Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK DRIE

‘Die vader van almal wat geloof het’

‘Die vader van almal wat geloof het’

1, 2. Hoe het die wêreld sedert Noag se dag verander, en watter uitwerking het dit op Abram gehad?

ABRAM het opgekyk na die ziggoerat wat bo sy tuisstad Ur uittoring. * Daar was ’n lawaai daarbo, en rook het daarvandaan opgestyg. Die priesters van die maangod het al weer offerandes gebring. Stel jou voor hoe Abram wegdraai en fronsend sy kop skud. Terwyl hy deur die skares op die straat huis toe gestap het, het hy waarskynlik gedink aan al die afgodediens in Ur. Hoe het die besmetting van daardie verdorwe aanbidding tog sedert Noag se dag in die wêreld versprei!

2 Noag het gesterf net twee jaar voordat Abram gebore is. Toe Noag en sy gesin ná die groot Vloed uit die ark gekom het, het hierdie aartsvader ’n offerande aan Jehovah God gebring, wat op sy beurt ’n reënboog laat verskyn het (Gen. 8:20; 9:12-14). Op daardie stadium was rein aanbidding die enigste aanbidding in die wêreld. Maar nou, terwyl die tiende geslag van Noag af oor die aarde versprei het, was rein aanbidding besig om iets seldsaams te word. Oral het mense heidense gode aanbid. Selfs Abram se vader, Tera, was betrokke by afgodediens, miskien deur afgode te maak.—Jos. 24:2.

Hoe het Abram so ’n uitsonderlike voorbeeld van geloof geword?

3. Watter eienskap het met die verloop van Abram se lewe duidelik geword, en wat kan ons daaruit leer?

3 Abram was anders. Hoe langer hy gelewe het, hoe duideliker het dit geword dat hy anders is weens sy geloof. Trouens, die apostel Paulus is later geïnspireer om na hom te verwys as ‘die vader van almal wat geloof het’! (Lees Romeine 4:11.) Kom ons kyk hoe Abram so ’n man geword het. Sodoende kan ons baie leer oor hoe om sterker geloof op te bou.

 Sy diens aan Jehovah in die wêreld ná die Vloed

4, 5. By wie het Abram moontlik omtrent Jehovah geleer, en waarom kom ons tot hierdie gevolgtrekking?

4 Hoe het Abram omtrent Jehovah God geleer? Ons weet dat Jehovah destyds getroue knegte op die aarde gehad het. Sem was een van hulle. Hoewel hy nie die oudste van Noag se drie seuns was nie, word hy dikwels eerste genoem. Dit is blykbaar omdat Sem ’n man met uitsonderlike geloof was. * Die een of ander tyd ná die Vloed het Noag van Jehovah gepraat as “Sem se God” (Gen. 9:26). Sem het respek vir Jehovah en vir rein aanbidding getoon.

5 Het Abram Sem geken? Moontlik. Stel jou Abram as seun voor. Hoe fassinerend moes dit tog vir hom gewees het om uit te vind dat hy ’n lewende voorouer het wie se ou, wyse oë meer as vier eeue van mensegeskiedenis aanskou het! Sem het die boosheid van die wêreld voor die Vloed gesien, asook die groot Vloed wat die aarde gereinig het, die begin van die eerste nasies toe die mensdom op die aarde vermeerder het en die donker dae van Nimrod se opstand by die Toring van Babel. Die getroue Sem het niks met daardie opstand te doen gehad nie. Gevolglik het Sem en sy familie voortgegaan om die mens se oorspronklike taal, die taal van Noag, te praat toe Jehovah die taal van die toringbouers verwar het. Daardie familie het Abram ingesluit. Abram het dus sekerlik grootgeword met hoë agting vir Sem. Wat meer is, Sem het gelewe gedurende die grootste deel van Abram se lang leeftyd. Abram het dus moontlik by Sem omtrent Jehovah geleer.

Abram het die afgodediens verwerp wat so algemeen in Ur was

6. (a) Hoe het Abram getoon dat hy die groot les van die Vloed ter harte geneem het? (b) Watter soort lewe het Abram en Sarai saam gehad?

6 Hoe dit ook al sy, Abram het die groot les van die Vloed ter harte geneem. Hy het daarna gestreef om met God te wandel soos Noag met Hom gewandel het. Daarom het Abram afgodediens verwerp en was hy opvallend anders in Ur, miskien selfs in sy eie familie. Maar hy het ’n wonderlike bondgenoot in die lewe gekry. Hy het getrou met Sarai, ’n uitsonderlike vrou, nie net ten opsigte van haar skoonheid nie, maar ook haar groot geloof in Jehovah. * Hoewel  hierdie egpaar kinderloos was, het hulle ongetwyfeld groot vreugde daaruit geput om Jehovah saam te dien. Hulle het ook Abram se ouerlose broerskind, Lot, aangeneem.

7. Hoe moet volgelinge van Jesus Abram navolg?

7 Abram het Jehovah nooit verlaat vir die afgodediens van Ur nie. Hy en Sarai was bereid om opvallend anders te wees as daardie afgodsaanbiddende gemeenskap. As ons ware geloof wil opbou, moet ons dieselfde gees hê. Ons moet ook bereid wees om anders te wees. Jesus het gesê dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” sou wees nie en dat die wêreld hulle gevolglik sou haat. (Lees Johannes 15:19.) As jy ooit die pyn van verwerping deur lede van jou gesin of jou gemeenskap ervaar as gevolg van jou besluit om Jehovah te dien, moet jy onthou dat jy nie alleen is nie. Jy is in goeie geselskap deur met God te wandel soos Abram en Sarai voor jou gedoen het.

“Trek weg uit jou land”

8, 9. (a) Watter onvergeetlike ondervinding het Abram gehad? (b) Wat was Jehovah se boodskap aan Abram?

8 Eendag het Abram ’n onvergeetlike ondervinding gehad. Hy het ’n boodskap van Jehovah God ontvang! Die Bybel verstrek nie baie besonderhede nie, maar dit sê wel dat “die God van heerlikheid” aan hierdie getroue man verskyn het. (Lees Handelinge 7:2, 3.) Abram het ’n blik op die oorweldigende heerlikheid van die Soewerein van die heelal gekry, miskien deur middel van ’n engele­verteenwoordiger. Ons kan ons net voorstel hoe verheug Abram moes gewees het om die verskil te sien tussen die lewende God en die lewelose afgode wat deur sy tydgenote aanbid is.

9 Wat was Jehovah se boodskap aan Abram? “Trek weg uit jou land en van jou familielede en kom na die land wat ek jou sal wys.” Jehovah het nie gesê watter land hy in gedagte gehad het nie—net dat hy dit vir Abram sou wys. Maar Abram sou eers sy tuisland en sy familielede moes agterlaat. In die kulture van die eertydse Midde-Ooste was familie baie belangrik. As ’n man sy familielede moes verlaat en ver weg moes trek, is dit dikwels as ’n verskriklike lot beskou; vir party, selfs erger as die dood!

10. Waarom was dit moontlik vir Abram en Sarai ’n opoffering om hulle huis in Ur te verlaat?

10 Dit het opoffering geverg om sy land te verlaat. Ur was klaarblyklik ’n besige, welvarende stad. (Sien die venster  “Die stad wat Abram en Sarai agtergelaat het”.) Opgrawings het aan die lig gebring dat huise in eertydse Ur baie gemaklik was; party het ’n stuk of twaalf vertrekke vir die gesin en knegte gehad, wat almal om ’n  geplaveide binnehof gerangskik was. Algemene geriewe het waterfonteine, toilette en afvalverwydering ingesluit. Onthou ook dat Abram en Sarai glad nie meer jonk was nie; hy was waarskynlik in sy sewentigerjare en sy in haar sestigerjare. Hy wou sekerlik gehad het dat Sarai redelik gemaklik en goed versorg moet wees—iets wat enige goeie man vir sy vrou wil hê. Stel jou voor die gesprekke wat hulle oor hierdie toewysing moes gehad het, die vrae en kwellinge wat moontlik in hulle harte opgekom het. Abram moes baie bly gewees het toe Sarai hierdie uitdaging aanvaar het! Soos hy, was sy bereid om al die geriewe van ’n huis agter te laat.

11, 12. (a) Watter voorbereidings en besluite was nodig voor hulle vertrek uit Ur? (b) Hoe sal jy die oggend van die vertrek beskryf?

11 Nadat die besluit geneem is, het heelwat werk vir Abram en Sarai voorgelê. Hulle het baie gehad om te pak en te organiseer. Wat sou hulle saamneem op hierdie reis na die onbekende, en wat sou hulle agterlaat? Maar nog belangriker was die mense in hulle lewe. Wat sou hulle omtrent die bejaarde Tera doen? Hulle het besluit om hom saam te neem en vir hom te sorg. Hy het moontlik geesdriftig ingestem, want die verslag sê dat hy, as aartsvader, sy familie uit Ur geneem het. Hy het ongetwyfeld reeds opgehou om afgodediens te beoefen. Abram se broerskind Lot sou ook saam met hulle trek.—Gen. 11:31.

12 Uiteindelik het die oggend van hulle vertrek aangebreek. Stel jou voor hoe die karavaan buite die stadsmure en grag van Ur bymekaarkom. Die kamele en donkies was gelaai, die kuddes was bymekaar, die familie en diensknegte was gereed, en daar was ’n gevoel van afwagting. * Dalk was almal se oë op Abram gerig terwyl hulle gewag het op sy teken om te vertrek. Uiteindelik het die oomblik aangebreek, en hulle het Ur vir ewig verlaat.

13. Hoe toon baie knegte van Jehovah vandag ’n gees soos dié van Abram en Sarai?

13 Vandag besluit baie knegte van Jehovah om te trek na waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Ander besluit om ’n nuwe taal te leer om hulle bediening uit te brei. Of hulle besluit om aan ’n ander aspek van die bediening deel te neem wat buite hulle gemaksone is. Sulke besluite verg gewoonlik opoffering—die bereidwilligheid om ’n mate van materiële gerief prys te gee. Hierdie gees, soos dié van Abram en Sarai, is beslis prysenswaardig! As ons sulke geloof toon, kan ons seker wees dat Jehovah ons altyd baie meer sal gee as wat ons hom gee. Hy beloon geloof altyd (Heb. 6:10; 11:6). Het hy Abram se geloof beloon?

 Hulle steek die Eufraat oor

14, 15. Hoe was die reis van Ur na Haran, en waarom het Abram moontlik besluit om ’n ruk lank in Haran te bly?

14 Die karavaan het geleidelik aan die roetine van die reis gewoond geraak. Ons kan ons voorstel hoe Abram en Sarai moontlik soms gery het en soms geloop het, terwyl hulle gesprekke gemeng het met die geklingel van die klokkies aan die diere se tuie. Geleidelik het selfs die minder ervare reisigers meer bedrewe daarin geword om kamp op te slaan en af te slaan en om die bejaarde Tera gemaklik te maak op ’n kameel of ’n donkie. Hulle het noordwes gereis, al langs die groot boog van die Eufraatrivier. Dae het maande geword, en die landskap het stadig verbybeweeg.

15 Uiteindelik, ná sowat 960 kilometer op die pad, het hulle die byekorfvormige hutte van Haran, ’n welvarende stad op ’n kruising van die Oos-Wes-handelsroetes, bereik. Daar het die familie gestop, en daar het hulle ’n ruk lank gebly. Moontlik was Tera te swak om verder te reis.

16, 17. (a) Oor watter verbond was Abram verheug? (b) Hoe het Jehovah Abram gedurende sy verblyf in Haran geseën?

16 Ná verloop van tyd het Tera op die ouderdom van 205  gesterf (Gen. 11:32). Abram het gedurende hierdie tyd van verlies groot vertroosting ontvang, want Jehovah het weer met hom gekommunikeer. Hy het die instruksies herhaal wat hy in Ur gegee het, en hy het uitgewei oor sy beloftes. Abram sou “’n groot nasie” word, en al die families op die aarde kon deur middel van hom seëninge ontvang. (Lees Genesis 12:2, 3.) Abram was verheug oor hierdie verbond tussen hom en God en het geweet dat dit tyd is om die reis te hervat.

17 Maar nou was daar selfs meer om te pak, want Jehovah het Abram gedurende sy verblyf in Haran geseën. Die verslag praat van “al die goed wat hulle versamel het en die siele wat hulle in Haran verwerf het” (Gen. 12:5). Om ’n nasie te word, sou Abram materiële middele en diensknegte nodig hê—’n groot huishouding. Jehovah maak nie altyd sy knegte ryk nie, maar hy gee hulle wel wat hulle ook al nodig het om sy wil te volbring. Abram was nou versterk en het sy karavaan die onbekende ingelei.

Dit het vir Abram en Sarai uitdagings gebied om hulle gemaklike lewe in Ur agter te laat

18. (a) Wanneer het Abram ’n mylpaal in die geskiedenis van God se handelinge met Sy knegte bereik? (b) Watter ander belangrike gebeure het in latere jare op 14 Nisan plaasgevind? (Sien die venster “ ’n Belangrike datum in Bybelgeskiedenis”.)

18 ’n Paar dagreise van Haran af het Karkemis gelê, waar karavane gewoonlik die Eufraat oorgesteek het. Dit was moontlik hier dat Abram ’n mylpaal in die geskiedenis van God se handelinge met Sy knegte bereik het. Dit was klaarblyklik op die 14de dag van die maand wat later Nisan genoem is, in 1943 VHJ, dat Abram sy karavaan oor die rivier gelei het (Eks. 12:40-43). In die suide het die land gelê wat Jehovah belowe het om vir Abram te wys. Op daardie dag het God se verbond met Abram in werking getree.

19. Waarvan het Jehovah se belofte aan Abram melding gemaak, en waaraan het dit Abram moontlik laat dink?

19 Abram het suidwaarts deur die land getrek, en die karavaan het naby die groot bome van More, naby Sigem, stilgehou. Daar het Jehovah weer met Abram gepraat. Hierdie keer het God se belofte melding gemaak van Abram se saad, of nageslag, wat die land in besit sou neem. Het Abram  teruggedink aan die profesie wat Jehovah in Eden uitgespreek het, wat melding gemaak het van “’n saad”, of nageslag, wat eendag die mensdom sou red? (Gen. 3:15; 12:7). Moontlik. Hy het miskien begin besef, hoe vaag ook al, dat hy deel is van ’n grootse voorneme wat Jehovah in gedagte het.

20. Hoe het Abram waardering getoon vir die voorreg wat Jehovah hom gegee het?

20 Abram het die voorreg wat Jehovah hom gegee het, grootliks waardeer. Terwyl Abram deur die land gereis het—ongetwyfeld versigtig, aangesien dit nog steeds deur die Kanaäniete bewoon is—het hy gestop en vir Jehovah altare gebou, eers naby die groot bome van More, toe naby BetEl. Hy het die naam van Jehovah aangeroep en het waarskynlik sy innige dank teenoor sy God uitgespreek terwyl hy oor die toekoms van sy nageslag gepeins het. Hy het dalk ook vir sy Kanaänitiese bure gepreek. (Lees Genesis 12:​7, 8.) Groot uitdagings vir Abram se geloof het natuurlik op sy lewenspad voorgelê. Abram het wyslik nie bly terugdink aan die huis en geriewe wat hy in Ur agtergelaat het nie. Hy het vorentoe gekyk. Hebreërs 11:10 sê van Abram: “Hy het gewag op die stad wat ware fondamente het, waarvan God die bouer en maker is.”

21. Hoe vergelyk ons kennis van God se Koninkryk met dié van Abram, en wat word jy beweeg om te doen?

21 Ons, as Jehovah se hedendaagse knegte, weet baie meer omtrent daardie figuurlike stad—God se Koninkryk—as wat Abram geweet het. Ons weet dat die Koninkryk in die hemel regeer en dat dit binnekort ’n einde aan hierdie wêreldstelsel sal maak, en ons weet dat Abram se langbeloofde Saad, Jesus Christus, nou oor daardie Koninkryk regeer. Watter voorreg sal dit tog vir ons wees om die tyd te sien wanneer Abraham weer lewe en uiteindelik die goddelike voorneme verstaan wat hy voorheen net vaagweg kon verstaan! Wil jy graag sien hoe Jehovah elkeen van sy beloftes vervul? Dan moet jy voortgaan om te doen wat Abram gedoen het. Openbaar ’n gees van selfopoffering, gehoorsaamheid en biddende waardering vir die voorregte wat Jehovah jou gee. As jy Abram se geloof navolg, sal ‘die vader van almal wat geloof het’, in sekere sin ook jou vader word!

^ par. 1 Jare later het God Abram se naam verander na Abraham, wat “Vader van ’n menigte” beteken.—Gen. 17:5.

^ par. 4 Abram word ook dikwels eerste onder Tera se seuns genoem, hoewel hy glad nie die oudste was nie.

^ par. 6 Later het God Sarai se naam verander na Sara, wat “Prinses” beteken.—Gen. 17:15.

^ par. 12 Party geleerdes bevraagteken dit of kamele in Abram se tyd getem is. Maar hierdie besware berus op vae gronde. Die Bybel maak ’n paar keer melding van kamele onder Abram se besittings.—Gen. 12:16; 24:35.