Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geloofsvermenging​—Hoe beskou God dit?

Geloofsvermenging​—Hoe beskou God dit?

“Verenig of verdeel godsdiens ons?” Hierdie vraag is aan die lesers van The Sydney Morning Herald gestel. Die oorgrote meerderheid van dié wat geantwoord het—sowat 89 persent—meen dat godsdiens ons verdeel.

VOORSTANDERS van geloofsvermenging het egter ’n heeltemal ander beskouing van die saak. “Wys my ’n godsdiens wat nie dink dat medelye belangrik is nie . . . , dat omgewingsbestuur belangrik is nie . . . , dat gasvryheid belangrik is nie”, het Eboo Patel, stigter van die Interkerklike Jeugkern, gesê.

Ja, Boeddhiste, Katolieke, Protestante, Hindoes, Moslems en baie ander het al saamgespan om armoede te bestry, veldtogte vir menseregte te voer, hulle vir ’n verbod op landmyne te beywer of die aandag op omgewingskwessies te vestig. Lede van verskillende godsdienste het al samesprekings gevoer om wedersydse begrip te bevorder en mekaar te inspireer. Hulle vier hulle godsdiensverskeidenheid met kersligseremonies, feeste, musiek, gebede, ensovoorts.

Is godsdiensvermenging die manier om onenigheid tussen gelowe uit die weg te ruim? Is dit God se manier om ’n beter wêreld teweeg te bring?

EENHEID—TEEN WATTER PRYS?

Een van die grootste interkerklike organisasies sê dat sy lede meer as 200 verskillende gelowe verteenwoordig en dat dit in 76 lande werksaam is. Hulle verklaarde doelwit is “om volgehoue, daaglikse interkerklike samewerking te bevorder”. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Volgens die organiseerders moes hulle handves byvoorbeeld noukeurig bewoord word sodat dit nie die talle gelowe en inheemse groepe wat die dokument onderteken het, aanstoot sou gee nie. Waarom? Een rede is dat daar verdeeldheid was oor die kwessie of God in die handves ingesluit moet word. Gevolglik is daar glad nie na God verwys of van hom melding gemaak nie.

Watter rol speel geloof as God buite rekening gelaat word? En hoe verskil so ’n interkerklike beweging van ’n sekulêre liefdadigheidsorganisasie? Die bogenoemde interkerklike organisasie sê met goeie rede dat hulle “’n brugbou-organisasie” is, nie ’n godsdiensentiteit nie.

IS DIT GENOEG OM NET GOEIE EIENSKAPPE TE BEVORDER?

“Al die groot godsdienste dra basies dieselfde boodskap oor: liefde, medelye en vergifnis”, sê die Dalai Lama, ’n bekende voorstander van geloofsvermenging. Hy voeg by: “Wat belangrik is, is dat [hierdie eienskappe] deel moet uitmaak van ons daaglikse lewe.”

Ja, deugde soos liefde, medelye en vergifnis is  baie belangrik. In wat die Gulde Reël genoem word, het Jesus gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Maar behels ware geloof bloot dat goeie eienskappe bevorder word?

Die apostel Paulus het aangaande baie mense wat in sy dag beweer het dat hulle God dien, gesê: “Ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie.” Wat was die probleem? “Omdat hulle die regverdigheid van God nie ken nie”, het Paulus gesê, probeer hulle “hulle eie tot stand . . . bring” (Romeine 10:2, 3). Weens ’n gebrek aan juiste kennis van wat God wou hê hulle moet doen, was hulle ywer​—en geloof—​in werklikheid tevergeefs.—Matteus 7:21-23.

DIE BYBEL SE BESKOUING VAN GELOOFSVERMENGING

“Gelukkig is die vredeliewendes”, het Jesus gesê (Matteus 5:9). Jesus se dade het met sy woorde gestrook deurdat hy geweldloosheid bevorder het en ’n boodskap van vrede na mense van uiteenlopende godsdiensagtergronde geneem het (Matteus 26:52). Diegene wat gunstig gereageer het, is deur ’n onverbreeklike band van liefde verenig (Kolossense 3:14). Maar was Jesus se oogmerk bloot om brûe tussen mense van verskillende agtergronde te bou sodat hulle in vrede met mekaar oor die weg kon kom? Het hy saam met ander aan hulle godsdiensgebruike deelgeneem?

Die godsdiensleiers van die sekte van die Fariseërs en van die Sadduseërs het Jesus hewig teëgestaan—hulle wou hom selfs doodmaak. Hoe het hy gereageer? Jesus het vir sy dissipels gesê: “Laat hulle begaan. Hulle is blinde gidse” (Matteus 15:14). Jesus het geweier om in ’n geestelike broederskap met hierdie mense verenig te wees.

’n Ruk later is ’n Christengemeente gestig in Korinte, Griekeland—’n stad waarin talle uiteenlopende godsdienste beoefen is. Hoe moes die Christene in hierdie omstandighede optree? Die apostel Paulus het aan hulle geskryf: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie.” Waarom nie? Paulus het geredeneer: “Watter ooreenstemming is daar tussen Christus en Belial? Of watter aandeel het ’n getroue met ’n ongelowige?” Toe het hy hierdie raad gegee: “Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af.”—2 Korintiërs 6:14, 15, 17.

Dit is duidelik dat die Bybel nie ten gunste van geloofsvermenging is nie. Maar jy wonder dalk: ‘Hoe kan ware eenheid dan verkry word?’

WARE EENHEID

Die Internasionale Ruimtestasie—’n tegnologiese wonder wat om die aarde wentel—​is die gevolg van die verenigde pogings van sowat 15 nasies. Dink jy dat hierdie projek voltooi sou kon word as die deelnemende nasies nie saamgestem het oor watter bloudruk om te gebruik nie?

Die hedendaagse interkerklike beweging is in werklikheid in so ’n situasie. Hoewel hulle samewerking en respek beklemtoon, het hulle nooit ooreengekom om hulle geloof op een bloudruk te grond nie. Gevolglik veroorsaak sedelike en leerstellige kwessies nog net soveel verdeeldheid as voorheen.

Die Bybel bevat God se standaarde, wat soos ’n bloudruk is. Ons kan ons lewe bou op wat die Bybel sê. Diegene wat dit aangeneem het, het rasse- en godsdiensvooroordeel te bowe gekom en geleer om in vrede en eenheid saam te werk. God het dit voorspel toe hy gesê het: “Ek [sal] volke tot ’n suiwer taal laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep, om hom skouer aan skouer te dien.” Die “suiwer taal”, God se standaard van aanbidding, het eenheid tot gevolg.—Sefanja 3:9; Jesaja 2:2-4.

Jehovah se Getuies nooi jou hartlik uit om ’n Koninkryksaal in jou omgewing te besoek om self die merkwaardige vrede en eenheid onder hulle te sien.​—Psalm 133:1.