Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK 15

Jesus ‘vestig geregtigheid op die aarde’

Jesus ‘vestig geregtigheid op die aarde’

1, 2. By watter geleentheid het Jesus kwaad geword, en waarom?

JESUS was merkbaar kwaad—en met goeie rede. Dit is miskien vir jou moeilik om hom só voor te stel, want hy was ’n baie saggeaarde mens (Matteus 21:5). Hy was natuurlik heeltemal beheers, want sy woede was geregverdig. * Maar wat het hierdie vredeliewende man so kwaad gemaak? ’n Ernstige geval van ongeregtigheid.

2 Die tempel in Jerusalem het Jesus na aan die hart gelê. Dit was die enigste heilige plek in die hele wêreld wat aan die aanbidding van sy hemelse Vader gewy was. Jode uit baie lande het ver gereis om daar te aanbid. Selfs godvresende nie-Jode het daarheen gekom, tot in die tempelvoorhof wat vir hulle gebruik afgesonder is. Maar vroeg in sy bediening het Jesus die tempelterrein binnegegaan en ’n ontstellende gesig gesien. Die plek was meer soos ’n mark as ’n huis van aanbidding! Dit was vol handelaars en geldwisselaars. Maar waar was die ongeregtigheid? Vir hierdie manne was God se tempel bloot ’n plek om mense uit te buit—hulle selfs te beroof. Hoe so?—Johannes 2:14.

3, 4. Watter gierige uitbuiting het by Jehovah se huis plaasgevind, en wat het Jesus gedoen om sake reg te stel?

3 Die godsdiensleiers het beslis dat slegs een spesifieke soort muntstuk gebruik kon word om die tempelbelasting te betaal. Besoekers moes hulle geld wissel om daardie munte te bekom. Geldwisselaars het dus hulle tafels binne-in die  tempel gesit en vir elke transaksie ’n fooi gevra. Die verkoop van diere was ook baie winsgewend. Besoekers wat offerandes wou bring, kon by enige handelaar in die stad koop, maar die tempelbeamptes kon maklik hulle offerdiere as ongeskik verwerp. Maar diere wat daar op die tempelterrein gekoop is, sou sekerlik aanvaar word. Die mense was sodoende oorgelewer aan die genade van die handelaars, wat soms buitensporige pryse gevra het. * Dit was erger as blatante kommersialisme. Dit was in werklikheid roof!

“Neem hierdie goed hier weg!”

4 Jesus kon sulke ongeregtigheid nie duld nie. Dit was sy Vader se huis! Hy het ’n sweep van toue gemaak en al die beeste en skape uit die tempel uitgedryf. Toe het hy na die geldwisselaars gegaan en hulle tafels omgekeer. Stel jou net al daardie muntstukke voor wat oor die marmervloer rol! Hy het die duiweverkopers streng beveel: “Neem hierdie goed hier weg!” (Johannes 2:15, 16). Niemand het dit blykbaar durf waag om hierdie moedige man teë te gaan nie.

Die Seun volg die Vader na

5-7. (a) Hoe het Jesus se voormenslike bestaan sy sin vir geregtigheid beïnvloed, en wat kan ons leer as ons sy voorbeeld bestudeer? (b) Hoe het Christus die onregte met betrekking tot Jehovah se soewereiniteit en naam beveg?

5 Die handelaars het natuurlik teruggekeer. Omtrent drie jaar later het Jesus dieselfde ongeregtigheid aangespreek, en hierdie keer het hy Jehovah se eie woorde aangehaal wat diegene veroordeel wat Sy huis “’n rowerspelonk” maak (Matteus 21:13; Jeremia 7:11). Ja, toe Jesus die gierige uitbuiting van die mense en die verontreiniging van God se  tempel sien, het hy net soos sy Vader gevoel. En geen wonder nie! Jesus is miljoene der miljoene jare lank deur sy hemelse Vader geleer. Gevolglik het hy dieselfde sin vir geregtigheid as Jehovah gehad. Die beste manier om ’n duidelike beeld van Jehovah se geregtigheid te kry, is dus om oor Jesus Christus se voorbeeld na te dink.—Johannes 14:9, 10.

6 Jehovah se enigverwekte Seun was teenwoordig toe Satan Jehovah God ten onregte ’n leuenaar genoem en die regverdigheid van Sy heerskappy betwis het. Watter laster was dit tog! Die Seun het ook Satan se latere aantyging gehoor dat niemand Jehovah onselfsugtig, uit liefde, sou dien nie. Hierdie valse aantygings het ongetwyfeld die Seun se regverdige hart gepynig. Hoe verheug moes hy tog gewees het toe hy uitvind dat hy die sleutelrol daarin sou speel om sake reg te stel! (2 Korintiërs 1:20). Hoe sou hy dit doen?

7 Soos ons in Hoofstuk 14 geleer het, het Jesus Christus die finale, beslissende antwoord gegee op Satan se aantyging wat die onkreukbaarheid van Jehovah se skepsele bevraagteken het. Jesus het sodoende die grondslag gelê vir die finale regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en die heiliging van Sy naam. As Jehovah se Hoofbewerker sal Jesus Goddelike geregtigheid deur die ganse heelal tot stand bring (Handelinge 5:31). Sy lewenswandel op aarde het eweneens Goddelike geregtigheid weerspieël. Jehovah het van hom gesê: “Ek sal my gees op hom plaas, en hy sal aan die nasies duidelik maak wat geregtigheid is” (Matteus 12:18). Hoe het Jesus hierdie woorde vervul?

Jesus maak duidelik “wat geregtigheid is”

8-10. (a) Hoe het die mondelinge oorleweringe van die Joodse godsdiensleiers minagting vir nie-Jode en vroue bevorder? (b) Hoe het die mondelinge wette Jehovah se Sabbatswet ’n las gemaak?

8 Jesus het Jehovah se Wet liefgehad en daarvolgens gelewe.  Maar die godsdiensleiers van sy dag het daardie Wet verdraai en verkeerd toegepas. Jesus het vir hulle gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! . . . Julle het die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam, naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid” (Matteus 23:23). Daardie onderrigters van God se Wet het beslis nie duidelik gemaak “wat geregtigheid is” nie. Hulle het Goddelike geregtigheid eerder verberg. Hoe? Kyk na ’n paar voorbeelde.

9 Jehovah het sy volk beveel om afgeskeie te bly van die heidense nasies rondom hulle (1 Konings 11:1, 2). Party fanatiese godsdiensleiers het egter die volk aangemoedig om alle nie-Jode te minag. Die Misjna het selfs hierdie reël bevat: “Beeste mag nie in die herberge van die heidene gelaat word nie, aangesien hulle van bestialiteit verdink word.” Sulke omvattende vooroordeel teen alle nie-Jode was onregverdig en heeltemal strydig met die gees van die Mosaïese Wet (Levitikus 19:34). Ander mensgemaakte reëls het vroue verneder. Die mondelinge wet het gesê dat ’n vrou agter haar man moet loop, nie langs hom nie. ’n Man is gewaarsku om nie in die openbaar met ’n vrou, selfs sy eie vrou, te praat nie. Net soos slawe, is vroue nie toegelaat om in die hof te getuig nie. Daar was selfs ’n formele gebed waarin mans God gedank het dat hulle nie ’n vrou is nie.

10 Die godsdiensleiers het God se Wet onder ’n hoop mensgemaakte reëls en regulasies begrawe. Byvoorbeeld, die Sabbatswet het eenvoudig werk op die Sabbat verbied en dié dag vir aanbidding, geestelike verkwikking en rus afgesonder. Maar die Fariseërs het hierdie wet ’n las gemaak. Hulle het dit op hulle geneem om te besluit presies wat “werk” beteken. Hulle het 39 verskillende bedrywighede, soos oes of jag, as werk bestempel. Hierdie kategorieë het eindelose vrae laat ontstaan. Jag ’n man as hy ’n vlooi op die Sabbat doodmaak? Oes hy as hy ’n hand vol graan pluk terwyl hy êrens loop? Werk hy as hy iemand genees wat siek is? Sulke vrae is met onbuigsame, uitvoerige reëls beantwoord.

11, 12. Hoe het Jesus getoon dat hy die onskriftuurlike oorleweringe van die Fariseërs verwerp?

 11 Hoe kon Jesus mense in so ’n klimaat help om te verstaan wat geregtigheid is? Deur sy leringe en deur die manier waarop hy gelewe het, het hy moedig standpunt ingeneem teen daardie godsdiensleiers. Kyk eers na party van sy leringe. Hy het hulle tallose mensgemaakte reëls openlik veroordeel en gesê: “Julle [maak] die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle oorgedra het.”—Markus 7:13.

12 Jesus het die mense op kragtige wyse geleer dat die Fariseërs ’n wanbegrip van die Sabbatswet gehad het—dat hulle in werklikheid glad nie die doel van die wet gesnap het nie. Die Messias, het hy verduidelik, is “Here van die sabbat” en het dus die reg om mense op die Sabbat te genees (Matteus 12:8). Om dit te beklemtoon, het hy openlik wonderdadige genesings op die Sabbat verrig (Lukas 6:7-10). Hierdie genesings was ’n voorskou van die genesing wat hy gedurende sy Duisendjarige Heerskappy aardwyd sal verrig. Dié Millennium sal die allergrootste Sabbat wees, wanneer alle getroue mense uiteindelik sal rus van eeue se swaarkry weens die laste van sonde en die dood.

13. Watter wet het tot stand gekom as gevolg van Christus se aardse bediening, en hoe het dit van sy voorganger verskil?

13 Jesus het ook duidelik gemaak wat geregtigheid is deurdat ’n nuwe wet, “die wet van die Christus”, tot stand gekom het nadat hy sy aardse bediening voltooi het (Galasiërs 6:2). Hierdie nuwe wet het, in teenstelling met sy voorganger, die Mosaïese Wet, grootliks op beginsels berus, nie op ’n klomp geskrewe gebooie nie. Dit het egter wel ’n paar regstreekse gebooie ingesluit. Een hiervan het Jesus “’n nuwe gebod” genoem. Jesus het al sy volgelinge geleer om mekaar lief te hê net soos hy hulle liefgehad het (Johannes 13:34, 35). Ja, selfopofferende liefde sou die kenmerk wees van almal wat volgens “die wet van die Christus” lewe.

 ’n Lewende voorbeeld van geregtigheid

14, 15. Hoe het Jesus getoon dat hy die perke van sy eie gesag erken, en waarom is dit gerusstellend?

14 Jesus het mense nie net van liefde geleer nie. Hy het “die wet van die Christus” uitgeleef. Dit kon duidelik gesien word in sy lewenswyse. Kyk na drie maniere waarop Jesus se voorbeeld duidelik gemaak het wat geregtigheid is.

15 Eerstens, Jesus het dit nougeset vermy om hom aan enige ongeregtigheid skuldig te maak. Jy het miskien al gesien dat baie onregte plaasvind wanneer onvolmaakte mense verwaand raak en die perke van hulle gesag oorskry. Jesus het dit nie gedoen nie. By een geleentheid het ’n man na Jesus toe gekom en gesê: “Leermeester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” Jesus se antwoord? “Mens, wie het my as regter of deler oor julle aangestel?” (Lukas 12:13, 14). Is dit nie merkwaardig nie? Jesus se intellek, sy oordeelsvermoë en selfs sy godgegewe gesag was verhewe bo dié van enigiemand op aarde; tog het hy geweier om by hierdie saak betrokke te raak, aangesien hy nie die spesifieke gesag gegee is om dit te doen nie. Jesus was nog altyd beskeie in hierdie opsig, selfs gedurende die millenniums van sy voormenslike bestaan (Judas 9). Dit spreek boekdele vir Jesus dat hy nederig op Jehovah vertrou om te bepaal wat regverdig is.

16, 17. (a) Hoe het Jesus geregtigheid geopenbaar in sy verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk? (b) Hoe het Jesus getoon dat sy sin vir geregtigheid barmhartig was?

16 Tweedens, Jesus het geregtigheid geopenbaar in die manier waarop hy die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig het. Hy het geen vooroordeel getoon nie. Hy het eerder ywerig probeer om alle soorte mense te bereik, hetsy ryk of arm. Die Fariseërs daarenteen het die arm, gewone mense verstoot en hulle minagtend ʽam-ha·ʼaʹrets, of “mense van die land”, genoem. Jesus het daardie onreg moedig reggestel. Wanneer hy mense die goeie nuus geleer het—of wanneer hy saam met mense geëet, hulle gevoed, genees of selfs opgewek het—het hy die geregtigheid gehandhaaf van  die God wat “alle soorte mense” wil bereik. *1 Timoteus 2:4.

17 Derdens, Jesus se sin vir geregtigheid was uiters barmhartig. Hy het uit sy pad gegaan om sondaars te help (Matteus 9:11-13). Hy het mense wat hulleself nie kon beskerm nie, geredelik te hulp gekom. Jesus het byvoorbeeld nie soos die godsdiensleiers wantroue teen alle nie-Jode bevorder nie. Hy het party van hierdie mense uit barmhartigheid gehelp en geleer, hoewel hy hoofsaaklik na die Joodse volk gestuur is. Hy het ingestem om ’n wonderdadige genesing vir ’n Romeinse leëroffisier te verrig en gesê: “By niemand in Israel het ek so ’n groot geloof gevind nie.”—Matteus 8:5-13.

18, 19. (a) Op watter maniere het Jesus die waardigheid van vroue bevorder? (b) Hoe help Jesus se voorbeeld ons om die verband tussen moed en geregtigheid te sien?

18 Jesus het ook nie die heersende beskouings omtrent vroue ondersteun nie. Hy het eerder moedig gedoen wat regverdig was. Samaritaanse vroue is as net so onrein as nie-Jode beskou. Tog het Jesus nie gehuiwer om vir die Samaritaanse vrou by die put van Sigar te getuig nie. Trouens, dit was aan hierdie vrou dat Jesus hom vir die eerste keer openlik as die beloofde Messias geïdentifiseer het (Johannes 4:6, 25, 26). Die Fariseërs het gesê dat vroue nie God se Wet geleer moet word nie, maar Jesus het baie tyd en energie daaraan bestee om vroue te onderrig (Lukas 10:38-42). En terwyl vroue volgens die oorleweringe nie vertrou kon word om betroubare getuienis te lewer nie, het Jesus etlike vroue die voorreg gegee om die eerstes te wees om hom ná sy opstanding te sien. Hy het hulle selfs aangesê om sy manlike dissipels van hierdie allerbelangrikste gebeurtenis te gaan vertel!—Matteus 28:1-10.

 19 Ja, Jesus het aan die nasies duidelik gemaak wat geregtigheid is. In baie gevalle het hy dit gedoen ondanks groot gevaar vir homself. Jesus se voorbeeld help ons om te sien dat dit moed verg om ware geregtigheid te handhaaf. Hy is gepas “die Leeu wat uit die stam Juda is”, genoem (Openbaring 5:5). Onthou dat die leeu ’n simbool van moedige geregtigheid is. Maar in die nabye toekoms sal Jesus selfs groter geregtigheid tot stand bring. Hy sal in die volste sin van die woord “geregtigheid op die aarde” vestig.—Jesaja 42:4.

Die Messiaanse Koning ‘vestig geregtigheid op die aarde’

20, 21. Hoe het die Messiaanse Koning in ons tyd geregtigheid oor die hele aarde en in die Christengemeente bevorder?

20 Sedert Jesus in 1914 die Messiaanse Koning geword het, het hy geregtigheid op die aarde bevorder. Hoe? Hy het die vervulling van sy profesie in Matteus 24:14 ondersteun. Jesus se volgelinge op aarde het mense van alle lande die waarheid oor Jehovah se Koninkryk geleer. Soos Jesus het hulle die predikingswerk op ’n onpartydige en regverdige manier gedoen en probeer om almal—oud of jonk, ryk of arm, man of vrou—’n geleentheid te bied om Jehovah, die God van geregtigheid, te leer ken.

21 Jesus bevorder ook geregtigheid in die Christengemeente, waarvan hy die Hoof is. Soos voorspel is, voorsien hy “gawes in die vorm van mense”, getroue Christen- ouer manne wat die leiding in die gemeente neem (Efesiërs 4:8-12). Terwyl hierdie manne as herders toesig hou oor die kosbare kudde van God, volg hulle die voorbeeld van Jesus Christus deur geregtigheid te bevorder. Hulle hou altyd in gedagte dat Jesus wil hê sy skape moet regverdig behandel word—ongeag hulle stand in die lewe, aansien of materiële omstandighede.

22. Hoe voel Jehovah oor die onregte wat in vandag se wêreld hoogty vier, en wat het hy sy Seun aangestel om daaromtrent te doen?

22 Maar in die nabye toekoms sal Jesus geregtigheid op ’n ongeëwenaarde wyse op die aarde vestig. Ongeregtigheid vier  hoogty in hierdie verdorwe wêreld. Elke kind wat van honger sterf, is ’n slagoffer van ’n onvergeeflike onreg, veral as ons dink aan al die geld en tyd wat aan die vervaardiging van oorlogswapens en die bevrediging van die selfsugtige giere van plesiersoekers bestee word. Die miljoene onnodige sterftes elke jaar is maar net een van baie vorme van ongeregtigheid, wat almal Jehovah se regverdige toorn wek. Hy het sy Seun aangestel om ’n regverdige oorlog teen hierdie hele goddelose stelsel van dinge te voer om vir altyd ’n einde aan alle ongeregtigheid te maak.—Openbaring 16:14, 16; 19:11-15.

23. Hoe sal Christus ná Armageddon geregtigheid tot in alle ewigheid bevorder?

23 Maar Jehovah se geregtigheid vereis meer as net die vernietiging van die goddeloses. Hy het ook sy Seun aangestel om as die “Vredevors” te heers. Ná die oorlog van Armageddon sal Jesus se heerskappy vrede oor die hele aarde tot stand bring, en hy sal “deur middel van geregtigheid” heers (Jesaja 9:6, 7). Jesus sal dan behae daarin skep om al die onregte wat soveel ellende en lyding in die wêreld veroorsaak het, ongedaan te maak. Tot in alle ewigheid sal hy Jehovah se volmaakte geregtigheid getrou handhaaf. Dit is derhalwe noodsaaklik dat ons nou Jehovah se geregtigheid probeer navolg. Kom ons kyk hoe ons dit kan doen.

^ par. 1 Wanneer dit by regverdige toorn kom, was Jesus soos Jehovah, wat ‘geneig is tot woede’ teen alle goddeloosheid (Nahum 1:2). Byvoorbeeld, nadat Jehovah vir sy eiesinnige volk gesê het dat hulle sy huis “’n blote rowerspelonk” gemaak het, het hy gesê: “My toorn en my woede word oor hierdie plek uitgestort.”—Jeremia 7:11, 20.

^ par. 3 Volgens die Misjna is daar ’n paar jaar later protes aangeteken teen die hoë prys van die duiwe wat by die tempel verkoop is. Die prys is dadelik met ’n hele 99 persent verminder! Wie het die meeste munt geslaan uit hierdie winsgewende bedryf? Party geskiedkundiges sê dat die tempelmarkte aan die huis van die hoëpriester Annas behoort het en grootliks tot daardie priesterlike familie se ontsaglike rykdom bygedra het.—Johannes 18:13.

^ par. 16 Die Fariseërs was van mening dat die eenvoudige mense, wat nie met die Wet vertroud was nie, ‘vervloek’ was (Johannes 7:49). Hulle het gesê dat ’n mens nie hierdie mense moet leer of met hulle sake moet doen of saam met hulle moet eet of bid nie. Dit sou erger wees om jou dogter met een van hulle te laat trou as om haar aan wilde diere bloot te stel. Hulle het gereken dat die opstandingshoop nie op hierdie eenvoudiges van toepassing was nie.