Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die “huilende” boom en sy veelsydige “trane”

Die “huilende” boom en sy veelsydige “trane”

Die “huilende” boom en sy veelsydige “trane”

‘Neem balsem vir pyn’, sê Jeremia 51:8 (NW). ’n Soektog na een van die bronne van hierdie uiters strelende en genesende stof neem ons na die eiland Chios, in die Egeïese See.

IN DIE vroeë somer berei boere op Chios op ’n baie ongewone manier voor vir die oes. Nadat hulle die grond gevee het, maak hulle ’n plat basis van wit klei rondom struikagtige immergroen bome wat mastiekbome genoem word. Die boere maak dan insnydings in die bas, wat die bome laat “huil”. Vaalkleurige “harstrane” begin dan uitsyfer. Ná twee of drie weke stol die harsdruppels en maak die boere dit bymekaar, deur dit of direk van die stam of van die kleioppervlak op die grond af te haal. Hierdie “trane”, wat mastiekgom genoem word, is onder andere gebruik om balsem te maak.

Maar geduld en harde werk is nodig voordat daar geoes kan word. Die gedraaide, grys boomstamme groei baie stadig. Dit neem 40 tot 50 jaar voordat ’n boom volgroeid is—gewoonlik is dit dan twee tot drie meter hoog.

Die werk om insnydings in die stamme te maak en die “trane” te oes, is nie al wat nodig is om mastiek te produseer nie. Nadat die boere die “mastiektrane” bymekaargemaak het, sif, was en sorteer hulle dit volgens grootte en gehalte. Later word die mastiek verder skoongemaak en kan dit dan vir talle doeleindes gebruik word.

Die geskiedenis van ’n kosbare plant

Die Griekse woord vir “mastiek” is verwant aan ’n term wat “op die tande kners” beteken. Hierdie naam gee te kenne dat mastiekhars van vroeë tye af as kougom gebruik is om die asem te verfris.

Die oudste inligting oor mastiek kom van Herodotus, ’n Griekse geskiedskrywer van die vyfde eeu v.G.J. Ander eertydse skrywers en geneeshere—waaronder Apollodorus, Dioscorides, Teofrastos en Hippokrates—het die mediese gebruike van mastiek gemeld. Hoewel mastiekbome al met die Mediterreense kus langs groei, is die produsering van mastiek van omstreeks 50 G.J. af byna uitsluitlik tot Chios beperk. En Chios se veroweraars, van die Romeine tot die Genuese tot die Ottomane, het hoofsaaklik in die mastiek daar belanggestel.

Veelsydige mastiek

Eertydse Egiptiese geneeshere het mastiek gebruik om verskeie kwale te behandel, onder meer diarree en gewrigsontsteking. Hulle het dit ook as wierook en vir mummifikasie gebruik. Die mastiekboom was moontlik een van die bronne van die ‘balsem van Gilead’, wat in die Bybel gemeld word weens die geneeskragtige eienskappe wat dit gehad het en omdat dit in skoonheidsmiddels en vir balseming gebruik is (Jeremia 8:22; 46:11). Daar is selfs al gemeen dat die boom waarvan staktedruppels verkry is, wat een van die bestanddele van die welriekende heilige reukwerk was wat slegs vir heilige gebruik bedoel was, moontlik aan die mastiekboom verwant is.—Exodus 30:34, 35NW.

Vandag kom mastiek voor in vernis wat olieverfskilderye, meubels en musiekinstrumente beskerm. Dit word gebruik as ’n isoleer- en waterdigtingsmateriaal, en dit word as een van die beste kleurstabiliseerders in tekstielkleurstof en kunstenaarsverf beskou. Mastiek is ook al in kleefmiddels en in leerlooiery gebruik. Weens mastiek se aangename reuk en ander eienskappe word dit in seep, skoonheidsmiddels en parfuum gebruik.

Mastiek word wêreldwyd in 25 amptelike lyste van geneesmiddels genoem. Dit word nog steeds dikwels in tradisionele geneesmiddels in die Arabiese wêreld gebruik. Mastiek kom ook voor in tandheelkundige sement en in die binneste laag van mediese kapsules.

As ’n bron van balsem het die veelsydige “trane” van die “huilende” mastiekboom al eeue lank ’n strelende en genesende uitwerking. Jeremia se profesie sê dus met goeie rede: ‘Neem balsem vir pyn.’

[Prente op bladsy 31]

Chios

Die mastiek word bymekaargemaak

Mastiek-“trane” word versigtig afgehaal

[Erkennings]

Chios en skets van die oes: Courtesy of Korais Library; die res: Kostas Stamoulis