Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK EEN-EN-TWINTIG

Hy het gestry teen vrees en twyfelgedagtes

Hy het gestry teen vrees en twyfelgedagtes

1-3. Wat het Petrus gedurende ’n gebeurtenisvolle dag gesien, en watter soort nag het hy ondervind?

PETRUS het met alle mag aan die roeispaan getrek en die nag ingetuur. Het hy ’n vae gloed aan die oostelike horison gesien—uiteindelik ’n teken van dagbreek? Sy rug- en skouerspiere het gebrand van die ure lange geroei. Die wind wat aan sy hare geruk het, het die See van Galilea in ’n onstuimige watermassa verander. Golf ná golf het teen die boeg van die vissersboot gebreek en hom met koue sproei deurdrenk. Hy het bly roei.

2 Petrus en sy metgeselle het Jesus êrens op die oewer alleen agtergelaat. Daardie dag het hulle gesien hoe Jesus ’n honger skare van duisende mense met net ’n paar brode en visse voed. In reaksie hierop wou die mense Jesus koning maak, maar hy wou niks met die politiek te doen hê nie. Hy was ook vasbeslote om te verhinder dat sy volgelinge sulke ambisies begin koester. Hy het die skare ontglip en daarop aangedring dat sy dissipels in die boot klim en na die oorkantste oewer vaar terwyl hy alleen teen die berg opgaan om te bid.—Mark. 6:35-45; lees Johannes 6:14-17.

3 Die byna vol maan het hoog gesit toe die dissipels vertrek het; nou het dit stadig in die weste begin sak. Tog het hulle net ’n paar kilometer gevorder. Die inspanning en die voortdurende geloei van die wind en gedreun van die golwe het dit moeilik gemaak om met mekaar te praat. Petrus was waarskynlik besig met sy eie gedagtes.

In twee jaar het Petrus baie by Jesus geleer, maar daar was nog baie meer om te leer

4. Watter stryd maak Petrus ’n uitstekende voorbeeld vir ons om te volg?

4 Hoeveel was daar tog om oor na te dink! Petrus het Jesus van Nasaret meer as twee gebeurtenisvolle jare tevore ontmoet. Hy het  al baie geleer, maar daar was nog baie meer om te leer. Sy bereidwilligheid om dit te doen—om te stry teen struikelblokke soos twyfelgedagtes en vrees—maak hom ’n uitstekende voorbeeld vir ons om te volg. Kom ons kyk waarom.

“Ons het die Messias gevind”!

5, 6. Watter soort lewe het Petrus gelei?

5 Petrus sou nooit die dag vergeet toe hy Jesus ontmoet het nie. Sy broer, Andreas, het vir hom die verstommende nuus kom vertel: “Ons het die Messias gevind.” Met hierdie woorde het Petrus se lewe begin verander. Dit sou nooit weer dieselfde wees nie.—Joh. 1:41.

6 Petrus het in Kapernaum gewoon, ’n stad aan die noordelike oewer van ’n varswatermeer wat die See van Galilea genoem is. Hy en Andreas sowel as Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was vennote in ’n vissersonderneming. Petrus se vrou, sowel as sy skoonma en sy broer, Andreas, het by hom gewoon. Om so ’n huishouding deur middel van visvangs te onderhou, het sekerlik harde werk, energie en vindingrykheid geverg. Ons kan ons die tallose lang nagte se geswoeg voorstel—hoe die mans die sleepnette tussen twee bote uitgegooi het en dan enige vangs opgetrek het wat die meer gelewer het. Ons kan ons ook die moeisame dagligure voorstel waartydens die vis uitgesoek en verkoop is en die nette heel- en skoongemaak is.

7. Wat het Petrus oor Jesus gehoor, en waarom was dit opwindende nuus?

7 Die Bybel sê vir ons dat Andreas ’n dissipel van Johannes die Doper was. Petrus het ongetwyfeld met groot belangstelling geluister na wat sy broer oor Johannes se boodskap vertel het. Op ’n dag het Andreas gesien hoe Johannes na Jesus van Nasaret wys en sê: “Kyk, die Lam van God!” Andreas het onmiddellik ’n volgeling van Jesus geword en gretig vir Petrus hierdie opwindende nuus vertel: Die Messias het gekom! (Joh. 1:35-40). Ná die opstand in Eden, sowat 4 000 jaar vroeër, het Jehovah God belowe dat ’n spesiale persoon sou kom om die mensdom ware hoop te gee (Gen. 3:15). Andreas het nou hierdie Redder, die Messias, ontmoet! Petrus het hom gehaas om Jesus ook te ontmoet.

8. Wat beteken die naam wat Jesus aan Petrus gegee het, en waarom bevraagteken party nog steeds hierdie keuse van ’n naam?

8 Tot op daardie dag het Petrus bekend gestaan as Simon, of Simeon. Maar Jesus het na hom gekyk en gesê: “‘Jy is Simon, die seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word’ (wat as Petrus vertaal word)” (Joh. 1:42). “Sefas” is ’n soortnaam wat “klip”, of “rots”, beteken. Jesus se woorde was klaarblyklik profeties. Hy het vooruitgesien  dat Petrus soos ’n rots sou word—’n bestendige, standvastige en betroubare invloed onder Christus se volgelinge. Is dit hoe Petrus homself beskou het? Dit is te betwyfel. Selfs sommige hedendaagse lesers van die Evangelieverslae sien nie veel in Petrus wat rotsagtig is nie. Party het gesê dat dit lyk of hy, soos uitgebeeld in die Bybelverslag, onbestendig, veranderlik en besluiteloos was.

9. Waarna soek Jehovah en sy Seun, en waarom dink jy moet ons hulle beskouing vertrou?

9 Petrus het wel sy foute gehad. Jesus was nie blind daarvoor nie. Maar soos sy Vader, Jehovah, het Jesus altyd na die goeie in mense gesoek. Jesus het groot potensiaal in Petrus gesien, en Hy het hom probeer help om hierdie goeie eienskappe verder te ontwikkel. Jehovah en sy Seun soek vandag ook na die goeie in ons. Dit is dalk vir ons moeilik om te glo dat hulle eintlik enigiets goeds in ons kan vind. Maar ons moet hulle beskouing vertrou en, soos Petrus, bereid wees om opgelei en gevorm te word.—Lees 1 Johannes 3:19, 20.

“Hou op om bang te wees”

10. Wat het Petrus waarskynlik gesien, en waarna het hy nogtans teruggekeer?

10 Petrus het Jesus waarskynlik op ’n deel van die daaropvolgende predikingsreis vergesel. Hy het dus moontlik gesien hoe Jesus sy eerste wonderwerk verrig deur water in wyn te verander by die huweliksfees in Kana. Nog belangriker, hy het Jesus se wonderlike en hoopgewende boodskap oor die Koninkryk van God gehoor. Hy het hom nogtans weggeskeur en na sy vissersonderneming teruggekeer. Maar ’n paar maande later het Petrus weer van aangesig tot aangesig met Jesus gekom—en hierdie keer het Jesus Petrus genooi om hom voltyds te volg en dit sy lewenswyse te maak.

11, 12. (a) Watter soort nag het Petrus verduur? (b) Watter vrae het moontlik by Petrus ontstaan terwyl hy na Jesus geluister het?

11 Petrus het so pas ’n ontmoedigende nag verduur. Die vissers het hulle nette keer op keer laat sak, maar dit dan leeg opgetrek. Petrus het ongetwyfeld al sy ervaring en vindingrykheid ingespan en op verskillende plekke in die meer na die visse gesoek. Daar was sekerlik tye toe hy, soos soveel ander vissers, gewens het dat hy deur die troebel waters kan sien om die skole visse te vind of dat hy hulle op die een of ander manier in sy nette kan laat inswem. Sulke gedagtes sou sy frustrasie natuurlik net vergroot het. Petrus het nie vir die plesier visgevang nie; mense was afhanklik van sy vangs. Uiteindelik het hy met leë hande aan wal gekom. Die nette moes skoongemaak word. Hy was druk besig hiermee toe Jesus daar aankom.

Petrus het nooit moeg geword om te hoor hoe Jesus die hooftema van sy prediking—die Koninkryk van God—ontwikkel nie

12 ’n Skare het om Jesus saamgedrom en aandagtig na elke  woord geluister. Weens die gedrang het Jesus in Petrus se boot geklim en hom gevra om ’n entjie van die land af te vaar. Met sy stem wat helder oor die water dra, het Jesus die skare geleer. Petrus het met gespanne aandag geluister, net soos die mense op die oewer. Hy het nooit moeg geword om te hoor hoe Jesus die hooftema van sy prediking—die Koninkryk van God—ontwikkel nie. Wat ’n voorreg sou dit tog wees om die Christus te help om hierdie boodskap van hoop deur die hele land te versprei! Maar sou dit prakties wees? Hoe sou Petrus sy familie voed? Dalk het Petrus weer gedink aan die lang en vrugtelose nag wat hy gehad het.—Luk. 5:1-3.

13, 14. Watter wonderwerk het Jesus vir Petrus verrig, en hoe het Petrus gereageer?

13 Toe Jesus klaar gepraat het, het hy vir Petrus gesê: “Vaar uit na waar dit diep is en laat sak julle nette vir ’n vangs.” Petrus was vol twyfel. Hy het gesê: “Onderrigter, ons het die hele nag geswoeg en niks gevang nie, maar as u so sê, sal ek die nette laat sak.” Petrus het kort tevore die nette gewas. Om dit weer te laat sak, was sekerlik die laaste ding wat hy wou doen—veral noudat die visse nie eens kos gesoek het nie! Hy het dit nietemin gedoen, en hy het waarskynlik vir sy maats in ’n tweede boot gewink om hom te volg.—Luk. 5:4, 5.

14 Toe Petrus die nette begin optrek, was dit onverwags swaar. Verbaas het hy harder getrek, en kort voor lank kon hy ’n menigte visse in die net sien spartel! Hy het koorsagtig gewink vir die mans in die tweede boot om te kom help. Toe hulle kom help, het dit gou duidelik geword dat een boot nie groot genoeg was vir al die visse nie. Hulle het albei bote volgemaak, en nog steeds was daar te veel—die bote het begin sink onder die gewig. Petrus was stomgeslaan. Hy het al voorheen Christus se krag in werking gesien, maar hierdie keer het dit hom persoonlik geraak. Hier was ’n man wat die visse selfs in die nette kon laat inswem! Petrus het bang geword. Hy het op sy knieë neergeval en gesê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man.” Hoe sou hy ooit waardig kon wees om te assosieer met die Een wat die krag van God op sulke maniere aanwend?—Lees Lukas 5:6-9.

‘Here, ek is ’n sondige man’

15. Hoe het Jesus Petrus geleer dat sy twyfelgedagtes en vrese ongegrond is?

15 Jesus het vriendelik gesê: “Hou op om bang te wees. Van nou af sal jy mense lewend vang” (Luk. 5:10, 11). Dit was nie die tyd om te twyfel of te vrees nie. Petrus se twyfelgedagtes in verband  met praktiese sake soos visvang was ongegrond; sy vrese oor sy eie foute en onbevoegdhede was net so ongegrond. Jesus het ’n groot werk gehad om te doen, ’n bediening wat die geskiedenis sou verander. Hy het ’n God gedien wat ‘ryklik sal vergewe’ (Jes. 55:7). Jehovah sou in Petrus se fisiese sowel as geestelike behoeftes voorsien.—Matt. 6:33.

16. Hoe het Petrus, Jakobus en Johannes op Jesus se uitnodiging gereageer, en waarom was dit die allerbeste besluit wat hulle kon neem?

16 Petrus het gou gereageer, en so ook Jakobus en Johannes. “Hulle [het] die bote teruggebring land toe en alles laat staan en hom gevolg” (Luk. 5:11). Petrus het geloof gestel in Jesus en in die Een wat hom gestuur het. Dit was die allerbeste besluit wat hy kon neem. Christene van vandag wat hulle twyfelgedagtes en vrees te  bowe kom om God te dien, toon eweneens geloof. Sulke vertroue op Jehovah is nooit misplaas nie.—Ps. 22:4, 5.

“Waarom het jy begin twyfel?”

17. Watter herinneringe het Petrus gehad uit die twee jaar sedert hy Jesus ontmoet het?

17 Sowat twee jaar nadat Petrus Jesus ontmoet het, het hy gedurende daardie winderige nag op die See van Galilea geroei, soos aan die begin van hierdie hoofstuk gemeld is. Ons weet natuurlik nie watter herinneringe by hom opgekom het nie. Daar was so baie! Jesus het Petrus se skoonma genees. Hy het die Bergpredikasie gelewer. Hy het keer op keer deur sy onderrigting en sy kragtige werke getoon dat hy Jehovah se Uitverkorene, die Messias, is. Met die verloop van die maande het Petrus ongetwyfeld sy tekortkominge, soos sy neiging om aan vrees en twyfelgedagtes toe te gee, in ’n mate te bowe gekom. Jesus het Petrus selfs as een van die 12 apostels gekies! Maar Petrus het vrees en twyfelgedagtes nog nie heeltemal oorwin nie, soos hy gou sou uitvind.

18, 19. (a) Beskryf wat Petrus op die See van Galilea gesien het. (b) Hoe het Jesus Petrus se versoek toegestaan?

18 Gedurende die vierde nagwaak, of die een of ander tyd tussen drieuur die oggend en sonsopkoms, het Petrus skielik opgehou roei en penorent gesit. Daar—anderkant die golwe—het iets beweeg! Was dit die sproei van die golwe wat in die maanlig blink? Nee, dit was te solied, te regop. Dit was ’n man! Ja, ’n man, en hy het op die oppervlak van die see geloop! Toe die figuur naderkom, het dit gelyk of hy by hulle gaan verbyloop. Die dissipels het vreesbevange gedink dat dit die een of ander verskyning is. Die man het gepraat: “Skep moed, dit is ek; moenie vrees nie.” Dit was Jesus!—Matt. 14:25-28.

19 Petrus het geantwoord: “Here, as dit u is, beveel my om oor die waters na u toe te kom.” Sy eerste impuls het van moed getuig. Petrus was baie opgewonde oor hierdie unieke wonderwerk en wou hê dat sy geloof verder bevestig moet word. Hy wou deel van die aksie wees. Jesus het hom vriendelik genooi om te kom. Petrus het oor die kant van die boot geklouter, af tot op die golwende oppervlak van die see. Stel jou voor hoe Petrus moes gevoel het toe hy vastigheid onder sy voete vind en op die water staan. Hy was ongetwyfeld met verwondering vervul terwyl hy na Jesus toe geloop het. Maar ’n ander impuls het hom gou oorweldig.—Lees Matteus 14:29.

“Toe hy na die windstorm kyk, het hy bang geword”

20. (a) Hoe is Petrus se aandag afgelei, en met watter gevolg? (b) Watter les het Jesus by Petrus tuisgebring?

20 Petrus moes sy aandag op Jesus gevestig hou. Dit was Jesus  wat Petrus, deur middel van Jehovah se krag, bo die windverwaaide golwe gehou het. En Jesus het dit gedoen omdat Petrus geloof in hom gestel het. Maar Petrus se aandag is afgelei. Ons lees: “Toe hy na die windstorm kyk, het hy bang geword.” Petrus het gesien hoe die golwe teen die boot slaan en die wind die sproei en skuim rondwaai en het paniekbevange geword. In sy verbeelding het hy waarskynlik gesien hoe hy in daardie meer wegsink en verdrink. Hoe groter die vrees in sy hart geword het, hoe kleiner het sy geloof geword. Die man wat Rots genoem is weens sy potensiaal om standvastig te wees, het soos ’n klip begin sink weens sy wankelende geloof. Petrus was ’n goeie swemmer, maar hy het nie nou op hierdie vermoë staatgemaak nie. Hy het uitgeroep: “Here, red my!” Jesus het hom aan die hand gegryp en hom opgetrek. Daar, op die water se oppervlak, het hy hierdie belangrike les by Petrus tuisgebring: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”—Matt. 14:30, 31.

21. Waarom is twyfel gevaarlik, en hoe kan ons daarteen stry?

21 Ja, Petrus het “begin twyfel”! Twyfel kan ’n kragtige, vernietigende invloed op ons hê. As ons daaraan toegee, kan dit ons geloof ondermyn en ons geestelik laat sink. Ons moet kragtig daarteen stry! Hoe? Deur ons aandag op die regte dinge gevestig te hou. As ons tob oor dinge wat ons bang maak, ons ontmoedig of ons aandag van Jehovah en sy Seun aflei, sal ons vind dat ons twyfelgedagtes toeneem. As ons ons aandag gevestig hou op Jehovah en sy Seun, op wat hulle gedoen het, nou doen en nog sal doen vir diegene wat hulle liefhet, sal ons ondermynende twyfelgedagtes afweer.

22. Waarom is Petrus se geloof navolgenswaardig?

22 Toe Petrus agter Jesus aan in die boot klim, het hy die storm sien bedaar. Die See van Galilea het stil geword. Petrus en sy mededissipels het gesê: “U is werklik God se Seun” (Matt. 14:33). Toe die eerste sonstrale oor die meer breek, het Petrus se hart sekerlik oorgeloop van dankbaarheid. Hy het twyfel en vrees verwerp. Hy sou weliswaar nog baie vordering moes maak voordat hy die rotsagtige Christen sou word wat Jesus vooruitgesien het. Maar hy was vasbeslote om sy bes te bly doen, om te bly groei. Is jy net so vasbeslote? Jy sal vind dat Petrus se geloof navolgenswaardig is.