Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Hoër bron van wysheid

’n Hoër bron van wysheid

Hoofstuk 12

’n Hoër bron van wysheid

“Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!” (Psalm 104:24). Ja, die skepping, van die grootsheid van die onmeetlike heelal tot die delikate skoonheid van ’n blom, getuig van die ongeëwenaarde wysheid van die Skepper daarvan. Die tegnologie van hierdie 20ste eeu is onbeduidend in vergelyking met God se werke. As die Bybel God se Woord is, sou ons ook verwag dat dit wysheid bevat wat menslike vermoëns oortref. Is dit die geval?

1. (Sluit die inleiding in.) (a) Waar sien ons bewyse van God se ongeëwenaarde wysheid? (b) Watter raad gee die Bybel aangaande wysheid?

DIE Bybel beklemtoon die belangrikheid van wysheid. Dit sê: “Wysheid is die vernaamste. Verwerf wysheid; en by alles wat jy verwerf, verwerf insig” (Spreuke 4:7, NW). Dit erken ook dat ons as mense dikwels wysheid kortkom, en dit spoor ons aan: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal [mildelik] gee.”—Jakobus 1:5, vgl. NW.

2. Hoe kan ’n mens meer wysheid verkry?

2 Hoe gee God wysheid “mildelik”? Een manier is deur ons aan te spoor om die Bybel te lees en daaruit te leer. Die Bybelboek Spreuke maan: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid . . . dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind . . . want die HERE gee wysheid” (Spreuke 2:1, 2, 5, 6). Wanneer ons die raad in die Bybel toepas en sien hoe doeltreffend dit is, besef ons dat dit waarlik van goddelike wysheid getuig.

Wyse woorde

3, 4. (a) Wat sê die Bybel oor die nutteloosheid van geldgierigheid? (b) Watter Bybelraad oor die waarde van geld getuig van goeie balans?

3 Kom ons beskou ’n paar Bybelverse om hierdie feit beter te besef. Oorweeg hierdie wyse woorde: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede . . . Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels” (1 Timotheüs 6:9, 10). Vergelyk dit met die hedendaagse beskouing—altans dié in die Westerse gemeenskap—wat mense aanspoor om geld as hulle vernaamste doelwit na te jaag. Talle verkry die rykdom wat hulle begeer, maar ongelukkig voel hulle steeds leeg en ontevrede. ’n Kliniese psigoloog het gesê: “Die feit dat jy die hoogste sport bereik en ryk geword het, gee jou nie ’n gevoel van voldoening en tevredenheid nie en laat jou nie voel dat ander jou waarlik respekteer of liefhet nie.”1

4 ’n Praktiese persoon kan geld natuurlik nie heeltemal ignoreer nie. Die Bybel openbaar goed gebalanseerde wysheid wanneer dit sê: “Want wysheid is ’n beskutting, geld is ’n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe” (Prediker 7:12). Die Bybel help ons sodoende om te sien dat geld, hoewel belangrik, nie van die allergrootste belang is nie. Dit is bloot ’n middel tot ’n doel, en dit het min waarde as ons nie die wysheid het om dit behoorlik te gebruik nie.

5, 6. (a) Waarom is die Bybelraad om slegte omgang te vermy wys? (b) Hoe baat dit ons as ons ‘met die wyse omgaan’?

5 Die volgende verklaring in die Bybel is ook waar: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Het jy al opgelet watter sterk invloed ons metgeselle op ons uitoefen? Portuurdwang het jongmense in dronkenskap, dwelmmisbruik en onsedelikheid laat verval. As ons omgaan met mense wat vuil taal gebruik, begin ons ook uiteindelik vuil taal gebruik. Omgang met oneerlike mense kan ons oneerlik maak. Dit is waarlik soos die Bybel ook sê: “Slegte gesprekke bederf goeie sedes.”—1 Korinthiërs 15:33.

6 Daarenteen kan goeie omgang ons verbeter. As ons ‘met die wyse omgaan’, sal ons self wyser word. Goeie gewoontes is, net soos slegte gewoontes, aansteeklik. Die Bybel openbaar weer eens wysheid deur ons aan te spoor om ons metgeselle versigtig te kies.

7. Waarom is die Bybel ’n unieke bron van raad?

7 Die Bybel bevat baie sulke voorskrifte wat ons kan help om ons lewe te rig. Dit is ’n unieke bron van raad. Die raad daarin is altyd voordelig. Dit is nooit bloot teoreties nie, en dit benadeel ons nooit nie. Die wye omvang van Bybelraad is sonder gelyke. Mense wat dit in hulle lewe toepas en sien hoe dit hulle altyd tot voordeel strek, besef dat die Bybel ’n unieke bron van wysheid is.

Wyse beginsels

8. Hoe kan die Bybel ons help selfs wanneer ons te staan kom voor ’n situasie wat nie spesifiek daarin gemeld word nie?

8 Maar sê nou ons kom te staan voor ’n situasie wat nie spesifiek in die Bybel gemeld word nie? Ons vind dikwels wye beginsels om ons te lei. Baie moes byvoorbeeld op die een of ander tyd in hulle lewe ’n besluit neem oor die gewoonte van tabakrokery. Aangesien tabak in Jesus se tyd in die Midde-Ooste onbekend was, meld die Bybel dit nie. Daar is nietemin gepaste Bybelbeginsels om ons te help om ’n wyse besluit hieroor te neem.

9-11. Hoe help Bybelbeginsels ons om ’n wyse besluit oor die gebruik van tabak te neem, en hoe baat dit ons as ons hierdie beginsels volg?

9 Hoewel tabakrokery glo aangenaam is, behels dit in werklikheid dat gekonsentreerde besoedelstowwe in die longe ingeasem word. ’n Roker besoedel sy liggaam, sowel as sy klere en die lug om hom. Bowendien is die rookgewoonte ’n verslawing. Mense wat wil ophou, vind dit dikwels baie moeilik. Met die oog hierop kan ons ons tot die Bybel wend vir hulp om ’n wyse gevolgtrekking oor tabakrokery te maak.

10 Beskou eerstens die probleem van verslawing. Paulus het, toe hy oor voedsel gepraat het, gesê: “Ek sal my nie deur iets laat oorheers nie” (1 Korinthiërs 6:12). Dit het Paulus vrygestaan om enige voedselsoort te eet, maar hy het geweet dat party van sy tydgenote ’n gevoelige gewete gehad het. Hy het derhalwe gesê dat hy nie so “verslaaf” aan sekere voedselsoorte was dat hy dit nie kon opgee om te voorkom dat hy ander laat struikel nie. As iemand nie kan ophou om tabak te rook—of te pruim—nie, word hy beslis daardeur “oorheers”. Paulus se woorde oor die kwessie van voedsel is dus ’n goeie riglyn vir tabakgebruik. Ons moet nie toelaat dat ons aan ’n gewoonte verslaaf raak nie.

11 Beskou tweedens die kwessie van besoedeling. Die Bybel sê: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig” (2 Korinthiërs 7:1). Die rookgewoonte is ongetwyfeld ’n besoedeling van die vlees. Die erns van hierdie besoedeling blyk uit die feit dat dit, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie, elke jaar die ontydige dood van meer as ’n miljoen mense veroorsaak. As ons ag slaan op die Bybelbeginsel om besoedeling van die vlees te vermy, sal ons beskerm word teen die ernstige gesondheidsgevare van die rookgewoonte sowel as dwelms en ander vorme van besoedeling.

Heilsame woorde

12. Waarom hou Bybelraad altyd verband met ons liggaamlike en emosionele welsyn?

12 Dit behoort ons nie te verbaas dat die toepassing van Bybelraad liggaamlike voordele inhou nie. Bybelraad kom van God af. As ons Skepper het hy ’n diepgaande kennis van hoe ons gemaak is en wat ons nodig het (Psalm 139:14-16). Sy raad hou altyd verband met ons liggaamlike en emosionele welsyn.

13, 14. Waarom is dit die verstandigste om die Bybelraad teen leuentaal te volg?

13 Hierdie feit blyk uit die raad om nie leuens te vertel nie. Leuens word aangegee as een van die sewe dinge wat Jehovah haat, en die boek Openbaring klassifiseer leuenaars saam met ander wat nie ’n plek in God se nuwe wêreld sal hê nie (Spreuke 6:19; Openbaring 21:8). Ten spyte hiervan kom leuentaal algemeen voor. Een saketydskrif sê: “Die VSA beleef die ergste toename van bedrog, misleiding en verwante wangebruike in sy geskiedenis.”2

14 Al is leuentaal so algemeen, is dit egter nadelig vir die gemeenskap en nadelig vir die individu. Rubriekskrywer Clifford Longley sê tereg: “Leuens benadeel die leuenaar en die slagoffer van die leuen op die diepste vlak van hul wese deur die noodsaaklike verbinding tussen die verstand en die werklikheid te verbreek.”3 The American Journal of Psychiatry sê: “Die sielkundige uitwerking op slagoffers van leuens kan verwoestend wees. Belangrike lewensbesluite kan gebaseer word op valse inligting wat as juis aanvaar word. Leuens kan ook ’n nadelige uitwerking op die leuenaar self hê.”4 Hoeveel beter is dit tog om die waarheid te praat, soos die Bybel ons wyslik aanraai!

15, 16. Op watter maniere strek dit ons tot voordeel as ons die Bybelraad volg om liefde teenoor ander te betoon?

15 In ’n positiewer trant sê die Bybel dat ons oor ander besorg moet wees, liefde teenoor hulle moet betoon en hulle behulpsaam moet wees. Jesus se woorde is welbekend: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.”—Mattheüs 7:12.

16 Hoeveel beter sal die wêreld tog nie wees as almal hierdie reël toepas nie! Volgens ’n sielkundige studie wat in die Verenigde State gedoen is, sal mense bowendien beter voel. Die 1 700 mense wat by die studie betrokke was, het gesê dat hulle kalm voel as hulle ander help en dat dit stresverwante kwale soos hoofpyne en stemloosheid verlig. Die verslag sê ten slotte: “Dit lyk dus of dit net soveel ’n deel van die mensenatuur is om vir ander om te gee as om vir jouself om te gee.”5 Dit herinner ons aan die Bybelopdrag: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Mattheüs 22:39; vergelyk Johannes 13:34, 35.) Dit is natuurlik om onsself lief te hê. Maar die Bybel sê dat ons alleenlik emosioneel gesond sal wees as ons daardie selfliefde in ewewig hou met ’n liefde vir ander.

Die huwelik en sedelikheid

17. Waarom lyk Bybelraad soms ouderwets?

17 Hoewel Bybelraad blyk gee van diep wysheid sê dit nie altyd wat mense wil hoor nie. Dit word dikwels van ouderwetsheid beskuldig. Waarom? Want hoewel die Bybel se raad tot ons blywende voordeel strek, is dissipline en selfverloëning dikwels nodig om dit toe te pas; en vandag is hierdie eienskappe nie gewild nie.

18, 19. Wat is die Bybelstandaarde vir die huwelik en sedelikheid?

18 Beskou die kwessie van die huwelik en sedelikheid. Die Bybel se standaarde in hierdie verband is baie streng. Dit stipuleer monogamie, een man vir een vrou. En hoewel dit uiterste gevalle meld waar egskeiding of skeiding moontlik is, sê dit oor die algemeen dat die huweliksband lewenslank moet duur. “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”—Mattheüs 19:4-6; 1 Korinthiërs 7:12-15.

19 Bowendien sê die Bybel dat geslagsomgang net in die huwelik toelaatbaar is. Dit verbied alle buite-egtelike geslagsomgang. Ons lees: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete . . . sal die koninkryk van God beërwe nie.”—1 Korinthiërs 6:10.

20. Hoe word die Bybel se sedestandaarde vandag alom geïgnoreer?

20 Hierdie standaarde word vandag alom geïgnoreer. Sosiologieprofessor David Mace sê: “Gedurende die huidige eeu het ons kultuur ingrypend verander, en talle ou gebruike en vaste gewoontes is tot hul grondveste geskud. Die huwelik is geen uitsondering nie.”6 Onsedelikheid is algemeen. Geslagsomgang tussen tieners wat met mekaar uitgaan, word dikwels as normaal beskou. Voorhuwelikse saamlewery—‘net om seker te maak’—is aan die orde van die dag. En nadat paartjies getrou het, is ongeoorloofde seksuele verhoudings nie ongewoon nie.

21. Wat is die gevolg van die feit dat die Bybel se standaarde oor die huwelik en sedelikheid alom geïgnoreer word?

21 Het hierdie meer ongebonde sedeklimaat geluk meegebring? Nee, dit het net uitgeloop op probleme—en duur probleme daarby—wat ongelukkigheid en verbroke gesinne tot gevolg het. Daar is ook ’n pandemie van seksueel oorgedraagde siektes wat regstreeks na onsedelikheid teruggevoer kan word. Die verspreiding van onder meer gonorree, sifilis en chlamydia het hand-uit geruk. In die laaste jare het prostitusie en homoseksuele gebruike die verspreiding van Vigs versnel. Daar is ’n epidemie van jong, ongetroude meisies wat babas kry wanneer hulle self nie veel meer as kinders is nie. Ladies’ Home Journal het gesê: “Die klem op seks waardeur die sestiger- en sewentigerjare gekenmerk is, het nie oneindige mensegeluk gebring nie, maar wel ernstige mense-ellende.”7

22. Wat met betrekking tot sedelikheid bring die grootste geluk in die huwelik mee?

22 Gevolglik hoor ons nou kommentare soos die volgende deur sosiologieprofessor Carlfred B. Broderick: “Miskien is ons volwasse genoeg om te besluit of dit vir ons almal beter sal wees om voorhuwelikse onthouding voor te staan as ’n beleid wat die beste is vir ons burgers se behoeftes en hulle reg op vryheid: vryheid van siekte en vryheid van ongewenste swangerskap.”8 Daar is waarlik bewys dat die Bybel se sedestandaard op die lange duur die grootste geluk meebring.

Beginsels wat regtig werk

23. (a) Is ’n egskeiding die enigste moontlike oplossing as ’n huwelik ongelukkig is? (b) Wat is twee van die sleutels tot ’n gelukkige, bestendige huwelik?

23 Aangesien die huwelik veronderstel is om lewenslank te duur, moet ons weet hoe ons dit suksesvol kan maak. Party het aangevoer dat dit beter is om ’n ongelukkige huwelik te beëindig as om getroud en doodongelukkig te wees. Maar daar is ’n ander alternatief: ’n daadwerklike poging om die probleme wat ongelukkigheid veroorsaak op te los. Dit is nog ’n gebied waarop die Bybel help. Ons het reeds gesien hoe dit ons aanraai om aan ons huweliksmaat getrou te wees, en dit is een sleutel tot ’n gelukkige, bestendige huwelik. Nog ’n sleutel is om te besef dat daar net een hoof in ’n huwelik kan wees, en die Bybel sê dat die man die hoof moet wees. Die vrou word aangeraai om haar man te ondersteun en nie sy posisie te betwis nie. Die man word daarenteen aangesê om sy posisie tot voordeel van sy vrou te gebruik en nie selfsugtig te wees nie.—1 Korinthiërs 11:3; 1 Timotheüs 2:11-14.

24, 25. Hoe spoor die Bybel mans en vrouens aan om hulle behoorlike rolle in die huwelik te vervul?

24 Die Bybel sê vir die man: “So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie” (Efesiërs 5:28, 29). Die liefdevolle man oefen sy gesag bedagsaam uit. Hy onthou dat, hoewel hy die hoof is, hy sy vrou in ag moet neem en moet raadpleeg. Die huwelik is ’n vennootskap, nie ’n diktatorskap nie.

25 Bybelraad vir vroue sluit hierdie woorde in: “Die vrou moet die man eerbiedig” (Efesiërs 5:33). Sy eerbiedig haar man weens sy posisie, en sy sal haar eerbied toon deur hom te ondersteun, net soos haar man sy liefde sal toon deur haar belange op die hart te dra. Vir baie mense met die hedendaagse denkwyse is sulke raad onaanvaarbaar. Maar vennootskappe wat hulle verhouding op liefde en eerbied grond—soos die Bybel aanraai—is altyd gelukkig.

26. Is die skriftuurlike standaarde vir die huwelik werklik prakties? Lig dit toe.

26 Die feit dat Bybelraad oor hierdie aangeleentheid regtig werk, blyk uit ’n ondervinding wat uit die Suidsee-gebied afkomstig is. ’n Egpaar aldaar was na tien jaar saam oortuig dat hulle huwelik ’n mislukking is. Hulle het dus begin beplan om uiteen te gaan. Toe het die vrou met ’n Getuie van Jehovah gesels. Sy en die Getuie het saam die Bybelraad vir egpare bestudeer. Die man sê: “Terwyl my vrou die Bybelbeginsels geleer het, het sy probeer om dit in haar lewe toe te pas. Na ’n paar weke het ek etlike veranderinge begin opmerk.” Dit het sy belangstelling geprikkel, en hy het ingestem om by sy vrou se Bybelstudie aan te sluit en het die Bybel se raad vir getroude mans geleer. Die resultaat? Hy sê: “Ons het nou die grondslag van ’n werklik gelukkige gesinslewe gevind.”

27. Watter Bybelbeginsels kan, as dit toegepas word, arm Christene help?

27 Die Bybel se raad het mense ook al gehelp om armoede die hoof te bied. Die rookgewoonte en dronkenskap, wat albei teen Bybelbeginsels indruis, is byvoorbeeld ’n verkwisting van beperkte geldmiddele (Spreuke 23:19-21). Die Bybel raai ons ook aan om vlytig te wees, aangesien ’n hardwerkende persoon meer dikwels ’n manier kan vind om sy gesin te voed as ’n luiaard wat wanhopig raak (Spreuke 6:6-11; 10:26). En as ’n mens ag slaan op die raad om ‘hulle wat onreg doen nie te beny nie’, sal jy jou nie tot dinge soos misdadigheid of dobbelary wend as maniere om armoede te verlig nie (Psalm 37:1). Sulke gebruike lyk dalk na ’n vinnige oplossing vir geldelike probleme, maar op die lange duur is die vrugte daarvan baie bitter.

28-30. (a) Hoe het die toepassing van Bybelbeginsels een Christin gehelp om armoede die hoof te bied? (b) Waarvan getuig die ondervindinge van duisende arm Christene?

28 Is hierdie raad werklik nuttig vir brandarm mense, of is dit bloot ’n idealistiese teorie? Die antwoord is: Die raad werk, soos talle ondervindinge oor die hele wêreld toon. Net een voorbeeld hiervan is ’n Christen in Asië wat ’n weduwee is, geen vaste inkomste het nie en vir ’n jong seun moet sorg. Hoe het die Bybel haar en haar seun gehelp?

29 Sy was vlytig, soos die Bybel aanraai, en het begin om klere te maak en te verkoop. Omdat sy eerlik en betroubaar was, soos die Bybel ons ook aanraai, het sy gou gereelde klante gekry (Kolossense 3:23). Toe het sy ’n vertrekkie in haar huis in ’n eetplekkie omskep, elke oggend omtrent vieruur opgestaan en voedsel voorberei om te verkoop, en dit vul haar inkomste aan. Sy sê: “Ons moet nietemin eenvoudig lewe.” Maar sy onthou die Bybelraad: “As ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”—1 Timotheüs 6:8.

30 Sy voeg by: “Hoewel ek van die hand na die mond lewe, is ek nie gegrief of bitter nie. Bybelwaarheid gee my ’n positiewe beskouing.” Sy het bowendien gevind dat ’n merkwaardige belofte van Jesus inderdaad in haar geval bewaarheid is. Hy het gesê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge [materiële benodigdhede] sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). Sy het gevind dat sy altyd, op die een of ander manier, die materiële benodigdhede ontvang wanneer sy haar diens aan God eerste in haar lewe stel. Die ervaringe van hierdie Christin, saam met dié van tallose ander arm Christene, versterk die getuienis dat die Bybel se raad regtig werk.

31. Wat gebeur wanneer ons Bybelraad volg, en waarvan is hierdie feit ’n bewys?

31 In hierdie hoofstuk het ons die ontsaglike oorvloed raad en advies in die Bybel maar net vlugtig aangeroer en net ’n paar gevalle beskou waar hierdie raad gewerk het. Die ondervindinge wat gemeld is, kan duisend keer vermenigvuldig word. Wanneer mense die Bybel volg, is dit telkens voordelig. Wanneer hulle dit veronagsaam, ly hulle. Geen ander versameling raad, van die ou tyd of vandag, is so konsekwent nuttig en op mense van alle rasse van toepassing nie. Wyse raad soos hierdie kan nie bloot volkswysheid wees nie. Die feit dat die Bybel ’n ryk bron van sulke wysheid is, is ’n oortuigende bewys dat dit die Woord van God is.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 168]

Behulpsaamheid is vir almal voordelig

[Prent op bladsy 163]

Omgang met die wyse maak ons wys, maar omgang met dwase sal ons benadeel

[Prent op bladsy 165]

Tabakrokery moet vermy word, want dit is strydig met Bybelbeginsels

[Prent op bladsy 171]

Diegene wat Bybelraad in die huwelik toepas, het ’n vaste grondslag vir geluk

[Prent op bladsy 173]

Die toepassing van Bybelraad help mense om die ernstige probleme van armoede die hoof te bied