Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

Ek het ’n vader verloor en ’n Vader gevind

Ek het ’n vader verloor en ’n Vader gevind

MY PA is in 1899 in Graz, Oostenryk, gebore, en hy was dus ’n seun gedurende die Eerste Wêreldoorlog. Hy is opgeroep om in die Duitse leër te dien kort nadat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het. Hy het in 1943 gesterf terwyl hy in Rusland geveg het. Dit is hoe ek my pa tragies verloor het toe ek omtrent net twee jaar oud was. Ek het nooit die geleentheid gehad om hom te leer ken nie, en ek wou baie graag ’n pa hê, veral toe ek besef het dat die meeste seuns by die skool ’n pa het. Later, as ’n tiener, is ek vertroos toe ek geleer het van ons hemelse Vader, ’n beter Vader wat nie kan sterf nie.—Hab. 1:12.

MY ONDERVINDINGE MET DIE PADVINDERS

As ’n jong seun

Toe ek sewe jaar oud was, het ek ’n lid geword van ’n jeugbeweging wat as die Padvinders (Boy Scouts) bekend staan. Die Padvinders is ’n wêreldwye organisasie wat in 1908 in Groot-Brittanje gestig is deur ’n luitenant-generaal van die Britse leër, Robert Stephenson Smyth Baden-Powell. In 1916 het hy die leerling-Padvinders (Cub Scouts) vir jonger seuns in my ouderdomsgroep gestig.

Ek het daarvan gehou om naweke buite in die natuur te kampeer—ons het in tente geslaap, uniforms gedra en op die maat van dromme gemarsjeer. Ek het dit veral geniet om tyd saam met die ander Padvinders deur te bring—ons het in die aande rondom die kampvuur gesing en speletjies in die woud gespeel. Ons het ook baie omtrent die natuur geleer, wat my die handewerk van ons Skepper laat waardeer het.

Padvinders word aangespoor om elke dag ’n goeie daad te verrig. Dit is ’n beginsel waarvolgens hulle probeer lewe. Ons het mekaar met die woorde “Altyd voorbereid” gegroet. Ek het hiervan gehou. In ons groep van meer as honderd seuns was omtrent die helfte Katolieke, die ander helfte Protestante en een ’n Boeddhis.

Sedert 1920 word internasionale Padvindersvergaderinge, of jamborees, elke paar jaar gehou. Ek het die sewende internasionale jamboree in Augustus 1951 in Bad Ischl, Oostenryk, bygewoon, en ek het die negende internasionale jamboree in Augustus 1957 in Sutton Park, naby Birmingham, bygewoon. Ongeveer 33 000 Padvinders uit 85 lande en gebiede het die laasgenoemde geleentheid bygewoon. En omtrent 750 000 mense het ons by die jamboree besoek, insluitende koningin Elizabeth van Engeland. Dit was vir my soos ’n wêreldwye broederskap. Min het ek geweet dat ek kort voor lank met ’n baie indrukwekkender broederskap—’n geestelike broederskap—vertroud sou raak.

EK ONTMOET EEN VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE EERSTE KEER

Rudi Tschiggerl, ’n fyngebaksjef, was die eerste persoon wat vir my getuig het

In die lente van 1958 was ek op die punt om my vakleerlingskap as ’n kelner by die Grand Hotel  Wiesler in Graz, Oostenryk, te voltooi. Daar het Rudolf Tschiggerl, ’n werksmaat en fyngebaksjef, informeel vir my getuig. Dit was die eerste keer dat ek iets oor die waarheid gehoor het. Die eerste onderwerp waaroor hy gepraat het, was die Drie-eenheidsleer, en hy het gesê dat dit nie ’n Bybellering is nie. Ek het die Drie-eenheidsleer verdedig en wou hom verkeerd bewys. Ek het van my werksmaat gehou en wou hom oortuig om na die Katolieke Kerk terug te keer.

Rudolf, wat ons Rudi genoem het, het vir my ’n Bybel gekry. Ek het daarop aangedring dat dit ’n Katolieke weergawe moet wees. Ek het dit begin lees en kort voor lank ’n traktaat van die Wagtoringgenootskap gevind wat Rudi in die Bybel gesit het. Dit het my nie beïndruk nie, want ek het gedink dat hierdie lektuur op ’n misleidende manier bewoord is. Maar ek was bereid om die Bybel met hom te bespreek. Rudi het onderskeidingsvermoë aan die dag gelê en het nie nog lektuur vir my aangebied nie. Oor ’n tydperk van omtrent drie maande het ons af en toe Bybelbesprekings gehad wat dikwels tot laat in die aand geduur het.

Nadat ek my vakleerlingskap by die hotel in my tuisdorp, Graz, voltooi het, het my ma betaal sodat ek verder kon studeer aan ’n skool in hotelbestuur. Daarom het ek na Bad Hofgastein getrek, ’n dorp in ’n vallei in die Alpe, waar die skool geleë is. Dit was verbonde aan die Grand Hotel in Bad Hofgastein, en ek het soms daar gewerk om my kennis met praktiese ondervinding aan te vul.

’N BESOEK DEUR TWEE SENDELINGSUSTERS

Ilse Unterdörfer en Elfriede Löhr het in 1958 die Bybel met my begin studeer

Rudi het my nuwe adres aan die takkantoor in Wene gestuur, en hulle het dit aan twee sendelingsusters, Ilse Unterdörfer en Elfriede Löhr, gestuur. * Eendag het die ontvangsklerk by die hotel vir my gesê dat twee dames buite in ’n motor wag en dat hulle met my wil praat. Ek het gewonder wat hulle wil hê omdat ek hulle glad nie geken het nie. Maar ek het uitgegaan om te sien wie hulle is. Later het ek uitgevind dat hulle lektuur en ander inligting in Nazi-Duitsland ingesmokkel het toe die werk voor die Tweede Wêreldoorlog verbied is. Selfs voordat die oorlog begin het, is hulle deur die Duitse geheime polisie (Gestapo) gevang en na die Lichtenburg-konsentrasiekamp gestuur. Toe, gedurende die oorlog, is hulle na die kamp in Ravensbrück, naby Berlyn, gestuur.

Die susters was omtrent so oud soos my ma, en daarom het ek respek vir hulle gehad. Ek wou dus nie hulle tyd mors deur gesprekke met hulle te hê en dan moontlik ná ’n paar weke of maande vir hulle te sê dat ek nie meer ons gesprekke wil voortsit nie. Daarom het ek hulle gevra om vir my net ’n lys tekste oor die Katolieke leerstelling van apostoliese opvolging te bring. Ek het vir hulle gesê dat ek dit na die plaaslike priester sal neem en dit met hom sal bespreek. Ek het gedink dat ek dan sou kon sien wat die waarheid is.

EK LEER OOR DIE WARE HEILIGE VADER IN DIE HEMEL

Volgens die Rooms-Katolieke lering van apostoliese opvolging is daar ’n ononderbroke opvolging van pouse wat tot by die apostel Petrus terugstrek.  (Die kerk vertolk Jesus se woorde in Matteus 16:18, 19 verkeerd.) Katolisisme beweer ook dat die pous onfeilbaar is wat leerstellige sake betref wanneer hy ex cathedra, of in ’n amptelike hoedanigheid, praat. Ek het dit geglo, en omdat die pous, wat Heilige Vader deur die Katolieke genoem word, gesê het dat die Drie-eenheidsleer waar is, het ek geglo dat dit waar moet wees. Maar as hy nie onfeilbaar is nie, is die lering dalk vals. Geen wonder dat die lering van apostoliese opvolging vir baie Katolieke die belangrikste lering is nie, aangesien ander Katolieke leringe daarop rus!

Toe ek die priester besoek het, kon hy nie my vrae beantwoord nie, maar hy het ’n boek oor Katolieke leerstellings van sy boekrak afgehaal wat apostoliese opvolging bespreek. Ek het dit huis toe geneem, soos hy voorgestel het, dit gelees en met nog vrae teruggekeer. Uiteindelik het die priester, wat nie my vrae kon beantwoord nie, gesê: “Ek kan jou nie oortuig nie, en jy kan my nie oortuig nie. . . . Alles van die beste!” Hy wou nie verdere besprekings met my hê nie.

Op daardie tydstip was ek gereed om die Bybel saam met Ilse en Elfriede te studeer. Hulle het my baie geleer oor die ware Heilige Vader in die hemel, Jehovah God (Joh. 17:11). Daar was nog nie ’n gemeente in die gebied nie, en daarom het die twee susters die vergaderinge in die huis van ’n belangstellende gesin gehou. Net ’n paar mense het dit bygewoon. Die susters het die grootste deel van die materiaal vir die vergadering tussen die twee van hulle bespreek, aangesien daar nie ’n gedoopte broer was om die leiding te neem nie. Af en toe het ’n broer van ’n ander gemeente ’n openbare toespraak in ’n gehuurde plek kom hou.

EK BEGIN AAN DIE BEDIENING DEELNEEM

Ilse en Elfriede het die Bybel in Oktober 1958 met my begin studeer, en ek is drie maande later, in Januarie 1959, gedoop. Voor my doop het ek hulle gevra of ek saam met hulle in die huis-tot-huis-bediening kon gaan om te sien hoe die predikingswerk gedoen word (Hand. 20:20). Nadat ek hulle vir die eerste keer vergesel het, het ek gevra of ek my eie gebied kan kry om in te werk. Hulle het vir my ’n dorpie gegee, en ek het alleen soontoe gegaan om van huis tot huis te preek en ook om herbesoeke by belangstellendes te doen. Die eerste broer wat my in die huis-tot-huis-bediening vergesel het, was die kringopsiener wat ons later besoek het.

In 1960, nadat ek my hotelopleiding voltooi het, het ek na my tuisdorp teruggekeer om my familielede te probeer help om Bybelwaarhede te leer. Tot nou toe het nie een van hulle in die waarheid gekom nie, maar party toon wel ’n mate van belangstelling.

’N LEWE IN DIE VOLTYDSE DIENS

In my 20’s

In 1961 is briewe van die takkantoor in die gemeentes gelees wat pionierdiens aangemoedig het. Ek was ongetroud en gesond, en daarom het ek gedink dat ek geen verskoning het om nie te pionier nie. Ek het met die kringopsiener, Kurt Kuhn, gepraat oor wat hy daarvan sou dink as ek nog ’n paar maande sekulêr werk sodat ek ’n motor kan koop, wat baie nuttig in die pionierdiens sou wees. Sy antwoord? “Het Jesus en sy apostels ’n motor nodig gehad vir die voltydse diens?” Dit het my oortuig! Ek het beplan om so gou moontlik te begin pionier. Maar aangesien ek elke week 72 uur in ’n hotelrestaurant gewerk het, moes ek eers ’n paar veranderinge aanbring.

Ek het my baas gevra of hy my sou toelaat om eerder 60 uur te werk. Hy het my versoek  toegestaan en my dieselfde loon betaal. ’n Ruk later het ek hom gevra of ek net 48 uur per week kan werk. Hy het weer eens my versoek toegestaan en my dieselfde loon betaal. Ek het hom toe gevra of ek net 36 uur per week, of 6 dae van 6 uur elk, kon werk, en hierdie versoek is ook toegestaan. Verbasend genoeg het ek nog steeds dieselfde betaling ontvang! Dit het gelyk asof my baas my nie wou verloor nie. Met hierdie rooster het ek begin pionier. Op daardie stadium was die vereiste vir pioniers 100 uur per maand.

Vier maande later is ek as ’n spesiale pionier en as die gemeentekneg in ’n klein gemeente in die provinsie Karintië, in die dorp Spittal an der Drau, aangestel. Destyds was die vereiste vir spesiale pioniers 150 uur per maand. Ek het nie ’n pioniermaat gehad nie, maar ek het groot waardering gehad vir die ondersteuning wat ek in die bediening ontvang het van ’n suster met die naam Gertrude Lobner, wat die assistent-gemeentekneg was. *

DIE EEN NUWE TOEWYSING NÁ DIE ANDER

In 1963 is ek genooi om kringwerk te doen. Soms het ek per trein van gemeente tot gemeente gereis en moes ek swaar tasse dra. Die meeste broers het nie ’n motor besit nie, en daarom kon niemand my by die treinstasie kom haal nie. Omdat ek nie aandag wou trek nie, wou ek nie ’n taxi neem na die huis waar ek sou bly nie, en daarom het ek soontoe geloop.

In 1965, toe ek nog ongetroud was, is ek genooi om die 41ste klas van die Gileadskool by te woon. Baie van my klasmaats was ook ongetroud. Nadat ek gegradueer het, is ek tot my groot verbasing na my land van herkoms, Oostenryk, teruggestuur om verder op die kring te dien. Maar voordat ek die Verenigde State verlaat het, is ek gevra om ’n kringopsiener vier weke lank te vergesel. Ek het dit baie waardeer om saam met Anthony Conte te dien, ’n liefdevolle broer wat ook lief was vir die veldbediening en wat baie doeltreffend daarin was. Ons het saam in die noorde van die staat New York in die Cornwall-gebied gedien.

Ons troudag

Toe ek weer in Oostenryk aangekom het, is ek na ’n kring toegewys waar ek Tove Merete, ’n aantreklike ongetroude suster, ontmoet het. Sy is vanaf vyfjarige ouderdom in die waarheid grootgemaak. Wanneer broers ons vra hoe ons ontmoet het, sê ons as ’n grap: “Die takkantoor het dit so gereël.” Ons is ’n jaar later, in April 1967, getroud, en ons is toegelaat om saam in die reisende werk te dien.

Die volgende jaar het ek besef dat ek, danksy Jehovah se onverdiende goedhartigheid, as een van sy geestelike seuns aangeneem is. Dit was die begin van ’n spesiale verhouding met my hemelse Vader sowel as met ander wat, volgens Romeine 8:15, uitroep: “Abba, Vader!”

Ek en Merete het tot 1976 saam op die kring en streek gedien. Soms moes ons gedurende die winter in onverhitte slaapkamers slaap, waar die temperatuur tot onder vriespunt gedaal het. Toe ons eenkeer wakker word, het ons gevind dat ons ysige asem die boonste deel van ons kombers hard en wit laat word het! Ons het uiteindelik besluit om ’n klein elektriese verwarmer saam met ons te  neem sodat die temperature snags ’n bietjie draagliker sou wees. Om snags by die badkamer uit te kom, moes ons op party plekke deur sneeu na ’n buitetoilet loop waar daar dikwels ’n koue trek was. Ons het ook nie ’n woonstel tot ons beskikking gehad nie, en daarom moes ons Maandae gewoonlik in dieselfde huis bly waar ons gedurende die week gebly het. Dan het ons die Dinsdagoggend na die volgende gemeente gereis.

Ek is bly om te sê dat my dierbare vrou my deur die jare heen altyd ondersteun het. Sy is baie lief vir velddiens, en dit was nog nooit vir my nodig om haar aan te moedig om in die veldbediening uit te gaan nie. Sy is ook baie lief vir die broers en susters en is besorg oor ander. Dit het my nog altyd gehelp.

In 1976 is ons genooi om by die Oostenrykse takkantoor in Wene te dien, en ek is as ’n lid van die Takkomitee aangestel. Destyds het die Oostenrykse takkantoor toesig gehou oor die werk in etlike Oos-Europese lande, en hulle het ook gereël dat die broers in daardie lande lektuur ontvang, al was die werk daar verbied. Broer Jürgen Rundel het die leiding hierin geneem en het baie inisiatief aan die dag gelê. Ek het die voorreg gehad om saam met hom te werk en is later gevra om toesig te hou oor die vertaalwerk in tien Oos-Europese tale. Jürgen en sy vrou, Gertrude, dien nog steeds getrou as spesiale pioniers in Duitsland. Vanaf 1978 het die Oostenrykse takkantoor die tydskrifte deur middel van fotosetmasjiene geset en dit in ses tale op ’n klein litografiese pers gedruk. Ons het ook tydskrifte aan intekenaars in verskillende lande gestuur. Otto Kuglitsch, wat nou saam met sy vrou, Ingrid, by die takkantoor in Duitsland dien, het hieroor toesig gehou.

In Oostenryk kon ek aan baie vorme van getuieniswerk, insluitende straatwerk, deelneem

Die broers in Oos-Europa het ook lektuur in hulle eie lande vervaardig deur mimeograafmasjiene te gebruik of deur materiaal op film te gebruik om afdrukke te maak. Hulle het nogtans die ondersteuning van broers in ander lande nodig gehad. Jehovah het hierdie werk beskerm, en by die takkantoor het ons lief geword vir die broers wat baie jare lank onder moeilike omstandighede gedien het waar die werk verbied was.

’N SPESIALE BESOEK AAN ROEMENIË

In 1989 het ek die voorreg gehad om broer Theodore Jaracz, ’n lid van die Bestuursliggaam, na Roemenië te vergesel. Die doel was om ’n groot  groep broers te help om met die organisasie herenig te word. In 1949 het hulle om verskeie redes bande met die organisasie begin verbreek en hulle eie gemeentes gestig. Tog het hulle aangehou om te preek en mense te doop. Hulle het ook tronk toe gegaan weens hulle Christelike neutraliteit, net soos die broers wat deel was van die organisasie wat deur die wêreldhoofkwartier goedgekeur is. Die werk in Roemenië was nog steeds verbied, en daarom het ons in die geheim in die huis van broer Pamfil Albu ontmoet, tesame met vier van hulle ouer manne sowel as die verteenwoordigers van die goedgekeurde landskomitee van Roemenië. Ons het ook ’n tolk van Oostenryk, Rolf Kellner, saamgeneem.

Toe ons op die tweede aand weer vergader het, het broer Albu sy vier mede- ouer manne oortuig om met ons te herenig en gesê: “As ons dit nie nou doen nie, sal ons dalk nooit weer die geleentheid kry nie.” Gevolglik is omtrent 5 000 broers met die organisasie herenig. Wat ’n oorwinning was dit tog vir Jehovah, en wat ’n terugslag vir Satan!

Teen die einde van 1989, voor die val van Kommunisme in Oos-Europa, het die Bestuursliggaam my en my vrou genooi om by die wêreldhoofkwartier in New York te dien. Dit was vir ons ’n baie groot verrassing. Ons het in Julie 1990 by die Bethel in Brooklyn begin dien. In 1992 is ek as ’n helper vir die Dienskomitee van die Bestuursliggaam aangestel, en sedert Julie 1994 het ek die voorreg om op die Bestuursliggaam te dien.

DIE VERLEDE—EN ’N WONDERLIKE TOEKOMS

Saam met my vrou in Brooklyn, New York

Die tye toe ek as ’n kelner in ’n hotel gewerk het, is lank reeds iets van die verlede. Ek geniet nou die voorreg om ’n deel te hê aan die voorbereiding en verspreiding van geestelike voedsel aan ons wêreldwye broederskap (Matt. 24:45-47). Wanneer ek terugkyk op meer as 50 jaar van spesiale voltydse diens, kan ek net diepe waardering en vreugde vir Jehovah se seën op ons wêreldwye broederskap uitspreek. Ek geniet dit baie om ons internasionale byeenkomste by te woon, waar dit beklemtoon word dat ons van ons hemelse Vader, Jehovah, en Bybelwaarheid moet leer.

Ek bid dat daar nog miljoene uit die mensdom sal wees wat die Bybel sal bestudeer, die waarheid sal aanneem en Jehovah saam met ons wêreldwye Christelike broederskap sal dien (1 Pet. 2:17; vtn. in NW). Ek sien ook daarna uit om die aardse opstanding vanuit die hemel te aanskou en uiteindelik my pa te vind. Ek hoop dat hy, my ma en ander dierbare familielede Jehovah in die Paradys sal wil aanbid.

Ek sien daarna uit om die aardse opstanding vanuit die hemel te aanskou en uiteindelik my pa te vind

^ par. 15 Sien hulle lewensverhaal in Die Wagtoring van 15 Januarie 1980 (The Watchtower van 1 November 1979).

^ par. 27 Nou word daar in elke liggaam van ouer manne ’n koördineerder en ’n sekretaris aangestel in plaas van ’n gemeentekneg en ’n assistent-gemeentekneg.