Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK AGT

Hy het volhard ondanks teleurstellings

Hy het volhard ondanks teleurstellings

1. Waarom was Silo vol droefheid en geweeklaag?

SAMUEL kon die droefheid in Silo aanvoel. Dit was amper asof die dorp met trane oorstroom is. Uit hoeveel huise is die gekerm van vroue en kinders gehoor, die geweeklaag oor die nuus van vaders, mans, seuns en broers wat nie sou terugkom huis toe nie? Al wat ons weet, is dat Israel sowat 30 000 soldate verloor het in ’n verskriklike nederlaag wat hulle deur die Filistyne toegedien is, nie lank ná die verlies van 4 000 in ’n ander geveg nie.—1 Sam. 4:1, 2, 10.

2, 3. Watter reeks tragedies het skande en ’n verlies aan heerlikheid oor Silo gebring?

2 Dit was maar net een van ’n reeks tragedies. Die hoëpriester Eli se twee goddelose seuns, Hofni en Pinehas, het met die heilige verbondsark uit Silo getrek. Hierdie kosbare kis, wat gewoonlik in die heilige deel van die tabernakel—’n tentagtige tempel—gestaan het, was ’n simbool van God se teenwoordigheid. Die volk het die Ark toe na die slagveld geneem omdat hulle dwaaslik gedink het dat dit as ’n gelukbringer sou dien en vir hulle die oorwinning sou besorg. Maar die Filistyne het die Ark buitgemaak en Hofni en Pinehas om die lewe gebring.—1 Sam. 4:3-11.

3 Die tabernakel in Silo het eeue lank die eer gehad om die Ark te huisves. Nou was dit weg. Toe die 98-jarige Eli hierdie nuus hoor, het hy van sy stoel af agteroor geval en gesterf. Sy skoondogter, wat daardie selfde dag haar man verloor het, het gesterf terwyl sy geboorte gegee het. Voordat sy dood is, het sy gesê: “Heerlikheid is uit Israel in ballingskap weggevoer.” Ja, Silo sou nooit weer dieselfde wees nie.—1 Sam. 4:12-22.

4. Wat sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

4 Hoe sou Samuel hierdie verskriklike teleurstellings verwerk? Sou sy geloof opgewasse wees teen die uitdaging om ’n volk te help wat Jehovah se beskerming en guns verloor het? Vandag het ons almal van tyd tot tyd te kampe met ontberinge en teleurstellings wat ons geloof op die proef stel. Kom ons kyk dus wat ons nog by Samuel kan leer.

 Hy het “regverdigheid bewerkstellig”

5, 6. Waarop vestig die Bybelverslag die aandag aangaande ’n tydperk van 20 jaar, en hoe het Samuel gedurende hierdie tydperk besig gebly?

5 Die Bybelverslag verskuif nou die aandag van Samuel na wat met die heilige Ark gebeur het en toon vir ons hoe die Filistyne gely het omdat hulle dit geneem het en hoe hulle gedwing is om dit terug te gee. Wanneer Samuel weer gemeld word, het ongeveer 20 jaar verloop (1 Sam. 7:2). Wat het hy gedurende hierdie jare gedoen? Ons hoef nie te raai nie.

Hoe kon Samuel sy volksgenote help om verskriklike verlies en teleurstelling te verwerk?

6 Oor die dae voordat hierdie tydperk begin het, lees ons: “Die woord van Samuel het tot die hele Israel bly kom” (1 Sam. 4:1). Die verslag toon ook dat dit ná afloop van hierdie tydperk Samuel se gebruik was om elke jaar drie stede in Israel in ’n kring te besoek om geskille te hanteer en vraagstukke op te los. Daarna het hy na sy tuisdorp, Rama, teruggekeer (1 Sam. 7:15-17). Dit is duidelik dat Samuel altyd besig gebly het en gedurende hierdie tydperk van 20 jaar baie gehad het om te doen.

Hoewel die Bybelverslag vir ’n tydperk van 20 jaar geen melding van Samuel maak nie, kan ons seker wees dat hy besig gebly het in Jehovah se diens

7, 8. (a) Watter boodskap het Samuel ná twee dekades van harde werk aan die volk oorgedra? (b) Hoe het die volk op Samuel se versekering reageer?

7 Die onsedelikheid en verdorwenheid van Eli se seuns het die volk se geloof ondermyn. Gevolglik het baie hulle blykbaar tot afgodediens gewend. Maar ná twee dekades van harde werk het Samuel hierdie boodskap aan die volk oorgedra: “As julle met julle hele hart tot Jehovah terugkeer, moet julle die vreemde gode uit julle midde verwyder en ook die Astoret-beelde, en julle moet julle hart onwrikbaar op Jehovah rig en hom alleen dien, en hy sal julle uit die hand van die Filistyne verlos.”—1 Sam. 7:3.

8 “Die hand van die Filistyne” het swaar geword op die volk. Aangesien Israel se leër so te sê vernietig is, het die Filistyne gevoel dat hulle God se volk sonder enige gevolge kan onderdruk. Maar Samuel het die volk verseker dat dinge sou verander as hulle maar net tot Jehovah sou terugkeer. Was hulle bereid om dit te doen? Tot Samuel se groot vreugde het hulle hulle afgode verwyder en “Jehovah alleen begin dien”. Samuel het ’n vergadering byeengeroep by Mispa, ’n dorp in die bergland noord van Jerusalem. Die volk het bymekaargekom, gevas en berou getoon oor al hulle sondes van afgodediens.—Lees 1 Samuel 7:4-6.

Die Filistyne het gedink dat ’n samekoms van Jehovah se berouvolle volk ’n geleentheid was om hulle te onderdruk

9. Watter geleentheid het die Filistyne gesien, en hoe het God se volk op die gevaar gereageer?

9 Die Filistyne het egter van hierdie groot byeenkoms te hore  gekom en het ’n geleentheid daarin gesien. Hulle het hulle leër na Mispa gestuur om hierdie aanbidders van Jehovah te verpletter. Die Israeliete het van die naderende gevaar gehoor. Hulle was vreesbevange en het Samuel gevra om vir hulle te bid. Hy het dit gedoen en het ook ’n offerande gebring. Gedurende hierdie heilige seremonie het die Filistynse leër teen Mispa opgetrek. Toe het Jehovah Samuel se gebed verhoor. Jehovah het as ’t ware gebrul van verontwaardiging. Hy het dit “dié dag met ’n harde geraas teen die Filistyne laat donder”.—1 Sam. 7:7-10.

10, 11. (a) Waarom moes die donder wat Jehovah teen die Filistynse leër gebruik het, iets ongewoons gewees het? (b) Wat was die gevolg van die geveg wat by Mispa begin het?

10 Moet ons nou dink dat daardie Filistyne soos kindertjies was wat uit vrees agter hulle ma’s gaan wegkruip wanneer hulle ’n donderslag hoor? Nee, hulle was taai, geharde soldate. Hierdie donder was dan sekerlik nie soos enigiets wat hulle vantevore gehoor het nie. Was dit die verskriklike luidheid van die “harde geraas”? Het dit uit ’n helder blou hemel gekom, of het dit op raaiselagtige wyse vanuit die heuwels weergalm? Hoe dit ook al sy, dit het daardie Filistyne vreesbevange gemaak. In algehele verwarring het hulle gou van bullebakke in teikens verander. Die manne van Israel het uit Mispa gestroom, hulle verslaan en hulle kilometers ver agternagesit, tot by ’n plek suidwes van Jerusalem.—1 Sam. 7:11.

11 Hierdie geveg was ’n keerpunt. Die Filistyne het gedurende Samuel se dae as rigter bly terugwyk. Stad ná stad het weer onder die beheer van God se volk gekom.—1 Sam. 7:13, 14.

12. Wat beteken dit dat Samuel “regverdigheid bewerkstellig het”, en watter eienskappe het hom gehelp om altyd doeltreffend te wees?

12 Baie eeue later het die apostel Paulus Samuel onder die getroue rigters en profete genoem wat “regverdigheid bewerkstellig het” (Heb. 11:32, 33). Samuel het inderdaad gehelp om teweeg te bring wat goed en reg is in God se oë. Hy was altyd doeltreffend omdat hy geduldig op Jehovah gewag het en getrou met sy werk voortgegaan het ondanks teleurstellings. Hy het ook ’n waarderende gesindheid getoon. Ná die oorwinning by Mispa het Samuel ’n monument laat oprig om die manier waarop Jehovah sy volk gehelp het, te herdenk.—1 Sam. 7:12.

13. (a) Watter eienskappe het ons nodig as ons Samuel wil navolg? (b) Wanneer dink jy is dit ’n goeie tyd om eienskappe soos dié van Samuel aan te kweek?

13 Wil jy ook “regverdigheid bewerkstellig”? Indien wel, sal dit  verstandig wees om te leer uit Samuel se geduld en sy nederige, waarderende gesindheid. (Lees 1 Petrus 5:6.) Wie van ons het nie hierdie eienskappe nodig nie? Dit was goed dat Samuel hierdie eienskappe op ’n redelike jong ouderdom aangeleer en aan die dag gelê het, want hy het in sy latere jare groter teleurstellings ondervind.

“U seuns het nie in u weë gewandel nie”

14, 15. (a) Watter groot teleurstelling het Samuel ondervind toe hy “oud geword” het? (b) Was Samuel ’n nalatige vader soos Eli? Verduidelik.

14 Wanneer ons weer van Samuel lees, het hy “oud geword”. Teen hierdie tyd het Samuel twee volwasse seuns, Joël en Abia, gehad, en hy het hulle die verantwoordelikheid gegee om hom te help regspreek. Maar ongelukkig was sy vertroue misplaas. Hoewel Samuel eerlik en regverdig was, het sy seuns hulle posisies vir selfsugtige gewin gebruik en het hulle die reg verdraai en omkoopgeskenke aanvaar.—1 Sam. 8:1-3.

15 Eendag het die ouer manne van Israel by die bejaarde profeet kom kla. “U seuns het nie in u weë gewandel nie”, het hulle gesê (1 Sam. 8:4, 5). Was Samuel bewus van die probleem? Die verslag sê nie. Maar in teenstelling met Eli was Samuel sekerlik nie ’n nalatige vader nie. Jehovah het Eli tereggewys en gestraf omdat hy versuim  het om sy seuns se goddeloosheid reg te stel en omdat hy sy seuns meer as God geëer het (1 Sam. 2:27-29). Jehovah het Samuel nooit so tereggewys nie.

Hoe het Samuel die teleurstelling verwerk toe sy seuns sleg geword het?

16. Watter soort gevoelens teister ouers van opstandige kinders, en hoe kan ouers ’n mate van vertroosting en leiding in Samuel se voorbeeld vind?

16 Die verslag openbaar nie Samuel se pynlike verleentheid, kommer of teleurstelling toe hy van sy seuns se goddelose gedrag te wete gekom het nie. Maar baie ouers kan hulle alte goed voorstel hoe hy moes gevoel het. In vandag se donker tye is opstand teen ouerlike gesag en dissipline baie algemeen. (Lees 2 Timoteus 3:1-5.) Ouers wat hierdie soort pyn ervaar, kan ’n mate van vertroosting en leiding in Samuel se voorbeeld vind. Hy het nie toegelaat dat sy seuns se ontrouheid sy lewensweg hoegenaamd beïnvloed nie. Onthou, selfs wanneer woorde en dissipline nie verharde harte bereik nie, bly die voorbeeld van ouers ’n kragtige onderrigmiddel. En ouers het altyd die geleentheid om húlle Vader, Jehovah God, trots te maak—soos Samuel gedoen het.

“Stel tog nou vir ons ’n koning aan”

17. Wat wou die ouer manne van Israel hê moes Samuel doen, en hoe het hy gereageer?

17 Samuel se seuns kon nooit gedink het hoe verreikend die gevolge van hulle gierigheid en selfsug sou wees nie. Die ouer manne van Israel het verder vir Samuel gesê: “Stel tog nou vir ons ’n koning aan om ons te rig soos al die nasies.” Het hierdie versoek vir Samuel gevoel asof hulle hom verwerp? Hy het immers hierdie volk dekades lank namens Jehovah gerig. Nou wou hulle nie hê dat ’n blote profeet soos Samuel hulle moet rig nie, maar ’n koning. Die omliggende nasies het konings gehad, en die Israeliete wou ook een hê! Hoe het Samuel gereageer? Ons lees: “Die saak was sleg in die oë van Samuel.”—1 Sam. 8:5, 6.

18. Hoe het Jehovah Samuel vertroos en nogtans geopenbaar hoe ernstig Israel se sonde is?

18 Let op hoe Jehovah gereageer het toe Samuel tot hom oor die saak gebid het: “Luister na die stem van die volk met betrekking tot alles wat hulle vir jou sê; want nie jou het hulle verwerp nie, maar my het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.” Hoe vertroostend was dit tog vir Samuel, maar watter vreeslike belediging het hierdie volk God die Almagtige tog toegeslinger! Jehovah het vir sy profeet gesê om die Israeliete te waarsku hoe duur ’n menslike koning hulle te staan sou kom. Toe Samuel dit gedoen het, het hulle volgehou: “Nee, maar ’n koning sal oor ons wees.” Samuel, wat sy God altyd gehoorsaam het, het die koning wat Jehovah uitgekies het, gaan salf.—1 Sam. 8:7-19.

19, 20. (a) In watter opsigte was Samuel gehoorsaam aan Jehovah se opdrag om Saul as die koning van Israel te salf? (b) Hoe het Samuel aangehou om Jehovah se volk te help?

 19 Maar hoe het Samuel God gehoorsaam? Op ’n teësinnige, meganiese wyse? Het hy toegelaat dat teleurstelling sy hart vergiftig en dat bitterheid daarin wortelskiet? Dit is dalk hoe baie mense in so ’n situasie sal reageer, maar nie Samuel nie. Hy het Saul gesalf en erken dat die man Jehovah se keuse is. Hy het Saul gesoen, ’n teken van verwelkoming en onderdanigheid aan die nuwe koning. En hy het vir die volk gesê: “Het julle die een gesien wat Jehovah uitgekies het, dat daar onder die hele volk niemand soos hy is nie?”—1 Sam. 10:1, 24.

20 Samuel het nie gekonsentreer op die foute in die man wat Jehovah uitgekies het nie, maar op die goeie. En met betrekking tot homself het hy gekonsentreer op sy eie reputasie van onkreukbaarheid aan God eerder as op die goedkeuring van wispelturige mense (1 Sam. 12:1-4). Hy het ook sy toewysing getrou uitgevoer deur God se volk te waarsku teen die geestelike gevare wat hulle in die gesig staar en hulle aan te spoor om aan Jehovah getrou te bly. Sy raad het hulle harte bereik, en die volk het Samuel gesmeek om vir hulle te bid. Hy het hulle hierdie pragtige antwoord gegee: “Dit is vir my ondenkbaar om teen Jehovah te sondig deur op te hou om vir julle te bid; en ek sal julle in die goeie en regte weg onderrig.”—1 Sam. 12:21-24.

Samuel se voorbeeld herinner ons daaraan om nooit jaloesie of bitterheid in ons hart te laat wortelskiet nie

21. Hoe kan Samuel se voorbeeld jou help as jy teleurgesteld is omdat iemand anders vir ’n sekere posisie of voorreg gekies is?

21 Was jy al ooit teleurgesteld omdat iemand anders vir ’n sekere posisie of voorreg gekies is? Samuel se voorbeeld is ’n kragtige herinnering dat ons nooit moet toelaat dat jaloesie of bitterheid in ons hart wortelskiet nie. (Lees Spreuke 14:30.) God het oorgenoeg bevredigende, sinvolle werk vir elkeen van sy getroue knegte.

“Hoe lank sal jy oor Saul treur?”

22. Waarom het Samuel tereg aanvanklik goeie dinge in Saul gesien?

22 Samuel het tereg goeie dinge in Saul gesien; hy was ’n merkwaardige man. Hy was lank en indrukwekkend in voorkoms, asook moedig en vindingryk, en tog was hy aanvanklik beskeie (1 Sam. 10:22, 23, 27). Hierbenewens het hy nog ’n kosbare gawe gehad—wilsvryheid, die vermoë om sy lewensweg te kies en sy eie besluite te neem (Deut. 30:19). Het hy hierdie gawe goed gebruik?

23. Watter kosbare eienskap het Saul eerste verloor, en hoe het hy sy toenemende verwaandheid laat blyk?

 23 Wanneer ’n man hom in die warm gloed van pas bekomde mag koester, is beskeidenheid ongelukkig dikwels die eerste eienskap wat wegsmelt. Saul het kort voor lank verwaand geword. Hy het gekies om nie Jehovah se bevele wat Samuel aan hom oorgedra het, te gehoorsaam nie. Eenkeer het Saul ongeduldig geraak en ’n offerande gebring wat Samuel van voorneme was om te bring. Samuel moes hom streng berispe en het voorspel dat die koningskap nie in Saul se familie sou bly nie. In plaas van uit die dissipline te leer, het Saul nog erger dade van ongehoorsaamheid gepleeg.—1 Sam. 13:8, 9, 13, 14.

24. (a) Hoe was Saul in die oorlog teen die Amalekiete ongehoorsaam aan Jehovah? (b) Hoe het Saul op teregwysing gereageer, en wat was Jehovah se besluit?

24 Jehovah het Saul deur middel van Samuel aangesê om teen die Amalekiete oorlog te voer. Jehovah se instruksies het ’n bevel ingesluit om hulle goddelose koning, Agag, tereg te stel. Maar Saul het Agag gespaar, asook die beste van die buit, wat vernietig moes word. Toe Samuel hom kom teregwys het, het Saul getoon hoeveel hy verander het. In plaas van die teregwysing beskeie te aanvaar, het hy hom probeer verontskuldig, sy dade probeer regverdig, die kwessie omseil en die skuld op die volk probeer afskuif. Toe Saul die dissipline probeer ontwyk het deur te sê dat van die buit gespaar is met die doel om ’n offerande aan Jehovah te bring, het Samuel die bekende woorde gespreek: “Kyk! Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande.” Samuel het die man moedig bestraf en Jehovah se besluit bekend gemaak: Die koningskap sou van Saul afgeskeur en aan iemand anders—’n beter man—gegee word. *1 Sam. 15:1-33.

25, 26. (a) Waarom het Samuel oor Saul getreur, en hoe het Jehovah Sy profeet liefdevol tereggewys? (b) Watter les het Samuel geleer toe hy na die huis van Isai gegaan het?

25 Samuel was baie ontsteld oor Saul se oortredings. Hy het Jehovah die hele nag daaroor aangeroep. Hy het selfs oor die man getreur. Samuel het soveel potensiaal, soveel goeie dinge, in Saul  gesien, en nou was hierdie verwagtinge verpletter. Die man wat hy eens geken het, het verander—hy het sy beste eienskappe verloor en teen Jehovah gedraai. Samuel het geweier om Saul ooit weer te sien. Ná verloop van tyd het Jehovah Samuel egter liefdevol tereggewys: “Hoe lank sal jy oor Saul treur, terwyl ek hom daarenteen verwerp het om as koning oor Israel te heers? Vul jou horing met olie en gaan. Ek sal jou na Isai, die Betlehemiet, stuur, want ek het onder sy seuns vir my ’n koning uitgesoek.”—1 Sam. 15:34, 35; 16:1.

26 Jehovah se voorneme is nie afhanklik van die wisselvallige lojaliteit van onvolmaakte mense nie. As een persoon ontrou word, sal Jehovah ’n ander vind om Sy wil uit te voer. Die bejaarde Samuel het dus opgehou om oor Saul te treur. Soos Jehovah beveel het, het Samuel na die huis van Isai in Betlehem gegaan, waar hy ’n aantal van Isai se seuns met ’n indrukwekkende voorkoms ontmoet het. Maar reeds met die eerste seun het Jehovah Samuel daaraan herinner om nie bloot na die fisiese voorkoms te kyk nie. (Lees 1 Samuel 16:7.) Uiteindelik het Samuel die jongste seun ontmoet, en hier was Jehovah se keuse—Dawid!

Samuel het geleer dat geen teleurstelling te groot is vir Jehovah om te genees, uit die weg te ruim of selfs in ’n seën te verander nie

27. (a) Wat het Samuel se geloof voortdurend sterker laat word? (b) Hoe voel jy oor die voorbeeld wat Samuel gestel het?

27 In sy laaste jare het Samuel al hoe duideliker gesien hoe reg Jehovah se besluit was om Saul met Dawid te vervang. Saul het in moorddadige jaloesie en afvalligheid verval. Dawid het egter pragtige eienskappe geopenbaar—moed, onkreukbaarheid, geloof en lojaliteit. Namate Samuel se lewe ten einde geloop het, het sy geloof nog sterker geword. Hy het gesien dat geen teleurstelling te groot is vir Jehovah om te genees, uit die weg te ruim of selfs in ’n seën te verander nie. Samuel het uiteindelik gesterf en ’n verslag agtergelaat van ’n merkwaardige lewe wat oor byna ’n eeu gestrek het. Die hele Israel het oor die dood van hierdie getroue man getreur—en geen wonder nie! Vandag nog is dit verstandig van Jehovah se knegte om te vra: ‘Sal ek Samuel se geloof navolg?’

^ par. 24 Samuel het self Agag tereggestel. Nie daardie goddelose koning of sy familie het genade verdien nie. Eeue later het Agag se nakomelinge klaarblyklik “Haman, die Agagiet,” ingesluit, wat God se hele volk probeer uitwis het.—Est. 8:3; sien Hoofstukke 15 en 16 van hierdie publikasie.