Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Bybelprofesie waarvan jy die vervulling sien

’n Bybelprofesie waarvan jy die vervulling sien

Hoofstuk 10

’n Bybelprofesie waarvan jy die vervulling sien

Het jy al ooit gewonder waarom toestande vandag so anders is as honderd jaar gelede? Party dinge is beter. In baie lande word siektes wat in die verlede dodelik was nou maklik genees en geniet die gemiddelde persoon ’n lewenstandaard wat vir sy voorvaders iets ongehoords was. Daarenteen het die ergste oorloë en van die ergste wreedhede in die hele geskiedenis gedurende ons eeu plaasgevind. Die mensdom se welvaart—selfs sy voortbestaan—word bedreig deur ’n bevolkingsontploffing, ’n besoedelingsprobleem en ’n ontsaglike, internasionale voorraadstapeling van kern-, biologiese en chemiese wapens. Waarom is die 20ste eeu so anders as vorige eeue?

1. (Sluit die inleiding in.) (a) Hoe verskil die 20ste eeu van vorige eeue? (b) Wat sal ons help om te verstaan waarom ons tyd so anders is?

DIE antwoord op hierdie vraag hou verband met ’n merkwaardige Bybelprofesie waarvan jy die vervulling sien. Dit is ’n profesie wat Jesus self uitgespreek het en wat nie net bewys lewer dat die Bybel geïnspireer is nie, maar ook aandui dat uiters dramatiese veranderinge binnekort op die wêreldtoneel gaan plaasvind. Wat is hierdie profesie? En hoe weet ons dat dit tans vervul word?

Jesus se groot profesie

2, 3. Watter vraag het Jesus se dissipels hom gevra, en waar vind ons sy antwoord?

2 Die Bybel deel ons mee dat Jesus se dissipels kort voor sy dood die groot tempelgeboue in Jerusalem bespreek het; hulle is beïndruk deur die grootte en skynbare duursaamheid daarvan. Maar Jesus het gesê: “Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.”—Mattheüs 24:1, 2.

3 Jesus se woorde het sy dissipels seker verbaas, en hulle het hom later om meer inligting gevra en gesê: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u [teenwoordigheid] en van die voleinding van die [stelsel van dinge]?” (Mattheüs 24:3, vgl. NW). Jesus se antwoord verskyn in die res van Mattheüs hoofstuk 24 en 25. Sy woorde is ook in Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 opgeteken. Dit was ongetwyfeld die belangrikste profesie wat Jesus uitgespreek het terwyl hy op aarde was.

4. Watter verskillende vrae het Jesus se dissipels gestel?

4 Jesus se dissipels het in werklikheid meer as een vraag gestel. Hulle het eerstens die vraag geopper: “Wanneer sal hierdie dinge wees?”, dit wil sê: Wanneer sal Jerusalem en sy tempel vernietig word? Verder wou hulle weet watter teken sou aandui dat Jesus se teenwoordigheid as Koning van God se hemelse Koninkryk begin het en dat die einde van hierdie stelsel van dinge ophande is.

5. (a) Hoe is Jesus se profesie aanvanklik vervul, maar wanneer sou sy woorde heeltemal vervul word? (b) Hoe het Jesus begin om die dissipels se vraag te beantwoord?

5 In sy antwoord het Jesus albei punte in aanmerking geneem. Baie van sy woorde is in die eerste eeu vervul, gedurende die jare voor die verskriklike verwoesting van Jerusalem in 70 G.J. (Mattheüs 24:4-22). Maar hierdie profesie sou later, in óns tyd, selfs groter betekenis hê. Wat het Jesus dan gesê? Hy het begin deur die woorde te uiter wat in verse 7 en 8 opgeteken is: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte.”

6. Aan watter ooreenstemmende profesie herinner Jesus se woorde in Mattheüs 24:7, 8 ons?

6 Dit spreek dus vanself dat Jesus se teenwoordigheid as hemelse Koning deur groot beroering op die aarde gekenmerk sou word. Dit word bevestig deur ’n ooreenstemmende profesie in die boek Openbaring: die visioen van die vier perderuiters van die Apokalips (Openbaring 6:1-8). Die eerste van hierdie perderuiters beeld Jesus self as seëvierende Koning af. Die ander ruiters met hulle perde beeld gebeure op die aarde af wat die begin van Jesus se bewind kenmerk: oorlog, hongersnood en ontydige dood weens verskeie oorsake. Sien ons vandag die vervulling van hierdie twee profesieë?

Oorlog!

7. Wat word profeties deur die rit van die tweede perderuiter van die Apokalips voorafgeskadu?

7 Kom ons beskou hulle van naderby. Jesus het eers gesê: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.” Dit was ’n oorlogsprofesie. Die tweede van die vier perderuiters van die Apokalips het eweneens oorlog voorafgeskadu. Ons lees: “En ’n ander perd, ’n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee” (Openbaring 6:4). Maar die mensdom voer al duisende jare lank oorlog. Waarom sal hierdie woorde dan ’n spesiale betekenis vir ons tyd hê?

8. Waarom sou ons verwag dat oorlog ’n besondere aspek van die teken uitmaak?

8 Onthou dat oorlog op sigself nie die teken van Jesus se teenwoordigheid is nie. Die teken bestaan uit al die besonderhede van Jesus se profesie wat in dieselfde algemene tydperk plaasvind. Maar oorlog is die eerste kenmerk wat gemeld word, en ons kan dus verwag dat hierdie kenmerk op ’n besondere wyse wat ons aandag trek, vervul sou word. En almal moet erken dat die oorloë van hierdie 20ste eeu in die hele geskiedenis ongeëwenaard is.

9, 10. Hoe het die profesieë aangaande oorlog in vervulling begin gaan?

9 Geen vroeëre oorloë—hoewel talle wreed en verwoestend was—was naastenby so verwoestend soos die twee wêreldoorloë van die 20ste eeu nie. Die Eerste Wêreldoorlog het uiteindelik die dood van nagenoeg 14 miljoen mense veroorsaak, meer as die hele bevolking van baie lande. Daar is inderdaad “gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak”.

10 Volgens die profesie is “’n groot swaard” aan die oorlogsugtige tweede perderuiter van die Apokalips gegee. Hoe is dit van toepassing? In hierdie opsig: Oorlogswapens het baie dodeliker geword. Toegerus met die tenk, die vliegtuig, dodelike gifgas, duikbote en artillerie wat springgranate etlike kilometers ver kon skiet, het die mens vaardiger geword om sy naaste dood te maak. En sedert die Eerste Wêreldoorlog het die “groot swaard” selfs verwoestender geword—weens die gebruik van radioverbinding, radar, ultramoderne gewere, bakteriologiese en chemiese wapens, vlamwerpers, napalm, nuwe soorte bomme, interkontinentale ballistiese missiele, kernduikbote, moderne vliegtuie, reuseslagskepe, ensovoorts.

“’n Begin van die smarte”

11, 12. In watter opsig was die Eerste Wêreldoorlog bloot “’n begin van die smarte”?

11 Die eerste verse van Jesus se profesie sluit af met die woorde: “Hierdie dinge is ’n begin van die smarte.” Dit was beslis met die Eerste Wêreldoorlog die geval. Die vrede ná die einde daarvan in 1918 het nie lank geduur nie. Dit is gou deur beperkte maar vernietigende militêre optrede in Ethiopië, Libië, Spanje, Rusland, Indië en ander lande gevolg. Toe het die verskriklike Tweede Wêreldoorlog uitgebreek, wat sowat 50 miljoen militêre en burgerlike slagoffers geëis het.

12 Buitendien verkeer die mensdom ondanks periodieke vredesooreenkomste en verposings in die gevegte steeds in staat van oorlog. Daar is in 1987 berig dat 81 groot oorloë sedert 1960 gevoer is, waarin 12 555 000 manne, vroue en kinders omgekom het. In 1987 is meer oorloë gevoer as in enige vorige jaar in die geskrewe geskiedenis.1 Bowendien word die wêreldekonomie verwring deur militêre voorbereiding en uitgawes, wat nou altesaam sowat R2 550-000 000 000 per jaar beloop.2 Jesus se profesie dat ‘nasie teen nasie en koninkryk teen koninkryk sal opstaan’, word inderdaad vervul. Die rooi oorlogsperd sit steeds sy wrede tog oor die hele aarde voort. Maar wat van die tweede aspek van die teken?

Voedseltekorte!

13. Watter tragiese gebeure het Jesus voorspel, en hoe het die visioen van die derde perderuiter van die Apokalips sy profesie gestaaf?

13 Jesus het voorspel: “En daar sal hongersnode wees . . . op verskillende plekke.” Let op hoe dit ooreenstem met die derde van die vier perderuiters van die Apokalips. Ons lees aangaande hom: “Ek het gesien, en kyk, daar was ’n swart perd; en hy wat daarop sit, het ’n skaal in sy hand. En ek het ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ’n Rantsoen koring vir ’n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie” (Openbaring 6:5, 6). Ja, ernstige voedseltekorte!

14. Watter groot hongersnode sedert 1914 was ’n vervulling van Jesus se profesie?

14 Is dit moontlik dat hierdie profesie vandag vervul word, al het party lande sulke hoë lewenstandaarde bereik? ’n Kykie na die wêreld as geheel laat ons nie in twyfel oor die antwoord nie. Deur die geskiedenis heen is hongersnode deur oorloë en natuurrampe veroorsaak. Dit is dan nie verbasend dat ons eeu, wat besonder baie rampe en oorloë gehad het, herhaaldelik deur hongersnode geteister word nie. Sulke rampe het sedert 1914 in baie wêrelddele voorgekom. Een verslag gee ’n lys aan van meer as 60 groot hongersnode sedert 1914, in lande so ver uitmekaar soos Griekeland, Nederland, die USSR, Nigerië, Tsjad, Chili, Peru, Bangladesj, Bengale, Kampuchea, Ethiopië en Japan.3 Party van hierdie hongersnode het etlike jare geduur en miljoene sterfgevalle veroorsaak.

15, 16. Watter ander voedseltekorte is vandag waarlik verwoestend?

15 Hoewel ernstige hongersnode gewoonlik baie publisiteit geniet, gaan hulle naderhand verby en begin oorlewendes geleidelik weer ’n betreklik normale lewe lei. Maar ’n ander, onheilspellender soort voedseltekort het gedurende die 20ste eeu ontstaan. Dit is minder dramaties, en daarom word dit dikwels geïgnoreer. Maar dit duur jaar na jaar voort. Dit is ’n ernstige plaag van wanvoeding wat tot ’n vyfde van die bevolking van ons planeet raak en elke jaar tussen 13 en 18 miljoen mense doodmaak.4

16 Met ander woorde, hierdie soort voedseltekort laat elke twee dae ongeveer soveel mense omkom as wat in Hirosjima deur die atoombom doodgemaak is. Trouens, elke twee jaar sterf daar meer mense weens die gevolge van honger as wat daar soldate in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog saam gesneuwel het. Was daar sedert 1914 “hongersnode . . . op verskillende plekke”? Ja, beslis!

Aardbewings

17. Watter verwoestende aardbewing het kort na 1914 plaasgevind?

17 Op 13 Januarie 1915, net ’n paar maande nadat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het ’n aardbewing Abruzzi, Italië, geskud en die lewe van 32 610 mense geëis. Hierdie groot ramp herinner ons daaraan dat oorloë en voedseltekorte gedurende Jesus se teenwoordigheid met iets anders gepaard sou gaan: “Daar sal . . . aardbewings [wees] op verskillende plekke.” Soos in die geval van oorlog en hongersnood, was die aardbewing in Abruzzi bloot “’n begin van die smarte”. *

18. Hoe is Jesus se profesie aangaande aardbewings vervul?

18 Die 20ste eeu is ’n eeu van aardbewings, en danksy die ontwikkeling van die nuusmedia is die hele mensdom terdeë bewus van die verwoesting wat deur aardbewings aangerig is. Om net ’n paar te meld: In 1920 het 200 000 in ’n aardbewing in China omgekom; in 1923 is sowat 99 300 in ’n skudding in Japan dood; in 1935 het nog ’n skudding in wat nou Pakistan is die lewe van 25 000 geëis, terwyl 32 700 in 1939 in Turkye omgekom het. Daar was in 1970 66 800 sterfgevalle in ’n aardbewing in Peru. En in 1976 het sowat 240 000 (of, volgens party bronne, 800 000) in Tangsjan, China, gesterf. Korter gelede, in 1988, het 25 000 in ’n hewige aardbewing in Armenië gesterf. * Daar is beslis “aardbewings op verskillende plekke”!6

“Dodelike plae”

19. Watter verdere besonderheid van die teken is deur Jesus voorspel en deur die vierde perderuiter van die Apokalips afgebeeld?

19 Nog ’n besonderheid van Jesus se profesie hou met siekte verband. Die evangeliedienaar Lukas sê in sy verslag dat Jesus ‘pessiektes op verskillende plekke’ voorspel het (Lukas 21:11). Dit stem ook ooreen met die profetiese visioen van die vier perderuiters van die Apokalips. Die vierde perderuiter word die Dood genoem. Hy beeld ontydige dood weens etlike oorsake af, waaronder “pes [“dodelike plae”, NW], en . . . die wilde diere van die aarde”.—Openbaring 6:8.

20. Watter besondere epidemie was ’n gedeeltelike vervulling van Jesus se profesie oor pessiektes?

20 In 1918 en 1919 het meer as 1 000 000 000 mense die Spaanse griep gekry, en meer as 20 000 000 het gesterf. Die siekte het meer lewens as die groot oorlog self geëis.7 En “dodelike plae”, of ‘pessiektes’, teister hierdie geslag steeds, ondanks talle merkwaardige mediese deurbrake. Waarom? Vir eers vind armer lande nie altyd baat by die voordele van wetenskaplike vooruitgang nie. Armes ly en sterf weens siektes wat genees sal kan word as meer geld beskikbaar gestel word.

21, 22. Hoe ly mense in welvarende lande sowel as arm lande weens “dodelike plae”?

21 Gevolglik ly sowat 150 miljoen mense oor die hele wêreld aan malaria. Sowat 200 miljoen is met bilharziase besmet. Chagas-siekte teister sowat tienmiljoen mense. Ongeveer 40 miljoen ly aan rivierblindheid. Akute diarreale siektes veroorsaak elke jaar die dood van miljoene kinders.8 Tuberkulose en melaatsheid is steeds ’n ernstige gesondheidsprobleem. Veral die armes van hierdie wêreld ly weens ‘pessiektes op verskillende plekke’.

22 Maar die rykes ly ook. Griep teister byvoorbeeld rykes sowel as armes. In 1957 het een soort griep 70 000 sterfgevalle in die Verenigde State alleen veroorsaak. In Duitsland word geraam dat een uit elke ses mense uiteindelik aan kanker sal ly.9 Seksueel oorgedraagde siektes tref ook die rykes en die armes. Gonorree, die mees dikwels aangemelde oordraagbare siekte in die Verenigde State, teister tot 18,9 persent van die bevolking van party dele van Afrika.10 Sifilis, chlamydia en genitale herpes is party van die ander pandemiese seksueel oorgedraagde “pessiektes”.

23. Watter ‘dodelike plaag’ het onlangs in die nuus gekom?

23 In die laaste jare is die ‘dodelike plaag’ Vigs by die lys “pessiektes” gevoeg. Vigs is ’n skrikwekkende siekte omdat daar geen genesing in sig is nie, en die aantal slagoffers daarvan neem voortdurend toe. Dr. Jonathan Mann, direkteur van die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) se Spesiale Program oor Vigs, het gesê: “Ons raam ook dat daar vandag vyf tot 10 miljoen mense in die wêreld is wat met die menslike immuungebreksvirus (MIV) besmet is.”11 Volgens een gepubliseerde raming vind die Vigs-virus elke minuut ’n nuwe slagoffer. Inderdaad “dodelike plae”! Maar wat van die profesie oor die dood wat deur wilde diere veroorsaak word?

“Die wilde diere van die aarde”

24, 25. (a) Van watter soort ‘wilde dier’ het die profeet Esegiël gepraat? (b) Wat het Jesus gesê oor “wilde diere” wat gedurende sy teenwoordigheid bedrywig sou wees op die aarde?

24 Wanneer wilde diere deesdae in die koerante gemeld word, is dit gewoonlik omdat sekere spesies bedreig word of feitlik uitgesterf het. “Die wilde diere van die aarde” word veel meer deur mense bedreig as wat mense deur hulle bedreig word. Ten spyte hiervan eis wilde diere in sommige lande, soos tiers in Indië, gedurig menselewens.

25 Maar die Bybel vestig ons aandag op ’n ander soort wilde dier wat in die laaste jare groot vrees veroorsaak het. Die profeet Esegiël het gewelddadige mense met wilde diere vergelyk toe hy gesê het: “Sy vorste is in hom soos wolwe wat prooi verskeur, om bloed te vergiet en siele om te bring, dat hulle onregverdige wins kan maak” (Esegiël 22:27). Toe Jesus ’n ‘vermeerdering van ongeregtigheid’ voorspel het, het hy in werklikheid gesê dat sulke “wilde diere” gedurende sy teenwoordigheid bedrywig sou wees op die aarde (Mattheüs 24:12). Die Bybelskrywer Paulus het bygevoeg dat mense gedurende “die laaste dae” “geldgieriges . . . bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie” sou wees (2 Timotheüs 3:1-3). Was dit sedert 1914 die geval?

26-28. Watter verslae uit verskillende wêrelddele toon dat misdadige “wilde diere” op die aarde rondsluip?

26 Dit was beslis. As jy in feitlik enige groot stad op aarde woon, weet jy dit reeds. Maar as jy daaraan twyfel, kan jy gerus let op hierdie aanhalings uit onlangse koerante. Uit Colombia: “Verlede jaar het die polisie . . . sowat 10 000 moorde en 25 000 gewapende rooftogte opgeteken.” Uit Victoria, Australië: “Groot toename in ernstige misdadigheid.” Uit die Verenigde State: “Moorde in New York gaan eersdaags ’n nuwe hoogtepunt bereik.” “Detroit het Gary, Indiana, verlede jaar verbygesteek as die groot stad met die hoogste moordsyfer in die nasie—58 per 100 000 inwoners.”

27 Uit Zimbabwe: “Kindermoorde het kritieke afmetings aangeneem.” Uit Brasilië: “Daar is soveel misdadigheid hier, en soveel mense dra wapens dat nuus oor geweld eenvoudig nie meer veel opgewondenheid uitlok nie.” Uit Nieu-Seeland: “Seksuele aanvalle en gewelddadige misdadigheid is steeds vir die polisie ’n groot rede tot kommer.” “Nieu-Seelanders se onderlinge geweld kan net as barbaars bestempel word.” Uit Spanje: “Spanje worstel met ’n groeiende misdaadprobleem.” Uit Italië: “Na ’n terugslag herleef die Siciliaanse Mafia in ’n vlaag van moorde.”

28 Die bogenoemde is net ’n paar voorbeelde van koerantberigte wat kort voor die publikasie van hierdie boek verskyn het. “Wilde diere” sluip beslis op die aarde rond en laat mense vir hulle veiligheid vrees.

Die verkondiging van die goeie nuus

29, 30. Wat is, ter vervulling van Jesus se profesie, die godsdienstoestand in die Christendom?

29 Hoe sou godsdiens gedurende die veelbewoë tydperk van Jesus se teenwoordigheid vaar? Jesus het enersyds voorspel dat godsdiensaktiwiteit sou toeneem: “Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mattheüs 24:11). Hy het andersyds voorspel dat daar in die Christendom as geheel min belangstelling in God sou wees. “Die liefde van die meeste [sal] verkoel.”—Mattheüs 24:12.

30 Dit beskryf waarlik wat vandag in die Christendom gebeur. Aan die een kant sluit die groot kerke oral weens ’n gebrek aan ondersteuning. In die lande van noordelike Europa en Engeland, wat vroeër vestings van Protestantisme was, is godsdiens so te sê dood. Terselfdertyd gaan die Katolieke Kerk gebuk onder ’n tekort aan priesters en kwynende ondersteuning. Aan die ander kant was daar ’n oplewing in ander godsdiensgroepe. Kultusse wat op Oosterse godsdienste gebaseer is, groei vinnig, terwyl hebsugtige televisie-evangeliste miljoene rande maak deur die publiek uit te buit.

31. Wat het Jesus voorspel wat help om hedendaagse ware Christene te identifiseer?

31 Maar wat van die ware Christelike godsdiens, die godsdiens wat deur Jesus ingebring en deur sy apostels verkondig is? Dit sou steeds gedurende Jesus se teenwoordigheid bestaan, maar hoe sou dit uitgeken word? Daar is verskeie dinge wat die ware Christelike godsdiens identifiseer, en een ding word in Jesus se groot profesie gemeld. Ware Christene sal met ’n wêreldwye predikingswerk besig wees. Jesus het voorspel: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14.

32. Watter groep is die enigste wat Jesus se profesie in Mattheüs 24:14 vervul?

32 Hierdie predikingswerk vind nou op ’n reuseskaal plaas! Die godsdiensgroep wat as Jehovah se Getuies bekendstaan, is vandag besig met die intensiefste predikingswerk in die geskiedenis van die Christelike godsdiens (Jesaja 43:10, 12, vgl. NW). Reeds in 1919, terwyl die Christendom se polities gesinde hoofgodsdienste die gedoemde Volkebond voorgestaan het, is Jehovah se Getuies vir hierdie wêreldwye predikingsveldtog voorberei.

33, 34. In watter mate is die goeie nuus van die Koninkryk oor die hele wêreld verkondig?

33 Daar was toe net ongeveer 10 000 Getuies, maar hulle het geweet dat die werk gedoen moet word. Hulle het die predikingswerk moedig aangepak. Hulle het besef dat ’n skeiding tussen die geestelikes en die lekedom in stryd met die Bybel se bevele sowel as die apostoliese patroon was. Daarom het hulle almal, tot die laaste individu, geleer hoe om met hulle naaste oor God se Koninkryk te praat. Hulle het ’n organisasie van predikers geword.

34 Mettertyd moes hierdie predikers intense teenstand verduur. In Europa het verskillende totalitêre regeringstelsels hulle teengestaan. In die Verenigde State en Kanada is hulle voor die hof gedaag en moes hulle gepeupelgeweld verduur. In ander lande moes hulle fanatiese godsdiensvooroordeel en meedoënlose vervolging deur tirannieke diktators die hoof bied. In die laaste jare moes hulle ook die gees van skeptisisme en genotsug wat ontstaan het, teenwerk. Maar hulle het dermate volhard dat daar vandag meer as drie en ’n half miljoen Getuies in 212 lande is. Die goeie nuus van die Koninkryk is nog nooit tevore so wyd en syd verkondig nie—’n treffende vervulling van hierdie aspek van die teken!

Wat beteken dit alles?

35. (a) Hoe help profesieë wat vandag vervul word om te bewys dat die Bybel deur God geïnspireer is? (b) Wat beteken die vervulling van die teken wat Jesus gegee het vir ons tyd?

35 Ons sien ongetwyfeld hoe die groot teken wat Jesus gegee het in vervulling gaan. Hierdie feit is ’n bykomende bewys dat die Bybel inderdaad deur God geïnspireer is. Geen mens kon so lank voor die tyd voorspel het wat gedurende hierdie 20ste eeu sou gebeur nie. Buitendien beteken die vervulling van die teken dat ons in die tyd van Jesus se teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge lewe (Mattheüs 24:3, vgl. NW). Wat beteken dit? Wat behels Jesus se teenwoordigheid? En wat is die stelsel van dinge wat sy einde nader? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons aandag skenk aan nog ’n oortuigende bewys dat die Bybel geïnspireer is: sy merkwaardige interne harmonie. Ons sal dit vervolgens bespreek en sien hoe die Bybel se hooftema nóú reeds ’n ontsagwekkende klimaks nader.

[Voetnote]

^ par. 17 Daar was tussen 1914 en 1918 ten minste vyf aardbewings wat 8 of meer op die Richterskaal geregistreer het—hewiger as die aardbewing in Abruzzi. Maar hierdie aardskuddings was in afgeleë streke van die aarde en het gevolglik nie soveel aandag getrek soos die aardbewing in Italië nie.5

^ par. 18 Verskillende sterftesyfers is vir die aantal slagoffers in party van hierdie rampe aangegee. Maar almal was uiters verwoestend.

[Studievrae]