Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die ‘verkondiging van die woord’ bring verkwikking mee

Die ‘verkondiging van die woord’ bring verkwikking mee

“Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik”

Die ‘verkondiging van die woord’ bring verkwikking mee

HY WAS ’n volmaakte man met ’n belangrike opdrag. Sy onderrigmetodes was so doeltreffend dat “die skare verstom was oor sy manier van leer” (Matteus 7:28). Hy was ook ’n onvermoeibare prediker. Hy het sy tyd, energie en middele hoofsaaklik gebruik om God se Koninkryk te verkondig. Ja, Jesus Christus het sy geboorteland deurkruis as ’n prediker en onderrigter sonder gelyke.—Matteus 9:35.

Jesus se dringende opdrag was om “die goeie nuus van die koninkryk” aan sy tydgenote te verkondig en om sy dissipels op te lei om dieselfde werk op ’n wêreldskaal te doen (Matteus 4:23; 24:14; 28:19, 20). Sou die gewigtigheid en dringendheid van hulle predikingsopdrag sowel as die ontsaglike omvang van die werk te oorweldigend wees vir sy onvolmaakte volgelinge met hulle beperkinge?

Beslis nie! Nadat Jesus vir sy dissipels gesê het om “die Heer van die oes”, Jehovah God, om meer werkers te vra, het hy hulle uitgestuur om die mense te gaan leer (Matteus 9:38; 10:1). Daarna het hy hulle verseker dat die verantwoordelikheid om sy volgeling te wees—wat die opdrag om te preek, insluit—ware verligting en vertroosting sou meebring. Jesus het gesê: “Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik.”—Matteus 11:28.

’n Bron van vreugde

Van hoeveel medelye, liefde en goedhartigheid getuig daardie uitnodiging tog nie! Dit openbaar Jesus se diepe besorgdheid oor sy volgelinge. Sy dissipels vind dit beslis verkwikkend om hulle verantwoordelikheid na te kom om “die goeie nuus” van God se Koninkryk te verkondig. Dit verskaf hulle ware vreugde en bevrediging.—Johannes 4:36.

Lank voor Jesus op die aarde was, het die Skrif beklemtoon dat vreugde deel moet uitmaak van heilige diens aan God. Dit het duidelik na vore gekom in die lied van die psalmis: “Juig voor die HERE, o ganse aarde! Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel” (Psalm 100:1, 2). Vandag verbly mense uit alle nasies hulle in Jehovah, en hulle lofbetuigings is soos die gejuig van ’n seëvierende leër. Diegene wat waarlik aan God toegewyd is, kom “met gejubel” voor sy aangesig. En dit is beslis gepas, want Jehovah is “die gelukkige God”, wat wil hê dat dit sy knegte vreugde moet verskaf om hulle toewyding aan hom na te leef.—1 Timoteus 1:11.

Bedienaars wat verkwik word

Hoe is dit moontlik dat harde werk in die veldbediening nie uitputtend nie, maar in werklikheid verkwikkend is? Wel, om Jehovah se werk te doen, was vir Jesus soos voedsel wat hom opnuut versterk het. Hy het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring.”—Johannes 4:34.

Net so verskaf dit ywerige Christenbedienaars vandag vreugde om ‘die woord te verkondig’ (2 Timoteus 4:2). Connie, ’n middeljarige Christenvrou wat meer as 70 uur per maand in die predikingswerk deurbring, sê: “Nadat ek aan die bediening deelgeneem het, voel ek tevrede en gelukkig, selfs al is ek aan die einde van die dag moeg.”

Maar sê nou mense reageer nie gunstig op die Koninkryksboodskap nie? Connie sê verder: “Ongeag hoe mense reageer, ek was nog nie een keer spyt dat ek aan die bediening deelgeneem het nie. Buiten die wete dat ek doen wat Jehovah behaag, geniet ek dit om oor die waarheid te praat, want dit versterk in my hart die wonderlike hoop wat die Bybel ons bied.”

Ander vind dat dit hulle eie lewe betekenisvoller maak as hulle mense help om juiste kennis van God op te doen. Meloney, ’n jong vrou wat gereeld meer as 50 uur per maand in die predikingswerk deurbring, sê: “Die bediening is verkwikkend, want dit maak my lewe doelgerig en sinvol. Persoonlike probleme en die druk van die daaglikse lewe vervaag wanneer ek aan die bediening deelneem.”

Millicent, nog ’n ywerige bedienaar van Jehovah se Getuies, sê: “Die bediening maak elke dag sinvol wat ek met ander oor God se voorneme vir die mens praat en verduidelik hoe die Paradys op aarde herstel sal word. Dit herinner my daagliks daaraan dat Jehovah ’n werklike persoon is, en dit gee my gemoedsrus en innerlike vreugde wat ’n mens op geen ander manier kan verkry nie.”

Ontvangers wat verkwik word

Koninkryksverkondigers word beslis deur die Christelike bediening verkwik, en dié wat die lewegewende boodskap aanvaar, word daardeur vertroos. ’n Onderwyseres in Portugal het haar opleiding by nonne en priesters ontvang, maar sy het nogtans gevoel dat haar kerk nie haar geestelike behoeftes bevredig nie. Haar Bybelvrae het onbeantwoord gebly. Een van Jehovah se Getuies het die Bybel gereeld met haar begin studeer, en die een skriftuurlike gedagte na die ander het vir haar duidelik geword. Die onderwyseres was verheug. “Ek het elke Woensdag gretig na my studie uitgesien”, het sy gesê, “want my vrae is die een na die ander met oortuigende bewyse uit die Bybel beantwoord.” Vandag is hierdie vrou ’n toegewyde kneg van Jehovah, en sy help ook om ander met Bybelwaarheid te verkwik.

Dit is derhalwe duidelik dat Jehovah se Getuies nie deur die erns van hulle predikingsopdrag of die uitgestrektheid van hulle wêreldwye gebied oorweldig word nie. Nóg onverskilligheid nóg teenstand ontmoedig hulle. Hulle lê hulle met groot ywer daarop toe om hulle opdrag uit te voer om die Koninkryk te verkondig. Hulle verkondig die goeie nuus aan mense waar hulle ook al gevind kan word—by ’n staanplek vir vragmotors in die Verenigde State (1), by ’n lughawe in Korea (2), in die Andesgebergte (3) of by ’n mark in Londen (4). Regoor die wêreld neem Jesus se hedendaagse volgelinge vreugdevol aan hulle lonende werk deel. En net soos hy beloof het, het hy hulle verkwik en gebruik hy hulle om baie ander te verkwik.—Openbaring 22:17.