Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah lei sy volk

Jehovah lei sy volk

“Jehovah sal jou . . . voortdurend lei.”—JES. 58:11.

LIEDERE: 152, 22

1, 2. (a) Hoe verskil dié wat die leiding onder Jehovah se Getuies neem van dié wat dit in ander godsdienste doen? (b) Wat sal ons in hierdie en die volgende artikel bespreek?

“WIE is julle leier?” Dit is ’n vraag wat gereeld aan Jehovah se Getuies gevra word. En geen wonder nie! In baie godsdienste tree een man of vrou as die leier, of hoof, op. Ons is egter trots om te sê dat ons Leier nie ’n onvolmaakte mens is nie. Ons volg eerder die leiding van Jesus Christus, wat op sy beurt die leiding volg van sy Vader, Jehovah.—Matt. 23:10.

2 Maar daar is ’n sigbare groep manne, “die getroue en verstandige slaaf”, wat vandag die leiding onder God se volk neem (Matt. 24:45). Hoe weet ons dan dat dit werklik Jehovah is wat ons deur middel van sy onsigbare Seun lei? Ons sal in hierdie en die volgende artikel bespreek hoe Jehovah al eeue lank sekere mense gebruik om die leiding te neem. Ons sal drie bewyse bespreek wat toon dat Jehovah wel hierdie manne ondersteun het en dus die ware Leier van sy volk was—en nog steeds is.—Jes. 58:11.

HULLE HET HULP VAN DIE HEILIGE GEES ONTVANG

3. Wat het Moses in staat gestel om Israel te lei?

3 God se verteenwoordigers het hulp van die heilige gees ontvang. Dink byvoorbeeld aan Moses, wat die opdrag ontvang het om die Israeliete te lei. Wat het dit vir hom moontlik gemaak om hierdie belangrike toewysing uit te voer? Jehovah het “Sy heilige gees in hom geplaas”. (Lees Jesaja 63:11-14.) Omdat Moses Jehovah se heilige gees ontvang het, was dit nog steeds Jehovah wat Sy volk gelei het.

4. Wat het bewys dat Moses God se gees gehad het? (Sien prent aan begin van artikel.)

4 Hoe kon die Israeliete weet dat Moses die heilige gees gehad het, aangesien dit ’n onsigbare krag is? Die heilige gees het dit vir Moses moontlik gemaak om wonderwerke te verrig en om God se naam aan Farao bekend te maak (Eks. 7:1-3). Die heilige gees het ook pragtige eienskappe, soos liefde, sagmoedigheid en geduld, in Moses voortgebring, wat dit vir hom moontlik gemaak het om die Israeliete te lei. Hoe het dit nie verskil van die wrede en selfsugtige leiers van ander lande nie! (Eks. 5:2, 6-9). Dit was baie duidelik: Jehovah het Moses as die leier van Sy volk gekies.

5. Verduidelik hoe Jehovah ander Israelitiese manne in staat gestel het om sy volk te lei.

5 Jehovah het sy heilige gees ook aan ander manne gegee wat hy aangestel het om sy volk te lei. “Josua, die seun van Nun, was vol van die gees van wysheid” (Deut. 34:9). “Jehovah se gees het Gideon omhul” (Rigt. 6:34). En “die gees van Jehovah [het] oor Dawid werksaam geword” (1 Sam. 16:13). Al hierdie manne het op God se gees vertrou, en hierdie gees het hulle in staat gestel om dinge te doen wat hulle nie in hulle eie krag sou kon doen nie (Jos. 11:16, 17; Rigt. 7:7, 22; 1 Sam. 17:37, 50). Gevolglik het Jehovah tereg die eer ontvang vir hierdie magtige dade.

6. Waarom wou God hê dat sy volk die leiers in Israel moet respekteer?

6 Hoe moes die Israeliete gereageer het op die duidelike bewyse dat hierdie manne die heilige gees ontvang het? Toe die volk gekla het oor Moses se leierskap, het Jehovah gevra: “Hoe lank sal hierdie volk my met minagting bejeën?” (Num. 14:2, 11). Ja, Jehovah het Moses, Josua, Gideon en Dawid gekies om hom as Leier te verteenwoordig. Wanneer die volk gehoorsaam was aan hierdie manne, het hulle in werklikheid Jehovah as Leier gevolg.

HULLE IS DEUR ENGELE GEHELP

7. Hoe het engele Moses gehelp?

7 Engele het God se verteenwoordigers gehelp. (Lees Hebreërs 1:7, 14.) Jehovah het engele gebruik om ’n opdrag aan Moses oor te dra, hom daarvoor toe te rus en hom te lei. God het Moses “as heerser sowel as verlosser gestuur deur die hand van die engel wat in die doringbos aan hom verskyn het” (Hand. 7:35). Jehovah het die Wet, wat Moses gebruik het om die Israeliete te onderrig, “deur middel van engele . . . oorgedra” (Gal. 3:19). En Jehovah het vir hom gesê: “Lei die volk waarheen ek vir jou gesê het. Kyk! My engel sal voor jou uit gaan” (Eks. 32:34). Die Bybel sê nie dat die Israeliete gesien het dat ’n engel hierdie dinge doen nie. Maar die manier waarop Moses die volk onderrig en gelei het, het duidelik getoon dat hy hulp van engele gehad het.

8. Hoe het engele Josua en Hiskia gehelp?

8 Moses se opvolger, Josua, is deur ’n “vors van die leër van Jehovah” versterk om God se volk in die stryd teen die Kanaäniete te lei. Die Israeliete het die geveg gewen (Jos. 5:13-15; 6:2, 21). Later het koning Hiskia voor ’n baie groot Assiriese leërmag te staan gekom wat gedreig het om Jerusalem te vernietig. In een nag “het die engel van Jehovah uitgetrek en honderd-vyf-en-tagtigduisend in die kamp van die Assiriërs doodgemaak”.—2 Kon. 19:35.

9. Het die onvolmaaktheid van God se verteenwoordigers die Israeliete ’n verskoning gegee om nie hulle leiding te volg nie? Verduidelik.

9 Die engele is volmaak, maar die manne wat deur hulle gehelp is, was natuurlik nie volmaak nie. Byvoorbeeld, by een geleentheid het Moses Jehovah nie geheilig nie (Num. 20:12). Josua het nie Jehovah se leiding gevra voordat hy ’n verbond met die Gibeoniete gesluit het nie (Jos. 9:14, 15). Vir ’n kort rukkie het Hiskia se ‘hart hoogmoedig geword’ (2 Kron. 32:25, 26). Maar al was hierdie manne onvolmaak, moes die Israeliete hulle leiding volg. Jehovah het hierdie manne ondersteun deur middel van sy engele. Ja, Jehovah het sy volk gelei.

HULLE IS DEUR GOD SE WOORD GELEI

10. Hoe is Moses deur God se Wet gelei?

10 God se Woord het sy verteenwoordigers gelei. Die Bybel verwys na die Wet wat aan Israel gegee is as “die wet van Moses” (1 Kon. 2:3). Maar die Skrif identifiseer Jehovah as die Wetgewer. En Moses self moes gehoorsaam wees aan hierdie Wet (2 Kron. 34:14). Nadat Jehovah hom instruksies gegee het oor hoe om die tabernakel op te rig, het “Moses . . . gedoen volgens alles wat Jehovah hom beveel het. Hy het net so gedoen.”—Eks. 40:1-16.

11, 12. (a) Wat moes Josua en die konings wat oor God se volk regeer het, doen? (b) Hoe is die leiers van God se volk deur God se Woord gelei?

11 Josua het God se Woord gehad toe hy leier geword het. Hy het die opdrag ontvang: “Jy moet dag en nag op gedempte toon daarin lees, sodat jy sorgvuldig kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan” (Jos. 1:8). Die konings wat later oor God se volk regeer het, het ’n soortgelyke roetine gevolg. Hulle moes elke dag die Wet lees, ’n afskrif daarvan maak en “al die woorde van hierdie wet en hierdie voorskrifte . . . onderhou”.—Lees Deuteronomium 17:18-20.

12 Watter uitwerking het God se Woord gehad op die manne wat die leiding geneem het? Kyk na die voorbeeld van koning Josia. Nadat ’n dokument gevind is wat die Mosaïese Wet bevat het, het Josia se sekretaris dit vir hom begin lees. * Hoe het die koning gereageer? “Toe die koning die woorde van die wetboek hoor, het hy onmiddellik sy klere geskeur.” Maar hy het meer as dit gedoen. God se Woord het Josia beweeg om al die afgode in die land te vernietig en die grootste Pasgaviering ooit te reël (2 Kon. 22:11; 23:1-23). Omdat Josia en ander getroue leiers deur God se Woord gerig is, was hulle bereid om die leiding wat hulle aan God se volk gegee het, aan te pas. Hierdie veranderinge het God se eertydse volk gehelp om in ooreenstemming met sy wil op te tree.

13. Hoe het die leiers van God se volk en die leiers van ander nasies van mekaar verskil?

13 Hierdie getroue konings het grootliks verskil van die leiers van ander nasies, wat deur menslike wysheid gerig is! Die Kanaänitiese leiers en hulle volk was skuldig aan afskuwelike dinge soos bloedskande, homoseksualiteit, bestialiteit, kinderofferandes en afgodediens (Lev. 18:6, 21-25). En die Babiloniese en Egiptiese leiers het nie die goeie higiëniese gebruike wat God vir Israel gegee het, gevolg nie (Num. 19:13). In teenstelling hiermee het God se eertydse volk gesien hoe hulle getroue leiers geestelike, sedelike en fisiese reinheid bevorder. Dit was duidelik dat Jehovah hulle gelei het.

14. Waarom het Jehovah sommige van die leiers van sy volk gedissiplineer?

14 Nie al die konings wat oor God se eertydse volk regeer het, het God se instruksies gevolg nie. Dié wat Jehovah nie gehoorsaam het nie, het geweier om die leiding van God se heilige gees, sy engele en sy Woord te volg. In party gevalle het Jehovah hierdie leiers gedissiplineer of vervang (1 Sam. 13:13, 14). Later het hy iemand aangestel wat ’n volmaakte leier sou wees.

JEHOVAH STEL ’N VOLMAAKTE LEIER AAN

15. (a) Hoe het die profete getoon dat ’n volmaakte leier sou kom? (b) Wie was die voorspelde leier?

15 Jehovah het eeue lank voorspel dat hy ’n volmaakte leier vir sy volk sal aanstel. Moses het vir die Israeliete gesê: “’n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek, sal Jehovah jou God vir jou verwek—na hom moet julle luister” (Deut. 18:15). Jesaja het voorspel dat hierdie Een “’n leier en ’n aanvoerder” sou word (Jes. 55:4). En Daniël is geïnspireer om te skryf oor die koms van “Messias die Leier” (Dan. 9:25). Uiteindelik het Jesus Christus homself geïdentifiseer as die “Leier” van God se volk. (Lees Matteus 23:10.) Jesus se dissipels het hom gewillig gevolg en hulle het bevestig dat hy Jehovah se keuse was (Joh. 6:68, 69). Wat het hulle oortuig dat Jesus Christus die een was deur wie Jehovah sy volk gelei het?

16. Watter bewys was daar dat Jesus hulp van die heilige gees ontvang het?

16 Jesus het hulp van die heilige gees ontvang. Toe Jesus gedoop is, het Johannes die Doper gesien “hoe die hemele oopgaan en die gees, soos ’n duif, op hom neerdaal”. Daarna “het die gees hom gedryf om die wildernis in te gaan” (Mark. 1:10-12). Gedurende Jesus se aardse bediening het God se heilige gees Jesus krag gegee om wonderwerke te verrig en met goddelike gesag te spreek (Hand. 10:38). En die heilige gees het Jesus gehelp om eienskappe soos liefde, vreugde en sterk geloof te openbaar (Joh. 15:9; Heb. 12:2). Geen ander leier het soveel bewys gelewer dat hy God se heilige gees het nie. Jesus was Jehovah se keuse.

Hoe het engele Jesus kort na sy doop gehelp? (Sien paragraaf 17)

17. Watter hulp het Jesus van engele ontvang?

17 Engele het Jesus gehelp. Kort ná Jesus se doop het “engele . . . gekom en hom begin bedien” (Matt. 4:11). Ure voor sy dood het “’n engel uit die hemel aan hom verskyn en hom versterk” (Luk. 22:43). Jesus was oortuig daarvan dat Jehovah engele sou stuur om hom te help wanneer hy dit nodig gehad het om God se wil te volbring.—Matt. 26:53.

18, 19. Hoe het Jesus toegelaat dat God se Woord sy lewe en leringe rig?

18 Jesus is deur God se Woord gelei. Van die begin van Jesus se bediening af het hy toegelaat dat die Skrif hom lei (Matt. 4:4). Hy was tot die dood aan ’n folterpaal gehoorsaam aan God se Woord. Hy het selfs in die laaste woorde voor sy dood profesieë oor die Messias aangehaal (Matt. 27:46; Luk. 23:46). In teenstelling hiermee het die godsdiensleiers van daardie tyd God se Woord verontagsaam wanneer dit met hulle tradisies gebots het. Jesus het die woorde aangehaal wat Jehovah deur die profeet Jesaja gespreek het, en van hulle gesê: “Hierdie volk eer my met hulle lippe, maar hulle hart is ver van my verwyderd. Tevergeefs bly hulle my aanbid, want hulle leer gebooie van mense as leerstellings” (Matt. 15:7-9). Jehovah sou nooit een van hierdie manne gekies het om sy volk te lei nie.

19 Jesus het toegelaat dat God se Woord sy dade en sy leringe rig. Wanneer die godsdiensleiers geskille geopper het, het hy nie staatgemaak op sy eie wysheid of ondervinding nie. Hy het eerder die Skrif as die hoogste gesag erken (Matt. 22:33-40). Hy het nie vir sy luisteraars persoonlike stories oor sy lewe in die hemel of die skepping van die heelal vertel nie. Hy het eerder “hulle verstand ten volle geopen om die betekenis van die Skrif te begryp” (Luk. 24:32, 45). Jesus was lief vir God se Woord en hy wou ander graag daarvan vertel.

20. (a) Hoe het Jesus getoon dat hy aan God onderdanig is? (b) Hoe het Jesus en Herodes Agrippa I van mekaar verskil?

20 Jesus se luisteraars het hulle verwonder oor sy “innemende woorde”, maar hy het alle eer aan sy Onderrigter, Jehovah, gegee (Luk. 4:22). Toe ’n ryk man Jesus probeer verheerlik het deur hom “Goeie Leermeester” te noem, het Jesus beskeie gesê: “Waarom noem jy my goed? Niemand is goed nie, behalwe een, God” (Mark. 10:17, 18). Hoe het dit nie verskil van Herodes Agrippa I wat ongeveer agt jaar later koning, of leier, van Judea geword het nie! By ’n spesiale vergadering het Herodes “koninklike klere aangetrek”. Toe die skare hom sien en hoor, het hulle uitgeroep: “’n God se stem en nie ’n mens s’n nie!” Herodes het blykbaar baie gehou van die lof wat hy ontvang het. Wat het toe gebeur? “Oombliklik het die engel van Jehovah hom getref, omdat hy nie die heerlikheid aan God gegee het nie; en hy is deur wurms opgeëet en het gesterf” (Hand. 12:21-23). Jehovah het Herodes beslis nie as leier gekies nie. Jesus het egter oortuigende bewys gelewer dat hy deur God aangestel is, en hy het Jehovah bly verheerlik as die ware Leier van sy volk.

21. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

21 Jesus sou nie net ’n paar jaar lank leier wees nie. “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee”, het hy na sy opstanding gesê. “En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 28:18-20). Maar hoe sal Jesus, as ’n onsigbare gees in die hemel, God se volk op die aarde lei? Wie sal Jehovah gebruik om onder Christus se leierskap Sy volk te lei? En hoe sal Christene weet wie God se verteenwoordigers is? Die volgende artikel sal die antwoorde op hierdie vrae bespreek.

^ par. 12 Dit was moontlik die oorspronklike dokument wat deur Moses geskryf is.