Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

Ek vind krag in my swakheid

Ek vind krag in my swakheid

Niemand sal dink dat ek sterk is as hulle my tingerige liggaam, wat net 29 kilogram weeg, in ’n rolstoel sien nie. Maar terwyl my liggaam al hoe swakker word, hou innerlike krag my aan die gang. Laat ek verduidelik hoe krag en swakheid my lewe gevorm het.

Toe ek vier jaar oud was

Wanneer ek aan my kinderjare dink, het ek herinneringe van gelukkige dae in ’n huisie op die platteland in die suide van Frankryk, waar my ouers gewoon het. My pa het vir my ’n swaai gemaak, en ek het dit geniet om in die tuin rond te hardloop. In 1966 het Jehovah se Getuies ons besoek en lang gesprekke met my pa gehad. Net sewe maande later het hy besluit om ’n Getuie te word. My ma het kort daarna in sy voetstappe gevolg, en ek het in ’n liefdevolle gesin grootgeword.

My gesondheidsprobleme het begin kort nadat ons teruggekeer het na Spanje, my ouers se geboorteland. Ek het steekpyne in my hande en enkels begin kry. Nadat ons twee jaar lank baie dokters besoek het, het ons ’n bekende rumatoloog gevind, wat met ’n ernstige stemtoon gesê het: “Dit is te laat.” My ma het begin huil. Vreemde uitdrukkings, soos “chroniese outo-immuunsiekte” en “kinderpoliartritis”, * het in daardie koue, grys kamer weerklink. Hoewel ek as ’n tienjarige dogtertjie min daarvan verstaan het, het ek besef dat ons slegte nuus gekry het.

Die dokter het behandeling in ’n gesondheidsinrigting vir kinders voorgestel. Toe ek daar aankom en die somber gebou sien, het ek moedeloos gevoel. Streng dissipline is toegepas: Die nonne het my hare gesny en vir my ’n oninteressante uniform aangetrek. ‘Hoe gaan ek dit hier uithou?’ het ek hartseer gewonder.

JEHOVAH WORD VIR MY ’N WERKLIKE PERSOON

Omdat my ouers my geleer het om Jehovah te dien, het ek geweier om aan Katolieke ritusse in die gesondheidsinrigting deel te neem. Dit was vir die nonne moeilik om te verstaan waarom ek geweier het. Ek het Jehovah gesmeek om my nie te verlaat nie, en kort daarna het ek sy beskermende arm, soos dié van ’n liefdevolle vader, om my gevoel.

My ouers mag my net op Saterdae vir ’n kort rukkie besoek het. Hulle het vir my Bybellektuur gebring sodat ek dit kon lees om my geloof sterk te hou. Kinders mag gewoonlik nie hulle eie boeke  gehad het nie, maar die nonne het my toegelaat om die lektuur en my Bybel te hou, wat ek elke dag gelees het. Ek het ook met ander meisies gepraat oor my hoop om vir ewig in die aardse Paradys te lewe, waar niemand siek sal word nie (Openbaring 21:3, 4). Al was ek soms hartseer en eensaam, was ek bly dat my geloof en vertroue in Jehovah al hoe sterker geword het.

Ná ses lang maande het die dokters my huis toe gestuur. My toestand het nie verbeter nie, maar ek was bly om weer by my ouers te wees. My gewrigte het meer misvormd geraak, en ek het meer pyn gehad. Teen die tyd dat ek ’n tiener was, was ek reeds baie swak. Tog is ek op 14-jarige ouderdom gedoop en was ek vasbeslote om my hemelse Vader na die beste van my vermoë te dien. Maar soms was ek teleurgesteld in hom. “Waarom het dit met mý gebeur? Laat my asseblief gesond word”, het ek gebid. “Kan u nie sien hoeveel ek ly nie?”

My tienerjare was baie moeilik. Ek moes aanvaar dat ek nie beter sou word nie. Ek kon nie anders as om my met my vriende te vergelyk nie​—hulle was so gesond en vol lewe. Ek het minderwaardig gevoel en het heeltemal in my dop gekruip. Maar my gesin en vriende het my ondersteun. Ek het aangename herinneringe van Alicia, wat 20 jaar ouer as ek is en ’n ware vriendin geword het. Sy het my gehelp om verder te kyk as my siekte en om eerder belangstelling in ander te toon as om oor my eie probleme te tob.

EK VIND MANIERE OM MY LEWE BETEKENISVOL TE MAAK

Toe ek 18 was, het ek ’n groot terugslag gehad, en selfs net die bywoning van Christelike vergaderinge het my heeltemal uitgeput. Maar ek het al my “vrye tyd” by die huis benut om die Bybel noukeurig te bestudeer. Die boek Job en die Psalms het my gehelp om te verstaan dat Jehovah God nie nou hoofsaaklik in fisiese sin na ons omsien nie, maar eerder in geestelike sin. Ek het baie gebid en het “die krag wat bo die normale is” en “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, ontvang.—2 Korintiërs 4:7; Filippense 4:6, 7.

Toe ek 22 was, moes ek aanvaar dat ek vir die res van my lewe in ’n rolstoel sou wees. Ek was bang dat mense my nie meer sou raaksien nie, dat hulle net ’n rolstoel met ’n sieklike vrou sou sien. Maar die rolstoel het my weer ’n mate van onafhanklikheid gegee, en die “vloek” het in ’n seën verander. ’n Vriendin met die naam Isabel het voorgestel dat ek vir my ’n doelwit stel om een maand 60 uur saam met haar in die predikingswerk te bestee.

Ek het eers gedink dat dit ’n verspotte idee is. Maar ek het Jehovah gevra om my te help, en met die ondersteuning van my gesin en vriende kon ek dit doen. Daardie besige maand het verbygevlieg, en dit het my gehelp om my vrese en verleentheid te bowe te kom. Ek het dit soveel geniet dat ek in 1996 besluit het om ’n gewone pionier te word—iemand wat elke maand ’n vasgestelde aantal ure in die bediening deurbring. Dit was een van die beste besluite wat ek nog geneem het, aangesien dit my nader aan God laat kom het en my selfs fisies sterker gemaak het. My bediening het my in staat gestel om baie mense van my geloof te vertel en om party te help om God se vriende te word.

JEHOVAH ONDERSKRAAG MY

In die somer van 2001 was ek in ’n ernstige motorongeluk, waarin ek albei my bene gebreek het. Terwyl ek in ’n hospitaalbed gelê en verskriklike pyn verduur het, het ek vurig in my hart gebid: “Jehovah, moet my asseblief nie verlaat nie!” Op daardie oomblik het ’n vrou in ’n bed naby my gevra: “Is jy een van Jehovah se Getuies?” Omdat ek nie die krag gehad het om te antwoord nie, het ek net geknik. “Ek ken julle! Ek lees gewoonlik julle tydskrifte”, het sy gesê. Hierdie woorde was vir my baie bemoedigend. Selfs in my jammerlike toestand kon ek van Jehovah getuig. Wat ’n eer was dit tog!

Toe ek ’n bietjie beter was, het ek besluit om vir meer mense te getuig. My ma het my in die hospitaalsaal rondgestoot met my twee bene in gips. Ons het elke dag ’n paar pasiënte besoek, gevra hoe dit met hulle gaan en vir hulle Bybellektuur gegee. Dit was vir my baie uitputtend, maar Jehovah het my die nodige krag gegee.

Saam met my ouers in 2003

 Die afgelope paar jaar ondervind ek meer pyn. My pa se dood was ook vir my ’n baie groot slag. Maar ek probeer om positief te bly. Hoe? Ek probeer om soveel moontlik tyd saam met vriende en familielede deur te bring, en dit help om my gedagtes van my probleme af te lei. En wanneer ek alleen is, lees ek, bestudeer ek die Bybel of preek ek vir ander oor die telefoon.

Ek maak dikwels my oë toe en sien met my geestesoog die nuwe wêreld wat God belowe

Ek probeer ook om die eenvoudige dinge in die lewe te geniet, soos die briesie teen my gesig of die geur van blomme. Dit gee my redes om dankbaar te wees. ’n Goeie sin vir humor verrig ook wondere. Terwyl ons eendag met die predikingswerk besig was, het my vriendin, wat my rolstoel gestoot het, gaan staan om aantekeninge te maak. Skielik het my rolstoel teen ’n afdraand begin afrol, en ek het teen ’n geparkeerde motor gebots. Ons al twee het groot geskrik, maar toe ons sien dat niks ernstigs gebeur het nie, het ons lekker gelag.

Daar is baie dinge in die lewe wat ek nie kan doen nie. Ek noem dit my wense wat tydelik uitgestel is. Ek maak dikwels my oë toe en sien met my geestesoog die nuwe wêreld wat God belowe (2 Petrus 3:13). Daar sal ek gesond wees, rondstap en die lewe ten volle geniet. Ek neem koning Dawid se woorde ter harte: “Hoop op Jehovah; wees moedig en laat jou hart sterk wees” (Psalm 27:14). Hoewel my liggaam al hoe swakker word, maak Jehovah my sterk. Ek vind nog steeds krag in my swakheid.

^ par. 6 Kinderpoliartritis is ’n soort chroniese artritis wat by kinders voorkom. Die liggaam se immuunstelsel val sy eie gesonde weefsels aan en vernietig dit, wat pyn en swelling in die gewrigte veroorsaak.