tereggestelde Baälprofete weggespoel. Die eiesinnige Israeliete is ook die kans gegun om die verskriklike skandvlek wat Baälaanbidding op die land gelaat het, weg te spoel.

“’n Groot stortreën het begin val”

16 Elia het sekerlik gehoop dat dit die geval sou wees! Miskien het hy gewonder hoe Agab sou reageer op die dramatiese gebeure wat besig was om te ontvou. Sou Agab berou toon en sy rug draai op die besoedelende Baälaanbidding? Die gebeure van die dag het kragtige redes gebied om hierdie veranderinge aan te bring. Ons weet natuurlik nie wat op daardie tydstip deur Agab se gedagtes gegaan het nie. Die verslag sê eenvoudig vir ons dat die koning “voortgery en na Jisreël gegaan” het. Het hy enigiets geleer? Het hy besluit om sy weë te verander? Latere gebeure gee te kenne dat die antwoord nee is. Die dag was egter nog nie verby vir Agab nie—en ook nie vir Elia nie.

17, 18. (a) Wat het met Elia op die pad na Jisreël gebeur? (b) Wat was merkwaardig omtrent die feit dat Elia van Karmel na Jisreël gehardloop het? (Sien ook die voetnoot.)

 17 Jehovah se profeet het vertrek op dieselfde pad wat Agab geneem het. ’n Lang, donker, nat tog het vir hom voorgelê. Maar toe het iets buitengewoons gebeur.

18 “Die hand van Jehovah was op Elia, sodat hy sy heupe omgord het en die hele pad tot by Jisreël voor Agab uit gehardloop het” (1 Kon. 18:46). Dit is duidelik dat “die hand van Jehovah” op bonatuurlike wyse op Elia werksaam was. Jisreël was 30 kilometer ver, en Elia was nie meer ’n jong man nie. * Stel jou net voor hoe hierdie profeet sy lang kledingstukke optrek en by sy heupe vasbind sodat sy bene vryelik kan beweeg en dan met die reëndeurdrenkte pad langs hardloop—so vinnig dat hy die koninklike strydwa inhaal en verbysteek!

19. (a) Aan watter profesieë laat Elia se godgegewe energie en stamina ons moontlik dink? (b) Wat het Elia sekerlik geweet terwyl hy na Jisreël gehardloop het?

19 Wat ’n seën moes dít tog vir Elia gewees het! Om soveel krag, energie en stamina te hê—dalk selfs meer as wat hy ooit in sy jeug gehad het—moes ’n opwindende ondervinding gewees het. Dit laat ons moontlik dink aan die profesieë wat getroues verseker dat hulle volmaakte gesondheid en lewenskrag in die komende aardse Paradys sal hê. (Lees Jesaja 35:6; Luk. 23:43.) Terwyl Elia op daardie nat pad gehardloop het, het hy sekerlik geweet dat hy die goedkeuring geniet van sy Vader, die enigste ware God, Jehovah!

20. Hoe kan ons Jehovah se seëninge ontvang?

20 Jehovah wil ons graag seën. Laat ons ons inspan om sy seëninge te ontvang; dit is beslis die moeite werd. Soos Elia, moet ons waaksaam wees en ag slaan op die kragtige bewyse dat Jehovah binnekort in hierdie gevaarlike en dringende tye gaan optree. Soos Elia, het ons alle rede om volle vertroue te stel in die beloftes van Jehovah, “die God van waarheid”.—Ps. 31:5.

^ par. 18 Kort hierna het Jehovah Elia aangesê om Elisa op te lei, wat later bekend sou staan as die een “wat water op die hande van Elia uitgegooi het” (2 Kon. 3:11). Elisa het as Elia se dienaar opgetree, blykbaar om praktiese hulp aan die ouer man te verleen.