Spring na inhoud

Hoe kan ek goeie besluite maak?

Hoe kan ek goeie besluite maak?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel gee vir ons uitstekende raad om besluite te maak. Dit kan ons help om ‘wysheid en begrip te verkry’ (Spreuke 4:5). Partykeer sê dit vir ons wat die beste besluit is. Ander kere gee dit vir ons raad wat ons kan help om ’n wyse besluit te maak.

In hierdie artikel

 Wenke wat jou kan help om ’n goeie besluit te maak

  •   Moenie oorhaastig wees om ’n besluit te neem nie. Die Bybel sê: “Die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen” (Spreuke 14:15). As jy oorhaastig is wanneer jy ’n besluit moet maak, kan jy belangrike inligting miskyk. Vat jou tyd om mooi oor jou opsies na te dink. – 1 Tessalonisense 5:21.

  •   Moenie besluite maak net gebaseer op hoe jy voel nie. Die Bybel waarsku ons dat ons nie altyd ons hart kan vertrou nie (Spreuke 28:26; Jeremia 17:9). Byvoorbeeld, ons maak dalk nie goeie besluite wanneer ons kwaad, depressief, mismoedig, ongeduldig of selfs baie moeg is nie. – Spreuke 24:10; 29:22.

  •   Bid vir wysheid (Jakobus 1:5). God wil graag sulke gebede beantwoord. Hy is ’n liefdevolle Vader wat wil hê dat sy kinders onnodige probleme moet vermy. “Jehovah a gee wysheid, en sy woorde gee ’n mens kennis en insig” (Spreuke 2:6). Hy voorsien hierdie wysheid hoofsaaklik deur middel van sy Woord, die Bybel. – 2 Timoteus 3:16, 17.

  •   Doen navorsing. Om ’n goeie besluit te maak, het jy betroubare inligting nodig. Die Bybel sê: “’n Wyse persoon luister en neem meer kennis in” (Spreuke 1:5). Waar kan jy betroubare inligting kry wat jou kan help?

     Kyk eers wat die Bybel oor die onderwerp sê. Omdat ons Skepper weet wat die beste vir ons is, bevat sy Woord die betroubaarste raad (Psalm 25:12). Vir party besluite bevat die Bybel wette en gebooie wat dit duidelik maak wat ons moet doen (Jesaja 48:17, 18). Maar in ander gevalle is die Bybel nie so spesifiek nie. Dit gee ons dan eerder raad in die vorm van Bybelbeginsels. Dit kan ons help om ’n goeie besluit te maak, selfs al verskil dit van ’n ander persoon se besluit. Om Bybelverse te vind wat jou kan help, doen navorsing in artikels of publikasies wat op die Bybel gebaseer is, soos dié wat vryelik beskikbaar is op hierdie webwerf. b

     Vir ander besluite moet jy dalk na ander betroubare bronne van inligting kyk. Byvoorbeeld, voordat jy iets koop – veral as dit baie duur is – sal dit wys wees as jy navorsing doen oor die produk en die vervaardiger daarvan. Dit sluit in wat sal gebeur as die item beskadig word, of as jy dit wil terugstuur. Jy moet ook natuurlik seker maak dat die produk presies is wat jy nodig het.

     Die Bybel sê: “Planne misluk as ’n saak nie bespreek word nie” (Spreuke 15:22). So voordat jy ’n besluit maak, praat met mense wat jy kan vertrou. Byvoorbeeld, dit sal wys wees om met ’n dokter te praat voordat jy ’n mediese besluit moet maak (Matteus 9:12). In party situasies kan jy met mense praat wat al in ’n soortgelyke situasie was. Maar onthou dat jy die een is wat die besluit moet maak en met die gevolge moet saamleef – nie die persone met wie jy praat nie. – Galasiërs 6:4, 5.

  •   Oorweeg al die feite. Op grond van die inligting wat jy bymekaargemaak het, kan jy ’n lys van jou opsies maak, sowel as die voor- en nadele van elke opsie. En wees ook eerlik wanneer jy nadink oor die moontlike gevolge van jou besluit (Deuteronomium 32:29). Byvoorbeeld, hoe kan jou besluit vir jou, jou gesin of ander raak? (Spreuke 22:3; Romeine 14:19). As jy oor sulke vrae en Bybelbeginsels nadink, kan dit jou help om ’n wyse en liefdevolle besluit te maak.

  •   Maak die besluit. Soms stel ons dit uit om ’n besluit te maak omdat ons onseker voel. Maar as ons besluiteloos bly, kan ons op ’n geleentheid uitmis of in ’n situasie beland wat ons kon vermy het. Om nie ’n besluit te maak nie, is net so erg as om ’n slegte besluit te maak. Die Bybel vergelyk dit met die volgende situasie: “Die een wat die wind dophou, sal nie saad saai nie, en die een wat na die wolke kyk, sal nie oes nie.” – Prediker 11:4.

 Jy moet ook onthou dat selfs die beste besluit dalk nie die perfekte besluit is nie. Wanneer ons een ding kies, moet ons dikwels iets anders opoffer. Onverwagse dinge kan ook gebeur (Prediker 9:11). So gebruik die beste inligting wat aan jou beskikbaar is, en kies die opsie wat die beste kans het om suksesvol te wees.

 Moet ek ’n besluit verander wat ek reeds gemaak het?

 Nie alle besluite is finaal nie. Jou omstandighede kan verander, of jy besef dalk dat die besluit wat jy vroeër geneem het, onverwagse gevolge het. Daarom is dit dalk wys om weer oor die situasie te dink en ’n ander opsie te kies wat moontlik meer suksesvol sal wees.

 Maar daar is ook besluite wat jy nie moet verander nie (Psalm 15:4). Byvoorbeeld, God verwag dat ’n getroude paartjie hulle huweliksgelofte moet nakom (Maleagi 2:16; Matteus 19:6). c Wanneer ’n paartjie huweliksprobleme het, moet hulle alles probeer om dit op te los en nie wegloop van hulle huwelik nie.

 Wat as ek ’n slegte besluit gemaak het wat ek nie kan verander nie?

 Die een of ander tyd maak ons almal ’n slegte of ’n onwyse besluit (Jakobus 3:2, voetnoot). Dit is normaal om spyt of selfs skuldig te voel (Psalm 69:5). Sulke gevoelens kan ons selfs help omdat dit ons kan keer om nie dieselfde fout te maak nie! (Spreuke 14:9). Maar die Bybel waarsku dat ons nie so skuldig moet voel dat dit ons mismoedig maak of dit vir ons moeilik maak om reguit te dink nie (2 Korintiërs 2:7). d Die Bybel sê: “Jehovah is genadig en betoon medelye” (Psalm 103:8-13). So as jy ’n slegte besluit gemaak het wat jy nie kan verander nie, probeer om iets daaruit te leer en maak die beste van die situasie.

a Volgens die Bybel is God se naam Jehovah. – Psalm 83:18.

b Jy kan ook op jw.org soek deur ’n woord of frase te gebruik wat verband hou met jou besluit. Hierdie webwerf bevat raad uit die Bybel oor baie onderwerpe. Jy kan ook vir spesifieke woorde soek deur na die “Indeks van Bybelwoorde” in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel te gaan.

c Dit is God se wil dat getroude paartjies bymekaar moet bly vir so lank as wat hulle lewe. Hy laat net toe dat ’n paartjie kan skei en weer kan trou wanneer ’n huweliksmaat aan seksuele sonde skuldig is (Matteus 19:9). As jy huweliksprobleme het, kan die Bybel jou help om dit op ’n liefdevolle en wyse manier op te los.

d Vir meer inligting, sien die artikel “Ek voel skuldig – Kan die Bybel my help om beter te voel?