Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om goedheid aan die dag te lê

Hou aan om goedheid aan die dag te lê

Hou aan om goedheid aan die dag te lê

“Die vrug van die lig bestaan uit elke soort goedheid en regverdigheid en waarheid.”—EFESIËRS 5:9.

1. Hoe toon miljoene nou dat hulle met Psalm 31:19 saamstem?

 DIE lofwaardigste ding wat enige mens kan doen, is om heerlikheid aan Jehovah te bring. Vandag doen miljoene dit deur God te loof vir sy goedheid. As lojale Getuies van Jehovah stem ons heelhartig saam met die psalmis wat gesing het: “Hoe oorvloedig is u goedheid tog, wat u as ’n skat bewaar het vir dié wat u vrees!”—Psalm 31:19NW.

2, 3. Wat kan gebeur as ons dissipelmaakwerk nie deur goeie gedrag gerugsteun word nie?

2 Eerbiedige vrees vir Jehovah beweeg ons om hom te loof vir sy goedheid. Dit beweeg ons ook om ‘Jehovah te prys, hom te loof en die heerlikheid van sy koningskap bekend te maak’ (Psalm 145:10-13, NW). Daarom neem ons ywerig deel aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk (Matteus 24:14; 28:19, 20). Ons predikingswerk moet natuurlik gerugsteun word deur goeie gedrag. Anders kan ons Jehovah se heilige naam oneer aandoen.

3 Baie mense sê dat hulle God aanbid, maar hulle gedrag stem nie ooreen met die standaarde wat in sy geïnspireerde Woord uiteengesit word nie. Aangaande party wat nie in ooreenstemming met hulle bewering dat hulle goed doen, gelewe het nie, het die apostel Paulus geskryf: “Leer jy, die een wat iemand anders leer, . . . nie jouself nie? Jy, die een wat preek: ‘Moenie steel nie’, steel jy? Jy, die een wat sê: ‘Moenie egbreuk pleeg nie’, pleeg jy egbreuk? . . . ’Die naam van God word weens julle onder die nasies gelaster’; net soos daar geskrywe staan.”—Romeine 2:21, 22, 24.

4. Watter uitwerking het ons goeie gedrag?

4 Ons wil nie Jehovah se naam oneer aandoen nie, maar ons strewe eerder daarna om dit deur ons goeie gedrag te verheerlik. Dit het ’n positiewe uitwerking op mense buite die Christengemeente. Dit help ons byvoorbeeld om ons teenstanders die swye op te lê (1 Petrus 2:15). Nog belangriker, ons goeie gedrag trek mense na Jehovah se organisasie, wat die weg baan vir hulle om hom te verheerlik en die ewige lewe te beërf.—Handelinge 13:48.

5. Watter vrae moet ons nou ondersoek?

5 Hoe kan ons, aangesien ons onvolmaak is, gedrag vermy wat Jehovah oneer kan aandoen en waarheidsoekers kan laat struikel? Trouens, hoe kan ons daarin slaag om goedheid aan die dag te lê?

’n Vrug van die lig

6. Wat is party van “die onvrugbare werke wat tot die duisternis behoort”, maar watter vrugte moet onder Christene gesien word?

6 As toegewyde Christene geniet ons iets wat ons help om “onvrugbare werke wat tot die duisternis behoort”, te vermy. Hierdie werke sluit godonterende dinge in soos leuens, diefstal, smadende taal, onkuise praatjies oor seks, skandelike gedrag, onwelvoeglike skertsery en dronkenskap (Efesiërs 4:25, 28, 31; 5:3, 4, 11, 12, 18). Ons sal nie by sulke werke betrokke raak nie, maar eerder ‘voortgaan om as kinders van die lig te wandel’. Die apostel Paulus sê dat ‘die vrug van die lig uit elke soort goedheid en regverdigheid en waarheid bestaan’ (Efesiërs 5:8, 9). Dit is dus deur in die lig te wandel dat ons kan aanhou om goedheid aan die dag te lê. Maar watter soort lig is dit?

7. Wat moet ons doen as ons wil aanhou om die vrug van goedheid te openbaar?

7 Ten spyte van ons onvolmaakthede kan ons goedheid aan die dag lê as ons in geestelike lig wandel. “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad”, het die psalmis gesing (Psalm 119:105). As ons wil aanhou om “die vrug van die lig” deur “elke soort goedheid” te openbaar, moet ons voortdurend die geestelike lig benut wat in God se Woord gevind word, wat in Christelike publikasies noukeurig ondersoek word en wat gereeld by ons vergaderinge vir aanbidding bespreek word (Lukas 12:42; Romeine 15:4; Hebreërs 10:24, 25). Ons moet ook veral let op die voorbeeld en leringe van Jesus Christus, “die lig van die wêreld” en “die weerspieëling van [Jehovah se] heerlikheid”.—Johannes 8:12; Hebreërs 1:1-3.

’n Vrug van die gees

8. Waarom kan ons goedheid aan die dag lê?

8 Geestelike lig help ons ongetwyfeld om goedheid aan die dag te lê. Daarbenewens is ons in staat om hierdie eienskap te openbaar omdat ons deur God se heilige gees, of werkende krag, gelei word. Goedheid is een van “die vrugte van die gees” (Galasiërs 5:22, 23). As ons ons aan die leiding van Jehovah se heilige gees onderwerp, sal dit in ons die wonderlike vrug van goedheid voortbring.

9. Hoe kan ons in ooreenstemming met Jesus se woorde in Lukas 11:9-13 optree?

9 Ons opregte begeerte om Jehovah te behaag deur die gees se vrug van goedheid aan die dag te lê, behoort ons te beweeg om in ooreenstemming met Jesus se woorde op te tree: “Hou aan vra, en daar sal vir julle gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en daar sal vir julle oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, vind; en vir elkeen wat klop, sal daar oopgemaak word. Ja, watter vader onder julle sal, as sy seun ’n vis vra, hom miskien ’n slang in plaas van ’n vis gee? Of as hy ook ’n eier vra, hom ’n skerpioen gee? As julle, hoewel julle [onvolmaak en dus betreklik] goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Lukas 11:9-13). Laat ons Jesus se raad volg en bid vir Jehovah se gees sodat ons kan aanhou om die vrug van goedheid aan die dag te lê.

“Hou aan om goed te doen”

10. Watter aspekte van Jehovah se goedheid word in Exodus 34:6, 7 genoem?

10 Met geestelike lig uit God se Woord en met die hulp van God se heilige gees kan ons ‘aanhou om goed te doen’ (Romeine 13:3). Deur gereelde Bybelstudie leer ons al hoe meer oor hoe ons Jehovah se goedheid kan navolg. Die vorige artikel het aspekte van God se goedheid bespreek wat genoem word in die verklaring aan Moses, wat opgeteken is in Exodus 34:6, 7 (NW), waar ons lees: “Jehovah, Jehovah, ’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar hy sal geensins vrystelling van straf gee nie.” As ons hierdie aspekte van Jehovah se goedheid van nader beskou, sal dit ons help om ‘aan te hou om goed te doen’.

11. Hoe moet die wete dat Jehovah barmhartig en genadig is, ons raak?

11 Hierdie Goddelike verklaring vestig ons aandag op die belangrikheid daarvan om Jehovah na te volg deur barmhartig en genadig te wees. “Gelukkig is die barmhartiges”, het Jesus gesê, “want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Matteus 5:7; Lukas 6:36). Die wete dat Jehovah genadig is, beweeg ons om genadig en vriendelik te wees in ons handelinge met ander, insluitende mense vir wie ons getuig. Dit stem ooreen met Paulus se raad: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen ’n antwoord behoort te gee.”—Kolossense 4:6.

12. (a) Hoe moet ons teenoor ander optree, aangesien God nie gou toornig word nie? (b) Jehovah se liefderyke goedhartigheid motiveer ons om wat te doen?

12 Aangesien God nie gou toornig word nie, beweeg die begeerte om ‘aan te hou om goed te doen’ ons om die geringe tekortkominge van medegelowiges te verdra en ons aandag op hulle goeie eienskappe toe te spits (Matteus 7:5; Jakobus 1:19). Jehovah se liefderyke goedhartigheid motiveer ons om lojale liefde te betoon, selfs in uiters moeilike omstandighede. Dit is beslis iets baie begeerliks.—Spreuke 19:22NW.

13. Hoe moet ons optree, aangesien Jehovah ‘oorvloedig is in waarheid’?

13 Aangesien ons hemelse Vader ‘oorvloedig is in waarheid’, strewe ons daarna om ‘ons deur waaragtige woorde as sy bedienaars aan te beveel’ (2 Korintiërs 6:3-7). Onder die sewe dinge wat Jehovah haat, is “’n valse tong” en “’n valse getuie wat leuens uitstrooi” (Spreuke 6:16-19, NW). Ons begeerte om God te behaag, het ons dus beweeg om ‘onwaarheid af te lê en die waarheid te spreek’ (Efesiërs 4:25). Laat ons nooit versuim om goedheid op hierdie noodsaaklike manier aan die dag te lê nie.

14. Waarom moet ons ander vergewe?

14 God se verklaring aan Moses behoort ons ook te beweeg om ander te vergewe, want Jehovah is vergewensgesind (Matteus 6:14, 15). Jehovah straf natuurlik onberouvolle sondaars. Ons moet derhalwe volgens sy standaarde van goedheid lewe wanneer dit kom by die handhawing van die geestelike reinheid van die gemeente.—Levitikus 5:1; 1 Korintiërs 5:11, 12; 1 Timoteus 5:22.

‘Let streng op’

15, 16. Hoe kan Paulus se raad in Efesiërs 5:15-19 ons help om aan te hou om goedheid te openbaar?

15 Om ’n weg van goedheid te volg ten spyte van die boosheid om ons, moet ons met God se gees vervul wees en let op hoe ons wandel. Paulus het Christene in Efese gevolglik aangespoor: “Let dus voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae goddeloos is. Hou om dié rede op om onredelik te word, maar gaan voort om te begryp wat die wil van Jehovah is. En moenie dronk word van wyn, waarin daar losbandigheid is nie, maar word voortdurend met gees vervul, en spreek tot mekaar met psalms en lofliedere tot God en geestelike liedere, en sing en begelei julle met musiek in julle hart tot Jehovah” (Efesiërs 5:15-19). Dit is beslis gepaste raad vir ons in hierdie kritieke laaste dae.—2 Timoteus 3:1.

16 As ons wil aanhou om goedheid te openbaar, moet ons streng daarop let dat ons wandel soos persone wat Goddelike wysheid aan die dag lê (Jakobus 3:17). Ons moet growwe sondes vermy en met die heilige gees vervul wees en ons daardeur laat lei (Galasiërs 5:19-25). As ons die geestelike onderrigting toepas wat ons by Christelike vergaderinge sowel as kring- en streekbyeenkomste ontvang, kan ons aanhou doen wat goed is. Paulus se woorde aan die Efesiërs herinner ons dalk ook daaraan dat ons by die meeste van ons vergaderinge vir aanbidding daarby baat vind as ons “geestelike liedere”—waarvan baie oor geestelike eienskappe, soos goedheid, handel—uit die hart sing.

17. Waarvan kan Christene wat ernstig siek is, seker wees as hulle omstandighede hulle nie toelaat om vergaderinge gereeld by te woon nie?

17 Wat van ons medegelowiges wat nie Christelike vergaderinge gereeld kan bywoon nie weens ’n ernstige chroniese siekte? Hulle voel dalk terneergedruk omdat hulle nie altyd saam met hulle geestelike broers en susters kan vergader om Jehovah te aanbid nie. Maar hulle kan daarvan seker wees dat Jehovah hulle omstandighede verstaan, hulle in die lig sal bewaar, hulle sy heilige gees sal gee en hulle sal help om aan te hou om te doen wat goed is.—Jesaja 57:15.

18. Wat sal ons help om ’n weg van goedheid te volg?

18 Om ’n weg van goedheid te volg, vereis dat ons let op ons omgang en ons afkeer van diegene wat “sonder liefde vir goedheid” is (2 Timoteus 3:2-5; 1 Korintiërs 15:33). As ons hierdie raad toepas, help dit ons om nie ‘God se heilige gees te bedroef’ deur in stryd met die leiding daarvan op te tree nie (Efesiërs 4:30). Daarbenewens word ons gehelp om te doen wat goed is as ons noue bande opbou met diegene wie se lewe bewys lewer dat hulle liefhebbers van goedheid is en deur Jehovah se heilige gees gelei word.—Amos 5:15; Romeine 8:14; Galasiërs 5:18.

Goedheid lewer goeie resultate

19-21. Vertel ondervindinge wat die uitwerking van goedheid op ander toelig.

19 As ons in geestelike lig wandel, ons aan die leiding van God se gees onderwerp en let op hoe ons wandel, sal dit ons help om die kwaad te vermy en om ‘aan te hou doen wat goed is’. Dit kan weer goeie resultate lewer. Beskou byvoorbeeld die ondervinding van Zongezile, een van Jehovah se Getuies in Suid-Afrika. Toe hy een oggend op pad skool toe was, het hy by die kitsbank aangegaan om te sien hoeveel hy in sy klein spaarrekening het. Die strokie het verkeerdelik ’n saldo van R42 000 getoon. ’n Veiligheidswag by die bank en ander het hom aangespoor om die geld te onttrek en dit in ’n rekening by ’n ander bank te deponeer. Net die Getuie-egpaar by wie hy gewoon het, het hom geprys omdat hy niks van die geld onttrek het nie.

20 Die volgende werksdag het Zongezile die fout by die bank gerapporteer. Daar is ontdek dat sy rekeningnommer baie na aan dié van ’n ryk sakeman was, wat die geld per ongeluk in die verkeerde rekening gedeponeer het. Verbaas dat Zongezile nie ’n sent van die geld onttrek het nie, het die sakeman hom gevra: “Aan watter godsdiens behoort jy?” Zongezile het verduidelik dat hy een van Jehovah se Getuies is. Die bankpersoneel het hom hartlik geprys en gesê: “Ons wens almal was so eerlik soos Jehovah se Getuies.” Ja, eerlike en goeie dade kan inderdaad daartoe lei dat ander Jehovah verheerlik.—Hebreërs 13:18.

21 Goeie dade hoef nie iets uitsonderliks te wees om ’n goeie uitwerking te hê nie. Ter toeligting: ’n Jong Getuie wat as ’n voltydse evangeliedienaar op een van die Samoa-eilande dien, het na die plaaslike hospitaal gegaan. Daar het mense vir die dokter gewag, en die Getuie het opgemerk dat ’n bejaarde vrou langs hom baie siek was. Hy het gereël dat die vrou voor hom ingaan sodat sy vinniger aandag kon kry. By ’n latere geleentheid het die Getuie hierdie bejaarde vrou by die mark raakgeloop. Sy het hom onthou, asook sy goeie daad by die hospitaal. “Nou weet ek dat Jehovah se Getuies waarlik hulle naaste liefhet”, het sy gesê. Sy het voorheen nie in die Koninkryksboodskap belanggestel nie, maar die goedheid wat die Getuie aan haar betoon het, het ’n goeie uitwerking gehad. Sy het die aanbod van ’n tuisbybelstudie aanvaar en kennis van God se Woord begin inneem.

22. Wat is ’n baie belangrike manier om ‘aan te hou om goed te doen’?

22 Jy kan heel waarskynlik ondervindinge vertel wat die waarde van goedheid toelig. ’n Baie belangrike manier om ‘aan te hou om goed te doen’, is om ’n gereelde deelname aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk te hê (Matteus 24:14). Laat ons aanhou om hierdie werk, wat so ’n groot voorreg is, ywerig te doen, in die wete dat dit een manier is om goed te doen, veral aan diegene wat gunstig reageer. En die belangrikste is dat ons bediening en goeie gedrag Jehovah, die bron van goedheid, verheerlik.—Matteus 19:16, 17.

Gaan voort om altyd ‘goed te doen’

23. Waarom is die Christelike bediening ’n goeie werk?

23 Ons bediening is ongetwyfeld ’n goeie werk. Dit kan lei tot redding vir ons en vir dié wat luister na die Bybelboodskap en sodoende op die weg na die ewige lewe kom (Matteus 7:13, 14; 1 Timoteus 4:16). Wanneer ons dan voor besluite te staan kom, sal die begeerte om te doen wat goed is, ons heel moontlik laat vra: ‘Hoe sal hierdie besluit my Koninkrykspredikingswerk raak? Is dit werklik ’n goeie weg wat ek wil inslaan? Sal dit my in staat stel om ander te help om die “ewige goeie nuus” aan te neem en ’n hegte verhouding met Jehovah God op te bou?’ (Openbaring 14:6). ’n Besluit wat Koninkryksbelange bevorder, sal tot groot geluk lei.—Matteus 6:33; Handelinge 20:35.

24, 25. Wat is ’n paar maniere om goed te doen in die gemeente, en waarvan kan ons seker wees as ons aanhou om goedheid aan die dag te lê?

24 Laat ons nooit die heilsame uitwerking van goedheid onderskat nie. Ons kan aanhou om hierdie eienskap aan die dag te lê deur die Christengemeente te ondersteun en te doen wat ons kan om die belange en welsyn daarvan te bevorder. Ons doen beslis goed wanneer ons Christelike vergaderinge gereeld bywoon en daaraan deelneem. Net die feit dat ons daar is, moedig medeaanbidders aan, en ons goed voorbereide kommentare bou hulle geestelik op. Ons doen ook goed wanneer ons ons middele gebruik om die Koninkryksaal in stand te hou en wanneer ons help om behoorlik daarna om te sien (2 Konings 22:3-7; 2 Korintiërs 9:6, 7). Ja, “laat ons . . . , solank ons tyd het wat daarvoor gunstig is, aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is”.—Galasiërs 6:10.

25 Ons kan nie aan elke situasie dink waar goedheid nodig sal wees nie. Laat ons dan, wanneer ons voor nuwe uitdagings te staan kom, lig uit die Skrif soek, vir Jehovah se heilige gees bid en ons uiterste bes doen om sy goeie en volmaakte wil te doen (Romeine 2:9, 10; 12:2). Ons kan vol vertroue wees dat Jehovah ons oorvloedig sal seën terwyl ons aanhou om goedheid aan die dag te lê.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat is die lofwaardigste ding wat ons kan doen?

• Waarom word goedheid ’n “vrug van die lig” genoem?

• Waarom word goedheid ’n ‘vrug van die gees’ genoem?

• Watter uitwerking het ons goeie gedrag?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 17]

God se Woord en sy heilige gees help ons om goedheid aan die dag te lê

[Prente op bladsy 18]

Dit lewer goeie resultate as goedheid aan die dag gelê word