Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 13

“Die wet van Jehovah is volmaak”

“Die wet van Jehovah is volmaak”

1, 2. Waarom het baie mense minagting vir die wet, maar hoe sal ons moontlik oor God se wette begin voel?

“DIE wet is ’n bodemlose put; dit . . . verslind alles.” Hierdie woorde het in ’n boek verskyn wat in 1712 uitgegee is. Die skrywer het ’n regstelsel gekritiseer waarin hofsake soms jare lank voortgesleep het, terwyl dit diegene wat geregtigheid gesoek het, tot bankrotskap gedryf het. In baie lande is die regstelsel so ingewikkeld, so deurtrek van onregverdigheid, vooroordeel en teenstrydighede dat minagting vir die wet algemeen geword het.

2 Kyk in teenstelling hiermee na dié woorde wat sowat 2 700 jaar gelede geskryf is: “Hoe lief het ek u wet tog!” (Psalm 119:97). Waarom het die psalmis so sterk gevoel? Want die wet wat hy geprys het, het nie by ’n wêreldse regering ontstaan nie, maar by Jehovah God. Wanneer jy Jehovah se wette bestudeer, sal jy moontlik al hoe meer soos die psalmis begin voel. So ’n studie sal jou insig gee in die verstand van die grootste regsgeleerde in die heelal.

Die allerhoogste Wetgewer

3, 4. In watter opsigte het Jehovah getoon dat hy ’n Wetgewer is?

3 “Een is wetgewer en regter”, sê die Bybel vir ons (Jakobus 4:12). Ja, Jehovah is die enigste ware Wetgewer. Selfs die bewegings van die hemelliggame word deur sy “wette van die hemel” beheer (Job 38:33, Die Bybel, 1953). Jehovah se mag der menigte heilige engele word ook deur God se wet gerig, want hulle is in spesifieke range georganiseer en dien onder Jehovah se bevel as sy dienaars.—Psalm 104:4; Hebreërs 1:7, 14.

4 Jehovah het ook aan die mensdom wette gegee. Elkeen van ons het ’n gewete, ’n weerspieëling van Jehovah se sin  vir geregtigheid. Die gewete is ’n soort innerlike wet wat ons help om tussen reg en verkeerd te onderskei (Romeine 2:14). Ons eerste ouers was geseën met ’n volmaakte gewete, en daarom het hulle net ’n paar wette nodig gehad (Genesis 2:15-17). Maar onvolmaakte mense het meer wette nodig om hulle te rig om God se wil te doen. Aartsvaders soos Noag, Abraham en Jakob het wette van Jehovah God ontvang en dit aan hulle families oorgedra (Genesis 6:22; 9:3-6; 18:19; 26:4, 5). Jehovah het homself op ’n ongekende manier ’n Wetgewer laat word toe hy deur middel van Moses ’n regskode aan die nasie Israel gegee het. Hierdie regskode gee ons diep insig in Jehovah se sin vir geregtigheid.

Die Mosaïese Wet—’n oorsig

5. Was die Mosaïese Wet ’n omslagtige, ingewikkelde stel wette, en waarom sê jy so?

5 Baie dink blykbaar dat die Mosaïese Wet ’n omslagtige, ingewikkelde stel wette was. So ’n idee is heeltemal verkeerd. Daar is meer as 600 wette in die hele kode. Dit klink miskien na baie, maar dink net ’n bietjie: Teen die einde van die 20ste eeu het die federale wette van die Verenigde State meer as 150 000 bladsye in regsboeke beslaan. Daar word elke twee jaar ongeveer 600 nuwe wette bygevoeg! Wat hoeveelheid betref, word die Mosaïese Wet dus verreweg oortref deur die berg van mensewette. En tog het God se Wet die Israeliete gerig op lewensgebiede waaraan hedendaagse wette nie eens raak nie. Kyk na ’n oorsig daarvan.

6, 7. (a) Wat onderskei die Mosaïese Wet van enige ander regskode, en wat is dié Wet se grootste gebod? (b) Hoe kon die Israeliete toon dat hulle Jehovah se soewereiniteit aanvaar?

6 Die Wet het Jehovah se soewereiniteit verhef. Die Mosaïese Wet kan dus met geen ander regskode vergelyk word nie. Die grootste wet was: “Luister, o Israel: Jehovah ons God is een Jehovah. En jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou lewenskrag.” Hoe moes God se volk hulle liefde vir hom toon? Hulle moes hom dien en  hulle aan sy soewereiniteit onderwerp.—Deuteronomium 6:4, 5; 11:13.

7 Elke Israeliet het getoon dat hy Jehovah se soewereiniteit aanvaar deur onderdanig te wees aan dié wat gesag oor hom gegee is. Ouers, owerstes, rigters, priesters en later die koning het almal Goddelike gesag verteenwoordig. Jehovah het enige opstand teen diegene in gesagsposisies as opstand teen hom beskou. Daarenteen kon diegene in gesagsposisies hulle Jehovah se toorn op die hals haal as hulle sy volk onregverdig of uit die hoogte behandel het (Eksodus 20:12; 22:28; Deuteronomium 1:16, 17; 17:8-20; 19:16, 17). Albei partye het dus die verantwoordelikheid gehad om God se soewereiniteit te ondersteun.

8. Hoe het die Wet Jehovah se standaard van heiligheid gehandhaaf?

8 Die Wet het Jehovah se standaard van heiligheid gehandhaaf. Die woorde “heilig” en “heiligheid” kom meer as 280 keer in die Mosaïese Wet voor. Die Wet het God se volk gehelp om te onderskei tussen wat rein en onrein was en het ongeveer 70 verskillende dinge genoem wat ’n Israeliet seremonieel onrein kon maak. Hierdie wette het gehandel oor persoonlike higiëne, dieet en selfs oor wat met uitwerpsels gedoen moes word. Sulke wette het merkwaardige gesondheidsvoordele ingehou. * Maar hulle het ’n meer verhewe doel gehad—om die volk in Jehovah se guns te hou, afgeskeie van die sondige gebruike van die verdorwe nasies om hulle. Kyk na ’n voorbeeld.

9, 10. Watter bepalings oor geslagsomgang en kindergeboorte het die Wet bevat, en watter voordele het hierdie wette ingehou?

9 Volgens bepalings van die Wetsverbond het geslagsomgang en kindergeboorte—selfs onder getroudes—’n tydperk van onreinheid meegebring (Levitikus 12:2-4; 15:16-18). Sulke  bepalings het nie hierdie rein gawes van God in ’n negatiewe lig gestel nie (Genesis 1:28; 2:18-25). Dié wette het eerder Jehovah se heiligheid gehandhaaf en sy aanbidders vry van besmetting gehou. Dit is opmerkenswaardig dat die nasies rondom Israel geneig was om aanbidding met seksuele en vrugbaarheidsritusse te vermeng. Die Kanaänitiese godsdiens het manlike en vroulike prostitusie ingesluit. Verdorwenheid van die ergste graad was die gevolg en het versprei. In teenstelling hiermee het die Wet die aanbidding van Jehovah heeltemal apart gehou van geslagsake. * Daar was ook ander voordele.

10 Daardie wette het hulle ’n belangrike waarheid geleer. * Hoe word die vlek van Adam se sonde per slot van rekening van geslag tot geslag oorgedra? Is dit nie deur geslagsomgang en kindergeboorte nie? (Romeine 5:12). Ja, God se Wet het sy volk herinner aan die immerteenwoordige werklikheid van sonde. Ons almal is trouens in sonde gebore (Psalm 51:5). Ons het vergifnis en verlossing nodig om nader aan ons heilige God te kom.

11, 12. (a) Watter belangrike regsbeginsel het die Wet voorgestaan? (b) Watter maatreëls teen die verdraaiing van die reg het die Wet bevat?

11 Die Wet het Jehovah se volmaakte geregtigheid gehandhaaf. Die Mosaïese Wet het die beginsel van gelyke waarde, of balans, in regsake voorgestaan. Die Wet het dus gesê: “Siel moet vir siel wees, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet” (Deuteronomium 19:21). In die geval van ’n oortreding moes die straf derhalwe by die oortreding pas. Hierdie aspek van Goddelike geregtigheid kon dwarsdeur die  Wet gesien word en is vandag nog noodsaaklik om die losprysoffer van Christus Jesus te verstaan, soos Hoofstuk 14 sal toon.—1 Timoteus 2:5, 6.

12 Die Wet het ook maatreëls teen die verdraaiing van die reg bevat. Byvoorbeeld, ten minste twee getuies was nodig om die geldigheid van ’n aanklag te bevestig. Die straf vir meineed was swaar (Deuteronomium 19:15, 18, 19). Omkopery was ook streng verbode (Eksodus 23:8; Deuteronomium 27:25). Selfs in hulle sakegebruike moes God se volk Jehovah se verhewe standaard van geregtigheid handhaaf (Levitikus 19:35, 36; Deuteronomium 23:19, 20). Daardie edele en regverdige regskode was ’n groot seën vir Israel!

Wette wat barmhartigheid en regverdige behandeling in regsake beklemtoon

13, 14. Hoe het die Wet die regverdige behandeling van ’n dief en sy slagoffer bevorder?

13 Was die Mosaïese Wet ’n onbuigsame stel reëls wat geen ruimte vir barmhartigheid gelaat het nie? Glad nie! Koning Dawid is geïnspireer om te skryf: “Die wet van Jehovah is volmaak” (Psalm 19:7). Soos hy goed geweet het, het die Wet barmhartigheid en regverdige behandeling voorgestaan. Hoe het die Wet dit gedoen?

14 In party lande lyk dit vandag of die wet meer genade en guns aan die misdadigers betoon as medelye met die slagoffers. Byvoorbeeld, diewe word dalk ’n ruk lank in die tronk gesit. Intussen is die slagoffers moontlik sonder hulle besittings, en tog moet hulle die belasting betaal wat hierdie misdadigers van huisvesting en kos voorsien. In eertydse Israel was daar geen tronke soos ons dit vandag ken nie. Daar was streng beperkings op hoe swaar straf kon wees (Deuteronomium 25:1-3). ’n Dief moes die slagoffer vergoed vir wat hy gesteel het. Die dief moes ook verdere vergoeding doen. In watter mate? Dit het verskil. Die regters is blykbaar die vryheid gegee om ’n aantal faktore in ag te neem, soos die sondaar se berou. Dit sou verklaar waarom die vergoeding wat ’n  dief volgens Levitikus 6:1-7 moes doen, baie minder is as dié wat in Eksodus 22:7 genoem word.

15. Hoe het die Wet verseker dat barmhartigheid bewys én geregtigheid uitgeoefen word in die geval van ’n persoon wat iemand per ongeluk doodgemaak het?

15 Die Wet het barmhartigheid getoon deur te erken dat nie alle oortredings opsetlik is nie. Wanneer ’n man byvoorbeeld iemand per ongeluk doodgemaak het, het hy nie siel vir siel betaal as hy die regte ding gedoen het deur na een van die vrystede te vlug wat op verskillende plekke in Israel geleë was nie. Nadat bekwame regters sy saak ondersoek het, moes hy tot die dood van die hoëpriester in die vrystad bly. Dan was hy vry om te woon waar hy wou. So het hy by Goddelike barmhartigheid baat gevind. Hierdie wet het terselfdertyd die kosbaarheid van menselewe beklemtoon.—Numeri 15:30, 31; 35:12-25.

16. Hoe het die Wet sekere persoonlike regte beskerm?

16 Die Wet het persoonlike regte beskerm. Kyk na die maniere waarop dit skuldenaars beskerm het. Die Wet het ’n skuldeiser verbied om die skuldenaar se huis binne te gaan en besittings as ’n pand vir ’n lening te neem. ’n Skuldeiser moes eerder buite bly en die skuldenaar toelaat om die pand na hom toe te bring. Sodoende het ’n man se huis ongeskonde gebly. As die skuldeiser die skuldenaar se bokleed as ’n pand geneem het, moes hy dit teen die aand terugbring, want die skuldenaar het dit waarskynlik nodig gehad om in die nag warm te bly.—Deuteronomium 24:10-14.

17, 18. Hoe het die Israeliete van ander nasies verskil wat oorlogvoering betref, en waarom?

17 Selfs oorlogvoering is deur die Wet beheer. God se volk moes oorlog voer, nie bloot om ’n sug na mag of oorwinning te bevredig nie, maar om as God se verteenwoordigers in “die Oorloë van Jehovah” op te tree (Numeri 21:14). In baie gevalle moes die Israeliete eers voorwaardes vir oorgawe aanbied. As ’n stad die aanbod verwerp het, dan kon Israel dit beleër—maar volgens God se reëls. In teenstelling met  baie soldate deur die geskiedenis heen was die manne in Israel se leër nie toegelaat om vroue te verkrag of mense sommer voor die voet dood te maak nie. Hulle moes selfs respek vir die omgewing hê en nie die vyand se vrugtebome afkap nie. * Ander leërs is nie sulke beperkings opgelê nie.—Deuteronomium 20:10-15, 19, 20; 21:10-13.

18 Sidder jy wanneer jy hoor dat kinders in party lande as soldate opgelei word? In eertydse Israel is geen man onder 20 vir krygsdiens aanvaar nie (Numeri 1:2, 3). Selfs ’n volwasse man is vrygestel as hy te bang was. ’n Pas getroude man het vir ’n hele jaar vrystelling gekry sodat hy die geboorte van ’n erfgenaam kon sien voordat hy sulke gevaarlike diens onderneem. Sodoende, het die Wet verduidelik, kon die jong eggenoot aan sy nuwe vrou “vreugde verskaf”.—Deuteronomium 20:5, 6, 8; 24:5.

19. Watter voorsienings het die Wet bevat wat vroue, kinders, gesinne, weduwees en wese beskerm het?

19 Die Wet het ook vroue, kinders en gesinne beskerm en na hulle belange omgesien. Dit het ouers beveel om voortdurend aan hulle kinders aandag te gee en hulle in geestelike dinge te onderrig (Deuteronomium 6:6, 7). Dit het alle vorme van bloedskande op straf van die dood verbied (Levitikus, hoofstuk 18). Dit het ook egbreuk verbied, wat gesinne so dikwels laat verbrokkel en van sekuriteit en waardigheid beroof. Die Wet het voorsiening gemaak vir die behoeftes van weduwees en wese en het ten sterkste verbied dat hulle mishandel word.—Eksodus 20:14; 22:22-24.

20, 21. (a) Waarom het die Mosaïese Wet veelwywery onder die Israeliete toegelaat? (b) Waarom het die Wet in die kwessie van egskeiding verskil van die standaard wat Jesus later herstel het?

20 Party wonder dalk in hierdie verband: ‘Waarom het  die Wet veelwywery toegelaat?’ (Deuteronomium 21:15-17). Ons moet sulke wette in die konteks van die tye beskou. Diegene wat die Mosaïese Wet in die konteks van hedendaagse tye en kulture beoordeel, sal dit ongetwyfeld verkeerd verstaan (Spreuke 18:13). Jehovah se standaard, wat in Eden gestel is, het die huwelik ’n blywende verbintenis tussen een man en een vrou gemaak (Genesis 2:18, 20-24). Maar teen die tyd dat Jehovah die Wet aan Israel gegee het, was gebruike soos veelwywery al eeue lank stewig gevestig. Jehovah het goed geweet dat sy “hardnekkige volk” dikwels sou versuim om selfs die mees basiese gebooie te gehoorsaam, soos dié wat afgodediens verbied (Eksodus 32:9). In sy wysheid het hy dus nie daardie era gekies om al hulle huweliksgebruike te hervorm nie. Maar hou in gedagte dat Jehovah nie veelwywery ingestel het nie. Hy het egter die Mosaïese Wet gebruik om veelwywery onder sy volk te reguleer en te voorkom dat dit misbruik word.

21 Die Mosaïese Wet het ook ’n redelike groot verskeidenheid ernstige gronde uiteengesit waarop ’n man van sy vrou kon skei (Deuteronomium 24:1-4). Jesus het gesê dat dit ’n toegewing is wat God aan die Joodse volk gemaak het “weens die hardheid van [hulle] harte”. Maar sulke toegewings was tydelik. Jesus het vir sy volgelinge Jehovah se oorspronklike standaard vir die huwelik herstel.—Matteus 19:8.

Die Wet het liefde bevorder

22. Op watter maniere het die Mosaïese Wet liefde bevorder, en teenoor wie?

22 Kan jy jou ’n hedendaagse regstelsel voorstel wat liefde bevorder? Die Mosaïese Wet het allereers liefde bevorder. In die boek Deuteronomium alleen kom die woord vir “liefde” meer as 20 keer in verskillende vorme voor. “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, was die tweede grootste gebod in die hele Wet (Levitikus 19:18; Matteus 22:37-40). God se volk moes hierdie liefde nie net aan mekaar betoon nie, maar ook aan die inwonende vreemdelinge onder hulle, terwyl  hulle in gedagte gehou het dat die Israeliete ook eens op ’n tyd inwonende vreemdelinge was. Hulle moes liefde aan die armes en geteisterdes bewys deur hulle materieel te help en nie hulle swakhede uit te buit nie. Hulle is selfs aangesê om lasdiere goed en bedagsaam te behandel.—Eksodus 23:6; Levitikus 19:14, 33, 34; Deuteronomium 22:4, 10; 24:17, 18.

23. Wat is die skrywer van Psalm 119 beweeg om te doen, en wat kan ons ons voorneem om te doen?

23 Watter ander nasie is met so ’n regskode geseën? Geen wonder nie dat die psalmis geskryf het: “Hoe lief het ek u wet tog!” Sy liefde was egter nie net ’n gevoel nie. Dit het hom tot dade beweeg, want hy het probeer om daardie wet te gehoorsaam en daarvolgens te lewe. En hy het verder gesê: “Die hele dag oordink ek [u wet]” (Psalm 119:11, 97). Ja, hy het gereeld tyd daaraan bestee om Jehovah se wette te bestudeer. Terwyl hy dit gedoen het, het sy liefde daarvoor ongetwyfeld toegeneem. Terselfdertyd het sy liefde vir die Wetgewer, Jehovah God, ook sterker geword. Mag jy ook, terwyl jy voortgaan om God se wet te bestudeer, steeds nader kom aan Jehovah, die Groot Wetgewer en God van geregtigheid.

^ par. 8 Byvoorbeeld, wette wat vereis het dat menslike uitwerpsels begrawe word, dat die siekes onder kwarantyn geplaas word en dat iemand wat aan ’n lyk geraak het, hom moes was, was hulle tyd eeue vooruit.—Levitikus 13:4-8; Numeri 19:11-13, 17-19; Deuteronomium 23:13, 14.

^ par. 9 Terwyl Kanaänitiese tempels vertrekke gehad het wat vir seksuele bedrywighede afgesonder is, het die Mosaïese Wet gesê dat dié wat onrein was, nie eens die tempel kon binnegaan nie. Aangesien geslagsomgang ’n tydperk van onreinheid meegebring het, kon niemand seks dus wettiglik deel van aanbidding by Jehovah se huis maak nie.

^ par. 10 Onderrigting was ’n vername doel van die Wet. Trouens, die Encyclopaedia Judaica meld dat die Hebreeuse woord vir “wet”, too·rahʹ, “onderrigting” beteken.

^ par. 17 Die Wet het reguit gevra: “Is die boom van die veld ’n mens, dat dit deur jou beleër moet word?” (Deuteronomium 20:19). Filo, ’n Joodse geleerde van die eerste eeu, het hierdie wet aangehaal en verduidelik dat God meen dit is “onregverdig dat die woede wat teen mense ontvlam, gekoel word op dinge waarin daar geen boosheid is nie”.