Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Jehovah ken dié wat aan hom behoort”

“Jehovah ken dié wat aan hom behoort”

“As iemand God liefhet, word dié deur hom geken.”—1 KOR. 8:3.

1. Vertel van ’n Bybelverslag wat toon hoe verkeerde denke al party onder God se volk beïnvloed het. (Sien prent aan begin van artikel.)

EEN oggend het die hoëpriester Aäron by die ingang van Jehovah se tabernakel gestaan met ’n vuurbak in sy hand waarop reukwerk gebrand is. Nie ver daarvandaan nie het Korag en 250 ander manne, elkeen met sy eie vuurbak, ook reukwerk voor Jehovah geoffer (Num. 16:16-18). Met die eerste oogopslag het dit gelyk asof al die manne lojale aanbidders van Jehovah is. Maar in teenstelling met Aäron was die ander manne arrogante afvalliges wat die priesterskap onregmatig wou oorneem (Num. 16:1-11). Hulle het hulleself wysgemaak dat God hulle aanbidding sou aanvaar. Maar hierdie verwagting was ’n belediging vir Jehovah, wat harte kan lees en hulle huigelary kon sien.—Jer. 17:10.

2. Wat het Moses voorspel, en is sy woorde bewaarheid?

2 Moses het die vorige dag voorspel: “Môreoggend sal Jehovah bekend maak wie aan hom behoort” (Num. 16:5). Jehovah het inderdaad ’n onderskeid tussen die ware en die valse aanbidders getref toe ‘’n vuur van Jehovah af uitgegaan het en [Korag en] die tweehonderd-en-vyftig man verteer het wat die reukwerk geoffer het’ (Num. 16:35; 26:10). Terselfdertyd het Jehovah Aäron se lewe gespaar, wat getoon het dat hy goedgekeur  is as die ware priester en aanbidder van God.—Lees 1 Korintiërs 8:3.

3. (a) Watter situasie het in die apostel Paulus se dag ontstaan? (b) Hoe het Jehovah eeue tevore getoon hoe hy teenoor opstandiges optree?

3 ’n Soortgelyke situasie het sowat 1 500 jaar later in die apostel Paulus se dag ontstaan. Sekere verklaarde Christene het valse leringe aangeneem; tog het hulle aangehou om met die gemeente te assosieer. Vir ’n oningeligte waarnemer sou dit dalk nie gelyk het of hierdie afvalliges anders is as die res van die gemeente nie. Maar hulle afvalligheid het ’n gevaar ingehou vir getroue Christene. Hierdie wolwe in skaapsklere het ‘die geloof van party begin ondermyn’ (2 Tim. 2:16-18). Maar Jehovah is allesbehalwe ’n oningeligte waarnemer, en Paulus sou dit geweet het uit die manier waarop God eeue tevore die situasie met die opstandiges—Korag en sy ondersteuners—hanteer het. Kom ons kyk in hierdie verband na ’n gedagteprikkelende Skrifgedeelte en sien watter praktiese lesse ons hieruit kan leer.

“EK IS JEHOVAH; EK HET NIE VERANDER NIE”

4. Waarvan was Paulus oortuig, en hoe het hy sy oortuiging teenoor Timoteus uitgespreek?

4 Paulus was seker dat Jehovah huigelagtige aanbidding kon raaksien, en hy was eweneens oortuig dat Jehovah diegene wat Hom gehoorsaam, kon identifiseer. Paulus se sterk oortuiging kan gesien word in die woorde wat hy gebruik het toe hy onder inspirasie aan Timoteus geskryf het. Nadat Paulus verwys het na die geestelike skade wat afvalliges reeds aan party in die gemeente aangerig het, het hy geskryf: “Tog staan die fondament van God vas en het dit hierdie seël: ‘Jehovah ken dié wat aan hom behoort’, en: ‘Laat elkeen wat die naam van Jehovah noem, afstand doen van onregverdigheid.’”—2 Tim. 2:18, 19.

5, 6. Wat is betekenisvol omtrent Paulus se woorde “die [vaste] fondament van God”, en watter uitwerking het dit waarskynlik op Timoteus gehad?

5 Wat is betekenisvol omtrent Paulus se woordkeuse in hierdie teks? Dit is die enigste keer dat die Bybel “die [vaste] fondament van God” noem. Die Bybel gebruik die woord “fondament” as ’n metafoor vir verskillende dinge, insluitende letterlike Jerusalem as die hoofstad van eertydse Israel (Ps. 87:1, 2). Jesus se rol in Jehovah se voorneme word ook met ’n fondament vergelyk (1 Kor. 3:11; 1 Pet. 2:6). Wat het Paulus in gedagte gehad toe hy oor “die [vaste] fondament van God” geskryf het?

6 Paulus meld “die [vaste] fondament van God” in dieselfde konteks waarin hy Moses se woorde oor Korag en sy ondersteuners aanhaal, wat in Numeri 16:5 opgeteken is. Paulus het blykbaar na die gebeurtenisse in Moses se dag verwys om Timoteus aan te moedig en hom te herinner aan Jehovah se vermoë om opstandige dade raak te sien en teë te werk. Net soos Jehovah nie toegelaat het dat Korag eeue tevore sy voorneme in die wiele ry nie, sou hy nie toelaat dat afvalliges in die gemeente dit doen nie. Paulus het nie breedvoerig verduidelik wat deur “die [vaste] fondament van God” voorgestel word nie. Maar die woorde wat hy gebruik het, het Timoteus ongetwyfeld verseker dat hy vertroue kan hê in die manier waarop Jehovah dinge doen.

7. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah met regverdigheid en getrouheid sal optree?

7 Jehovah se verhewe beginsels is onwankelbaar. “Die raad van Jehovah sal tot onbepaalde tyd standhou; die gedagtes van sy hart is van geslag tot geslag”, sê Psalm 33:11. Ander tekste sê dat Jehovah se heerskappy, lojale liefde, regverdigheid en getrouheid vir ewig duur (Eks. 15:18; Ps. 106:1, NW; 112:9; 117:2, NW). Maleagi  3:6 sê: “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie.” Jakobus 1:17 (NW) sê eweneens dat Jehovah ‘nie verander soos die skuiwende skaduwees nie’.

’N “SEËL” WAT GELOOF IN JEHOVAH OPBOU

8, 9. Watter les kan ons leer uit die “seël” in Paulus se illustrasie?

8 In Paulus se illustrasie in 2 Timoteus 2:19 praat hy van ’n fondament wat ’n boodskap bevat, asof ’n seël daarop afgedruk is. In die ou tyd was daar dikwels ’n inskripsie op ’n gebou se fondament, wat dalk getoon het wie dit gebou het of aan wie dit behoort het. Paulus was die eerste Bybelskrywer wat hierdie illustrasie gebruik het. * Die seël op “die [vaste] fondament van God” bevat twee verklarings. Eerstens, “Jehovah ken dié wat aan hom behoort”, en tweedens, “Laat elkeen wat die naam van Jehovah noem, afstand doen van onregverdigheid”. Dit herinner ons aan die woorde in Numeri 16:5.—Lees.

9 Watter les kan ons leer uit die “seël” in Paulus se illustrasie? Vir diegene wat aan Jehovah behoort, kan sy waardes en beginsels in twee grondwaarhede opgesom word: (1) Jehovah is lief vir dié wat lojaal is aan hom, en (2) Jehovah haat onregverdigheid. Hoe hou hierdie les verband met die kwessie van afvalligheid in die gemeente?

10. Hoe het die optrede van afvalliges die getroues in Paulus se dag geraak?

10 Timoteus en ander getroues was heel moontlik ontstel deur die optrede van afvalliges in hulle midde. Party Christene kon dalk nie verstaan waarom daar toegelaat is dat sulke persone in die gemeente bly nie. Getroues het dalk gewonder of Jehovah werklik ’n onderskeid tref tussen hulle standvastige lojaliteit aan hom en die huigelagtige aanbidding van afvalliges.—Hand. 20:29, 30.

Timoteus sou nie toegelaat het dat die optrede van diegene met afvallige neigings hom beïnvloed nie (Sien paragrawe 10-12)

11, 12. Hoe het Paulus se brief Timoteus se geloof ongetwyfeld versterk?

11 Dit het Timoteus se geloof ongetwyfeld versterk toe Paulus hom in sy brief herinner het aan wat gebeur het toe die getroue Aäron geregverdig is en die huigelagtige Korag en sy metgeselle aan die kaak gestel, verwerp en vernietig is. Paulus het as ’t ware gesê dat Jehovah in die dae van Moses geweet het wie werklik aan hom behoort en dat hy dit nou ook sou weet, al was daar valse Christene in hulle midde.

 12 Jehovah verander nooit nie; hy is betroubaar. Hy haat onregverdigheid, en op die bestemde tyd sal hy oordeel voltrek aan onberouvolle oortreders. As iemand “wat die naam van Jehovah noem”, is Timoteus ook herinner aan sy eie verantwoordelikheid om die onregverdige invloed van valse Christene te verwerp. *

WARE AANBIDDING IS NOOIT TEVERGEEFS NIE

13. Watter vertroue kan ons hê?

13 Ons kan eweneens geestelike krag uit Paulus se geïnspireerde woorde put. Dit is gerusstellend om te weet dat Jehovah deeglik bewus is van ons lojaliteit aan hom. Dit is nie ’n passiewe bewustheid nie. Jehovah stel eerder intens belang in diegene wat aan hom behoort. Die Bybel sê: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kron. 16:9). Daarom kan ons vol vertroue wees dat wat ons “uit ’n rein hart” vir Jehovah doen, nooit tevergeefs is nie.—1 Tim. 1:5; 1 Kor. 15:58.

14. Watter soort aanbidding duld Jehovah nie?

14 Ons besef ook dat Jehovah nie huigelagtige aanbidding duld nie. Omdat sy oë ‘die hele aarde deurloop’, kan hy sien wie se hart nie “volkome teenoor hom is” nie. “Die slinkse persoon is vir Jehovah verfoeilik”, sê Spreuke 3:32. Dit sluit iemand in wat voorgee dat hy gehoorsaam is terwyl hy in die geheim sonde beoefen. Hoewel ’n slinkse persoon ander mense ’n tyd lank kan bedrieg, verseker Jehovah se almagtigheid en regverdigheid dat “hy wat sy oortredings bedek, . . . nie sukses [sal] behaal nie”.—Spr. 28:13; lees 1 Timoteus 5:24; Hebreërs 4:13.

15. Wat moet ons vermy, en waarom?

15 Die oorgrote meerderheid van Jehovah se volk is opreg in hulle toegewydheid. Dit sal baie ongewoon wees vir iemand in die gemeente om opsetlik ’n bedrieglike vorm van aanbidding te beoefen. Maar aangesien dit in Moses se dag en in die tyd van die vroeë Christengemeente gebeur het, kan dit ook vandag gebeur (2 Tim. 3:1, 5). Maar beteken dit dat ons ons mede-Christene met agterdog moet behandel en die opregtheid van hulle lojaliteit aan Jehovah moet bevraagteken? Beslis nie! Dit sal verkeerd wees om ons broers en susters sonder goeie rede agterdogtig te behandel. (Lees Romeine 14:10-12; 1 Korintiërs 13:7.) Wat meer is, ’n neiging om die onkreukbaarheid van ander in die gemeente te wantrou, sal skadelik vir ons geestelikheid wees.

16. (a) Wat kan ons elkeen doen om te verhoed dat huigelary in ons hart wortelskiet? (b) Watter lesse kan ons leer uit die venster ‘ Toets voortdurend . . . stel voortdurend op die proef’?

16 Elke Christen moet “sy eie werk [of, dade] op die proef stel” (Gal. 6:4). Weens ons sondige neigings is daar altyd die gevaar dat ons onbewustelik ongewenste eienskappe kan aanleer (Heb. 3:12, 13). Ons kan dus van tyd tot tyd ondersoek waarom ons Jehovah dien. Ons kan ons afvra: ‘Aanbid ek Jehovah omdat ek hom liefhet en sy soewereiniteit erken? Of is die fisiese seëninge wat ek hoop om in die Paradys te geniet, vir my belangriker?’ (Op. 4:11). Ons kan beslis almal daarby baat vind as ons ons eie dade ondersoek en enige sweempie van huigelary uit ons hart uitroei.

LOJALITEIT WAT TOT GELUK LEI

17, 18. Waarom moet ons opreg in ons aanbidding van Jehovah wees?

17 Ons word ryklik beloon wanneer ons daarna streef om opreg te wees in ons aanbidding. “Gelukkig is die mens aan wie  Jehovah die oortreding nie toereken nie, en in wie se gees daar geen bedrog is nie”, sê die psalmis (Ps. 32:2). Ja, dié wat huigelary uit hulle hart uitroei, is gelukkiger, en hulle kom in aanmerking om volmaakte geluk in die toekoms te geniet.

18 Jehovah sal op die bestemde tyd almal wat slegtheid beoefen of ’n dubbele lewe lei, aan die kaak stel en sodoende ’n duidelike “onderskeid [tref] tussen ’n regverdige en ’n goddelose, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie” (Mal. 3:18). Intussen is dit gerusstellend om te weet dat ‘die oë van Jehovah op die regverdiges is, en sy ore tot hulle smeking’.—1 Pet. 3:12.

^ par. 8 Openbaring 21:14, wat dekades ná Paulus se brief aan Timoteus geskryf is, noem 12 “fondamentstene” waarop die name van die 12 apostels gegraveer is.

^ par. 12 Die volgende artikel bespreek hoe ons Jehovah kan navolg deur afstand te doen van onregverdigheid.