Die tweede boek van Konings 22:1-20
22 Josiʹa+ was agt jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 31 jaar lank in Jerusalem regeer.+ Sy ma was Jediʹda, die dogter van Adaʹja, uit Boskat.+
2 Hy het gedoen wat reg is in Jehovah se oë en dieselfde weg gevolg as sy voorvader Dawid,+ en hy het nie regs of links daarvan afgewyk nie.
3 In die 18de jaar van koning Josiʹa het die koning sy sekretaris, Safan, die seun van Asalʹja, die seun van Mesulʹlam, na die huis van Jehovah+ gestuur en gesê:
4 “Gaan na die hoëpriester Hilkiʹa+ en laat hom al die geld insamel wat in die huis van Jehovah ingebring word,+ wat die deurwagters by die volk ingesamel het.+
5 Hulle moet dit gee vir die manne wat aangestel is om oor die werk in die huis van Jehovah toesig te hou. En hulle moet dit dan gee vir die werkers in die huis van Jehovah wat die skade aan* die huis moet herstel,+
6 dit wil sê vir die ambagsmanne, die bouers en die messelaars. En hulle moet dit gebruik om balke en gekapte klippe te koop om die huis mee te herstel.+
7 Maar geen verslag moet van hulle geëis word vir die geld wat vir hulle gegee word nie, want hulle is betroubaar.”+
8 Later het die hoëpriester Hilkiʹa vir Safan, die sekretaris,+ gesê: “Ek het die Wetboek+ in die huis van Jehovah gevind.” En Hilkiʹa het die boek vir Safan gegee, wat dit begin lees het.+
9 Toe het Safan, die sekretaris, na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U knegte het die geld gaan haal* wat in die huis was, en hulle het dit vir die manne gegee wat aangestel is om oor die werk in die huis van Jehovah toesig te hou.”+
10 Safan, die sekretaris, het verder vir die koning gesê: “Die priester Hilkiʹa het vir my ’n boek+ gegee.” En Safan het vir die koning daaruit begin lees.
11 Toe die koning die woorde van die Wetboek hoor, het hy onmiddellik sy klere geskeur.+
12 Daarna het die koning die volgende bevel gegee aan die priester Hilkiʹa, aan Ahiʹkam,+ die seun van Safan, aan Agbor, die seun van Migaʹja, aan Safan, die sekretaris, en aan Asaʹja, die koning se kneg:
13 “Gaan raadpleeg Jehovah vir my, vir die volk en vir die hele Juda in verband met die woorde van hierdie boek wat gevind is, want Jehovah is woedend vir ons+ omdat ons voorvaders ongehoorsaam was aan die woorde van hierdie boek en omdat hulle nie alles gedoen het wat vir ons voorgeskryf is nie.”
14 Toe het die priester Hilkiʹa, Ahiʹkam, Agbor, Safan en Asaʹja na die profetes Hulda+ toe gegaan. Sy was die vrou van Sallum, die seun van Tikwa, die seun van Harhas, die klerebewaarder. Sy het in die nuwe deel* van Jerusalem gewoon, en hulle het daar met haar gaan praat.+
15 Sy het vir hulle gesê: “Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het:
16 “Dít is wat Jehovah sê: ‘Ek gaan rampspoed bring oor hierdie plek en sy inwoners – alles wat geskryf is in die boek wat die koning van Juda gelees het.+
17 Hulle het my verlaat, hulle laat offerrook vir ander gode opgaan+ en hulle het my aanstoot gegee deur alles wat hulle gedoen het.+ Daarom sal ek met groot woede teen hierdie plek optree, en my woede sal nie geblus word nie.’”+
18 Maar gaan na die koning van Juda wat julle gestuur het om Jehovah te raadpleeg, en sê vir hom: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Jy het die woorde van die Wet gehoor,
19 en jy het goed gereageer* en jy het nederig berou getoon+ voor Jehovah toe jy gehoor het wat ek teen hierdie plek en sy inwoners gesê het – dat dit iets skokkends en ’n vloek sal word. Jy het jou klere geskeur+ en voor my gehuil, en daarom het ek jou gehoor, sê Jehovah.
20 Daarom sal ek jou in vrede laat sterf,* en jy sal in vrede begrawe word, en jy sal nie al die rampspoed sien wat ek oor hierdie plek sal bring nie.’”’” Toe het hulle die antwoord aan die koning oorgedra.
Voetnote
^ Of “die krake in”.
^ Lett. “uitgegooi”.
^ Of “Tweede Stadsdeel”.
^ Lett. “jou hart was sag”.
^ Lett. “tot jou vaders versamel”.