Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK TWEE-EN-TWINTIG

Hy was lojaal ondanks beproewinge

Hy was lojaal ondanks beproewinge

1, 2. Wat het Petrus waarskynlik gehoop terwyl Jesus in Kapernaum gepraat het, maar wat het gebeur?

PETRUS het angstig gekyk na die gesigte van Jesus se gehoor. Hulle was in die sinagoge in Kapernaum. Petrus se huis was in hierdie stad; sy vissersonderneming was hier, aan die noordelike oewer van die See van Galilea; baie van sy vriende, familielede en sakekennisse het hier gewoon. Petrus het ongetwyfeld gehoop dat sy stadsgenote Jesus sou sien soos hy hom sien en dat hulle sou deel in die opwinding om by die allergrootste onderrigter omtrent God se Koninkryk te leer. Maar dit het nie gelyk of dit daardie dag sou gebeur nie.

2 Baie het opgehou luister. Party het hardop gemurmureer en teen die kern van Jesus se boodskap beswaar gemaak. Maar wat Petrus die meeste gekwel het, was die reaksie van party van Jesus se eie dissipels. Op hulle gesigte was daar nie meer die blye uitdrukking van geestelike verligting, die opwinding om iets te ontdek, die vreugde om die waarheid te leer nie. Hulle het nou ontsteld, selfs bitter, gelyk. Party het reguit gesê dat Jesus se spraak skokkend is. Hulle het geweier om verder te luister en het die sinagoge verlaat—en ook opgehou om Jesus te volg.—Lees Johannes 6:60, 66.

3. Wat het Petrus se geloof hom etlike kere gehelp om te doen?

3 Dit was ’n moeilike tyd vir Petrus en sy medeapostels. Petrus het nie ten volle begryp wat Jesus daardie dag gesê het nie. Hy het ongetwyfeld verstaan waarom Jesus se woorde aanstootlik kon wees as dit letterlik opgeneem word. Wat sou Petrus doen? Dit was nie die eerste keer dat sy lojaliteit aan sy Heer op die proef gestel word nie; dit sou ook nie die laaste keer wees nie. Kom ons kyk hoe Petrus se geloof hom gehelp het om hierdie uitdagings die hoof te bied en lojaal te bly.

Lojaal toe ander dislojaal geword het

4, 5. Hoe het Jesus die teenoorgestelde gedoen en gesê van wat mense van hom verwag het?

4 Petrus was dikwels verbaas oor Jesus se woorde en dade. Keer  op keer het sy Heer die teenoorgestelde gedoen en gesê van wat mense van Hom verwag het. Net die vorige dag het Jesus ’n skare van duisende op wonderdadige wyse gevoed. In reaksie hierop het hulle hom probeer koning maak. Maar hy het talle verbaas deur van hulle af weg te gaan en sy dissipels aan te sê om in ’n boot te klim en na Kapernaum te vaar. Terwyl die dissipels gedurende die nag oor die water gevaar het, het Jesus hulle weer eens verbaas deur op die stormagtige See van Galilea te loop, waartydens hy Petrus ’n belangrike les in geloof geleer het.

5 Die volgende oggend het hulle gou agtergekom dat die skare hulle na die ander kant van die meer gevolg het. Maar die mense is blykbaar beweeg deur ’n begeerte om te sien hoe Jesus weer op wonderdadige wyse voedsel voorsien, nie deur ’n honger na geestelike waarhede nie. Jesus het hulle bestraf oor hulle materialistiese gees (Joh. 6:25-27). Hierdie bespreking is voortgesit in die sinagoge in Kapernaum, waar Jesus weer teen die verwagtinge ingegaan het in ’n poging om die mense ’n lewensbelangrike maar moeilike waarheid te leer.

6. Watter illustrasie het Jesus vertel, en hoe het sy toehoorders gereageer?

6 Jesus wou hê dat hierdie mense hom nie as ’n bron van blote fisiese voedsel moet beskou nie, maar as ’n geestelike voorsiening van God, as die een wie se lewe en dood as ’n mens ewige lewe vir ander moontlik sou maak. Hy het dus ’n illustrasie vertel waarin hy homself vergelyk het met manna, die brood wat in Moses se dag uit die hemel gekom het. Toe party hierteen beswaar gemaak het, het hy ’n treffende illustrasie gebruik en verduidelik dat dit nodig is om sy vlees te eet en sy bloed te drink om die lewe te verkry. Dit was toe dat die besware sterk toegeneem het. Party het gesê: “Hierdie woord is skokkend; wie kan daarna luister?” Selfs baie van Jesus se dissipels het besluit om hom nie meer te volg nie. *Joh. 6:48-60, 66.

7, 8. (a) Wat het Petrus nog nie omtrent Jesus se rol begryp nie? (b) Hoe het Petrus Jesus se vraag aan die apostels beantwoord?

7 Wat sou Petrus doen? Hy was sekerlik ook dronkgeslaan deur Jesus se woorde. Hy het nog nie begryp dat Jesus moet sterf om God se wil te volbring nie. Het Petrus in die versoeking gekom om dieselfde te doen as die wispelturige dissipels wat Jesus daardie dag verlaat het? Nee; iets belangriks het Petrus van hierdie manne onderskei. Wat was dit?

8 Jesus het na sy apostels gedraai en gesê: “Julle wil nie miskien  ook gaan nie?” (Joh. 6:67). Hy het die 12 aangespreek, maar Petrus het geantwoord. Dit was dikwels die geval. Petrus was dalk die oudste. Hoe dit ook al sy, hy was beslis die mees uitgesproke van die groep; dit lyk asof Petrus selde geaarsel het om te sê wat hy op die hart het. In hierdie geval was dit hierdie pragtige en onvergeetlike woorde: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe.”—Joh. 6:68.

9. Hoe het Petrus lojaliteit aan Jesus betoon?

9 Raak hierdie woorde nie jou hart nie? Petrus se geloof in Jesus het hom gehelp om ’n kosbare eienskap aan te kweek—lojaliteit. Petrus het duidelik besef dat Jesus die enigste Redder is wat Jehovah voorsien het en dat Jesus redding bied deur middel van sy woorde—sy leringe oor die Koninkryk van God. Al was daar dinge wat Petrus nie verstaan het nie, het hy geweet dat hy nêrens anders kon gaan om God se guns en die seën van die ewige lewe te kry nie.

Ons moet lojaal wees aan Jesus se leringe, selfs wanneer dit bots met ons verwagtinge of persoonlike voorkeure

10. Hoe kan ons vandag Petrus se lojaliteit navolg?

10 Voel jy ook so? Ongelukkig beweer baie in vandag se wêreld dat hulle Jesus liefhet, maar hulle slaag nie die toets van lojaliteit nie. Ware lojaliteit aan Christus vereis dat ons dieselfde beskouing van Jesus se leringe as Petrus moet hê. Ons moet dit leer, die betekenis daarvan begryp en daarvolgens lewe—selfs wanneer dit ons verbaas omdat dit bots met ons verwagtinge of persoonlike voorkeure. Slegs deur lojaal te bly, kan ons hoop om die ewige lewe te verkry wat Jesus wil hê ons moet geniet.—Lees Psalm 97:10.

Lojaal toe hy tereggewys is

11. Op watter reis het Jesus sy volgelinge gelei? (Sien ook die voetnoot.)

11 Kort ná hierdie besige tyd het Jesus sy apostels en ’n paar dissipels op ’n lang reis noordwaarts gelei. Die sneeubedekte piek van die berg Hermon, aan die noordelikste grens van die Beloofde Land, was soms selfs van die blou waters van die See van Galilea af sigbaar. Hierdie berg het geleidelik al hoe hoër voor die groep verrys namate hulle die dorpies naby Sesarea-Filippi oor die stygende terrein genader het. * In hierdie pragtige omgewing, met ’n uitsig oor ’n groot deel van die Beloofde Land na die suide, het Jesus sy volgelinge ’n belangrike vraag gevra.

12, 13. (a) Waarom het Jesus ’n vraag oor die skare en hulle beskouing van hom gevra? (b) Hoe het Petrus deur sy woorde aan Jesus ware geloof getoon?

12 “Wie sê die skare is ek?” wou hy weet. Ons kan ons net voorstel  hoe Petrus in Jesus se oplettende oë gekyk en weer eens bewus geraak het van sy Heer se goedhartigheid en sy kragtige, skerp intelligensie. Jesus het belanggestel in die gevolgtrekkings wat sy gehore gemaak het uit wat hulle gesien en gehoor het. Jesus se dissipels het die vraag beantwoord deur ’n paar van die algemene misvattings in verband met Jesus se identiteit te herhaal. Maar Jesus wou meer weet. Het sy intiemste volgelinge dieselfde foute gemaak? “Maar julle, wie sê julle is ek?” het hy gevra.—Luk. 9:18-20.

13 Weer eens het Petrus vinnig geantwoord. Hy het die gevolgtrekking wat baie van die aanwesiges in hulle hart gemaak het, in duidelike, moedige woorde gestel. “U is die Christus, die Seun van die lewende God”, het hy gesê. Ons kan ons voorstel hoe Jesus met goedkeuring vir Petrus geglimlag het terwyl Hy hom hartlik geprys het. Jesus het Petrus daaraan herinner dat Jehovah God—nie ’n mens nie—hierdie lewensbelangrike waarheid so duidelik gemaak het vir diegene met ware geloof. Petrus is in staat gestel om een van die grootste waarhede te onderskei wat Jehovah nog geopenbaar het—die identiteit van die langbeloofde Messias, of Christus!—Lees Matteus 16:16, 17.

14. Watter belangrike voorregte het Jesus aan Petrus geskenk?

14 Hierdie Christus is die een wat in ’n ou profesie ’n steen genoem is wat die bouers sou verwerp (Ps. 118:22; Luk. 20:17). Met sulke profesieë in gedagte het Jesus geopenbaar dat Jehovah ’n gemeente sou stig op die dieselfde steen, of rotsmassa, wat pas deur Petrus geïdentifiseer is. Toe het hy aan Petrus ’n paar baie belangrike voorregte in daardie gemeente geskenk. Hy het Petrus nie voorrang bo die ander apostels gegee, soos party aanneem nie, maar hy het verantwoordelikhede aan hom toevertrou. Hy het Petrus “die sleutels van die koninkryk” gegee (Matt. 16:19). Dit sou Petrus se voorreg wees om die hoop om God se Koninkryk binne te gaan, vir drie groepe mense oop te stel—eers vir die Jode, daarna vir die Samaritane en laastens vir die nie-Jode.

15. Wat het daartoe gelei dat Petrus Jesus bestraf, en met watter woorde?

15 Maar Jesus het later gemeld dat dié aan wie baie gegee word, groter aanspreeklikheid sal hê, en die waarheid van hierdie woorde word deur Petrus se geval gestaaf (Luk. 12:48). Jesus het voortgegaan om lewensbelangrike waarhede oor die Messias te openbaar, onder andere die feit dat hy in Jerusalem sou moes ly en sterf.  Petrus was verontrus toe hy hierdie dinge hoor. Hy het Jesus opsy geneem en hom bestraf deur te sê: “Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie lot hê nie.”—Matt. 16:21, 22.

16. Hoe het Jesus Petrus tereggewys, en watter praktiese raad kan ons almal in Jesus se woorde vind?

16 Petrus het dit ongetwyfeld goed bedoel; daarom het Jesus se antwoord hom sekerlik verbaas. Hy het sy rug na Petrus gedraai, na die res van die dissipels gekyk—wat waarskynlik iets soortgelyks gedink het—en gesê: “Gaan agter my, Satan! Jy is ’n struikelblok vir my, want jy dink nie God se gedagtes nie, maar dié van mense” (Matt. 16:23; Mark. 8:32, 33). Jesus se woorde bevat praktiese raad vir ons almal. Dit is alte maklik om toe te laat dat menslike denke goddelike denke oorheers. As ons dit doen, kan ons, al probeer ons eintlik help, onbewustelik voorstanders word van Satan se voorneme eerder as God s’n. Maar hoe het Petrus gereageer?

17. Wat het Jesus bedoel toe hy vir Petrus gesê het om ‘agter hom te gaan’?

17 Petrus het ongetwyfeld besef dat Jesus hom nie in enige letterlike sin Satan die Duiwel noem nie. Jesus het immers nie op dieselfde manier met Petrus gepraat as wat hy vroeër met Satan gepraat het nie. Vir Satan het Jesus gesê: “Gaan weg”; vir Petrus het hy gesê: “Gaan agter my” (Matt. 4:10). Jesus het nie hierdie apostel in wie hy soveel goeie eienskappe gesien het, verwerp nie, maar hy het bloot Petrus se verkeerde denke in hierdie verband reggestel. Dit is maklik om te sien dat Petrus moes ophou om as ’n struikelblok voor sy Heer te staan en weer as ’n ondersteunende volgeling agter hom moes gaan.

Net as ons dissipline nederig aanvaar en daaruit leer, kan ons steeds nader kom aan Jesus Christus en sy Vader, Jehovah God

18. Hoe het Petrus lojaliteit geopenbaar, en hoe kan ons hom navolg?

18 Het Petrus gestry, kwaad geword of dikmond rondgeloop? Nee; hy het die teregwysing nederig aanvaar. Sodoende het hy weer lojaliteit geopenbaar. Almal wat Christus volg, sal soms tereggewys moet word. Net as ons dissipline nederig aanvaar en daaruit leer, kan ons steeds nader kom aan Jesus Christus en sy Vader, Jehovah God.—Lees Spreuke 4:13.

Petrus was lojaal, selfs wanneer hy tereggewys moes word

Sy lojaliteit word beloon

19. Watter verstommende verklaring het Jesus gemaak, en wat het Petrus dalk gewonder?

19 Jesus het kort hierna nog ’n verstommende verklaring gemaak:  “Voorwaar, ek sê vir julle dat party van dié wat hier staan, glad nie die dood sal smaak voordat hulle eers die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Matt. 16:28). Hierdie woorde het Petrus ongetwyfeld nuuskierig gemaak. Wat het Jesus tog bedoel? Petrus het dalk gewonder of die streng teregwysing wat hy pas ontvang het, beteken het dat so ’n spesiale voorreg hom nie te beurt sou val nie.

20, 21. (a) Beskryf die visioen wat Petrus aanskou het. (b) Hoe het die gesprek tussen die persone in die visioen gehelp om Petrus tereg te wys?

20 Maar omtrent ’n week later het Jesus vir Jakobus, Johannes en Petrus teen “’n hoë berg” opgeneem—miskien die berg Hermon, wat 25 kilometer daarvandaan was. Dit was waarskynlik nag, aangesien die drie mans teen die slaap gestry het. Maar terwyl Jesus gebid het, het iets gebeur wat enige lomerigheid verdryf het.—Matt. 17:1; Luk. 9:28, 29, 32.

21 Jesus het voor hulle oë begin verander. Sy gesig het begin  skyn, totdat dit so skitterend soos die son was. Sy klere was ook glinsterend wit. Toe het twee gedaantes by Jesus verskyn, waarvan die een Moses en die ander Elia voorgestel het. Hulle het met hom gepraat oor “sy vertrek wat hy bestem was om in Jerusalem te vervul”—klaarblyklik sy dood en opstanding. Hoe duidelik was dit tog dat dit verkeerd was van Petrus om te ontken dat daar so ’n pynlike ondervinding vir Jesus voorgelê het!—Luk. 9:30, 31.

22, 23. (a) Hoe het Petrus geesdrif en hartlikheid geopenbaar? (b) Watter ander beloning het Petrus, Jakobus en Johannes daardie nag ontvang?

22 Petrus het gevoel dat hy eenvoudig op die een of ander manier aan hierdie buitengewone visioen moet deelneem—en dit miskien moet verleng. Dit het gelyk asof Moses en Elia Jesus verlaat. Petrus het dus gesê: “Onderrigter, dit is goed dat ons hier is; laat ons dan drie tente oprig: een vir u en een vir Moses en een vir Elia.” Hierdie visioenêre voorstellings van twee van Jehovah se knegte wat al lank dood was, het natuurlik nie tente nodig gehad nie. Petrus het eintlik nie geweet wat hy sê nie. Maar voel jy nie aangetrokke tot die man weens sy geesdrif en hartlikheid nie?—Luk. 9:33.

Petrus, tesame met Jakobus en Johannes, is met ’n opwindende visioen beloon

23 Petrus, Jakobus en Johannes het daardie nag nog ’n beloning ontvang. ’n Wolk het gevorm en hulle op die berg oorskadu. ’n Stem het daaruit gekom—die stem van Jehovah God! Hy het gesê: “Dit is my Seun, die een wat uitgekies is. Luister na hom.” Toe was die visioen verby, en hulle was alleen saam met Jesus op die berg.—Luk. 9:34-36.

24. (a) Hoe het Petrus baat gevind by die visioen van die gedaanteverandering? (b) Hoe kan ons vandag baat vind by die visioen van die gedaanteverandering?

24 Wat ’n gawe was daardie visioen van die gedaanteverandering tog vir Petrus—en vir ons! Dekades later het hy geskryf van die voorreg wat hy daardie nag gehad het om ’n voorskou van Jesus as ’n glorieryke hemelse Koning te sien en om een van die “ooggetuies van sy luisterrykheid” te wees. Hierdie visioen het baie profesieë van God se Woord bevestig en het Petrus se geloof versterk vir die beproewinge wat nog vir hom voorgelê het. (Lees 2 Petrus 1:16-19.) Dit kan dieselfde vir ons doen as ons, soos Petrus, lojaal bly aan die Heer wat Jehovah oor ons aangestel het en by hom leer, sy dissipline en teregwysing aanvaar en hom dag ná dag nederig volg.

^ par. 6 Ons kan sien hoe wispelturig die skare by die sinagoge was as ons hulle reaksies op Jesus se woorde hier vergelyk met wat hulle net die vorige dag gesê het toe hulle geesdriftig verklaar het dat hy ’n profeet van God is.—Joh. 6:14.

^ par. 11 Vanaf die oewer van die See van Galilea, ongeveer 210 meter onder seespieël, het daardie reis van 50 kilometer die groep deur streke met pragtige natuurskoon tot sowat 350 meter bo seespieël geneem.