Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se volk ‘doen afstand van onregverdigheid’

Jehovah se volk ‘doen afstand van onregverdigheid’

“Laat elkeen wat die naam van Jehovah noem, afstand doen van onregverdigheid.”2 TIM. 2:19.

1. Wat het ’n spesiale plek in ons aanbidding?

HET jy al ooit die naam Jehovah op ’n openbare gebou of ’n museumstuk gesien? Dit het sekerlik jou belangstelling geprikkel en jou opgewonde gemaak. God se persoonlike naam het immers ’n spesiale plek in ons aanbidding—ons is Jehovah se Getuies! Vandag is daar geen ander groep mense in die wêreld wat so nou met die goddelike naam verbind word soos ons nie. Maar ons weet dat die voorreg om God se naam te dra, verantwoordelikheid meebring.

2. Watter verantwoordelikheid gaan gepaard met ons voorreg om God se naam te dra?

2 Wanneer ons die goddelike naam gebruik, bring dit nie outomaties Jehovah se guns mee nie. Ons moet in ooreenstemming met sy sedelike standaarde lewe. Daarom herinner die Bybel ons dat Jehovah se volk moet “[afwyk] van wat sleg is” (Ps. 34:14). Die apostel Paulus het hierdie beginsel uitdruklik genoem toe hy geskryf het: “Laat elkeen wat die naam van Jehovah noem, afstand doen van onregverdigheid.” (Lees 2 Timoteus 2:19.) As Jehovah se Getuies is ons beslis daarvoor bekend dat ons sy naam noem. Maar hoe moet ons afstand doen van onregverdigheid?

 ‘GEE PAD’ VAN WAT SLEG IS

3, 4. Watter teks is al lank vir Bybelgeleerdes ’n raaisel, en waarom?

3 Kom ons kyk na die skriftuurlike agtergrond van Paulus se woorde in 2 Timoteus 2:19. Hierdie teks verwys na “die [vaste] fondament van God” en noem dan twee verklarings wat daarop afgedruk is. Die eerste verklaring, “Jehovah ken dié wat aan hom behoort”, is blykbaar ’n aanhaling uit Numeri 16:5. (Sien die vorige artikel.) Die tweede verklaring, “Laat elkeen wat die naam van Jehovah noem, afstand doen van onregverdigheid”, is al lank vir Bybelgeleerdes ’n raaisel. Waarom?

4 Paulus se woorde gee te kenne dat hy uit ’n ander bron aangehaal het. Maar dit wil voorkom asof daar geen teks in die Hebreeuse Geskrifte is wat met Paulus se aanhaling ooreenstem nie. Waarna het die apostel dus verwys toe hy gesê het: “Laat elkeen wat die naam van Jehovah noem, afstand doen van onregverdigheid”? Net voordat Paulus hierdie woorde gesê het, het hy uit Numeri hoofstuk 16 aangehaal, wat die verslag van Korag se opstand bevat. Hou die tweede verklaring dalk ook verband met die gebeurtenisse rondom hierdie opstand?

5-7. Watter gebeurtenisse in Moses se dag voorsien die agtergrond vir Paulus se woorde in 2 Timoteus 2:19? (Sien prent aan begin van artikel.)

5 Die Bybel sê dat Datan en Abiram, die seuns van Eliab, hulle by Korag aangesluit het as die leiers van die opstand teen Moses en Aäron (Num. 16:1-5). Hulle was openlik disrespekvol teenoor Moses en het sy godgegewe gesag verwerp. Daardie opstandiges het aangehou om onder Jehovah se volk te woon en het die geestelike gesondheid van die getroues in gevaar gestel. Toe die dag aangebreek het vir Jehovah om ’n onderskeid tussen sy lojale aanbidders en die opstandiges te tref, het hy ’n duidelike opdrag gegee.

6 Die verslag sê: “Jehovah het met Moses gepraat en gesê: ‘Praat met die vergadering en sê: “Maak dat julle wegkom rondom die wonings van Korag, Datan en Abiram!”’ Daarna het Moses opgestaan en na Datan en Abiram toe gegaan, en die ouer manne van Israel het saam met hom gegaan. Toe het hy met die vergadering gepraat en gesê: ‘Gee asseblief pad voor die tente van hierdie goddelose manne en moenie aan enigiets raak wat aan hulle behoort nie, sodat julle nie in al hulle sondes weggevee word nie.’ Onmiddellik het hulle gemaak dat hulle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abiram” (Num. 16:23-27). Jehovah het toe almal wat in opstand gekom het, vernietig. Lojale aanbidders—wat afstand gedoen het van onregverdigheid deur pad te gee—se lewens is egter gespaar.

7 Jehovah lees harte! Hy sien die lojaliteit van dié wat aan hom behoort. Sy lojales moes nogtans met beslistheid optree deur hulle van onregverdiges af te skei. Dit is dus moontlik dat Paulus na die verslag in Numeri 16:5, 23-27 verwys het toe hy geskryf het: “Laat elkeen wat die naam van Jehovah noem, afstand doen van onregverdigheid.” Hierdie gevolgtrekking sou in ooreenstemming wees met Paulus se woorde: “Jehovah ken dié wat aan hom behoort”.—2 Tim. 2:19.

“VERWERP DWASE EN DOM TWISVRAE”

8. Waarom is dit nie genoeg om bloot die naam van Jehovah te gebruik of aan die Christengemeente te behoort nie?

8 Deur na daardie gebeurtenisse in Moses se dag te verwys, het Paulus Timoteus daaraan herinner dat dit nodig is om met beslistheid op te tree sodat hy sy kosbare verhouding met Jehovah kan beskerm. Om deel van die Christengemeente te wees, was op sigself nie genoeg nie, net soos dit in Moses se dag nie genoeg was om bloot die naam van Jehovah te noem nie. Getroue aanbidders moet met  beslistheid afstand doen van onregverdigheid. Wat het dit vir Timoteus beteken? En watter lesse kan Jehovah se hedendaagse volk uit Paulus se geïnspireerde raad leer?

9. Watter uitwerking het “dwase en dom twisvrae” op die vroeë Christengemeente gehad?

9 God se Woord gee spesifieke raad aangaande die soorte onregverdigheid waarvan Christene moet afstand doen of wat hulle moet verwerp. In die konteks van 2 Timoteus 2:19 sien ons byvoorbeeld dat Paulus vir Timoteus sê “om nie oor woorde te stry nie” en om ‘leë praatjies te vermy’. (Lees 2 Timoteus 2:14, 16, 23.) Party lede van die gemeente het afvallige leringe bevorder. Dit lyk ook asof ander omstrede idees ingebring het. Al was laasgenoemde nie noodwendig onskriftuurlik nie, was dit verdelend. Dit het gelei tot twis en ’n stryery oor woorde, wat ’n ongesonde geestelike atmosfeer geskep het. Paulus het dus beklemtoon dat dit nodig is om ‘dwase en dom twisvrae te verwerp’.

10. Hoe moet ons reageer wanneer ons voor afvalligheid te staan kom?

10 Jehovah se hedendaagse knegte kom nie dikwels voor afvalligheid in die gemeente te staan nie. Maar wanneer ons aan onskriftuurlike leringe blootgestel word, ongeag wat die bron daarvan is, moet ons dit beslis verwerp. Dit sal onverstandig wees om betrokke te raak by debatte met afvalliges, hetsy van aangesig tot aangesig, deur kommentaar te lewer op hulle blogs (webdagboeke) of deur enige ander vorm van kommunikasie. Selfs wanneer ons die persoon wil help, sal sulke gesprekke in stryd wees met die skriftuurlike riglyne wat ons nou net bespreek het. As Jehovah se volk vermy ons eerder afvalligheid, ja, ons verwerp dit.

Vermy debatte met afvalliges (Sien paragraaf 10)

11. Wat kan aanleiding gee tot ‘dwase twisvrae’, en hoe kan Christen- ouer manne ’n goeie voorbeeld stel?

11 Daar is ander dinge behalwe afvalligheid wat die vrede in die gemeente kan versteur. Meningsverskille in verband met vermaak kan byvoorbeeld tot “dwase en dom twisvrae” lei. Wanneer persone vermaak bevorder wat Jehovah se sedelike standaarde skend, moet Christen- ouer manne natuurlik nie sulke gedrag duld net om ’n geskil te vermy nie (Ps. 11:5; Ef. 5:3-5). Maar ouer manne moet daarop let dat hulle nie hulle persoonlike beskouings bevorder nie. Hulle bly lojaal by die skriftuurlike vermaning wat aan Christenopsieners gegee word: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, . . . nie as persone wat baasspeel oor dié wat God se erfenis is nie, maar deur voorbeelde vir die kudde te word.”—1 Pet. 5:2, 3; lees 2 Korintiërs 1:24.

12, 13. (a) Watter standpunt neem Jehovah se Getuies in wat hulle keuse van vermaak betref, en watter Bybelbeginsels is van toepassing? (b) Hoe is die beginsels in paragraaf 12 van toepassing op verskeie persoonlike sake?

12 Wanneer dit by vermaak kom, maak ons organisasie nie reëls oor watter spesifieke rolprente, videospeletjies, boeke of liedjies ons moet vermy nie. Waarom nie? Die Bybel spoor elkeen aan om sy “waarnemingsvermoëns deur gebruik [te oefen] om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Heb. 5:14). Die Skrif sit basiese beginsels uiteen wat ’n Christen kan oorweeg wanneer hy vermaak kies. Op alle lewensgebiede moet ons ons ten doel stel om “seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is” (Ef. 5:10). Die Bybel sê dat gesinshoofde ’n mate van gesag het, en daarom kan hulle kies om sekere vermaak nie in hulle huis toe te laat nie. *1 Kor. 11:3; Ef. 6:1-4.

13 Die Bybelbeginsels hierbo is nie net van toepassing op ons keuse van vermaak  nie. Menings oor kleredrag en persoonsversorging, gesondheid en voeding en ander persoonlike sake kan ook aanleiding gee tot geskille. As geen skriftuurlike beginsel geskend word nie, sal Jehovah se volk hulle dus wyslik daarvan weerhou om oor sulke sake te stry, want “’n slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer [taktvol, vtn. in NW] wees teenoor almal”.—2 Tim. 2:24.

VERMY SLEGTE ASSOSIASIE!

14. Watter illustrasie het Paulus gebruik om te beklemtoon dat ons slegte assosiasie moet vermy?

14 Op watter ander manier kan diegene “wat die naam van Jehovah noem, afstand doen van onregverdigheid”? Deur noue omgang te vermy met mense wat onregverdigheid beoefen. Dit is noemenswaardig dat Paulus ná sy illustrasie van “die [vaste] fondament van God” nog ’n ander illustrasie genoem het. Hy het geskryf oor “’n groot huis” met “nie net voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk, en party vir ’n eervolle doel, maar ander vir ’n oneervolle doel” (2 Tim. 2:20, 21). Toe het hy Christene vermaan om ‘weg te bly’, of hulle afgeskeie te hou, van die voorwerpe wat vir ’n “oneervolle doel” gebruik word.

15, 16. Wat kan ons uit die illustrasie van “’n groot huis” leer?

15 Wat is die betekenis van hierdie illustrasie? Paulus se metafoor vergelyk die Christengemeente met “’n groot huis” en die individuele lede van die gemeente met “voorwerpe”, of huisware. In ’n huis kan sekere voorwerpe besmet word as gevolg van gevaarlike stowwe of onhigiëniese toestande. Die huisbewoner sal sulke voorwerpe apart hou van die skoon voorwerpe, soos dié waarmee daar gekook word.

16 Net so moet Jehovah se hedendaagse knegte, wat daarna streef om rein lewens te lei, noue omgang vermy met persone in die gemeente wat aanhou om Jehovah se beginsels te verontagsaam. (Lees 1 Korintiërs 15:33.) As dit waar is  van party binne die gemeente, hoeveel te meer moet ons ons daarvan ‘afkeer’ om noue omgang te hê met diegene buite die gemeente, waarvan baie ‘liefhebbers van geld, ongehoorsaam aan ouers, dislojaal, kwaadsprekers, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers en liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God’ is!—2 Tim. 3:1-5.

JEHOVAH SEËN ONS BESLISTE OPTREDE

17. Hoe was lojale Israeliete heeltemal gehoorsaam toe hulle ’n standpunt teen onregverdigheid ingeneem het?

17 Die Bybel maak spesifieke melding van die Israeliete se besliste optrede toe daar vir hulle gesê is: “Maak dat julle wegkom rondom die wonings van Korag, Datan en Abiram.” Die verslag sê dat ‘hulle onmiddellik gemaak het dat hulle wegkom’ (Num. 16:24, 27). Hulle het nie gehuiwer of getalm nie. Die teks gee ook te kenne dat hulle heeltemal gehoorsaam was aan die bevel. Hulle het ‘weggekom rondom die woning’. Die lojales was nie van plan om enige risiko’s te neem nie. Hulle was nie selektief of halfhartig in hulle gehoorsaamheid nie. Hulle het ’n ferm standpunt vir Jehovah en teen onregverdigheid ingeneem. Watter lesse kan ons uit hierdie voorbeeld leer?

18. Wat het Paulus bedoel toe hy Timoteus vermaan het om te “vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug”?

18 As ons ons vriendskap met Jehovah wil beskerm, moet ons vinnig en met beslistheid optree. Dit is wat Paulus bedoel het toe hy Timoteus vermaan het om te “vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug” (2 Tim. 2:22). Op daardie tydstip was Timoteus reeds ’n volwasse man, moontlik in sy 30’s. Maar die onverstandige “begeertes wat eie is aan die jeug” word nie altyd deur ouderdom beperk nie. Toe Timoteus voor hierdie begeertes te staan gekom het, moes hy van hulle “vlug”. Met ander woorde, Timoteus moes “afstand doen van onregverdigheid”. Jesus het ’n soortgelyke boodskap oorgedra toe hy gesê het: “As jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg” (Matt. 18:9). Wanneer Christene wat hierdie raad ernstig opneem, voor geestelike bedreigings te staan kom, tree hulle met beslistheid op, sonder om te huiwer of te talm.

19. Hoe het party vandag met beslistheid opgetree om hulle teen geestelike gevare te beskerm?

19 Party wat ’n alkoholprobleem gehad het voordat hulle Getuies geword het, het besluit om glad nie alkohol te drink nie. Ander vermy sekere soorte vermaak wat nie op sigself verkeerd is nie, maar wat persoonlike sedelike swakhede kan vererger (Ps. 101:3). Byvoorbeeld, ’n broer het die onsedelike atmosfeer van sekere danspartytjies geniet voordat hy ’n Getuie geword het. Maar nadat hy die waarheid geleer het, het hy nie eers by Getuie-gesellighede gedans nie omdat hy bang was dat dit ongepaste begeertes en gedagtes uit sy verlede sou laat opkom. Daar word natuurlik nie van Christene vereis om heeltemal weg te bly van alkohol, dans of ander dinge wat op sigself nie verkeerd is nie. Maar daar word van ons almal vereis om met beslistheid op te tree en heeltemal gehoorsaam te wees sodat ons ons teen geestelike gevare kan beskerm.

20. Wat gee ons vertroue en vertroosting, al is dit nie altyd maklik om “afstand [te] doen van onregverdigheid” nie?

20 Die voorreg om God se naam te dra, bring verantwoordelikheid mee. Ons moet “afstand doen van onregverdigheid” en ‘afwyk van wat sleg is’ (Ps. 34:14). Om dit te doen, is natuurlik nie altyd maklik nie. Maar dit is gerusstellend om te weet dat Jehovah altyd sal lief wees vir “dié wat aan hom behoort” en wat by sy regverdige weë bly.—2 Tim. 2:19; lees 2 Kronieke 16:9a.

^ par. 12 Sien die artikel op jw.org “Verbied julle sekere rolprente, boeke of liedjies?” onder OMTRENT ONS > ALGEMENE VRAE.