Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK VEERTIEN

Hy het ’n les in barmhartigheid geleer

Hy het ’n les in barmhartigheid geleer

1. Watter soort reis het vir Jona voorgelê, en hoe het hy oor sy bestemming gevoel?

JONA sou baie tyd hê om te dink. Voor hom het ’n reis van meer as 800 kilometer gelê, ’n reis oor land wat hom sowat ’n maand, of dalk selfs langer, sou neem. Eers moes hy tussen die korter en die veiliger roetes kies en toe moes hy stadig maar seker sy pad deur baie valleie en oor ontelbare bergpasse vind. Hy moes waarskynlik om die uitgestrekte Siriese Woestyn reis, riviere soos die magtige Eufraat oorsteek en herberg soek by vreemdelinge in die stede en dorpe van Sirië, Mesopotamië en Assirië. In die loop van die dae het hy nagedink oor die bestemming wat hy so gevrees het, die stad wat met elke tree al hoe nader gekom het—Nineve.

2. Hoe het Jona geleer dat hy nie van sy toewysing af kon weghardloop nie?

2 Jona was van een ding seker: Hy kon nie omdraai en van hierdie toewysing af weghardloop nie. Hy het dit al een keer probeer doen. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, het Jehovah Jona geduldig geleer deur middel van ’n windstorm op die see en ’n wonderdadige redding met behulp van ’n reusagtige vis. Drie dae later is Jona lewend op ’n strand uitgebraak—’n gehoorsamer man, vervul met ontsag.—Jona, hfste. 1, 2.

3. Watter eienskap het Jehovah aan Jona bewys, maar watter vraag ontstaan?

3 Toe Jehovah Jona die tweede keer beveel het om na Nineve te gaan, het die profeet hierdie lang reis ooswaarts gehoorsaam aangepak. (Lees Jona 3:1-3.) Maar het hy  toegelaat dat Jehovah se dissipline hom ingrypend verander? Jehovah het byvoorbeeld barmhartigheid aan hom bewys deur hom van ’n waterdood te red, hom nie vir sy opstandigheid te straf nie en hom ’n tweede kans te gee om hierdie toewysing uit te voer. Het Jona, ná dit alles, geleer om barmhartigheid aan ander te bewys? Dit is dikwels vir onvolmaakte mense moeilik om te leer om barmhartigheid te bewys. Kom ons kyk wat ons uit Jona se stryd kan leer.

’n Oordeelsboodskap en ’n verbasende reaksie

4, 5. Waarom het Jehovah na Nineve verwys as “die groot stad”, en wat leer dit ons omtrent hom?

4 Jona het nie Jehovah se beskouing van Nineve gehad nie. Ons lees: “En Nineve was ’n groot stad voor God” (Jona 3:3). In die verslag van Jona word Jehovah drie keer aangehaal waar Hy na “Nineve, die groot stad,” verwys (Jona 1:2; 3:2; 4:11). Waarom was hierdie stad groot, of belangrik, in Jehovah se oë?

5 Nineve was ’n ou stad, want dit was een van die eerste stede  wat Nimrod ná die Vloed gebou het. Dit was ontsaglik groot, ’n metropolitaanse gebied wat blykbaar etlike ander stede ingesluit het en ’n man drie dae geneem het om van die een kant tot die ander kant te loop (Gen. 10:11; Jona 3:3). Nineve was indrukwekkend, met statige tempels, massiewe mure en ander bouwerke. Maar nie een van hierdie faktore het die stad belangrik gemaak in Jehovah God se oë nie. Dit was die mense waarin hy belanggestel het. Nineve het ’n enorme bevolking vir daardie tyd gehad. Ten spyte van die mense se slegtheid het Jehovah vir hulle omgegee. Hy heg waarde aan menselewe en aan die potensiaal wat elke persoon het om berou te toon en te leer om te doen wat reg is.

Jona het gevind dat Nineve ’n ontsaglike stad vol oortreding is

6. (a) Waarom was Nineve dalk vir Jona intimiderend? (Sien ook die voetnoot.) (b) Wat leer ons oor Jona uit die predikingswerk wat hy gedoen het?

6 Toe Jona uiteindelik in Nineve ingaan, het die ontsaglike bevolking van meer as 120 000 mense die plek dalk net meer intimiderend gemaak. * Hy het ’n dag lank geloop, al hoe dieper in daardie woelige stad in, moontlik op soek na ’n gepaste sentrale plek om sy boodskap te begin versprei. Hoe sou hy hierdie mense bereik? Het hy geleer om Assiries te praat? Of het Jehovah hom hierdie vermoë op wonderdadige wyse gegee? Ons weet nie. Dit kan wees dat Jona sy boodskap in sy moedertaal, Hebreeus, verkondig het en ’n tolk gebruik het om dit aan die Nineviete oor te dra. In elk geval, sy boodskap was eenvoudig en sou hom waarskynlik nie baie gewild maak nie: “Nog net veertig dae, en Nineve sal verwoes word” (Jona 3:4). Hy het dit moedig bly verkondig. Sodoende het hy merkwaardige moed en geloof getoon, eienskappe wat Christene vandag meer as ooit tevore nodig het.

Jona se boodskap was eenvoudig en sou hom waarskynlik nie baie gewild maak nie

7, 8. (a) Hoe het die mense van Nineve op Jona se boodskap gereageer? (b) Wat het die koning van Nineve in reaksie op Jona se boodskap gedoen?

7 Jona se boodskap het die Nineviete se aandag gekry. Hy het hom ongetwyfeld gestaal vir ’n vyandige en gewelddadige reaksie. Maar in plaas daarvan het iets merkwaardigs gebeur. Die mense het geluister! Sy woorde het soos ’n veldbrand versprei. Kort voor lank het die hele stad oor Jona se doemprofesie gepraat. (Lees Jona 3:5.) Ryk en arm, sterk en swak, jonk en oud—almal het  dieselfde berouvolle gees geopenbaar. Hulle het niks geëet nie. Die nuus van hierdie optrede deur die volk het gou die koning se ore bereik.

Jona het moed en geloof nodig gehad om in Nineve te preek

8 Die koning het ook gunstig gereageer op Jona se boodskap. Hy is met godvrugtige vrees vervul en het van sy troon af opgestaan, sy weelderige staatskleed uitgetrek, dieselfde growwe klere as sy volk aangetrek en selfs “in die as gaan sit”. Tesame met sy “vername manne”, of adellikes, het hy ’n verordening uitgevaardig wat die vas verander het van ’n spontane optrede deur die volk in ’n amptelike opdrag deur die staat. Hy het beveel dat almal saklinne dra, selfs die mak diere. * Hy het nederig erken dat sy volk hulle skuldig gemaak het aan slegtheid en gewelddadigheid. Die koning het die hoop uitgespreek dat die ware God barmhartig sou wees wanneer Hy hulle berou sien en het gesê: “Wie weet of [God] hom van sy brandende toorn sal afwend, sodat ons nie vergaan nie.”—Jona 3:6-9.

9. Wat omtrent die Nineviete betwyfel kritici, maar hoe weet ons dat hierdie kritici dit mis het?

9 Party kritici betwyfel dit of die Nineviete so gou tot inkeer kon gekom het. Maar volgens Bybelgeleerdes sou so ’n verandering nie vreemd gewees het in die lig van die bygelowigheid en wispelturigheid van die mense van sulke ou kulture nie. Verder weet ons dat hierdie kritici dit mis het, want Jesus Christus het self later na die Nineviete se berou verwys. (Lees Matteus 12:41.) Jesus het geweet waarvan hy praat, want hy het die verloop van hierdie gebeurtenisse vanuit die hemel aanskou (Joh. 8:57, 58). Die feit is dat ons nooit moet aanneem dat dit vir mense onmoontlik is om berou te hê nie—hoe boosaardig hulle ook al vir ons lyk. Net Jehovah kan sien wat in die mensehart is.

’n Kontras tussen goddelike barmhartigheid en menslike onbuigsaamheid

10, 11. (a) Hoe het Jehovah op die berou van die Nineviete gereageer? (b) Waarom kan ons seker wees dat Jehovah se oordeel nie verkeerd was nie?

10 Hoe het Jehovah op die Nineviete se berou gereageer? Jona  het later geskryf: “Die ware God het hulle werke gesien, dat hulle hulle van hulle slegte weg afgekeer het; en toe het die ware God spyt gevoel oor die rampspoed wat hy gesê het hy oor hulle sou bring; en hy het dit nie gebring nie.”—Jona 3:10.

11 Beteken dit dat Jehovah besluit het dat sy oordeel in verband met Nineve verkeerd was? Nee. Die Bybel verduidelik dat Jehovah se geregtigheid volmaak is. (Lees Deuteronomium 32:4.) Jehovah se regverdige toorn teenoor Nineve het eenvoudig afgeneem. Hy het die verandering in daardie mense opgemerk en gesien dat die straf wat hy oor hulle wou bring, nie meer gepas sou wees nie. Dit was ’n geleentheid om goddelike barmhartigheid te bewys.

12, 13. (a) Hoe toon Jehovah dat hy redelik, aanpasbaar en barmhartig is? (b) Waarom was Jona se profesie nie vals nie?

12 Jehovah is glad nie soos die onbuigsame, ongevoelige of selfs hardvogtige God wat so dikwels deur godsdiensleiers uitgebeeld word nie. Hy is eerder redelik, aanpasbaar en barmhartig. Wanneer hy besluit om die goddeloses te straf, gebruik hy eers sy verteenwoordigers op die aarde om hulle te waarsku, want hy wil baie graag hê dat die goddeloses moet doen wat die Nineviete gedoen het—berou toon en hulle weë verander (Eseg. 33:11). Jehovah het vir sy profeet Jeremia gesê: “As ek op enige oomblik teen ’n nasie en teen ’n koninkryk spreek om dit uit te ruk en af te breek en te vernietig, en dié nasie hom afkeer van sy slegtheid waarteen ek gespreek het, dan sal ek spyt voel oor die rampspoed wat ek gedink het om daaroor te bring.”—Jer. 18:7, 8.

God wil baie graag hê dat die goddeloses berou moet toon en hulle weë moet verander, soos die Nineviete gedoen het

13 Was Jona se profesie vals? Nee; dit het die doel daarvan bereik as ’n waarskuwing. Daardie waarskuwing was gebaseer op die Nineviete se slegte weë, wat intussen verander het. As die Nineviete hulle slegte weë sou hervat, sou God dieselfde oordeel oor hulle bring. Dit is presies wat later gebeur het.—Sef. 2:13-15.

14. Hoe het Jona op Jehovah se barmhartigheid teenoor Nineve gereageer?

14 Hoe het Jona gereageer toe die vernietiging nie gekom het toe hy dit verwag het nie? Ons lees: “Maar Jona was baie ontevrede hieroor, en hy het kwaad geword” (Jona 4:1). Jona het selfs ’n gebed gedoen wat klink asof hy die Almagtige tereggewys het! Jona het gesê dat hy liewer by die huis moes gebly het, in sy eie land. Hy het beweer dat hy heeltyd geweet het dat Jehovah nie rampspoed oor Nineve sou bring nie, en hy het dit selfs as ’n verskoning gebruik vir die feit dat hy eers na Tarsis gevlug het. Toe het hy gevra om te sterf, want hy het gevoel dat die dood beter sou wees as die lewe.—Lees Jona 4:2, 3.

15. (a) Wat het moontlik tot Jona se ontsteltenis gelei? (b) Hoe het Jehovah sy ontstelde profeet behandel?

 15 Wat het Jona gekwel? Ons weet nie wat alles deur sy gedagtes gegaan het nie, maar ons weet wel dat Jona die ondergang van Nineve voor al daardie mense verkondig het. Hulle het hom geglo. En nou het die ondergang nie gekom nie. Was hy bang dat hy gespot of as ’n valse profeet bestempel sou word? Wat die geval ook al was, hy was nie bly oor die mense se berou of oor Jehovah se barmhartigheid nie. Dit lyk of hy eerder al hoe dieper in ’n moeras van bitterheid, selfbejammering en gekrenkte trots weggesak het. Maar Jona se barmhartige God het klaarblyklik nog steeds die goeie in hierdie ontstelde profeet gesien. In plaas van Jona vir sy oneerbiedigheid te straf, het Jehovah hom net een vriendelike, indringende vraag gevra: “Het jy met reg kwaad geword?” (Jona 4:4). Het Jona ooit geantwoord? Die Bybelverslag sê nie.

16. Waaroor verskil party dalk met God, en watter les kan ons uit Jona se voorbeeld leer?

16 Dit is maklik om Jona weens sy gedrag te veroordeel, maar dit sal goed wees om te onthou dat dit nie iets buitengewoons is dat onvolmaakte mense met God verskil nie. Party meen dalk dat Jehovah ’n tragedie moes voorkom het of dat hy vinnig oordeel aan die goddeloses moes voltrek het of selfs dat hy al vroeër ’n einde aan hierdie hele wêreldstelsel van dinge moes gemaak het. Jona se voorbeeld herinner ons daaraan dat wanneer ons met Jehovah God verskil, dit altyd ons gesigspunt is wat moet verander—nooit Syne nie.

Hoe Jehovah vir Jona ’n les geleer het

17, 18. (a) Wat het Jona gedoen nadat hy Nineve verlaat het? (b) Watter uitwerking het Jehovah se wonderwerke met betrekking tot ’n kalbasplant op Jona gehad?

17 Die mismoedige profeet het Nineve verlaat; hy het egter nie huis toe gegaan nie, maar eerder ooswaarts, waar etlike berge oor die streek uitgekyk het. Hy het ’n klein skuiling gebou en daarin gaan sit en wag—terwyl hy Nineve dopgehou het. Dalk het hy nog steeds gehoop dat hy die vernietiging daarvan sou sien. Hoe sou Jehovah hierdie hardkoppige man leer om barmhartig te wees?

18 Gedurende die nag het Jehovah ’n kalbasplant laat opkom. Toe Jona wakker word, het hy hierdie welige plant gesien, met sy breë blare wat baie meer skaduwee as sy karige skuiling voorsien het. Dit het hom opgebeur. “Jona het baie bly geword” oor die plant en het moontlik die wonderdadige verskyning daarvan beskou as ’n teken van God se seën en goedkeuring. Maar Jehovah  wou meer doen vir Jona as om hom net van die hitte en van sy humeurigheid te verlos. Hy wou Jona se hart bereik. God het dus nog wonderwerke verrig. Hy het ’n wurm gestuur om die plant aan te val en dood te maak. Toe het hy “’n verskroeiende oostewind” gestuur totdat Jona as ’t ware “flou geword het” weens die hitte. Die man het opnuut mismoedig geword, en hy het God weer gevra om hom te laat sterf.—Jona 4:6-8.

19, 20. Hoe het Jehovah met Jona geredeneer oor die kalbasplant?

19 Jehovah het Jona weer eens gevra of hy met reg kwaad is, hierdie keer oor die dood van die kalbasplant. In plaas van berou te toon, het Jona homself geregverdig en gesê: “Ek het met reg kwaad geword, tot die dood toe.” Dit was nou die tyd vir Jehovah om die les by hom tuis te bring.—Jona 4:9.

God het die kalbasplant gebruik om Jona ’n les in barmhartigheid te leer

20 God het met Jona geredeneer en gesê dat die profeet jammer voel oor die dood van ’n blote plant wat oornag opgekom het, een wat Jona nie geplant het of laat groei het nie. Toe het God ten slotte gesê: “Behoort ék nie jammer te voel vir Nineve, die groot stad, waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat  glad nie die verskil tussen hulle regter- en hulle linkerhand ken nie, benewens talle mak diere?”—Jona 4:10, 11. *

21. (a) Watter praktiese les het Jehovah Jona geleer? (b) Hoe kan die verslag oor Jona ons help om eerlike selfondersoek te doen?

21 Sien jy die kern van Jehovah se praktiese les? Jona het absoluut niks gedoen om vir daardie plant te sorg nie. Jehovah daarenteen was die Bron van die lewe vir daardie Nineviete en hy het vir hulle gesorg, net soos hy vir alle lewende wesens op die aarde sorg. Hoe kon Jona meer waarde aan ’n enkele plant heg as aan die lewens van 120 000 mense, benewens al hulle vee? Was dit nie omdat Jona toegelaat het dat sy denke selfsugtig word nie? Hy het immers net jammer gevoel vir die plant omdat dit hom persoonlik tot voordeel gestrek het. Het sy woede oor Nineve nie ook voortgespruit uit selfsugtige beweegredes nie—’n trotse begeerte om sy aansien te red, om reg bewys te word? Jona se verhaal kan ons help om eerlike selfondersoek te doen. Wie van ons is immuun teen sulke selfsugtige neigings? Hoe dankbaar moet ons tog wees dat Jehovah ons geduldig leer om onselfsugtiger, medelydender en barmhartiger te wees—soos hy!

22. (a) Watter uitwerking het Jehovah se wyse onderrigting oor barmhartigheid klaarblyklik op Jona gehad? (b) Watter les moet ons almal leer?

22 Die vraag is: Het Jona die les ter harte geneem? Die boek wat sy naam dra, sluit af met Jehovah se vraag wat in die lug hang—en as ’t ware nog steeds weerklink. Party kritici kla dalk dat Jona nooit antwoord nie. Maar in werklikheid hét ons sy antwoord. Dit is die boek self. Die bewyse dui daarop dat Jona die boek geskryf het wat sy naam dra. Stel jou hierdie profeet voor terwyl hy, veilig terug in sy vaderland, hierdie verslag skryf. Ons kan dit byna voor ons sien: ’n Ouer, wyser en nederiger man wat sy kop bedroef skud terwyl hy sy foute, sy opstandigheid en sy hardkoppige weiering om barmhartigheid te bewys, beskryf. Dit is duidelik dat Jona wel ’n lewensbelangrike les uit Jehovah se wyse onderrigting geleer het. Hy het geleer om barmhartig te wees. Wat van ons?—Lees Matteus 5:7.

^ par. 6 Daar word geskat dat Samaria, die hoofstad van die tienstammeryk van Israel, in Jona se dag miskien sowat 20 000 tot 30 000 inwoners gehad het—minder as ’n kwart van Nineve se bevolking. Nineve was tydens sy glorietyd moontlik die grootste stad ter wêreld.

^ par. 8 Dit klink dalk vreemd, maar dit was nie ongehoord in die ou tyd nie. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus het gesê dat die eertydse Perse oor die dood van ’n gewilde generaal getreur het deur hulle vee by die rougebruike in te sluit.

^ par. 20 Die feit dat God gesê het dat daardie mense nie die verskil tussen regs en links ken nie, het gedui op hulle kinderlike onkunde ten opsigte van goddelike standaarde.