Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 5

Skeppingskrag—“Die Maker van hemel en aarde”

Skeppingskrag—“Die Maker van hemel en aarde”

1, 2. Hoe lewer die son bewys van Jehovah se skeppingskrag?

HET jy al op ’n koue nag by ’n vuur gestaan? Jy het moontlik jou hande net ver genoeg van die vlamme gehou om die hitte daarvan te geniet. As jy te na aan die vuur gekom het, het die hitte ondraaglik geword. As jy te ver agtertoe beweeg het, het die koel naglug jou omring en het jy koud gekry.

2 Daar is ’n “vuur” wat ons bedags warm maak. Daardie “vuur” brand ongeveer 150 miljoen kilometer hiervandaan! * Watter krag moet die son tog hê as jy die hitte daarvan so ver kan voel! Maar die aarde wentel op presies die regte afstand om daardie ontsagwekkende termonukleêre oond. As dit te naby was, sou die water op die aarde verdamp het; as dit te ver was, sou al die water gevries het. Enigeen van die twee uiterstes sou ons planeet leweloos gemaak het. Sonlig is nie net noodsaaklik vir lewe op die aarde nie, maar is ook skoon en doeltreffend, om nie van aangenaam te praat nie.—Prediker 11:7.

Jehovah “het die hemellig, ja die son, berei”

3. Van watter belangrike waarheid getuig die son?

3 Nietemin neem die meeste mense die son as vanselfsprekend aan, hoewel dit noodsaaklik is vir hulle lewe. Gevolglik besef hulle nie wat die son ons kan leer nie. Die Bybel sê van Jehovah: “U het die hemellig, ja die son, berei” (Psalm 74:16). Die son strek Jehovah, “die Maker van hemel en aarde”, waarlik tot eer (Psalm 19:1; 146:6). Dit is net een van  ontelbare hemelliggame wat ons van Jehovah se ontsaglike skeppingskrag leer. Kom ons beskou party van naderby en rig dan ons aandag op die aarde en die lewe wat daarop floreer.

“Slaan julle oë op in die hoogte en kyk”

4, 5. Hoe kragtig en hoe groot is die son, maar hoe vergelyk dit met ander sterre?

4 Soos jy moontlik weet, is ons son ’n ster. Dit lyk groter as die sterre wat ons snags sien, omdat dit heelwat nader as hulle is. Hoe kragtig is dit? Die temperatuur by die kern van die son is nagenoeg 15 000 000 grade Celsius. As jy ’n stukkie van die son se kern so groot soos ’n speldekop kon neem en dit hier op die aarde kon neersit, sou jy nie binne 140 kilometer van daardie klein hittebron kon staan en ongedeerd daarvan afkom nie! Die son straal elke sekonde energie uit wat gelykstaande is aan die ontploffing van etlike honderdmiljoene kernbomme.

5 Die son is so groot dat meer as 1 300 000 van ons aardes daarin sou kon pas. Is die son ’n buitengewone groot  ster? Nee, sterrekundiges noem dit ’n geeldwerg. Die apostel Paulus het geskryf: “Die een ster verskil van die ander ster in heerlikheid” (1 Korintiërs 15:41). Hy kon nie geweet het hoe waar hierdie geïnspireerde woorde is nie. Daar is ’n ster wat so groot is dat, as dit geplaas word presies waar die son is, ons aarde daarin sou gewees het. ’n Ander reusester sou, as dít daar geplaas word, tot by Saturnus gestrek het—hoewel dié planeet so ver van die aarde af is dat dit ’n ruimtetuig vier jaar geneem het om daar te kom, al het dit meer as 40 keer vinniger beweeg as ’n koeël wat uit ’n kragtige handgeweer gevuur word!

6. Hoe toon die Bybel dat die aantal sterre uit ’n menslike oogpunt ontsaglik is?

6 Die talrykheid van die sterre is nog ontsagwekkender as hulle grootte. Trouens, die Bybel gee te kenne dat die sterre  feitlik ontelbaar is, so moeilik om te tel soos “die sand van die see” (Jeremia 33:22). Hierdie woorde dui aan dat daar baie meer sterre is as wat met die blote oog gesien kan word. As ’n Bybelskrywer, soos Jeremia, na die naghemel opgekyk en die sigbare sterre probeer tel het, sou hy immers net sowat drieduisend getel het, want dit is hoeveel ’n mens op ’n helder nag met die blote oog kan sien. Hierdie getal kan vergelyk word met die aantal korrels in ’n blote hand vol sand. Maar die aantal sterre is in werklikheid oorweldigend, soos die sand van die see. * Wie kan tot so ver tel?

Hy noem “hulle almal selfs by die naam”

7. (a) Omtrent hoeveel sterre is daar in ons Melkwegstelsel, en hoe groot is daardie getal? (b) Waarom is dit betekenisvol dat sterrekundiges sukkel om die sterrestelsels te tel, en wat leer dit ons van Jehovah se skeppingskrag?

7 Jesaja 40:26 antwoord: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem.”Psalm 147:4 sê: “Hy bepaal die getal van die sterre.” Wat is “die getal van die sterre”? Dit is nie ’n eenvoudige vraag nie. Sterrekundiges skat dat daar meer as 100 miljard sterre in ons Melkwegstelsel alleen is. * Maar ons sterrestelsel is net een van baie sterrestelsels, en baie van hulle wemel van selfs meer sterre. Hoeveel sterrestelsels is daar? Volgens party sterrekundiges se skatting is daar 50 miljard. Ander het geraam dat daar tot 125 miljard kan wees. Die mens kan dus nie eens die getal sterrestelsels bepaal nie, wat nog te sê die presiese getal van al die miljarde sterre  daarin. Tog weet Jehovah wat daardie getal is. Wat meer is, hy gee elke ster sy eie naam!

8. (a) Hoe sou jy die grootte van die Melkwegstelsel verduidelik? (b) Deur middel waarvan bepaal Jehovah hoe hemelliggame moet beweeg?

8 Die ontsag wat ons voel, kan net toeneem wanneer ons die grootte van sterrestelsels beskou. Die Melkwegstelsel is volgens skatting 100 000 ligjare in deursnee. Stel jou ’n ligstraal voor wat teen die geweldige snelheid van 300 000 kilometer per sekonde beweeg. Dit sal daardie straal 100 000 jaar neem om deur ons sterrestelsel te trek! En party sterrestelsels is baie, baie groter as ons s’n. Die Bybel sê dat Jehovah hierdie uitgestrekte hemele “uitspan” asof dit maar net ’n stuk lap is (Psalm 104:2). Hy bepaal ook hoe hierdie skeppingswerke moet beweeg. Van die kleinste interstellêre stofdeeltjie tot die magtigste sterrestelsel beweeg alles volgens die fisiese wette wat God verorden en in werking gestel het (Job 38:31-33). Wetenskaplikes het gevolglik die presiese bewegings van die hemelliggame met die choreografie van ’n ingewikkelde ballet vergelyk! Dink dan aan die Een wat hierdie dinge geskep het. Boesem die God wat sulke ontsaglike skeppingskrag het, nie ontsag by jou in nie?

“Die Maker van die aarde deur sy krag”

9, 10. Hoe kan Jehovah se krag gesien word wanneer dit kom by die posisie van ons sonnestelsel, Jupiter, die aarde en die maan?

9 Jehovah se skeppingskrag kan gesien word in ons tuiste, die aarde. Hy het die posisie van die aarde in hierdie ontsaglike heelal baie noukeurig vasgestel. Party wetenskaplikes glo dat baie van die sterrestelsels nie geskik is vir ’n planeet met lewe daarop soos ons s’n nie. ’n Groot deel van ons Melkwegstelsel is klaarblyklik nie gemaak om lewe te onderhou nie. Die middelpunt van die sterrestelsel is propvol sterre. Bestraling is hoog, en die sterre beweeg dikwels rakelings by mekaar verby. Aan die buiterande van die sterrestelsel ontbreek baie van die elemente wat noodsaaklik is  vir lewe. Ons sonnestelsel is ideaal tussen hierdie uiterstes geleë.

10 Die Aarde vind baat by ’n vergeleë maar reusebeskermer—die planeet Jupiter. Jupiter is meer as ’n duisend keer groter as die Aarde en oefen geweldige swaartekrag uit. Die gevolg? Dit absorbeer voorwerpe wat deur die ruimte voortspoed of laat hulle van koers verander. Wetenskaplikes reken dat, as Jupiter nie daar was nie, 10 000 keer meer voorwerpe op die aarde sou neerreën as nou. Nader aan die aarde is ’n buitengewone satelliet—die maan. Die maan is nie net mooi en ’n “naglig” nie, maar dit hou ook die aarde in sy effens oorgehelde posisie. Hierdie helling gee die aarde sy vaste, voorspelbare seisoene—nog ’n belangrike voordeel vir lewe hier.

11. Hoe is die aarde se atmosfeer gemaak om as ’n skerm te dien?

11 Jehovah se skeppingskrag kan in elke faset van die aarde se ontwerp gesien word. Dink aan die atmosfeer, wat as ’n skerm dien. Die son straal gesonde en dodelike strale uit. Wanneer die dodelike strale die aarde se bo-atmosfeer tref, laat hulle gewone suurstof in osoon verander. Die osoonlaag wat ontstaan, absorbeer dan weer die meeste van hierdie strale. Ons planeet is as ’t ware met sy eie beskermende sambreel gemaak!

12. Hoe lig die atmosfeer se waterkringloop Jehovah se skeppingskrag toe?

12 Dit is net een aspek van ons atmosfeer, ’n komplekse mengsel van gasse wat ten volle geskik is om die skepsele te onderhou wat op of naby die aarde se oppervlak lewe. Een van die wonders van die atmosfeer is die waterkringloop. Elke jaar laat die son meer as 400 000 kubieke kilometer water uit die aarde se oseane en seë verdamp. Die water vorm wolke, wat deur atmosferiese winde wyd en syd gewaai word. Hierdie water, wat nou gefiltreer en gesuiwer is, val as reën, sneeu en ys en vul watervoorrade aan. Dit is net soos Prediker 1:7 sê: “Al die winterstrome gaan uit na die  see; tog is die see nie vol nie. Na die plek waar die winterstrome uitgaan, daarheen keer hulle terug om uit te gaan.” Net Jehovah kon so ’n kringloop in werking gestel het.

13. Watter bewys sien ons van die Skepper se krag in die aarde se plantegroei en die grond?

13 Wanneer ons lewe sien, sien ons bewys van die Skepper se krag. Van die geweldige groot rooihoutbome wat hoër as geboue van 30 verdiepings groei, tot die mikroskopiese plante waarvan die oseane wemel en wat baie van die suurstof voorsien wat ons inasem, lewer getuienis van Jehovah se skeppingskrag. Selfs die grond is vol lewende dinge—wurms, swamme en mikrobes, wat almal op ingewikkelde maniere saamwerk om plante te laat groei. Die Bybel sê gepas dat die grond krag het.—Genesis 4:12.

14. Watter potensiële krag is daar selfs in die mikroskopiese atoom?

14 Jehovah is sonder twyfel “die Maker van die aarde deur sy krag” (Jeremia 10:12). God se krag kan gesien word selfs in die kleinste dingetjies wat hy geskep het. Byvoorbeeld, ’n miljoen atome wat langs mekaar gesit word, sou nie so dik soos ’n mensehaar wees nie. En al sou ’n atoom vergroot word totdat dit so hoog soos ’n gebou met 14 verdiepings is, sou die kern so klein soos ’n korreltjie sout op die sewende verdieping wees. Tog is daardie mikroskopiese kern die bron van die ontsagwekkende krag wat in ’n kernontploffing vrygestel word!

“Alles wat asemhaal”

15. Watter les het Jehovah Job geleer deur verskillende wilde diere te bespreek?

15 Nog ’n duidelike bewys van Jehovah se skeppingskrag is in die oorvloed van dierelewe op die aarde.Psalm 148 noem baie van die dinge wat Jehovah loof, en vers 10 meld onder meer “wilde diere en alle mak diere”. Om te toon waarom die mens ontsag vir die Skepper moet hê, het Jehovah eenkeer met Job gepraat oor diere soos die leeu, die  sebra, die wilde bul, die Behemot (of seekoei) en die Leviatan (blykbaar die krokodil). Wat was die punt? As hierdie kragtige, vreeswekkende en ontembare diere ontsag by die mens inboesem, hoe moet hy dan oor hulle Skepper voel?—Job, hoofstukke 38-41.

16. Wat beïndruk jou omtrent party van die voëls wat Jehovah geskep het?

16 Psalm 148:10 meld ook “gevleuelde voëls”. Dink net aan die verskeidenheid! Jehovah het vir Job van die volstruis vertel, wat ‘die perd en sy ruiter uitlag’. Ja, hierdie voël wat 2,5 meter hoog word, kan miskien nie vlieg nie, maar hy kan 65 kilometer per uur hardloop en treë van tot 4,5 meter gee! (Job 39:13, 18). Die albatros daarenteen bestee die grootste deel van sy lewe in die lug bo die seë. Hierdie voël is ’n natuurlike swewer en het ’n vlerkspan van ongeveer drie meter. Hy kan ure lank sweef sonder om sy vlerke te klap. In teenstelling hiermee is die bykolibrie, wat net vyf sentimeter lank is, die kleinste voëltjie ter wêreld. Hy kan sy vlerke tot 80 keer per sekonde klap! Kolibries, wat soos klein gevleuelde juwele glinster, kan soos helikopters in die lug hang en selfs agtertoe vlieg.

17. Hoe groot is die blouwalvis, en tot watter slotsom behoort ons uiteraard te kom nadat ons gekyk het na die diere wat Jehovah geskep het?

17 Psalm 148:7 sê dat selfs die “seemonsters” Jehovah loof. Kyk ’n bietjie na wat mense dikwels meen die grootste dier is wat nog op hierdie planeet gelewe het, naamlik die blouwalvis. Hierdie ‘seemonster’ kan tot 30 meter of langer word. Dit kan soveel weeg soos ’n trop van 30 volgroeide olifante. Sy tong alleen weeg soveel soos een olifant. Sy hart is so groot soos ’n klein motorvoertuig. Hierdie groot orgaan klop net 9 keer per minuut—in teenstelling met die kolibrie se hart, wat sowat 1 200 keer per minuut kan klop. Ten minste een van die blouwalvis se bloedvate is so groot dat ’n kind daarin kan kruip. Ons hart beweeg ons ongetwyfeld om die aansporing te beaam waarmee die boek  Psalms afsluit: “Laat alles wat asemhaal, Jah loof.”—Psalm 150:6.

Leer uit Jehovah se skeppingskrag

18, 19. Hoe uiteenlopend is die lewende dinge wat Jehovah op die aarde gemaak het, en wat leer die skepping ons van sy soewereiniteit?

18 Wat leer ons uit Jehovah se gebruik van sy skeppingskrag? Die verskeidenheid skeppingswerke vervul ons met ontsag. ’n Psalmis het uitgeroep: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! . . . Die aarde is vol van wat u voortgebring het” (Psalm 104:24). Hoe waar tog! Bioloë het nou al baie meer as ’n miljoen spesies onder al die lewende dinge op aarde geïdentifiseer; maar party meen dat daar tot 10 miljoen, 30 miljoen of selfs meer kan wees. ’n Mensekunstenaar vind dalk dat sy skeppingsvermoë hom soms in die steek laat. Daarenteen is Jehovah se skeppingsvermoë—sy vermoë om nuwe en uiteenlopende dinge uit te dink en te skep—klaarblyklik onuitputlik.

19 Jehovah se gebruik van sy skeppingskrag leer ons iets omtrent sy soewereiniteit. Die woord “Skepper” onderskei Jehovah van alle ander dinge in die heelal, wat alles deel van die “skepping” is. Selfs Jehovah se enigverwekte Seun, wat gedurende die skepping as “’n meesterwerker” gedien het, word nooit in die Bybel Skepper of Medeskepper  genoem nie (Spreuke 8:30; Matteus 19:4). Hy is eerder “die eersgeborene van die hele skepping” (Kolossense 1:15). Jehovah se posisie as die Skepper gee hom die intrinsieke reg om alleenheerskappy oor die ganse heelal te voer.—Romeine 1:20; Openbaring 4:11.

20. In watter sin het Jehovah gerus sedert hy sy aardse skeppingswerke voltooi het?

20 Het Jehovah opgehou om sy skeppingskrag aan te wend? Wel, die Bybel sê dat Jehovah, nadat hy sy skeppingswerk op die sesde skeppingsdag voltooi het, “op die sewende dag begin rus [het] van al sy werk wat hy gemaak het” (Genesis 2:2). Die apostel Paulus het aangedui dat hierdie sewende “dag” duisende jare lank is, want dit het nog in sy dag voortgeduur (Hebreërs 4:3-6). Maar beteken “rus” dat Jehovah heeltemal opgehou het om te werk? Nee, Jehovah hou nooit op werk nie (Psalm 92:4; Johannes 5:17). Sy rus moet dan eenvoudig daarna verwys dat sy fisiese skeppingswerke ten opsigte van die aarde opgehou het. Sy werk om sy voornemens te vervul, het egter onverpoos voortgeduur. Hierdie werk het ingesluit dat hy die Heilige Skrif geïnspireer het. Sy werk het selfs behels dat “’n nuwe skepping” voortgebring is, soos in Hoofstuk 19 bespreek sal word.—2 Korintiërs 5:17.

21. Hoe sal Jehovah se skeppingskrag getroue mense tot in alle ewigheid raak?

21 Wanneer Jehovah se rusdag uiteindelik ten einde loop, sal hy kan verklaar dat al sy werk op die aarde “baie goed” is, soos hy aan die einde van die ses skeppingsdae gesê het (Genesis 1:31). Ons sal moet wag om te sien hoe hy besluit om sy onbeperkte skeppingskrag daarna te gebruik. Hoe dit ook al sy, ons kan seker wees dat Jehovah se gebruik van skeppingskrag ons steeds sal fassineer. Ons sal tot in alle ewigheid meer van Jehovah leer deur middel van sy skeppingswerke (Prediker 3:11). Hoe meer ons van hom leer, hoe dieper sal ons gevoel van ontsag word—en hoe nader sal ons aan ons Grootse Skepper kom.

^ par. 2 Om hierdie ontsaglike syfer in perspektief te sien, kan jy hieraan dink: As jy daardie afstand per motor wou aflê—selfs teen ’n snelheid van 160 kilometer per uur, 24 uur per dag—sou dit jou meer as honderd jaar neem!

^ par. 6 Party dink dat die ou volke in Bybeltye ’n primitiewe soort teleskoop moes gebruik het. Hoe anders, redeneer hulle, kon mense van daardie tye geweet het dat die aantal sterre uit ’n menslike oogpunt so ontsaglik, ontelbaar, was? Sulke ongegronde bespiegelinge laat Jehovah, die Outeur van die Bybel, buite rekening.—2 Timoteus 3:16.

^ par. 7 Dink bietjie hoe lank dit jou sou neem om 100 miljard sterre net te tel. As jy elke sekonde een kon tel—en 24 uur per dag aanhou tel—sou dit jou 3 171 jaar neem!