Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 1

“Kyk! Dit is ons God”

“Kyk! Dit is ons God”

1, 2. (a) Watter vrae sou jy God graag wou vra? (b) Wat het Moses God gevra?

KAN jy jou voorstel dat jy ’n gesprek met God voer? Die blote gedagte is ontsagwekkend—die Soewerein van die heelal praat met jou! Jy huiwer eers, maar dan kry jy darem ’n antwoord uit. Hy luister, hy antwoord en hy gee jou selfs die geleentheid om enige vraag te vra wat jy wil. Watter vraag sou jy dan vra?

2 Lank gelede was daar ’n man wat hom juis in so ’n posisie bevind het. Sy naam was Moses. Die vraag wat hy besluit het om God te vra, sal jou dalk verbaas. Hy het nie oor homself, sy toekoms of selfs die benarde toestand van die mensdom gevra nie. Nee, hy het gevra wat God se naam is. Jy vind dit miskien vreemd, want Moses het reeds geweet wat God se persoonlike naam is. Sy vraag moes dus ’n dieper betekenis gehad het. Dit was in werklikheid die betekenisvolste vraag wat Moses kon gevra het. Die antwoord raak ons almal. Dit kan jou help om iets noodsaakliks te doen sodat jy nader aan God kan kom. Hoe so? Kom ons kyk na daardie merkwaardige gesprek.

3, 4. Watter gebeure het tot Moses se gesprek met God gelei, en wat was die kern van dié gesprek?

3 Moses was 80 jaar oud. Hy het vier dekades lank as ’n vreemdeling gewoon in ’n land ver van sy volk, die Israeliete, wat slawe in Egipte was. Eendag, terwyl hy sy skoonpa se kleinvee opgepas het, het hy ’n vreemde verskynsel gesien. ’n Doringbos was aan die brand, maar dit is nie verteer nie. Dit het net aanhou brand en soos ’n ligbaken teen die berghang geskyn. Moses het nader gegaan om ondersoek in te stel. Hoe moes hy tog nie geskrik het toe  ’n stem vanuit die vuur met hom praat nie! Deur middel van ’n engel as woordvoerder het God en Moses toe ’n lang gesprek gevoer. En soos jy miskien weet, het God daar aan ’n huiwerige Moses die opdrag gegee om sy rustige lewe agter te laat en na Egipte terug te keer om die Israeliete uit slawerny te verlos.—Eksodus 3:1-12.

4 Moses kon God enige vraag gevra het. Maar let op watter vraag hy besluit het om wel te vra: “Gestel ek kom nou by die kinders van Israel en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur’, en hulle sê vir my: ‘Wat is sy naam?’ Wat sal ek vir hulle sê?”—Eksodus 3:13.

5, 6. (a) Watter eenvoudige, lewensbelangrike waarheid leer Moses se vraag ons? (b) Watter laakbare ding is met God se persoonlike naam gedoen? (c) Waarom is dit so betekenisvol dat God sy naam aan die mensdom geopenbaar het?

5 Daardie vraag leer ons eerstens dat God ’n naam het. Ons moenie hierdie eenvoudige waarheid as vanselfsprekend aanneem nie. Tog doen baie dit. God se persoonlike naam is uit tallose Bybelvertalings verwyder en vervang met titels, soos “Here” en “God”. Dit is een van die betreurenswaardigste en laakbaarste dinge wat in die naam van godsdiens gedoen is. Wat is immers die eerste ding wat jy doen wanneer jy iemand ontmoet? Vra jy nie wat sy naam is nie? Dit geld ook as ’n mens God wil leer ken. Hy is nie ’n naamlose, afsydige wese wat nie geken of verstaan kan word nie. Hoewel hy onsigbaar is, is hy ’n persoon, en hy het ’n naam—Jehovah.

6 En wanneer God sy persoonlike naam openbaar, lê daar iets wonderliks en opwindends voor. Hy nooi ons om hom te leer ken. Hy wil hê dat ons die allerbeste keuse in die lewe moet maak—om nader aan hom te kom. Maar Jehovah het ons nie net vertel wat sy naam is nie. Hy het ons ook geleer omtrent die persoon wat deur hierdie naam verteenwoordig word.

 Die betekenis van God se naam

7. (a) Wat word daar gemeen dat God se persoonlike naam beteken? (b) Wat wou Moses eintlik weet toe hy God gevra het wat Sy naam is?

7 Jehovah het sy naam self gekies, ’n naam ryk aan betekenis. Daar word gemeen dat “Jehovah” beteken: “Hy laat word.” Hy is uniek in die ganse heelal, want hy het alles geskep en hy laat al sy voornemens ’n werklikheid word. Dit is ’n ontsagwekkende gedagte. Maar is daar nog iets betrokke by die betekenis van God se naam? Moses wou blykbaar meer weet. Die feit is, hy het geweet dat Jehovah die Skepper is, en hy het geweet wat God se naam is. Die goddelike naam was nie nuut nie. Mense het dit al eeue lank gebruik. Toe Moses gevra het wat God se naam is, wou hy eintlik meer weet van die persoon wat deur die naam verteenwoordig word. Hy het in werklikheid gesê: ‘Wat kan ek u volk Israel van u vertel wat hulle geloof in u sal versterk, wat hulle sal oortuig dat u hulle werklik sal verlos?’

8, 9. (a) Hoe het Jehovah Moses se vraag beantwoord, en wat is fout met die manier waarop Sy antwoord dikwels vertaal word? (b) Wat beteken die woorde “Ek sal word wat ek sal word”?

8 In antwoord hierop het Jehovah ’n opwindende aspek van sy persoonlikheid geopenbaar, iets wat met die betekenis van sy naam verband hou. Hy het vir Moses gesê: “Ek sal word wat ek sal word” (Eksodus 3:14). Baie Bybelvertalings sê hier: “Ek is wat ek is.” Maar noukeurige weergawes toon dat God nie bloot bevestig het dat hy bestaan nie. Jehovah het eerder vir Moses—en by uitbreiding vir ons almal—geleer dat Hy sou “word”, of sou besluit om te word, wat ook al nodig is om Sy beloftes te vervul. J. B. Rotherham se vertaling gee hierdie vers baie raak weer en sê: “Ek sal word wat ek ook al wil.” ’n Kenner van Bybelse Hebreeus verklaar die frase soos volg: “Wat ook al die situasie of behoefte . . . , God sal die oplossing vir daardie behoefte ‘word’.”

9 Wat het dit vir die Israeliete beteken? Ongeag watter struikelblok hulle teëkom, ongeag hoe moeilik die situasie waarin hulle hulle bevind, Jehovah sou word wat ook al nodig is om hulle uit slawerny te bevry en hulle in die  Beloofde Land in te bring. Daardie naam het ongetwyfeld vertroue in God by hulle ingeboesem. Dit kan vandag ook dieselfde vir ons doen (Psalm 9:10). Hoe so?

10, 11. Hoe word ons deur Jehovah se naam aangespoor om aan hom te dink as die veelsydigste en beste Vader wat ons ons kan voorstel? Lig toe.

10 Ter toeligting: Ouers weet hoe veelsydig en aanpasbaar hulle moet wees in die versorging van hulle kinders. In die loop van een dag is dit dalk nodig vir ’n ouer om op te tree as ’n verpleegster, ’n kok, ’n onderwyser, ’n dissiplineerder, ’n regter en nog baie meer. Baie voel oorweldig deur die groot verskeidenheid rolle wat hulle moet vervul. Hulle meld die feit dat hulle kinders absolute vertroue in hulle stel en nooit daaraan twyfel dat Pappie of Mammie die pyn kan verlig, alle geskille kan besleg, ’n stukkende speelding kan regmaak en enige vraag kan beantwoord wat weens hulle onversadigbare weetgierigheid by hulle opkom nie. Party ouers voel onwaardig en soms gefrustreerd weens hulle eie beperkings. Hulle voel hopeloos onbekwaam om baie van hierdie rolle te vervul.

11 Jehovah is ook ’n liefdevolle ouer. Maar in die raamwerk van sy volmaakte standaarde is daar niks wat hy nie kan word om op die beste manier moontlik vir sy aardse kinders te sorg nie. Sy naam, Jehovah, spoor ons dus aan om aan hom te dink as die beste Vader wat ons ons kan voorstel (Jakobus 1:17). Moses en al die ander getroue Israeliete het gou geleer dat Jehovah getrou bly aan sy naam. Hulle het met ontsag toegekyk hoe hy homself ’n onoorwinlike Militêre Bevelvoerder laat word het, asook die Meester van al die elemente, ’n weergalose Wetgewer, Regter, Argitek, Voorsiener van kos en water en die Een wat toegesien het dat hulle klere en skoene nie verslyt nie—en nog meer.

12. Hoe het Farao se gesindheid teenoor Jehovah van Moses s’n verskil?

 12 So het God sy persoonlike naam bekend gemaak, opwindende dinge geopenbaar oor die persoon wat deur hierdie naam verteenwoordig word en selfs getoon dat wat hy oor homself sê, waar is. Dit ly geen twyfel dat God wil hê dat ons hom moet ken nie. Hoe reageer ons hierop? Moses wou God ken. Daardie intense begeerte het Moses se hele lewe beïnvloed en hom baie na aan sy hemelse Vader laat kom (Numeri 12:6-8; Hebreërs 11:27). Ongelukkig het min van Moses se tydgenote dieselfde begeerte gehad. Toe Moses Jehovah se naam voor Farao gemeld het, het daardie trotse Egiptiese koning geantwoord: “Wie is Jehovah?” (Eksodus 5:2). Farao wou nie meer van Jehovah leer nie. Hy het die God van Israel eerder met ’n siniese houding as onbelangrik verwerp. Daardie gesindheid is vandag baie algemeen. Dit verblind mense vir een van die allerbelangrikste waarhede—Jehovah is die Soewereine Heer.

Die Soewereine Heer Jehovah

13, 14. (a) Waarom word Jehovah baie titels in die Bybel gegee, en wat is party daarvan? (Sien venster “ Party van Jehovah se titels.) (b) Waarom is Jehovah alleen daarop geregtig om die “Soewereine Heer” genoem te word?

13 Jehovah is so veelsydig, so aanpasbaar, dat hy tereg ’n groot verskeidenheid titels in die Skrif het. Hulle is nie van groter belang as sy persoonlike naam nie; hulle leer ons eerder meer oor wat sy naam verteenwoordig. Hy word byvoorbeeld die “Soewereine Heer Jehovah” genoem (2 Samuel 7:22). Daardie verhewe titel, wat honderde kere in die Bybel voorkom, vertel ons wat Jehovah se posisie is. Hy alleen het die reg om die Heerser van die ganse heelal te wees. Kyk bietjie waarom.

14 Jehovah is uniek as die Skepper. Openbaring 4:11 sê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.” Hierdie treffende woorde kan op geen ander wese van toepassing wees nie. Alles in die heelal het hulle bestaan aan Jehovah te danke! Jehovah is ongetwyfeld die eer, krag en  heerlikheid waardig wat die Soewereine Heer en Skepper van alles toekom.

15. Waarom word Jehovah “Koning van die ewigheid” genoem?

15 Nog ’n titel wat uitsluitlik op Jehovah toegepas word, is “Koning van die ewigheid” (1 Timoteus 1:17; Openbaring 15:3). Wat beteken dit? Dit is moeilik vir ons beperkte verstand om dit te verstaan, maar Jehovah is ewig in albei rigtings—die verlede en die toekoms. Psalm 90:2 sê: “Van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd is u God.” Jehovah het dus nooit ’n begin gehad nie; hy het altyd bestaan. Hy word tereg “die Oue van Dae” genoem—hy het vir ’n ewigheid bestaan voordat enigiemand of enigiets in die heelal in aansyn gekom het! (Daniël 7:9, 13, 22). Wie kan sy reg om die Soewereine Heer te wees, met rede bevraagteken?

16, 17. (a) Waarom kan ons Jehovah nie sien nie, en waarom moet dit ons nie verbaas nie? (b) In watter sin is Jehovah werkliker as enigiets wat ons kan sien of waaraan ons kan raak?

16 Tog bevraagteken party wel daardie reg, soos Farao gedoen het. Die probleem is deels dat onvolmaakte mense te veel waarde heg aan wat hulle met hulle oë kan sien. Ons kan die Soewereine Heer nie sien nie. Hy is ’n gees, onsigbaar vir mense-oë (Johannes 4:24). Boonop sou dit vir ’n mens van vlees en bloed noodlottige gevolge hê as hy in die onmiddellike teenwoordigheid van Jehovah God sou staan. Jehovah het self vir Moses gesê: “Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan my sien en nogtans lewe nie.”—Eksodus 33:20; Johannes 1:18.

17 Dit behoort ons nie te verbaas nie. Moses het Jehovah se heerlikheid net gedeeltelik gesien, blykbaar deur ’n engel as verteenwoordiger. Wat was die gevolg? Moses se gesig het daarna nog ’n ruk lank “geglinster”. Die Israeliete was selfs bang om direk na Moses se gesig te kyk (Eksodus 33:21-23; 34:5-7, 29, 30). Geen blote mens kan dus ooit na die Soewereine Heer self in al sy heerlikheid kyk nie! Beteken  dit dat hy nie so werklik is soos die dinge wat ons kan sien en waaraan ons kan raak nie? Nee, ons aanvaar geredelik die bestaan van baie dinge wat ons nie kan sien nie—byvoorbeeld die wind, radiogolwe en gedagtes. Jehovah bestaan boonop vir ewig en word nie deur die verloop van tyd, selfs duisendmiljoene jare, geraak nie! In daardie sin is hy baie werkliker as enigiets waaraan ons kan raak of wat ons kan sien, want fisiese dinge word oud en vergaan (Matteus 6:19). Maar moet ons aan hom dink as bloot ’n abstrakte, onpersoonlike krag of ’n vae Eerste Oorsaak? Kom ons kyk.

’n God met ’n persoonlikheid

18. Watter visioen is Esegiël gegee, en wat stel die vier gesigte van die “lewende wesens” by Jehovah voor?

18 Hoewel ons God nie kan sien nie, is daar opwindende dele in die Bybel wat ons ’n kykie in die hemel gee. Die eerste hoofstuk van Esegiël is een voorbeeld. Esegiël is ’n visioen gegee van Jehovah se hemelse organisasie, wat hy as ’n groot hemelse strydwa gesien het. Die beskrywing van die magtige geesskepsele by Jehovah is besonder indrukwekkend (Esegiël 1:4-10). Hierdie “lewende wesens” verkeer in noue omgang met Jehovah, en hulle voorkoms vertel ons iets belangriks omtrent die God wat hulle dien. Elkeen het vier gesigte—dié van ’n bul, ’n leeu, ’n arend en ’n mens. Dit stel klaarblyklik die vier vernaamste eienskappe van Jehovah se persoonlikheid voor.—Openbaring 4:6-8, 10.

19. Watter eienskap word voorgestel deur (a) die bul se gesig? (b) die leeu se gesig? (c) die arend se gesig? (d) die mens se gesig?

19 In die Bybel beeld ’n bul dikwels krag af, en dit is gepas, want ’n bul is ’n baie sterk dier. ’n Leeu daarenteen stel dikwels geregtigheid voor, want ware geregtigheid verg moed, ’n eienskap waarvoor leeus bekend is. Arende is bekend vir hulle skerp gesigsvermoë, want hulle kan selfs  baie klein voorwerpe kilometers ver sien. Die arend se gesig sou dus ’n gepaste voorstelling van God se versiende wysheid wees. En die mens se gesig? Wel, die mens, wat na God se beeld gemaak is, is uniek daarin dat hy God se oorheersende eienskap—liefde—kan weerspieël (Genesis 1:26). Hierdie fasette van Jehovah se persoonlikheid—krag, geregtigheid, wysheid en liefde—kom so dikwels in die Skrif na vore dat dit God se hoofeienskappe genoem kan word.

20. Moet ons ons bekommer dat Jehovah se persoonlikheid dalk verander het, en waarom sê jy so?

20 Is dit vir ons nodig om te wonder of God dalk verander het in die duisende jare sedert hy in die Bybel beskryf is? Nee, God se persoonlikheid verander nie. Hy sê vir ons: “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie” (Maleagi 3:6). Jehovah verander nie na willekeur nie, maar bewys eerder dat hy die volmaakte Vader is deur die manier waarop hy op elke situasie reageer. Hy openbaar die mees gepaste aspekte van sy persoonlikheid. Liefde is die vernaamste van die vier eienskappe. Dit kan gesien word in alles wat God doen. Hy oefen sy krag, geregtigheid en wysheid op ’n  liefdevolle manier uit. Trouens, die Bybel sê iets buitengewoons omtrent God en hierdie eienskap. Dit sê: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Let op dat dit nie sê dat God liefde het of dat God liefdevol is nie. Nee, dit sê God is liefde. Liefde, die kern van sy hele wese, is die dryfkrag van alles wat hy doen.

“Kyk! Dit is ons God”

21. Hoe sal ons voel namate ons Jehovah se eienskappe beter leer ken?

21 Het jy al ’n kindjie gesien wat vir sy maatjies wys wie sy pa is en dan met kinderlike vreugde en trots sê: “Dis my pappie daardie”? God se aanbidders het alle rede om net so oor Jehovah te voel. Die Bybel voorspel ’n tyd wanneer getroue mense sal uitroep: “Kyk! Dit is ons God” (Jesaja 25:8, 9). Hoe beter jy Jehovah se eienskappe verstaan, hoe meer sal jy voel dat jy die beste Vader het wat ’n mens jou kan voorstel.

22, 23. Hoe beeld die Bybel ons hemelse Vader uit, en hoe weet ons dat hy wil hê dat ons na aan hom moet wees?

22 Hierdie Vader is nie ongevoelig of afsydig nie—ongeag wat sommige godsdiensyweraars en filosowe mense geleer het. Ons sou nouliks aangetrokke voel tot ’n ongevoelige God, en die Bybel beeld ons hemelse Vader nie só uit nie. Inteendeel, dit noem hom “die gelukkige God” (1 Timoteus 1:11). Hy het sterk asook teer gevoelens. Hy ‘voel gekrenk in sy hart’ wanneer sy intelligente skepsele die riglyne oortree wat hy vir hulle welsyn voorsien (Genesis 6:6; Psalm 78:41). Maar wanneer ons verstandig optree volgens sy Woord, ‘maak ons sy hart bly’.—Spreuke 27:11.

23 Ons Vader wil hê dat ons na aan hom moet wees. Sy Woord spoor ons aan om “na hom [te] tas en hom werklik [te] vind, hoewel hy eintlik nie ver van elkeen van ons af is nie” (Handelinge 17:27). Maar hoe is dit vir blote mense moontlik om nader aan die Soewereine Heer van die heelal te kom?