Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet nooit ‘vir Jehovah woedend word’ nie

Moet nooit ‘vir Jehovah woedend word’ nie

“Die dwaasheid van ’n mens verdraai sy weg, en dan word sy hart woedend vir Jehovah.”—SPR. 19:3.

1, 2. Waarom moet ons Jehovah nie vir die mensdom se probleme blameer nie? Lig toe.

GESTEL jy is ’n man wat al jare lank gelukkig getroud is. Maar wanneer jy eendag by die huis kom, vind jy dat jou hele huis omgekeer is. Die meubels is stukkend, die breekgoed is flenters, die tapyt is onherstelbaar beskadig. Jou geliefde tuiste het ’n rampgebied geword. Sal jy vra: “Waarom het my vrou dit gedoen?” Of sal jy eerder vra: “Wie het dit gedoen?” Dit is ongetwyfeld die tweede vraag wat onmiddellik by jou sal opkom. Waarom? Omdat jy weet dat jou geliefde huweliksmaat nooit so ’n kwaadwillige daad van vandalisme sou pleeg nie.

2 Vandag sien ons dat die mensdom se tuiste deur besoedeling, geweld en onsedelikheid ontsier is. As Bybelstudente weet ons dat Jehovah beslis nie die oorsaak van al hierdie probleme kan wees nie. Toe hy hierdie planeet geskep het, wou hy hê dat dit ’n pragtige paradys moes wees (Gen. 2:8, 15). Jehovah is ’n God van liefde (1 Joh. 4:8). Ons studie van die Skrif het ons gehelp om die werklike oorsaak van baie van die wêreld se probleme te identifiseer. Dit is niemand anders nie as Satan die Duiwel, “die heerser van die wêreld”.—Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4.

3. Hoe kan ons denke verwronge raak?

3 Ons kan Satan egter nie vir al ons probleme blameer nie. Waarom nie? Omdat party van ons probleme die gevolg is van ons eie foute. (Lees Deuteronomium 32:4-6.) Maar selfs al erken ons hierdie feit, kan ons onvolmaaktheid veroorsaak dat ons denke verwronge raak en dat ons ’n weg inslaan wat uiteindelik op rampspoed afstuur (Spr. 14:12). Hoe? In plaas daarvan om onsself of Satan vir ’n probleem te blameer, kan ons Jehovah daarvoor begin blameer. Ons kan selfs “woedend [word] vir Jehovah”.—Spr. 19:3.

4, 5. Hoe kan ’n Christen “woedend [word] vir Jehovah”?

 4 Is dit werklik moontlik dat ons “woedend vir Jehovah” kan word? Dit sal beslis sinloos wees (Jes. 41:11). Wat kan ons hoop om daardeur te bereik? ’n Digter het eenkeer gesê: “Jou arm is te kort om teen God te boks.” Ons sal dalk nie sover gaan as om te sê dat ons vir Jehovah kwaad is nie. Maar Spreuke 19:3 sê dat die dwaasheid van ’n mens “sy weg [verdraai], en dan word sy hart woedend vir Jehovah”. Ja, ’n persoon kan vir Jehovah woedend word in sy hart. Hierdie gesindheid kan op subtiele maniere na vore kom. Hy kan as ’t ware ’n wrok teen Jehovah koester. Gevolglik sal hy hom dalk van die gemeente onttrek of nie die reëlings vir Jehovah se aanbidding ten volle ondersteun nie.

5 Wat kan veroorsaak dat ons “woedend [word] vir Jehovah”? Hoe kan ons hierdie strik vermy? Dit is noodsaaklik dat ons die antwoorde op hierdie vrae ken. Ons verhouding met Jehovah God is daarby betrokke!

WAT KAN VEROORSAAK DAT ONS ‘WOEDEND WORD VIR JEHOVAH’?

6, 7. Waarom het die Israeliete in Moses se dag oor Jehovah begin kla?

6 Wat kan veroorsaak dat die hart van ’n getroue kneg van Jehovah oor sy God begin kla? Kom ons kyk na vyf faktore en na Bybelvoorbeelde wat toon hoe party in die verlede in hierdie strik getrap het.—1 Kor. 10:11, 12.

As jy na negatiewe praatjies luister, kan dit ’n slegte uitwerking op jou hê (Sien paragraaf 7)

7 Die negatiewe praatjies van ander kan ons beïnvloed. (Lees Deuteronomium 1:26-28.) Die Israeliete is kort tevore uit slawerny in Egipte bevry. Jehovah het op wonderdadige wyse tien plae oor daardie onderdrukkende nasie gebring en toe het hy Farao en sy krygsmag in die Rooisee vernietig (Eks. 12:29-32, 51; 14:29-31; Ps. 136:15). God se volk het op die punt gestaan om die Beloofde Land binne te gaan. Maar op daardie kritieke oomblik het die Israeliete oor Jehovah begin kla. Wat het hierdie gebrek aan geloof veroorsaak? Hulle harte het gesmelt as gevolg van die negatiewe verslag van party wat uitgestuur is om die land te verken (Num. 14:1-4). Wat was die gevolg? ’n Hele geslag was nie toegelaat om daardie “goeie land” binne te gaan nie (Deut. 1:34, 35). Laat ons soms toe dat die negatiewe praatjies van ander ons geloof afbreek en ons laat kla oor Jehovah se handelinge met ons?

8. Wat het veroorsaak dat God se volk in Jesaja se dag Jehovah vir hulle situasie begin blameer het?

8 Ontberinge en probleme kan ons ontmoedig. (Lees Jesaja 8:21, 22.) In Jesaja se dag het die nasie Juda hulle in ’n benarde situasie bevind. Hulle was deur vyande omring. Kos was skaars. Baie het honger gely. Maar nog belangriker, daar was ’n geestelike hongersnood (Amos 8:11). In plaas daarvan om hulle tot Jehovah te wend om hulle met hierdie ontberinge te help, het hulle ‘’n vloek uitgespreek’ oor hulle koning en oor hulle God. Ja, hulle het Jehovah vir hulle probleme blameer. Sal ons dalk, wanneer ’n tragedie ons tref of ons met persoonlike probleme te kampe het, eweneens in ons hart sê: ‘Waar was Jehovah toe ek hom nodig gehad het?’

9. Waarom het die Israeliete in Esegiël se dag ’n verkeerde beskouing ontwikkel?

9 Ons ken nie al die feite nie. Omdat die Israeliete in Esegiël se dag nie al die feite gehad het nie, het hulle gemeen dat Jehovah se weg “nie regverdig is nie” (Eseg. 18:29). Hulle het opgetree asof hulle die reg gehad het om God te oordeel; hulle het hulle eie standaarde van geregtigheid bo Jehovah s’n gestel en hom geoordeel  op grond van hulle beperkte begrip van gebeure. Sal ons dalk in ons hart voel dat Jehovah se weg “nie regverdig is nie” as ons dit soms moeilik vind om ’n Bybelverslag ten volle te verstaan of te verstaan waarom sekere dinge in ons lewe gebeur?—Job 35:2.

10. Hoe kan ’n mens Adam se verkeerde voorbeeld navolg?

10 Ons blameer ander vir ons sondes en foute. Heel aan die begin van die mensegeskiedenis het Adam God vir sy sonde blameer (Gen. 3:12). Hoewel Adam God se wet opsetlik verbreek het en goed geweet het wat die gevolge sou wees, het hy Jehovah blameer. Hy het as ’t ware gesê dat Jehovah hom ’n slegte vrou gegee het. Sedertdien het ander Adam se voorbeeld gevolg deur God vir hulle eie foute te blameer. Ons kan ons gerus afvra: ‘Kan teleurstelling en frustrasie oor my foute my laat dink dat Jehovah se standaarde te streng is?’

11. Watter les kan ons by Jona leer?

11 Ons word selfsugtig. Die profeet Jona het foutgevind met Jehovah se barmhartige besluit in verband met Nineve (Jona 4:1-3). Waarom? Hy het blykbaar te bekommerd geraak dat hy aansien sou verloor omdat sy boodskap van vernietiging nie bewaarheid is nie. Jona se besorgdheid oor sy reputasie het veroorsaak dat hy nie met die berouvolle Nineviete medelye gehad het nie. Kan ons eweneens so selfsugtig raak dat ons ‘vir Jehovah woedend word’ omdat hy nie die einde vroeër gebring het nie? Kan ons, as ons al dekades lank preek dat Jehovah se dag naby is, met Jehovah ongeduldig begin raak wanneer ander ons kritiseer omdat ons die Bybel se boodskap verkondig?—2 Pet. 3:3, 4, 9.

HOE OM TE VERHOED DAT ONS ‘WOEDEND WORD VIR JEHOVAH’

12, 13. Wat moet ons nie verwaarloos as ons party van Jehovah se handelinge in ons hart begin bevraagteken nie?

12 Wat kan ons doen as ons sondige hart party van Jehovah se handelinge begin bevraagteken? Onthou dat dit onverstandig is om dit te doen. ’n Ander vertaling van Spreuke 19:3 sê: “’n Mens se  onkunde vertroebel sy sake, en dan vaar hy uit teen Jehovah” (Byington). In die lig hiervan sal ons nou vyf faktore bespreek wat ons sal help om nooit toe te laat dat die frustrasies van die lewe maak dat ons Jehovah blameer nie.

13 Moenie jou verhouding met Jehovah verwaarloos nie. Ons kan die onvolmaakte neiging vermy om vir God woedend te word as ons ’n hegte verhouding met hom behou. (Lees Spreuke 3:5, 6.) Ons moet op Jehovah vertrou. En ons moenie in ons eie oë wys word of selfsugtig word nie (Spr. 3:7; Pred. 7:16). Dan sal ons minder geneig wees om Jehovah te blameer wanneer slegte dinge gebeur.

14, 15. Wat sal ons help om nie deur die negatiewe praatjies van ander beïnvloed te word nie?

14 Moenie toelaat dat negatiewe praatjies jou beïnvloed nie. Die Israeliete in Moses se dag het goeie rede gehad om te glo dat Jehovah hulle veilig in die Beloofde Land sou inbring (Ps. 78:43-53). Maar toe hulle die negatiewe berig van die tien ontroue spioene gehoor het, het hulle “nie aan sy hand gedink nie” (Ps. 78:42). As ons oor Jehovah se handelinge peins en dink aan al die goeie dinge wat hy vir ons gedoen het, sal ons ons verhouding met hom versterk. Dan sal ons nie toelaat dat die negatiewe idees van ander ’n wig tussen ons en Jehovah indryf nie.—Ps. 77:11, 12.

15 Sê nou ons het ’n negatiewe gesindheid teenoor ons mede-aanbidders? Dit kan ons verhouding met Jehovah raak (1 Joh. 4:20). Toe die Israeliete Aäron se aanstelling en posisie bevraagteken het, het Jehovah dit as murmurering teen Hom beskou (Num. 17:10). As ons eweneens begin kla oor en murmureer teen diegene wat Jehovah gebruik om die aardse deel van sy organisasie te lei, kan dit beteken dat ons as ’t ware oor Jehovah kla.—Heb. 13:7, 17.

16, 17. Wat moet ons onthou wanneer ons probleme ondervind?

16 Onthou dat Jehovah nie die oorsaak van ons probleme is nie. Hoewel die Israeliete in Jesaja se dag Jehovah verlaat het, wou Hy hulle nog steeds help (Jes. 1:16-19). Ongeag voor watter probleem ons te staan kom, ons kan vertroosting put uit die feit dat Jehovah vir ons omgee en ons wil help (1 Pet. 5:7). Trouens, hy belowe om ons die nodige krag te gee sodat ons kan volhard.—1 Kor. 10:13.

17 As ons die een of ander onreg ly—soos die getroue man Job gedoen het—moet ons ons daaraan herinner dat Jehovah nie die oorsaak daarvan is nie. Jehovah haat ongeregtigheid; hy het regverdigheid lief (Ps. 33:5). Laat ons, soos Job se vriend Elihu, erken: “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel, en van die Almagtige om onregverdig te handel!” (Job 34:10). Jehovah is nie die oorsaak van ons probleme nie; hy gee ons eerder “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk”.—Jak. 1:13, 17.

18, 19. Waarom moet ons Jehovah altyd vertrou? Lig toe.

18 Ons moet Jehovah altyd vertrou. God is volmaak, en sy gedagtes is hoër as ons s’n (Jes. 55:8, 9). Nederigheid en beskeidenheid moet ons dus help om te erken dat ons begrip beperk is (Rom. 9:20). Gewoonlik het ons nie al die feite in verband met ’n sekere situasie nie. Jy het ongetwyfeld al gesien dat hierdie spreuk waar is: “Die een wat eerste sy saak stel, blyk reg te wees, totdat ’n ander na vore kom en hom ondervra.”—Spr. 18:17, New International Version.

19 Sal ons gou wees om ’n vertroude vriend van ’n oortreding te beskuldig as hy iets doen wat ons aanvanklik nie verstaan nie of wat ongewoon is? Of sal ons ons vriend die voordeel van die twyfel gee, veral as ons hom al jare lank ken? As  ons ons onvolmaakte vriende op so ’n liefdevolle wyse behandel, hoeveel te meer moet ons ons hemelse Vader vertrou, wie se weë en gedagtes baie hoër is as ons s’n!

20, 21. Waarom is dit belangrik dat ons die ware oorsaak van ’n probleem identifiseer?

20 Identifiseer wat die ware oorsaak van ’n probleem is. Waarom moet ons dit doen? Wel, ons is dalk self verantwoordelik vir party van ons probleme. Indien wel, moet ons hierdie feit erken (Gal. 6:7). Moenie Jehovah vir die probleme probeer blameer nie. Waarom sou dit onredelik wees om dit te doen? Kyk na hierdie voorbeeld: ’n Motor kan moontlik ’n hoë spoed bereik. Stel jou voor dat ’n bestuurder die aanbevole spoedgrens ver oorskry terwyl hy om ’n skerp draai gaan en in ’n ongeluk betrokke is. Moet die vervaardiger van die motor vir die ongeluk verantwoordelik gehou word? Nee, natuurlik nie! Net so het Jehovah ons met wilsvryheid geskep. Maar hy het ons ook riglyne gegee oor hoe om wyse besluite te neem. Waarom sou ons ons Skepper dan vir ons eie foute blameer?

21 Nie al ons probleme is natuurlik die gevolg van ons foute en verkeerde optrede nie. Soms is “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” die oorsaak (Pred. 9:11). Laat ons egter nooit uit die oog verloor dat Satan die Duiwel die hoofoorsaak van goddeloosheid is nie (1 Joh. 5:19; Op. 12:9). Hy is die vyand—nie Jehovah nie!—1 Pet. 5:8.

KOESTER JOU KOSBARE VERHOUDING MET JEHOVAH

Josua en Kaleb is geseën omdat hulle op Jehovah vertrou het (Sien paragraaf 22)

22, 23. Wat moet ons in gedagte hou as ons mismoedig raak weens ons probleme?

22 Wanneer jy ontberinge en probleme ondervind, kan jy die voorbeeld van Josua en Kaleb in gedagte hou. In teenstelling met die tien ander spioene het hierdie twee getroue manne ’n positiewe berig gebring (Num. 14:6-9). Hulle het geloof in Jehovah geopenbaar. Nietemin moes hulle 40 jaar lank met die res van die Israeliete in die wildernis rondswerf. Het Josua en Kaleb gekla of verbitterd geword en gevoel dat dit onregverdig is? Nee. Hulle het op Jehovah vertrou. Is hulle geseën? Beslis! Terwyl ’n hele geslag in die wildernis omgekom het, het hierdie twee manne uiteindelik in die Beloofde Land ingegaan (Num. 14:30). Net so sal ons Jehovah se seën ontvang as ons nie “moeg word” om sy wil doen te doen nie.—Gal. 6:9; Heb. 6:10.

23 Wat moet jy doen as jy weens probleme, jou onvolmaakthede of dié van ander mismoedig voel? Konsentreer op Jehovah se wonderlike eienskappe. Visualiseer die hoop wat Jehovah jou gegee het. Vra jou af: ‘Waar sou ek sonder Jehovah gewees het?’ Bly altyd na aan hom, en moet nooit toelaat dat jou hart vir hom woedend word nie!