Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die wonderwerke—Het hulle werklik plaasgevind?

Die wonderwerke—Het hulle werklik plaasgevind?

Hoofstuk 6

Die wonderwerke—Het hulle werklik plaasgevind?

Op ’n dag in 31 G.J. was Jesus en sy dissipels na Nain, ’n stad in Noord-Palestina, onderweg. Toe hulle naby die poort van die stad gekom het, het hulle ’n lykstoet teëgekom. Die oorledene was ’n jong man. Sy moeder was ’n weduwee, en aangesien hy haar enigste seun was, was sy nou heeltemal alleen. Volgens die verslag het Jesus “innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie! En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op! En die dooie het regop gaan sit en begin praat.”—Lukas 7:11-15.

1. (Sluit die inleiding in.) (a) Watter wonderwerk het Jesus naby die stad Nain verrig? (b) Hoe belangrik is wonderwerke in die Bybel, maar glo alle mense dat hulle werklik plaasgevind het?

DIT is ’n aangrypende verhaal, maar is dit waar? Dit is vir baie mense moeilik om te glo dat sulke dinge werklik plaasgevind het. En tog is wonderwerke ’n integrerende deel van die Bybelverslag. Geloof in die Bybel beteken dat ’n mens glo dat wonderwerke plaasgevind het. Trouens, die hele patroon van Bybelwaarheid berus op een uiters belangrike wonderwerk: die opstanding van Jesus Christus.

Waarom party nie glo nie

2, 3. Wat is een redenasie wat die Skotse filosoof David Hume gebruik het om te probeer bewys dat wonderwerke nie plaasvind nie?

2 Glo jy aan wonderwerke? Of meen jy dat dit in hierdie wetenskaplike eeu onlogies is om aan wonderwerke te glo—dit wil sê, aan buitengewone gebeure wat blyk gee van bomenslike ingryping? As jy nie daaraan glo nie, is jy nie die eerste nie. Twee eeue gelede het die Skotse filosoof David Hume dieselfde probleem gehad. Dalk is die redes waarom jy nie aan wonderwerke glo nie soortgelyk aan syne.

3 Hume se besware teen wonderwerke het drie belangrike punte ingesluit.1 Hy skryf eerstens: “’n Wonderwerk is ’n skending van die natuurwette.” Die mens vertrou al van oudsher op die natuurwette. Hy weet dat ’n voorwerp sal val as ’n mens dit laat val, dat die son elke oggend sal opkom en elke aand sal ondergaan, ensovoorts. Hy weet instinktief dat gebeurtenisse altyd sulke bekende patrone sal volg. Niks sal ooit gebeur wat strydig met die natuurwette is nie. Hierdie ‘bewys’ was volgens Hume “so oortuigend soos enige argument uit die ondervinding” teen die moontlikheid van wonderwerke.

4, 5. Wat is twee ander redes wat David Hume aangevoer het om die moontlikheid van wonderwerke te ontken?

4 ’n Tweede argument wat hy aangevoer het, was dat mense maklik bedrieg word. Party wil aan wonders en wonderwerke glo, veral wanneer dit met godsdiens verband hou, en baie sogenaamde wonderwerke was in werklikheid vals. ’n Derde argument was dat wonderwerke gewoonlik in tye van onkunde gerapporteer is. Hoe geleerder mense geword het, hoe minder wonderwerke is gerapporteer. Soos Hume dit gestel het: “Sulke wonderbaarlike gebeure vind nooit in ons tyd plaas nie.” Dit het dus na sy mening bewys dat hulle nooit plaasgevind het nie.

5 Die meeste argumente teen wonderwerke is vandag nog op hierdie algemene beginsels gegrond. Kom ons ondersoek Hume se besware dus een vir een.

Strydig met die natuurwette?

6. Waarom is dit onlogies om teen wonderwerke beswaar te maak op grond daarvan dat hulle ‘skendings van die natuurwette’ is?

6 Wat van die beswaar dat wonderwerke ‘skendings van die natuurwette’ is en gevolglik nie waar kan wees nie? Oppervlakkig beskou, kan dit oortuigend klink; maar ontleed wat werklik gesê word. ’n Wonderwerk kan gewoonlik gedefinieer word as iets wat buite die normale natuurwette plaasvind. * Dit is ’n gebeurtenis wat so onverwags is dat toeskouers oortuig is dat hulle bomenslike ingryping gesien het. Gevolglik beteken die beswaar eintlik: ‘Wonderwerke is onmoontlik omdat hulle wonderdadig is!’ Ondersoek gerus die getuienis voordat jy so ’n ongegronde gevolgtrekking maak.

7, 8. (a) In watter opsigte het wetenskaplikes met betrekking tot die natuurwette soos ons hulle ken ’n ruimer beskouing verkry van wat moontlik is en nie moontlik is nie? (b) Wat moet ons ook glo met betrekking tot God se vermoë om buitengewone dinge te doen as ons in hom glo?

7 Om die waarheid te sê, hedendaagse geleerde mense is minder bereid as wat David Hume was om te beweer dat die bekende natuurwette te alle tye en oral geld. Wetenskaplikes is bereid om gissings te maak oor die moontlikheid dat daar, pleks van die bekende drie dimensies, naamlik lengte, breedte en hoogte, talle bykomende dimensies in die heelal is.2 Hulle bespiegel oor die bestaan van gravitasiekolke, groot sterre wat ineenstort totdat hulle digtheid feitlik oneindig is. Daar word gesê dat die struktuur van ruimte in hulle omgewing so verwronge is dat tyd self stilstaan.3 Wetenskaplikes het selfs gedebatteer oor die moontlikheid dat tyd in sekere omstandighede agteruit in plaas van vooruit sal beweeg!4

8 Stephen W. Hawking, wiskundeprofessor aan die Universiteit van Cambridge, het in ’n bespreking oor hoe die heelal begin het, gesê: “In die klassieke teorie van algemene relatiwiteit . . . moet die begin van die heelal ’n verwringingspunt van oneindige digtheid en ruimte-tydkromming wees. In sulke omstandighede sal al die bekende wette van die fisika in duie val.”5 Hedendaagse wetenskaplikes stem dus nie saam dat iets wat strydig is met die normale natuurwette nooit kan gebeur nie. In buitengewone omstandighede kan buitengewone dinge gebeur. As ons in ’n almagtige God glo, moet ons tog seker erken dat hy die mag het om buitengewone—wonderdadige—gebeure te laat plaasvind wanneer dit met sy voorneme strook.—Exodus 15:6-10; Jesaja 40:13, 15.

Wat van die valse wonderwerke?

9. Is dit waar dat party wonderwerke vals is? Verduidelik jou antwoord.

9 Geen redelike persoon sou ontken dat daar valse wonderwerke is nie. Party beweer byvoorbeeld dat hulle die vermoë het om die siekes deur wonderdadige geloofsgenesing te genees. ’n Mediese dokter, William A. Nolan, het onderneem om sulke genesings te ondersoek. Hy het ondersoek ingestel na talle beweerde genesings deur evangeliese geloofsgenesers in die Verenigde State sowel as sogenaamde psigiese helers in Asië. Die resultaat? Al wat hy gevind het, was voorbeelde van teleurstelling en bedrog.6

10. Meen jy dat alle wonderwerke bedrog is aangesien daar bewys is dat sommige wonderwerke vals is?

10 Beteken sulke bedrog dat ware wonderwerke nooit plaasgevind het nie? Nie noodwendig nie. Ons hoor soms dat vervalste banknote in omloop gebring word, maar dit beteken nie dat alle geld vervals is nie. Party siekes stel groot geloof in kwaksalwers, onbevoegde dokters, en gee hulle baie geld. Maar dit beteken nie dat alle dokters onbevoeg is nie. Party kunstenaars het skilderye deur die “ou meesters” vaardig vervals. Maar dit beteken nie dat alle skilderye vervalsings is nie. En die feit dat party beweerde wonderwerke klaarblyklik vals is, beteken ook nie dat ware wonderwerke nooit kan plaasvind nie.

‘Wonderwerke vind nie nou plaas nie’

11. Wat was David Hume se derde beswaar teen wonderwerke?

11 Die derde beswaar is in hierdie woorde opgesom: “Sulke wonderbaarlike gebeure vind nooit in ons tyd plaas nie.” Hume het nog nooit ’n wonderwerk gesien nie en het derhalwe geweier om te glo dat wonderwerke kan plaasvind. Maar hierdie soort redenasie is inkonsekwent. Enige denker moet erken dat “wonderbaarlike gebeure” plaasgevind het voor die Skotse filosoof gelewe het en nie gedurende sy leeftyd herhaal is nie. Watter gebeure?

12. Watter wonderlike gebeure het in die verlede plaasgevind wat nie verklaar kan word deur die natuurwette wat vandag geld nie?

12 Vir eers het lewe op aarde begin. Toe is sekere lewensvorme bewustheid gegee. Uiteindelik het die mens verskyn, begaaf met wysheid, verbeelding, die vermoë om lief te hê en ’n gewete. Geen wetenskaplike kan op grond van die natuurwette wat vandag geld, verduidelik hoe sulke buitengewone dinge plaasgevind het nie. Maar ons het lewende bewyse dat dit wel plaasgevind het.

13, 14. Watter dinge wat vir David Hume wonderdadig sou gelyk het, is vandag alledaags?

13 En wat van “wonderbaarlike gebeure” wat sedert David Hume se tyd plaasgevind het? Veronderstel dat ons kon teruggaan in tyd en hom van die hedendaagse wêreld kon vertel. Stel jou voor dat jy probeer verduidelik dat ’n sakeman in Hamburg met iemand duisende kilometers daarvandaan in Tokio kan praat sonder om eens sy stem te verhef; dat ’n sokkerwedstryd in Spanje oor die hele wêreld gesien kan word selfs terwyl dit gespeel word; dat vaartuie baie groter as die seevarende skepe van Hume se tyd van die oppervlak van die aarde kan opstyg en 500 mense binne ’n paar uur duisende kilometers deur die lug kan vervoer. Kan jy jou sy reaksie voorstel? ‘Onmoontlik! Sulke wonderbaarlike gebeure het nooit in ons tyd plaasgevind nie!’

14 Maar sulke ‘wonders’ gebeur wel in ons tyd. Waarom? Omdat die mens, deur gebruik te maak van wetenskaplike beginsels wat Hume glad nie begryp het nie, geleer het om telefone, televisiestelle en vliegtuie te bou. Is dit dan so moeilik om te glo dat God soms in die verlede, op maniere wat ons nog nie verstaan nie, dinge kon gedoen het wat vir ons wonderdadig is?

Hoe kan ons weet?

15, 16. Alleenlik hoe kan ons van wonderwerke te wete kom as hulle werklik plaasgevind het? Lig jou antwoord toe.

15 Die feit dat wonderwerke kon gebeur het, beteken natuurlik nie dat hulle wel gebeur het nie. Hoe kan ons in hierdie 20ste eeu weet of God in Bybelse tye ware wonderwerke deur sy knegte op aarde verrig het of nie? Watter soort getuienis sou jy ter stawing van sulke dinge verwag? Stel jou iemand van ’n primitiewe stam voor wat uit sy oerwoudtuiste geneem is om ’n groot stad te besoek. Hoe kan hy wanneer hy terugkeer vir sy medestamlede die wonders van beskawing beskryf? Hy kan nie verduidelik hoe ’n motor werk of waarom musiek uit ’n draagbare radio kom nie. Hy kan nie ’n rekenaar bou om te bewys dat so iets bestaan nie. Al wat hy kan doen, is om vir hulle te vertel wat hy gesien het.

16 Ons is in dieselfde situasie as daardie man se medestamlede. As God werklik wonderwerke verrig het, kan ons alleenlik deur ooggetuies daarvan te wete kom. Die ooggetuies kan nie verduidelik hoe die wonderwerke plaasgevind het nie en kan hulle ook nie herhaal nie. Hulle kan ons net vertel wat hulle gesien het. Ooggetuies kan uiteraard bedrieg word. Hulle kan ook maklik oordryf en ander verkeerd inlig. Voordat ons hulle getuienis glo, moet ons dus eers weet of hierdie ooggetuies waarheidliewend en goed van inbors is en bewys het dat hulle goeie beweegredes het.

Die bes gestaafde wonderwerk

17. (a) Wat is die bes gestaafde wonderwerk in die Bybel? (b) Watter omstandighede het Jesus se dood voorafgegaan?

17 Die bes gestaafde wonderwerk in die Bybel is die opstanding van Jesus Christus, en daarom kan ons dit as ’t ware as ’n toetsgeval gebruik. Beskou eers die vermelde feite: Jesus is in hegtenis geneem op die aand van 14 Nisan—wat volgens ons hedendaagse berekening van die week ’n Donderdagaand was. * Hy het voor die leiers van die Jode verskyn, wat hom van godslastering beskuldig het en besluit het dat hy moet sterf. Die Joodse leiers het Jesus voor die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus gebring, wat voor hulle druk geswig en hom vir teregstelling oorgegee het. Op Vrydagmiddag—steeds 14 Nisan op die Joodse kalender—is hy aan ’n folterpaal genael en was hy binne ’n paar uur dood.—Markus 14:43-65; 15:1-39.

18. Hoe het die nuus van Jesus se opstanding volgens die Bybel begin versprei?

18 Nadat ’n Romeinse soldaat Jesus se sy met ’n spies deursteek het om seker te maak dat hy reeds dood was, is Jesus se liggaam in ’n nuwe graf begrawe. Die volgende dag, 15 Nisan (Vrydag/Saterdag), was ’n sabbat. Maar die oggend van 16 Nisan—Sondagoggend—het ’n paar dissipels na die graf gegaan en dit leeg gevind. Gerugte dat Jesus lewend gesien is, het weldra die ronde gedoen. Die aanvanklike reaksie op hierdie gerugte was presies wat dit vandag sou wees—ongeloof. Selfs die apostels wou dit nie glo nie. Maar toe hulle self die lewende Jesus gesien het, kon hulle nie anders as om te aanvaar dat hy inderdaad uit die dood opgewek is nie.—Johannes 19:31–20:29; Lukas 24:11.

Die leë graf

19-21. (a) Hoe het die Jode, volgens Justinus Martyr, die Christene se predikingswerk aangaande Jesus se opstanding teengewerk? (b) Waarvan kan ons seker wees met betrekking tot Jesus se graf op 16 Nisan?

19 Is Jesus opgewek, of is dit alles ’n verdigsel? Iets wat mense destyds waarskynlik sou gevra het, is: Is Jesus se liggaam nog in sy graf? Dit sou vir Jesus se volgelinge ’n groot hindernis gewees het as hulle teëstanders wel na sy lyk in die graf kon wys as bewys dat hy nie opgewek is nie. Daar is egter geen vermelding dat hulle dit ooit gedoen het nie. Volgens die Bybel het hulle eerder vir die soldate wat beveel is om die graf te bewaak geld gegee en vir hulle gesê: “Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was” (Mattheüs 28:11-13). Ons het ook nie-Bybelse getuienis dat die Joodse leiers so opgetree het.

20 Ongeveer een eeu na Jesus se dood het Justinus Martyr ’n werk genaamd Dialogue With Trypho geskryf. Daarin het hy gesê: “Julle [die Jode] het verkose en geordende manne oor die hele wêreld uitgestuur om te verkondig dat ’n goddelose en wettelose kettery begin is deur ene Jesus, ’n Galilese bedrieër, wat deur ons gekruisig is, maar dat sy dissipels hom in die nag gesteel het uit die graf waarin hy neergelê is.”7

21 Trypho was ’n Jood, en die Dialogue With Trypho is geskryf om die Christelike godsdiens teen Judaïsme te verdedig. Dit is derhalwe onwaarskynlik dat Justinus Martyr voormelde sou gesê het—naamlik dat die Jode die Christene daarvan beskuldig het dat hulle Jesus se liggaam uit die graf gesteel het—as die Jode nie so ’n aantyging gemaak het nie. Anders sou hy hom blootgestel het aan ’n maklik bewysbare beskuldiging dat hy ’n leuen vertel het. Justinus Martyr sou dit alleenlik gesê het as die Jode wel sulke boodskappers uitgestuur het. En hulle sou dit alleenlik gedoen het as die graf werklik op 16 Nisan 33 G.J. leeg was en hulle nie na Jesus se liggaam in die graf kon wys as ’n bewys dat hy nie opgewek is nie. Wat het dan gebeur aangesien die graf leeg was? Het die dissipels die liggaam gesteel? Of is dit wonderdadig verwyder om te bewys dat Jesus werklik opgewek is?

Die gevolgtrekking van Lukas die geneesheer

22, 23. Wie was een geleerde man van die eerste eeu wat die opstanding van Jesus ondersoek het, en watter inligtingsbronne was vir hom beskikbaar?

22 Een hoogs geleerde man van die eerste eeu wat die getuienis sorgvuldig ondersoek het, was Lukas, ’n geneesheer (Kolossense 4:14). Lukas het twee boeke geskryf wat nou deel van die Bybel uitmaak: een boek was ’n Evangelie, of geskiedenis van Jesus se bediening, en die ander, wat die Handelinge van die Apostels genoem word, was ’n geskiedenisverslag oor die uitbreiding van die Christelike godsdiens in die jare ná Jesus se dood.

23 In die inleiding tot sy Evangelie meld Lukas baie getuienis wat vir hom beskikbaar was, maar wat nie meer vir ons beskikbaar is nie. Hy praat van die geskrewe dokumente oor Jesus se lewe wat hy geraadpleeg het. Hy meld ook dat hy met ooggetuies van Jesus se lewe, dood en opstanding gepraat het. Dan sê hy: “Ek [het] van voor af alles noukeurig ondersoek” (Lukas 1:1-3). Lukas se navorsing was blykbaar deeglik. Was hy ’n goeie geskiedskrywer?

24, 25. Hoe beskou baie Lukas se kwalifikasies as ’n geskiedskrywer?

24 Baie het getuig dat hy was. In 1913 het sir William Ramsay in ’n lesing kommentaar gelewer oor die historiese egtheid van Lukas se werke. Sy gevolgtrekking? “Lukas is ’n eersterangse geskiedskrywer; sy feiteverklarings is nie net betroubaar nie; hy het waarlik ’n aanvoeling vir die geskiedenis.”8 Onlangser navorsers het dieselfde gevolgtrekking gemaak. The Living Word Commentary se inleiding tot sy boekdele oor Lukas sê: “Lukas was ’n geskiedskrywer (en ’n akkurate geskiedskrywer) sowel as ’n teoloog.”

25 Volgens dr. David Gooding, ’n voormalige professor in Ou-Testamentiese Grieks in Noord-Ierland, was Lukas “’n antieke geskiedskrywer in die tradisie van die Ou-Testamentiese geskiedskrywers en in die tradisie van Thucydides [een van die mees hoogaangeskrewe geskiedskrywers van die Oudheid]. Soos hulle sou hy groot moeite gedoen het om sy bronne te ondersoek, sy materiaal te kies en daardie materiaal te rangskik. . . . Thucydides het hierdie metode met ’n begeerte na geskiedkundige juistheid gekombineer: daar is geen rede om te dink dat Lukas minder gedoen het nie.”9

26. (a) Wat was Lukas se gevolgtrekking aangaande Jesus se opstanding? (b) Wat kon hom in hierdie gevolgtrekking gesterk het?

26 Wat was hierdie hoogs bevoegde man se gevolgtrekking oor die rede vir Jesus se leë graf op 16 Nisan? In sy Evangelie sowel as in die boek Handelinge stel Lukas dit as ’n feit dat Jesus uit die dood opgewek is (Lukas 24:1-52; Handelinge 1:3). Hy het dit glad nie in twyfel getrek nie. Moontlik is sy geloof in die wonderwerk van die opstanding deur sy eie ervarings versterk. Hoewel hy blykbaar nie ’n ooggetuie van die opstanding was nie, sê hy wel dat hy wonderwerke van die apostel Paulus gesien het.—Handelinge 20:7-12; 28:8, 9.

Hulle het die verrese Jesus gesien

27. Wie is party wat beweer het dat hulle die verrese Jesus gesien het?

27 Twee van die Evangelies word tradisioneel toegeskryf aan manne wat Jesus geken het, hom sien sterf het en beweer het dat hulle hom na sy opstanding gesien het. Hulle is die apostel Mattheüs, die voormalige tollenaar, en Johannes, Jesus se geliefde apostel. Nog ’n Bybelskrywer, die apostel Paulus, het ook beweer dat hy die verrese Christus gesien het. Daarbenewens meld Paulus ander wat Jesus na sy dood lewend gesien het by name, en hy sê dat Jesus aan “oor die vyfhonderd broeders” tegelyk verskyn het.—1 Korinthiërs 15:3-8.

28. Watter uitwerking het die opstanding van Jesus op Petrus gehad?

28 Een persoon wat deur Paulus as ’n ooggetuie gemeld word, is Jakobus, Jesus se vleeslike halfbroer, wat Jesus van kleins af moes geken het. ’n Ander is die apostel Petrus; die geskiedskrywer Lukas sê dat hy net ’n paar weke na Jesus se dood onverskrokke van Jesus se opstanding getuig het (Handelinge 2:23, 24). Twee briewe in die Bybel word tradisioneel aan Petrus toegeskryf, en in die eerste brief toon Petrus dat sy geloof in die opstanding van Jesus selfs jare na die gebeurtenis steeds ’n kragtige beweegrede was. Hy het geskryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode.”—1 Petrus 1:3.

29. Watter indrukwekkende getuienis is vir ons beskikbaar al kan ons nie met ooggetuies van die opstanding praat nie?

29 Net soos Lukas met mense kon praat wat beweer het dat hulle Jesus na sy dood gesien en met hom gepraat het, kan ons derhalwe die woorde lees wat party van hulle geskryf het. En ons kan self oordeel of daardie mense bedrieg is, of hulle probeer het om ons te bedrieg en of hulle werklik die verrese Christus gesien het. Om die waarheid te sê, dit sou onmoontlik wees om hulle te bedrieg. ’n Paar van hulle was tot en met Jesus se dood sy boesemvriende. Party van hulle het sy lyding aan die folterpaal aanskou. Hulle het gesien hoe bloed en water uit die spieswond vloei wat deur die soldaat toegedien is. Die soldate het geweet, en hulle het geweet, dat Jesus onteenseglik dood was. Hulle sê dat hulle Jesus later lewend gesien het en met hom gepraat het. Nee, hulle kon nie bedrieg gewees het nie. Het hulle dan probeer om ons te bedrieg deur te sê dat Jesus opgewek is?—Johannes 19:32-35; 21:4, 15-24.

30. Waarom is dit onmoontlik dat die vroeë ooggetuies van Jesus se opstanding leuens vertel het?

30 In antwoord hierop hoef ons ons bloot af te vra: Het hulle self geglo wat hulle gesê het? Ja, ongetwyfeld. Vir die Christene, met inbegrip van diegene wat beweer het dat hulle ooggetuies was, was die opstanding van Jesus die hele grondslag van hulle geloof. Die apostel Paulus het gesê: “As Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof . . . as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos” (1 Korinthiërs 15:14, 17). Klink dit soos die woorde van ’n man wat ’n leuen vertel wanneer hy sê dat hy die verrese Christus gesien het?

31, 32. Wat het vroeë Christene opgeoffer, en waarom is dit ’n oortuigende bewys dat hierdie Christene die waarheid vertel het toe hulle gesê het dat Jesus opgewek is?

31 Hou in gedagte wat dit beteken het om destyds ’n Christen te wees. Dit het nie groter aansien, mag of rykdom meegebring nie. Inteendeel. Baie van die vroeë Christene het ter wille van hulle geloof ‘die berowing van hulle goed met blydskap aanvaar’ (Hebreërs 10:34). Die Christelike godsdiens het ’n lewe van opoffering en vervolging beteken wat in baie gevalle op ’n skandelike, pynlike marteldood uitgeloop het.

32 Sommige Christene het uit welvarende gesinne gekom, soos die apostel Johannes, wie se vader blykbaar ’n florerende vissersonderneming in Galilea gehad het. Baie het goeie vooruitsigte gehad, soos Paulus wat, toe hy die Christelike godsdiens aangeneem het, ’n leerling van die beroemde rabbi Gamaliël was en reeds begin het om in die Joodse heersers se agting te styg (Handelinge 9:1, 2; 22:3; Galasiërs 1:14). Tog het almal hierdie wêreld se aanbiedinge die rug toegekeer sodat hulle ’n boodskap kon verkondig wat gegrond was op die feit dat Jesus uit die dood opgewek is (Kolossense 1:23, 28). Waarom sou hulle sulke opofferinge gemaak het om te ly vir ’n saak wat hulle geweet het op ’n leuen berus? Die antwoord is, hulle sou nie. Hulle was bereid om te ly en te sterf vir ’n saak wat hulle geweet het op waarheid gegrond is.

Wonderwerke vind werklik plaas

33, 34. Wat kan ons van die ander wonderwerke van die Bybel sê aangesien die opstanding werklik plaasgevind het?

33 Ja, die getuienis van die ooggetuies is heeltemal oortuigend. Jesus is werklik op 16 Nisan 33 G.J. uit die dood opgewek. En aangesien daardie opstanding plaasgevind het, is al die ander wonderwerke van die Bybel moontlik—wonderwerke waarvoor ons ook die betroubare getuienis van ooggetuies het. Dieselfde Krag wat Jesus uit die dood opgewek het, het Jesus ook in staat gestel om die seun van die weduwee van Nain op te wek. Hy het Jesus ook in staat gestel om die ondergeskikte—maar steeds wonderlike—wonderwerke van genesing te verrig. Hy het die wonderdadige voeding van die menigte moontlik gemaak, en Hy het Jesus ook in staat gestel om op water te loop.—Lukas 7:11-15; Mattheüs 11:4-6; 14:14-21, 23-31.

34 Die feit dat die Bybel wonderwerke meld, is dus nie ’n rede om die waarheid van die Bybel in twyfel te trek nie. Die feit dat wonderwerke wel in Bybeltye plaasgevind het, is eerder ’n oortuigende bewys dat die Bybel werklik die Woord van God is. Maar daar is nog ’n aantyging wat teen die Bybel gemaak word. Baie sê dat die Bybel homself weerspreek en gevolglik nie God se Woord kan wees nie. Is dit waar?

[Voetnote]

^ par. 6 Ons sê “gewoonlik”, want party wonderwerke in die Bybel kon met natuurverskynsels, soos aardbewings of grondverskuiwings, gepaard gegaan het. Hulle word egter steeds as wonderwerke beskou omdat hulle plaasgevind het juis toe hulle nodig was en dus ongetwyfeld deur God beskik is.—Josua 3:15, 16; 6:20.

^ par. 17 Die Joodse dag het omstreeks sesuur saans begin en tot sesuur die volgende aand geduur.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 81]

Vyande van die Christelike godsdiens het gesê dat die dissipels Jesus se liggaam gesteel het. Waarom sou Christene bereid gewees het om te sterf vir ’n geloof wat op sy opstanding berus het as dit die geval was?

[Venster op bladsy 85]

Waarom is daar nie vandag wonderwerke nie?

Soms word die vraag geopper: ‘Waarom is daar nie vandag wonderwerke soos dié in die Bybel nie?’ Die antwoord is dat wonderwerke destyds hul doel bereik het, maar dat God vandag van ons verwag om deur geloof te lewe.—Habakuk 2:2-4; Hebreërs 10:37-39.

In die dae van Moses het wonderwerke plaasgevind om Moses se kwalifikasies te bevestig. Dit het getoon dat Jehovah hom gebruik, ook dat die Wetsverbond werklik ’n goddelike oorsprong gehad het en dat die Israeliete van toe af God se uitverkore volk was.—Exodus 4:1-9, 30, 31; Deuteronomium 4:33, 34.

In die eerste eeu het wonderwerke gehelp om die kwalifikasies van Jesus en, na hom, van die jong Christengemeente te bevestig. Dit het gehelp om te bewys dat Jesus die beloofde Messias was, dat vleeslike Israel ná sy dood deur die Christengemeente as God se spesiale volk vervang is en dat die Wet van Moses derhalwe nie meer bindend was nie.—Handelinge 19:11-20; Hebreërs 2:3, 4.

Na die dae van die apostels was die tyd vir wonderwerke verby. Die apostel Paulus het verduidelik: “Profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan. Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.”—1 Korinthiërs 13:8-10.

Ons het vandag die volledige Bybel, wat al God se openbarings en raad bevat. Ons het die vervulling van profesieë en ons het ’n gevorderde begrip van God se voornemens. Wonderwerke is gevolglik nie meer nodig nie. Tog bestaan dieselfde gees van God wat die wonderwerke moontlik gemaak het steeds en bring dit resultate voort wat ’n ewe oortuigende bewys van goddelike mag is. Ons sal dit in ’n latere hoofstuk breedvoeriger bespreek.

[Prent op bladsy 75]

Baie beskou die betroubaar-heid van die natuurwette, soos die feit dat die son elke oggend opkom, as ’n bewys dat wonderwerke nie kan plaasvind nie

[Prent op bladsy 77]

Die skepping van die aarde as ’n tuiste vir lewende wesens was ’n ‘wonderbaarlike gebeurtenis’ wat net een keer plaasgevind het

[Prente op bladsy 78]

Hoe sou jy die wonders van die hedendaagse wetenskap verduidelik aan iemand wat 200 jaar gelede gelewe het?