Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel se stryd om voort te bestaan

Die Bybel se stryd om voort te bestaan

Hoofstuk 2

Die Bybel se stryd om voort te bestaan

Daar is talle bewyse dat die Bybel werklik God se Woord is. Elke bewys is oortuigend, maar saam is hulle onweerlegbaar. In hierdie en die volgende hoofstuk sal ons net een van hierdie bewyse bespreek: die geskiedenis van die Bybel as ’n boek. Dit is in werklikheid niks minder as ’n wonderwerk dat hierdie merkwaardige boek tot vandag toe behoue gebly het nie. Kyk self na die feite.

1. Meld ’n paar besonderhede aangaande die Bybel.

DIE Bybel is meer as net ’n boek. Dit is ’n kosbare biblioteek van 66 boeke, party kort en party redelik lank, wat onder meer wette, profesieë, geskiedenis, gedigte en raad bevat. Die eerste 39 van hierdie boeke is eeue voor die geboorte van Christus deur getroue Jode, of Israeliete, geskryf—hoofsaaklik in die Hebreeuse taal. Hierdie gedeelte word dikwels die Ou Testament genoem. Die laaste 27 boeke is deur Christene in Grieks geskryf en is alom bekend as die Nuwe Testament. Volgens inwendige getuienis en die oudste tradisies is hierdie 66 boeke oor ’n tydperk van ongeveer 1 600 jaar geskryf, vanaf die tyd toe Egipte ’n magtige moondheid was totdat Rome die wêreldtoneel oorheers het.

Net die Bybel het behoue gebly

2. (a) Wat was die situasie in Israel toe daar begin is om die Bybel op skrif te stel? (b) Wat was party ander geskrifte wat in dieselfde tydperk geskryf is?

2 Meer as 3 000 jaar gelede, toe daar begin is om die Bybel op skrif te stel, was Israel net ’n klein nasietjie tussen baie in die Midde-Ooste. Jehovah was hulle God, terwyl die omringende nasies ’n verbysterende verskeidenheid gode en godinne gehad het. Die Israeliete was nie die enigstes wat gedurende daardie tydperk godsdiensliteratuur geskryf het nie. Ander nasies het ook geskrifte geskryf wat hulle godsdiens en hulle volkswaardes weerspieël het. Voorbeelde hiervan is die Akkadiese legende van Gilgamesj uit Mesopotamië en die Ras Shamra-eposse, geskryf in Oegarities (’n taal wat in hedendaagse Noord-Sirië gepraat word), wat ongetwyfeld baie gewild was. Die veelomvattende literatuur van daardie tydperk het ook werke ingesluit soos Die vermanings van Ipoe-Wer en Die profesie van Nefer-Rohoe in die Egiptiese taal, gesange tot verskeie godhede in Sumeries en profetiese werke in Akkadies.1

3. Wat toon dat die Bybel anders is as ander godsdiensliteratuur wat gedurende dieselfde tydperk in die Midde-Ooste geskryf is?

3 Al hierdie Midde-Oosterse werke het egter dieselfde lot gehad. Hulle is vergeet, en selfs die tale waarin hulle geskryf is, het uitgesterf. Dit was eers redelik onlangs dat argeoloë en taalkundiges vasgestel het dat hulle bestaan het en uitgevind het hoe om hulle te lees. Daarenteen het die eerste geskrewe boeke van die Hebreeuse Bybel tot in ons tyd behoue gebly en word hulle steeds algemeen gelees. Soms beweer geleerdes dat die Hebreeuse boeke in die Bybel op die een of ander manier aan daardie eertydse letterkundige werke ontleen is. Maar die feit dat soveel van daardie literatuur vergeet is terwyl die Hebreeuse Bybel behoue gebly het, toon dat die Bybel aansienlik anders is.

Die bewaarders van die Woord

4. Watter ernstige probleme van die Israeliete kon die Bybel se voortbestaan twyfelagtig laat lyk het?

4 Uit ’n menslike oogpunt was die voortbestaan van die Bybel egter glad nie ’n uitgemaakte saak nie. Die gemeenskappe wat dit op skrif gestel het, het sulke swaar beproewinge en hewige verdrukking deurgemaak dat die behoud daarvan tot in ons dag waarlik merkwaardig is. In die jare voor Christus was die Jode wat die Hebreeuse Skrifte (die “Ou Testament”) op skrif gestel het ’n betreklik klein nasie. Hulle het ’n onsekere bestaan gevoer te midde van magtige politieke state wat voortdurend gebots het om die oorhand oor mekaar te probeer kry. Israel moes uit alle mag teen ’n reeks nasies, soos die Filistyne, die Moabiete, die Ammoniete en die Edomiete, veg om te kon voortbestaan. Gedurende ’n tydperk toe die Hebreërs in twee koninkryke verdeel was, het die wrede Assiriese Ryk die noordelike koninkryk feitlik uitgewis, terwyl die Babiloniërs die suidelike koninkryk verwoes en die volk in ballingskap weggevoer het. Net ’n oorblyfsel het 70 jaar later teruggekeer.

5, 6. Watter pogings het die bestaan van die Hebreërs as ’n afsonderlike volk in gevaar gestel?

5 Daar is selfs verslae van pogings tot volksmoord op die Israeliete. In die dae van Moses het Farao beveel dat al hulle pasgebore babaseuntjies vermoor word. As sy bevel uitgevoer is, sou dit die vernietiging van die Hebreeuse volk beteken het (Exodus 1:15-22). Lank daarna, toe die Jode onder Persiese heerskappy gekom het, het hulle vyande planne gesmee om ’n wet te laat aanneem wat tot hulle uitwissing sou lei (Ester 3:1-15). Die mislukking van hierdie plan word steeds tydens die Joodse Purimfees gevier.

6 Nog later, toe die Jode onderdane van Sirië was, het koning Antiochus IV baie hard probeer om die nasie te vergrieks deur hulle te dwing om Griekse gebruike te volg en Griekse gode te aanbid. Ook hy het nie geslaag nie. Pleks van uitgewis of geassimileer te word, het die Jode behoue gebly terwyl die meeste van die omringende volksgroepe een na die ander van die wêreldtoneel verdwyn het. En die Hebreeuse Skrifte van die Bybel het saam met hulle behoue gebly.

7, 8. Hoe is die voortbestaan van die Bybel bedreig toe die Christene vervolg is?

7 Die Christene, wat die tweede deel van die Bybel (die “Nuwe Testament”) op skrif gestel het, was ook ’n verdrukte groep. Hulle leier, Jesus, is soos ’n gewone misdadiger doodgemaak. Gedurende die tydperk net na sy dood het die Joodse owerheid in Palestina probeer om hulle werk te beëindig. Toe die Christelike godsdiens na ander lande versprei het, het die Jode hulle vervolg en probeer om hulle sendingwerk te verhinder.—Handelinge 5:27, 28; 7:58-60; 11:19-21; 13:45; 14:19; 18:5, 6.

8 In die tyd van Nero het die aanvanklike verdraagsaamheid van die Romeinse owerheid verander. Tacitus het gespog met die “verfynde marteling” wat daardie wrede keiser Christene laat ondergaan het, en van sy tyd af was dit ’n halsmisdaad om ’n Christen te wees.2 In 303 G.J. het keiser Diocletianus teen die Bybel self opgetree. * In ’n poging om die Christelike godsdiens uit te roei, het hy beveel dat alle Christenbybels verbrand word.3

9. Wat sou gebeur het as uitwissingsveldtogte teen die Jode en die Christene geslaag het?

9 Hierdie veldtogte van verdrukking en volksmoord was werklik ’n bedreiging vir die Bybel se voortbestaan. Gestel die Jode het dieselfde lot as die Filistyne en die Moabiete gehad, of gestel die pogings van eers die Joodse en toe die Romeinse owerheid om die Christelike godsdiens uit te roei, het geslaag. Wie sou dan die Bybel op skrif gestel en bewaar het? Gelukkig is die bewaarders van die Bybel—eers die Jode en toe die Christene—nie uitgewis nie en het die Bybel behoue gebly. Maar daar was nog ’n ernstige bedreiging—nie vir die voortbestaan van die Bybel nie, maar wel vir die suiwerheid daarvan.

Feilbare afskrifte

10. Hoe is die Bybel aanvanklik bewaar?

10 Baie van die voormelde ou werke wat later vergeet is, is in klip gegraveer of op duursame kleitablette gestempel. Dit was nie die geval met die Bybel nie. Dit is oorspronklik op papirus of op perkament geskryf—materiale wat baie makliker vergaan. Die manuskripte wat deur die oorspronklike skrywers geskryf is, het dus lank, lank gelede verdwyn. Hoe is die Bybel dan bewaar? Derduisende afskrifte is moeisaam met die hand uitgeskryf. Dit was voor die koms van drukwerk die normale manier om ’n boek te kopieer.

11. Wat gebeur onvermydelik wanneer manuskripte met die hand oorgeskryf word?

11 Maar daar is ’n gevaar verbonde aan oorskrywing met die hand. Sir Frederic Kenyon, die beroemde argeoloog en bibliotekaris van die Britse Museum, het verduidelik: “Die mensehand en -brein wat ’n lang werk in sy geheel volkome foutloos kan oorskryf, is nog nie geskep nie. . . . Foute sou beslis insluip.”4 Wanneer ’n fout in ’n manuskrip ingesluip het, is dit herhaal wanneer toekomstige afskrifte van daardie manuskrip gemaak is. Wanneer baie afskrifte oor ’n lang tydperk gemaak is, het talle menslike foute ingesluip.

12, 13. Wie het die verantwoordelikheid op hulle geneem om die teks van die Hebreeuse Skrifte te bewaar?

12 Hoe weet ons, met die oog op die derduisende afskrifte van die Bybel wat gemaak is, dat hierdie oorskrywing dit nie onherkenbaar verander het nie? Wel, beskou die geval van die Hebreeuse Bybel, die “Ou Testament”. In die tweede helfte van die sesde eeu v.G.J., toe die Jode uit hulle Babiloniese ballingskap teruggekeer het, het ’n groep Hebreeuse geleerdes, die sogenaamde Soferim, of “skrifgeleerdes”, die bewaarders van die Hebreeuse Bybelteks geword, en dit was hulle verantwoordelikheid om daardie Skrifte vir gebruik in openbare en private aanbidding oor te skryf. Hulle was besielde beroepsmanne, en hulle werk was van die hoogste gehalte.

13 Van die sewende eeu tot die tiende eeu van ons Gewone Jaartelling het die Masorete die werk van die Soferim voortgesit. Hulle naam is ontleen aan ’n Hebreeuse woord wat “tradisie” beteken, en hulle was ook in wese skrifgeleerdes wat die taak opgelê is om die tradisionele Hebreeuse teks te bewaar. Die Masorete was nougeset. Die skrifgeleerde moes byvoorbeeld ’n behoorlik gewaarmerkte afskrif as sy grondteks gebruik, en hy is nie toegelaat om enigiets uit die hoof te skryf nie. Hy moes elke letter nagaan voordat hy dit neerskryf.5 Professor Norman K. Gottwald sê: “Die rabbynse vereiste dat alle nuwe manuskripte geproeflees en foutiewe afskrifte onmiddellik weggegooi moes word, is ’n aanduiding van die sorg waarmee hulle hul pligte uitgevoer het.”6

14. Watter ontdekking het dit moontlik gemaak om die oorskrywing van die Bybelteks deur die Soferim en die Masorete te bevestig?

14 Hoe akkuraat was die oorskrywing van die teks deur die Soferim en die Masorete? Voor 1947 was dit moeilik om daardie vraag te beantwoord, aangesien die oudste volledige Hebreeuse manuskripte wat beskikbaar was uit die tiende eeu van ons Gewone Jaartelling gedateer het. Maar in 1947 is ’n paar baie ou manuskripfragmente, waaronder dele van boeke van die Hebreeuse Bybel, in grotte in die omgewing van die Dooie See gevind. Etlike fragmente is nog voordat Christus geleef het op skrif gestel. Geleerdes het hierdie fragmente met bestaande Hebreeuse manuskripte vergelyk om vas te stel of die teks akkuraat oorgeskryf is. Wat was die resultaat van hierdie vergelyking?

15. (a) Wat was die resultaat toe die manuskrip van Jesaja, een van die Dooie See-rolle, met die Masoretiese teks vergelyk is? (b) Wat moet ons aflei uit die feit dat daar in sommige manuskripte wat by die Dooie See gevind is ’n mate van teksvariasie is? (Kyk voetnoot.)

15 Een van die oudste werke wat ontdek is, was die volledige boek Jesaja, en die teks daarvan kom in verbasende mate ooreen met dié van die Masoretiese Bybel wat ons vandag het. Professor Millar Burrows skryf: “Baie van die verskille tussen die [onlangs ontdekte] Jesaja-boekrol van St. Marcus en die Masoretiese teks kan as oorskryffoute verklaar word. Buiten hierdie verskille stem die teks oor die algemeen merkwaardig ooreen met dié in die Middeleeuse manuskripte. Hierdie ooreenkoms in ’n manuskrip wat soveel ouer is, lewer gerusstellende getuienis van die algemene akkuraatheid van die tradisionele teks.”7 Burrows voeg by: “Dit is verstommend dat die teks deur nagenoeg duisend jaar so min verander het.” *

16, 17. (a) Waarom kan ons seker wees dat die teks van die Christelike Griekse Skrifte betroubaar is? (b) Wat het sir Frederic Kenyon aangaande die teks van die Griekse Skrifte gesê?

16 Met betrekking tot die deel van die Bybel wat Christene in Grieks geskryf het, die sogenaamde Nuwe Testament, was die oorskrywers meer soos begaafde amateurs as soos die hoogs opgeleide, professionele Soferim. Maar aangesien hulle gevaar geloop het om deur die owerheid vir hulle werk gestraf te word, het hulle hul werk ernstig opgeneem. En twee dinge verseker ons dat ons vandag ’n teks het wat wesenlik dieselfde is as dié wat deur die oorspronklike skrywers opgeteken is. Eerstens het ons manuskripte wat baie korter na die oorspronklike teks op skrif gestel is as wat dit met die Hebreeuse deel van die Bybel die geval is. Trouens, een fragment van die Evangelie volgens Johannes dateer uit die eerste helfte van die tweede eeu, minder as ’n halfeeu na die jaar waarin Johannes waarskynlik sy Evangelie voltooi het. Tweedens is die blote aantal manuskripte wat behoue gebly het ’n imponerende aanduiding van die betroubaarheid van die teks.

17 Sir Frederic Kenyon het hieroor gesê: “Dit kan nie oorbeklemtoon word dat die teks van die Bybel in wese betroubaar is nie. Dit geld veral vir die Nuwe Testament. Daar is so baie manuskripte van die Nuwe Testament, van vroeë vertalings daarvan en van aanhalings daaruit deur die oudste skrywers van die Kerk, dat die juiste lesing van elke twyfelagtige gedeelte feitlik gewis in een van hierdie ou gesaghebbende bronne bewaar is. Dit kan van geen ander ou boek ter wêreld gesê word nie.”10

Die mense en hulle tale

18, 19. Hoe het dit gekom dat die Bybel nie beperk gebly het tot die tale waarin dit oorspronklik geskryf is nie?

18 Die oorspronklike tale waarin die Bybel geskryf is, was ook op die lange duur ’n hindernis vir sy voortbestaan. Die eerste 39 boeke is hoofsaaklik in Hebreeus, die taal van die Israeliete, geskryf. Maar Hebreeus was nooit alom bekend nie. As die Bybel in daardie taal gebly het, sou die invloed daarvan nooit verder gestrek het as die Joodse nasie en die paar buitelanders wat dit kon lees nie. Maar in die derde eeu v.G.J. is daar begin om die Hebreeuse deel van die Bybel in Grieks te vertaal ter wille van die Hebreërs wat in Alexandrië, Egipte, gewoon het. Grieks was toe ’n internasionale taal. Die Hebreeuse Bybel is sodoende vir nie-Jode beskikbaar gestel.

19 Toe die tweede deel van die Bybel geskryf moes word, was Grieks steeds algemeen in gebruik, en die laaste 27 boeke van die Bybel is dus in daardie taal geskryf. Maar nie almal kon Grieks verstaan nie. Gevolglik het vertalings van die Hebreeuse sowel as die Griekse gedeeltes van die Bybel weldra in die alledaagse tale van daardie vroeë eeue, soos Siries, Kopties, Armeens, Georgies, Goties en Ethiopies, begin verskyn. Die amptelike taal van die Romeinse Ryk was Latyn, en soveel Latynse vertalings is gemaak dat daar opdrag gegee moes word om ’n “statevertaling” te maak. Dit is omstreeks 405 G.J. voltooi en het as die Vulgata (wat “gewild” of “algemeen” beteken) bekendgestaan.

20, 21. Wat was die hindernisse vir die Bybel se voortbestaan, en waarom is hulle te bowe gekom?

20 Die Bybel het dus ten spyte van baie hindernisse tot in die vroeë eeue van ons Gewone Jaartelling behoue gebly. Die groepe wat dit op skrif gestel het, was veragte en vervolgde minderhede wat onder moeilike omstandighede in ’n vyandige wêreld gelewe het. Dit kon maklik gedurende die oorskrywing erg verdraai geword het, maar dit is nie. Bowendien het dit die gevaar ontkom om net beskikbaar te wees vir mense wat sekere tale praat.

21 Waarom was dit so moeilik vir die Bybel om behoue te bly? Die Bybel sê self: “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose” (1 Johannes 5:19). Met die oog hierop kan ons verwag dat die wêreld teen gepubliseerde waarheid gekant sou wees, en dit was ook die geval. Waarom het die Bybel dan behoue gebly terwyl so baie ander letterkundige werke wat nie met dieselfde probleme te kampe gehad het nie, vergeet is? Die Bybel beantwoord ook hierdie vraag. Dit sê: “Die woord van die Here bly tot in ewigheid” (1 Petrus 1:25). As die Bybel werklik die Woord van God is, kan geen menslike mag dit vernietig nie. En dit is tot in hierdie 20ste eeu die geval.

22. Watter verandering het vroeg in die vierde eeu van ons Gewone Jaartelling plaasgevind?

22 Maar in die vierde eeu van ons Gewone Jaartelling het iets gebeur wat uiteindelik nuwe aanvalle op die Bybel meegebring en in groot mate die verloop van die Europese geskiedenis bepaal het. Net tien jaar nadat Diocletianus probeer het om alle eksemplare van die Bybel te vernietig, het die keiserlike beleid verander en is “die Christelike godsdiens” wettig verklaar. Twaalf jaar later, in 325 G.J., was ’n Romeinse keiser die voorsitter van die “Christelike” Konsilie van Nicea. Waarom sou so ’n oënskynlik gunstige ontwikkeling gevaar vir die Bybel inhou? Ons sal die antwoord in die volgende hoofstuk kry.

[Voetnote]

^ par. 8 In hierdie publikasie word die akkurater “G.J.” (Gewone Jaartelling) en “v.G.J.” (voor die Gewone Jaartelling) pleks van die tradisionele “nC” en “vC” gebruik.

^ par. 15 Nie al die manuskripte wat by die Dooie See gevind is, het in dieselfde mate ooreengestem met die Bybelteks wat behoue gebly het nie. In party was daar heelwat teksvariasies. Maar hierdie variasies beteken nie dat die wesenlike betekenis van die teks verdraai is nie. Volgens Patrick W. Skehan van die Katolieke Universiteit van Amerika is die meeste variasies ’n “verwerking [van die Bybelteks] op grond van sy eie integrerende logika, sodat die vorm uitbrei, maar die wese dieselfde bly . . . Die onderliggende gesindheid weerspieël openlike ontsag vir ’n teks wat as heilig beskou word, ’n gesindheid dat (soos ons dit sou stel) die Bybel deur die Bybel verduidelik word in die oorskrywing van die teks self.”8

’n Ander kommentator voeg by: “Ondanks alle onsekerhede bly die groot feit staan dat die teks soos ons dit nou het in die geheel ’n goeie weergawe is van die oorspronklike woorde van die skrywers, waarvan party byna drieduisend jaar gelede gelewe het, en ons hoef nie op grond van teksbederf ernstige twyfel te hê oor die geldigheid van die boodskap wat die Ou Testament vir ons bevat nie.”9

[Studievrae]

[Venster op bladsy 19]

Die Bybel se goed gevestigde teks

Om te besef hoe goed gevestig die teks van die Bybel is, hoef ons dit maar net te vergelyk met ’n ander versameling literatuur wat uit die Oudheid aan ons oorgedra is: die klassieke geskrifte van Griekeland en Rome. Trouens, die meeste van hierdie literatuur is geskryf nadat die Hebreeuse Skrifte voltooi is. Daar was geen opgetekende pogings tot volksmoord op die Grieke of die Romeine nie, en hulle literatuur het behoue gebly sonder dat vervolging die voortbestaan daarvan bedreig het. Maar let op die kommentare van professor F. F. Bruce:

“Vir Caesar se Galliese oorlog (wat tussen 58 en 50 vC geskryf is) is daar etlike bestaande mss., maar net nege of tien daarvan is goed, en die oudste is sowat 900 jaar ná Cæsar se dag geskryf.

“Net 35 van die 142 boeke van die Romeinse geskiedenis van Livius (59 vC-17 nC) het behoue gebly; hulle is aan ons bekend danksy hoogstens twintig gesaghebbende mss., waarvan net een uit die vierde eeu dateer, en dié bevat fragmente van Boeke III-VI.

“Net vier en ’n half van die veertien boeke van die Geskiedenisse van Tacitus (c. 100 nC) het behoue gebly; tien van die sestien boeke van sy Annale het volledig behoue gebly en twee daarvan gedeeltelik. Die teks van hierdie behoue gedeeltes van sy twee groot geskiedkundige werke berus geheel en al op twee mss., een uit die negende eeu en een uit die elfde. . . .

“Die Geskiedenis van Thucydides (c. 460-400 vC) is aan ons bekend danksy agt mss., waarvan die oudste uit c. 900 nC dateer, en ’n paar stukkies papirus, wat uit ongeveer die begin van die Christelike era dateer.

“Dieselfde geld vir die Geskiedenis van Herodotus (c. 488-428 vC). En tog sou geen klassisis luister na ’n argument dat die egtheid van Herodotus of Thucydides onder verdenking staan omdat die oudste mss. van hulle werke wat vir ons enigsins van nut is meer as 1 300 jaar ná die oorspronklikes geskryf is nie.”—The Books and the Parchments, bladsy 180.

Vergelyk dit met die feit dat daar duisende manuskripte van verskillende dele van die Bybel is. En manuskripte van die Christelike Griekse Skrifte is gemaak binne honderd jaar nadat die oorspronklike boeke op skrif gestel is.

[Prent op bladsy 13]

Die Hebreërs was ’n klein nasietjie wat voortdurend deur sterker nasies bedreig is. Hierdie ou snywerk beeld uit hoe Hebreërs deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer word

[Prent op bladsy 14]

Voor die koms van drukwerk is die Skrif met die hand oorgeskryf

[Prent op bladsy 16]

Nero het bepaal dat dit ’n halsmisdaad is om ’n Christen te wees

[Prent op bladsy 21]

’n Studie van die Dooie See-rol van Jesaja het bewys dat hierdie boek oor ’n tydperk van 1 000 jaar feitlik onveranderd gebly het

[Prent op bladsy 23]

Keiser Diocletianus se pogings om die Bybel te vernietig, het misluk