Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 20

“Wys van hart”—En tog nederig

“Wys van hart”—En tog nederig

1-3. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah nederig is?

’N VADER wil sy jong kindjie ’n baie belangrike les leer. Hy is gretig om sy hart te bereik. Hoe moet hy die saak benader? Moet hy intimiderend oor die kind staan en kwaai woorde gebruik? Of moet hy afbuk sodat hy op dieselfde vlak as die kind is en op ’n vriendelike, liefdevolle manier praat? ’n Wyse, nederige vader sal ongetwyfeld die vriendelike benadering kies.

2 Watter soort Vader is Jehovah—hoogmoedig of nederig, kwaai of vriendelik? Jehovah is alwetend, alwys. Maar het jy al agtergekom dat kennis en intelligensie mense nie noodwendig nederig maak nie? Soos die Bybel sê: “Kennis maak opgeblase” (1 Korintiërs 3:19; 8:1). Maar Jehovah, wat “wys van hart” is, is ook nederig (Job 9:4). Dit beteken geensins dat hy ’n lae posisie beklee of dat dit hom aan heerlikheid ontbreek nie, maar eerder dat hy nie hoogmoedig is nie. Waarom kan ons dit sê?

3 Jehovah is heilig. Hoogmoed, ’n eienskap wat verontreinig, is dus nie in hom nie (Markus 7:20-22). Let ook op wat die profeet Jeremia vir Jehovah gesê het: “Vir seker sal u siel [Jehovah self] aan my dink en hom oor my neerbuig” (Klaagliedere 3:20). * Dink net daaraan! Jehovah, die Soewereine Heer van die heelal, was bereid om ‘hom neer te buig’, of af te kom tot op Jeremia se vlak, om aan daardie onvolmaakte mens goedgunstige aandag te skenk (Psalm 113:7). Ja, Jehovah is nederig. Maar wat behels Goddelike  nederigheid? Hoe hou dit verband met wysheid? En waarom is dit vir ons belangrik?

In watter sin Jehovah nederig is

4, 5. (a) Wat is nederigheid, hoe word dit geopenbaar, en waarom moet dit nooit met swakheid of skugterheid verwar word nie? (b) Hoe het Jehovah nederigheid in sy handelinge met Dawid getoon, en hoe belangrik is Jehovah se nederigheid vir ons?

4 Nederigheid is ootmoedigheid, ’n afwesigheid van verwaandheid en trots. Nederigheid, wat ’n innerlike kenmerk van die hart is, word geopenbaar in eienskappe soos sagmoedigheid, geduld en redelikheid (Galasiërs 5:22, 23). Maar hierdie godvrugtige eienskappe moet nooit met swakheid of skugterheid verwar word nie. Hulle is nie strydig met Jehovah se regverdige toorn of sy gebruik van vernietigingskrag nie. Inteendeel, deur sy nederigheid en sagmoedigheid toon Jehovah sy ontsaglike krag, sy vermoë om hom volmaak te beheers (Jesaja 42:14). Hoe hou nederigheid verband met wysheid? Een naslaanwerk oor die Bybel sê: “Nederigheid word die beste gedefinieer . . . in terme  van onselfsugtigheid en is ’n noodsaaklike grondslag vir alle wysheid.” Ware wysheid kan dus nie sonder nederigheid bestaan nie. Hoe strek Jehovah se nederigheid ons tot voordeel?

’n Wyse vader handel op ’n nederige en sagmoedige manier met sy kinders

5 Koning Dawid het voor Jehovah gesing: “U sal my u skild van redding gee, en u regterhand sal my onderskraag, en u nederigheid sal my groot maak” (Psalm 18:35). Jehovah het hom as ’t ware neergebuig om handelinge met hierdie onvolmaakte mens te hê en het hom dag vir dag beskerm en onderskraag. Dawid het besef dat redding—en selfs uiteindelik ’n mate van grootheid as koning—slegs vir hom moontlik sou wees omdat Jehovah bereid is om sulke nederigheid aan die dag te lê. Wie van ons sou immers enige hoop op redding gehad het as Jehovah nie nederig was nie, bereid om hom neer te buig om as ’n sagmoedige en liefdevolle Vader met ons te handel?

6, 7. (a) Waarom sê die Bybel nooit dat Jehovah beskeie is nie? (b) Watter verband is daar tussen sagmoedigheid en wysheid, en wie stel die grootste voorbeeld in hierdie opsig?

6 Dit is opmerkenswaardig dat daar ’n verskil tussen nederigheid en beskeidenheid is. Beskeidenheid is ’n pragtige eienskap vir getroue mense om aan te kweek. Soos nederigheid hou dit verband met wysheid.Spreuke 11:2 sê byvoorbeeld: “Wysheid is by die beskeidenes.” Maar die Bybel sê nooit dat Jehovah beskeie is nie. Waarom nie? Beskeidenheid, soos dit in die Skrif gebruik word, dui op ’n gepaste bewustheid van jou eie beperkings. Die Almagtige het geen beperkings nie behalwe dié wat hy homself oplê weens sy regverdige standaarde (Markus 10:27; Titus 1:2). Wat meer is, as die Allerhoogste is hy aan niemand onderworpe nie. Die begrip “beskeidenheid” is dus eenvoudig nie op Jehovah van toepassing nie.

7 Jehovah is egter wel nederig en sagmoedig. Hy leer sy knegte dat sagmoedigheid noodsaaklik is vir ware wysheid. Sy Woord praat van “sagmoedigheid wat by wysheid  behoort” (Jakobus 3:13). * Kyk na Jehovah se voorbeeld in hierdie opsig.

Jehovah delegeer en luister nederig

8-10. (a) Waarom is dit merkwaardig dat Jehovah bereid is om te delegeer en na ander te luister? (b) Hoe het die Almagtige op ’n nederige wyse met sy engele gehandel?

8 ’n Hartverblydende bewys van Jehovah se nederigheid kan gesien word in die feit dat hy bereid is om verantwoordelikheid te delegeer en na ander te luister. Dit is verbasend dat hy dit enigsins doen; Jehovah het geen hulp of raad nodig nie (Jesaja 40:13, 14; Romeine 11:34, 35). Nietemin toon die Bybel herhaaldelik dat Jehovah hom in hierdie opsigte neerbuig.

9 Kyk byvoorbeeld na ’n uitsonderlike gebeurtenis in Abraham se lewe. Abraham het drie besoekers gehad, een wat hy as “Jehovah” aangespreek het. Die besoekers was in werklikheid engele, maar een van hulle het in Jehovah se naam gekom en in Sy naam opgetree. Toe daardie engel gepraat en opgetree het, was dit in werklikheid Jehovah wat gepraat en opgetree het. Op hierdie manier het Jehovah vir Abraham vertel dat Hy ’n harde “klaaggeroep oor Sodom en Gomorra” gehoor het. Jehovah het gesê: “Ek is vasbeslote om af te gaan sodat ek kan sien of hulle werklik optree volgens die geroep wat daaroor by my gekom het, en so nie, dan kan ek dit te wete kom” (Genesis 18:3, 20, 21). Jehovah se boodskap het natuurlik nie beteken dat die Almagtige self sou ‘afgaan’ nie. Hy het eerder weer eens engele gestuur om hom te verteenwoordig (Genesis 19:1). Waarom? Kon Jehovah, wat alsiende is, nie op sy eie die ware toestand van daardie gebied “te wete kom” nie? Hy kon beslis. Maar Jehovah het uit nederigheid eerder daardie engele die toewysing gegee om die situasie te ondersoek en om Lot en sy gesin in Sodom te besoek.

10 Daarbenewens luister Jehovah na ander. Hy het sy engele  eenkeer gevra om voorstelle te maak oor hoe die ondergang van goddelose koning Agab bewerkstellig kon word. Jehovah het hierdie hulp nie nodig gehad nie. Tog het hy die voorstel van een engel aanvaar en hom die opdrag gegee om dit uit te voer (1 Konings 22:19-22). Was dit nie nederig nie?

11, 12. Hoe het Abraham Jehovah se nederigheid gesien?

11 Jehovah is selfs bereid om te luister na onvolmaakte mense wat oor hulle kwellinge wil praat. Byvoorbeeld, toe Jehovah aanvanklik vir Abraham vertel het van Sy voorneme om Sodom en Gomorra te vernietig, was daardie getroue man dronkgeslaan. “Dit is ondenkbaar van u”, het Abraham gesê en bygevoeg: “Sal die Regter van die hele aarde nie doen wat reg is nie?” Hy het gevra of Jehovah die stede sou spaar as 50 regverdige mense daarin gevind kon word. Jehovah het hom verseker dat Hy dit sou spaar. Maar Abraham het weer gevra en die getal tot 45 verminder, toe tot 40, en so meer. Ondanks Jehovah se versekering het Abraham aangehou totdat die getal tot tien gedaal het. Abraham het miskien nog nie heeltemal begryp hoe barmhartig Jehovah is nie. Hoe dit ook al sy, Jehovah het sy vriend en kneg Abraham geduldig en nederig toegelaat om sy kwellinge op hierdie manier uit te spreek.—Genesis 18:23-33.

12 Hoeveel briljante, geleerde mense sou so geduldig na iemand luister wie se intelligensie soveel laer as hulle s’n is? * Dit is hoe nederig ons God is. Gedurende dieselfde gesprek het Abraham ook gesien dat Jehovah “nie gou toornig word nie” (Eksodus 34:6). Moontlik omdat hy besef het dat hy geen reg het om die dade van die Allerhoogste te bevraagteken nie, het Abraham twee keer gesmeek: “Mag Jehovah se toorn asseblief tog nie ontvlam nie” (Genesis 18:30, 32). Natuurlik het Jehovah se toorn nie ontvlam nie. Hy het werklik die “sagmoedigheid wat by wysheid behoort”.

 Jehovah is redelik

13. Wat beteken die woord “redelik” soos dit in die Bybel gebruik word, en waarom is hierdie woord ’n gepaste beskrywing van Jehovah?

13 Jehovah se nederigheid word in nog ’n pragtige eienskap geopenbaar—redelikheid. Daar is ’n jammerlike gebrek aan hierdie eienskap onder onvolmaakte mense. Jehovah is nie net bereid om na sy intelligente skepsele te luister nie, maar hy is ook bereid om toe te gee wanneer regverdige beginsels nie geskend sal word nie. Soos dit in die Bybel gebruik word, beteken die woord “redelik” letterlik “toegewend”. Hierdie eienskap is ook ’n kenmerk van Goddelike wysheid.Jakobus 3:17 sê: “Die wysheid van bo is . . . redelik.” In watter sin is die alwyse Jehovah redelik? Om maar een ding te noem, hy is aanpasbaar. Onthou dat sy naam ons leer dat Jehovah homself laat word wat ook al nodig is om sy voornemens te vervul (Eksodus 3:14). Toon dit nie ’n gees van aanpasbaarheid en redelikheid nie?

14, 15. Wat leer Esegiël se visioen van Jehovah se hemelse strydwa ons omtrent Jehovah se hemelse organisasie, en hoe verskil dit van wêreldse organisasies?

14 Daar is ’n merkwaardige Skrifgedeelte wat ons help om Jehovah se aanpasbaarheid in ’n mate te verstaan. Die profeet Esegiël is ’n visioen gegee van Jehovah se hemelse organisasie van geesskepsele. Hy het ’n strydwa van ontsagwekkende afmetings gesien—Jehovah se “voertuig” wat altyd onder Sy beheer is. Die manier waarop dit beweeg het, was uiters interessant. Die reusewiele kon in vier rigtings beweeg en was vol oë sodat dit oral kon sien en oombliklik van rigting kon verander sonder om stil te hou of te draai. En dit was nie vir hierdie reusagtige strydwa nodig om met moeite voort te beweeg soos ’n logge, mensgemaakte voertuig nie. Dit kon so vinnig soos ’n weerligstraal beweeg en selfs skerp links of regs draai! (Esegiël 1:1, 14-28). Ja, Jehovah se organisasie is, soos die almagtige Soewerein wat dit beheer, uiters aanpasbaar en reageer op die immer veranderende situasies en behoeftes wat dit moet hanteer.

 15 Mense kan net probeer om sulke volmaakte aanpasbaarheid na te boots. Maar mense en hulle organisasies is alte dikwels eerder onbuigsaam as aanpasbaar, eerder onredelik as toegewend. Ter toeligting: ’n Reusetenkskip of ’n goederetrein is miskien indrukwekkend wanneer dit by grootte of krag kom. Maar kan enigeen van die twee op ’n skielike verandering van omstandighede reageer? As ’n versperring voor ’n goederetrein oor die spoor val, is daar geen sprake van uitdraai nie. Dit is ook nie juis makliker om skielik stil te hou nie. Dit kan ’n swaar goederetrein feitlik twee kilometer neem om stil te hou nadat die rem aangeslaan is! ’n Reusetenkskip kan eweneens nog agt kilometer ver voortbeweeg nadat die enjins afgeskakel is. Selfs wanneer die enjins in trurat gesit is, kan die tenkskip nog drie kilometer ver vaar! Dit is dieselfde met menseorganisasies wat geneig is om onbuigsaam en onredelik te wees. Weens trots weier mense dikwels om hulle by veranderende behoeftes en omstandighede aan te pas. Sulke onbuigsaamheid het al maatskappye bankrot laat gaan en selfs regerings tot ’n val gebring (Spreuke 16:18). Hoe bly kan ons tog wees dat nie Jehovah of sy organisasie enigsins so is nie!

Hoe Jehovah redelikheid toon

16. Hoe het Jehovah voor die vernietiging van Sodom en Gomorra redelikheid in sy handelinge met Lot getoon?

16 Dink weer aan die vernietiging van Sodom en Gomorra. Lot en sy gesin het uitdruklike instruksies van Jehovah se engel ontvang: “Vlug na die bergstreek.” Maar dit het nie vir Lot goed geklink nie. “Asseblief tog nie dit nie, Jehovah!” het hy gesmeek. Lot was oortuig dat hy sou sterf as hy na die berge moes vlug en het gepleit dat hy en sy gesin toegelaat word om na ’n nabygeleë stad met die naam Soar te vlug. Wel, dit was Jehovah se voorneme om daardie stad te vernietig. Boonop was Lot se vrese ongegrond. Jehovah sou Lot tog sekerlik in die berge aan die lewe kon hou! Nietemin het Jehovah toegegee aan Lot se smekinge en Soar gespaar.  “Kyk, ek neem jou ook hierin in aanmerking”, het die engel vir Lot gesê (Genesis 19:17-22). Was dit nie redelik van Jehovah nie?

17, 18. Hoe het Jehovah deur sy handelinge met die Nineviete getoon dat hy redelik is?

17 Jehovah reageer ook op hartgrondige berou en doen altyd wat barmhartig en reg is. Dink aan wat gebeur het toe die profeet Jona na die goddelose, gewelddadige stad Nineve gestuur is. Toe Jona deur die strate van Nineve gegaan het, was die geïnspireerde boodskap wat hy verkondig het, baie eenvoudig: Die magtige stad sou oor 40 dae vernietig word. Maar omstandighede het dramaties verander. Die Nineviete het berou getoon!—Jona, hoofstuk 3.

18 Dit is insiggewend om Jehovah se reaksie op hierdie veranderde omstandighede met Jona se reaksie te vergelyk. In hierdie geval het Jehovah hom by die situasie aangepas en homself ’n Vergewer van sondes in plaas van “’n krygsman” laat word (Eksodus 15:3). * Jona daarenteen was onbuigsaam en glad nie so barmhartig nie. In plaas van Jehovah se redelikheid te weerspieël, het hy meer soos die goederetrein of die reusetenkskip gereageer wat vroeër gemeld is. Hy het oordeel verkondig, en oordeel moes hulle dus ontvang! Maar Jehovah was geduldig en het sy ongeduldige profeet ’n onvergeetlike les in redelikheid en barmhartigheid geleer.—Jona, hoofstuk 4.

Jehovah is redelik en verstaan ons beperkings

19. (a) Waarom kan ons seker wees dat Jehovah redelik is in wat hy van ons verwag? (b) Hoe toon Spreuke 19:17 dat Jehovah ’n ‘goeie en redelike’ Heer asook uiters nederig is?

19 Laastens, Jehovah is redelik in wat hy van ons verwag. Koning Dawid het gesê: “Hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:14). Jehovah verstaan ons beperkings en ons onvolmaakthede beter as wat ons dit  self verstaan. Hy verwag nooit meer van ons as wat ons kan doen nie. Die Bybel vergelyk mensehere wat ‘goed en redelik’ is, met dié wat “moeilik is om te behaag” (1 Petrus 2:18). Watter soort Heer is Jehovah? Let op wat Spreuke 19:17 sê: “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah.” Dit spreek vanself dat slegs ’n goeie en redelike heer sal let op elke goedhartige daad wat ten behoewe van geringes verrig word. Wat meer is, hierdie teks gee te kenne dat die Skepper van die heelal in werklikheid meen dat hy in die skuld staan by die nietige mense wat sulke barmhartige dade verrig! Dit is nederigheid in die hoogste graad.

20. Watter versekering is daar dat Jehovah ons gebede hoor en daarop reageer?

20 Jehovah is net so sagmoedig en redelik in sy handelinge met sy hedendaagse knegte. Wanneer ons in geloof bid, luister hy. En hoewel hy nie engeleboodskappers stuur om met ons te praat nie, moet ons nie tot die slotsom kom dat hy nie ons gebede verhoor nie. Onthou dat die apostel Paulus, toe hy medegelowiges gevra het om ‘aan te hou bid’ vir sy vrylating uit die gevangenis, bygevoeg het: “Sodat ek nog gouer aan julle teruggegee kan word” (Hebreërs 13:18, 19). Ons gebede kan Jehovah dus beweeg om te doen wat hy andersins nie sou gedoen het nie!—Jakobus 5:16.

21. Tot watter slotsom moet ons nooit oor Jehovah se nederigheid kom nie, maar wat moet ons eerder omtrent hom besef?

 21 Nie een van hierdie blyke van Jehovah se nederigheid—sy sagmoedigheid, sy bereidheid om te luister, sy geduld, sy redelikheid—beteken natuurlik dat Jehovah sy regverdige beginsels prysgee nie. Die geestelikes van die Christendom dink dalk dat hulle redelik is wanneer hulle die ore van hulle kuddes streel deur Jehovah se sedelike standaarde af te water (2 Timoteus 4:3). Maar die menslike neiging om beginsels uit eiebelang prys te gee, het niks met Goddelike redelikheid te doen nie. Jehovah is heilig; hy sal nooit sy regverdige standaarde verloën nie (Levitikus 11:44). Laat ons dan Jehovah se redelikheid liefhê vir wat dit is—’n bewys van sy nederigheid. Is dit nie vir jou wonderlik om te dink dat Jehovah God, die wysste Persoon in die heelal, ook uitermate nederig is nie? Wat ’n vreugde is dit tog om nader te kom aan hierdie ontsagwekkende dog sagmoedige, geduldige, redelike God!

^ par. 3 Die kopiïste, of Soferim, van die ou tyd het hierdie vers verander sodat dit sê dat Jeremia hom neerbuig, nie Jehovah nie. Hulle het klaarblyklik gedink dat dit onvanpas is om so ’n nederige daad aan God toe te skryf. Gevolglik mis baie vertalings die punt van hierdie pragtige vers. Maar The New English Bible gee Jeremia se woorde aan God akkuraat weer: “Onthou, o onthou, en daal tot my af.”

^ par. 7 Ander vertalings praat van “die nederigheid wat uit wysheid voortspruit” en “die saggeaardheid wat die kenmerk van wysheid is”.

^ par. 12 Dit is interessant dat die Bybel geduld teenoor hoogmoed stel (Prediker 7:8). Jehovah se geduld verskaf verdere bewys van sy nederigheid.—2 Petrus 3:9.

^ par. 18 Psalm 86:5 sê dat Jehovah “goed en vergewensgesind” is. Toe hierdie psalm in Grieks vertaal is, is die uitdrukking “vergewensgesind” met e·pi·ei·kesʹ, of “redelik”, weergegee.