Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Woord van God in Middeleeuse Spanje

Die Woord van God in Middeleeuse Spanje

“Wanneer ek na Spanje op pad is, hoop ek . . . om julle op my reis soontoe te sien en om deur julle ’n ent soontoe vergesel te word nadat ek eers in sekere mate deur julle geselskap bevredig is.”—Romeine 15:24.

DIE apostel Paulus het hierdie woorde omstreeks die jaar 56 HJ aan sy mede-Christene in Rome geskryf. Die Bybel sê nie of Paulus wel na Spanje gereis het nie. Hoe dit ook al sy, weens die pogings van Paulus of ander Christensendelinge het die goeie nuus in God se Woord, die Bybel, Spanje wel teen die tweede eeu HJ bereik.

Christengemeenskappe het kort voor lank in Spanje ontstaan en gefloreer. Gevolglik het die behoefte ontstaan om die Bybel in Latyn te vertaal vir die mense in Spanje. Dit was omdat Spanje teen die tweede eeu lank reeds onder Romeinse heerskappy was en Latyn oral in die ontsaglike Romeinse Ryk die omgangstaal geword het.

LATYNSE BYBELS VOORSIEN IN DIE BEHOEFTE

Vroeë Spaanse Christene het etlike Latynse vertalings voortgebring wat gesamentlik as die Vetus Latina Hispana bekend staan. Hierdie Latynse Bybels was jare lank in omloop in Spanje voordat Hieronimus sy welbekende Latynse Vulgaat vroeg in die vyfde eeu HJ voltooi het.

Hieronimus se vertaling—wat hy in Betlehem, Palestina, voltooi het—het Spanje in rekordtyd bereik. Toe Lucinius, ’n welgestelde Bybelstudent, uitgevind het dat Hieronimus aan ’n Latynse vertaling werk, wou hy so gou as moontlik ’n eksemplaar van hierdie nuwe vertaling hê. Hy het ses kopiïste na Betlehem gestuur om die teks oor te skryf en dit na Spanje terug te bring. In die daaropvolgende eeue het die Vulgaat geleidelik die Vetus Latina Hispana vervang. Hierdie Latynse vertalings het dit vir die mense van Spanje moontlik gemaak om die Bybel te lees en die boodskap daarin te verstaan. Maar toe die Romeinse Ryk sy einde nader, het nuwe taalbehoeftes ontstaan.

DIE BYBEL OP LEIKLIP

In die vyfde eeu het die Wes-Gote en ander Germaanse stamme Spanje binnegeval, en so is ’n nuwe taal​—Goties—​na die skiereiland gebring. Die invallers het Arianisme, ’n vorm van die Christelike godsdiens wat die Drie-eenheidsleer verwerp het, beoefen. Hulle het ook hulle eie vertaling van die Skrif​—Ulfilas se Gotiese Bybel—​saam met hulle gebring. Hierdie Bybel is in Spanje gelees tot die einde van die sesde eeu, toe Reccared, die Wes-Gotiese koning, ’n Katoliek geword het en Arianisme verloën het. Hy het al die Ariaanse boeke, waaronder Ulfilas se Bybel, laat bymekaarmaak en vernietig. Gevolglik het alle Gotiese geskrifte uit Spanje verdwyn.

’n Stuk leiklip met Bybelteks in ’n Latynse dialek, sesde eeu HJ

Tog het die Woord van God gedurende hierdie tydperk aanhou versprei in Spanje. Benewens Goties was daar ook ’n Latynse dialek wat nog algemeen in Spanje gepraat is, waaruit die Romaanse tale ontstaan het wat op die Iberiese Skiereiland gepraat word. * Die oudste dokumente in hierdie Latynse dialek word die Wes-Gotiese leie genoem, aangesien dit op stukke leiklip geskryf is. Dit dateer  uit die sesde en sewende eeu, en party bevat gedeeltes van die Psalms en die Evangelies. Een van die leie bevat die hele 16de Psalm.

Die feit dat Bybeltekste op eenvoudige leiklip geskryf is, toon dat gewone mense die Woord van God destyds gelees sowel as oorgeskryf het. Onderwysers het blykbaar hierdie Bybeltekste gebruik as oefeninge vir leerlinge wat leer lees en skryf het. Leiklip was goedkoop skryfmateriaal, in teenstelling met die duur perkament wat die Middeleeuse kloosters vir hulle geïllustreerde Bybels gebruik het.

’n Prent in die ryklik versierde León-Bybel. Hoewel hierdie Bybels kosbaar is, het dit nie veel gehelp om die boodskap van God se Woord onder die mense te versprei nie

Een van hierdie kosbare geïllustreerde Bybels word in die kerk van San Isidoro in León, Spanje, bewaar. Dit dateer uit 960 HJ en het 516 blaaie, waarvan die afmetings ongeveer 47 sentimeter by 34 sentimeter is, en dit weeg sowat 18 kilogram. Nog so ’n Bybel, wat nou in die Vatikaanse Biblioteek is, is die Bybel van Ripoll, wat uit omstreeks 1020 HJ dateer. Dit is een van die mees ryklik versierde Bybels van die Middeleeue. Om sulke kunswerke voort te bring, het ’n monnik moontlik ’n hele dag gewerk aan net een beginletter, of ’n hele week aan ’n titelblad. Hoewel hierdie Bybels kosbaar is, het dit nie veel gehelp om die boodskap van God se Woord onder die mense te versprei nie.

DIE BYBEL IN ARABIES

Teen die agtste eeu is nog ’n taal in Spanje gepraat as gevolg van die Islamitiese inval in die skiereiland. In die gebiede wat die Moslems gekoloniseer het, is Arabies meer as Latyn gebruik en het die behoefte aan ’n Bybel in hierdie nuwe taal ontstaan.

Van die vyfde tot die agtste eeu HJ kon die Spaanse volk God se Woord lees omdat die Bybel in Latyn en Arabies beskikbaar was

Talle Arabiese vertalings van die Bybel​—veral van die Evangelies—​was ongetwyfeld in omloop in Middeleeuse Spanje. In die agtste eeu het Johannes, ’n biskop van Sevilla, blykbaar die hele Bybel in Arabies vertaal. Ongelukkig het die meeste van hierdie Arabiese vertalings verlore gegaan. Een Arabiese vertaling van die Evangelies wat uit  die middel van die tiende eeu dateer, word in die katedraal van León, Spanje, bewaar.

’n Arabiese vertaling van die Evangelies, tiende eeu HJ

SPAANSE VERTALINGS VERSKYN

Gedurende die laat Middeleeue het Kastiliaans, of Spaans, op die Iberiese Skiereiland begin vorm aanneem. Hierdie nuwe taal sou ’n vername middel word om die Woord van God te versprei. * Die vroegste vertaling van Bybelteks in Spaans het verskyn in La Fazienda de Ultra Mar (Dade van oorkant die seë), wat uit die vroeë 13de eeu dateer. Hierdie werk bevat ’n verslag van ’n reis na Israel, en dit sluit materiaal in uit die Pentateug en ander boeke van die Hebreeuse Geskrifte sowel as die Evangelies en die Sendbriewe.

Koning Alfonso X het Bybelvertaling in Spaans ondersteun

Kerkowerhede was ontevrede oor hierdie vertaling. In 1234 het die Konsilie van Tarragona verorden dat alle Bybelboeke in die volkstaal aan die plaaslike geestelikes oorhandig moet word sodat dit verbrand kan word. Gelukkig het hierdie verordening nie Bybelvertaling stopgesit nie. Koning Alfonso X (1252-1284), wat as die vader van Spaanse prosa beskou word, wou hê dat die Skrif in die nuwe taal vertaal moet word en het dit ondersteun. Spaanse vertalings uit hierdie tydperk sluit die sogenoemde Pre-Alfonsynse Bybel in sowel as die Alfonsynse Bybel, wat kort daarna verskyn het en wat destyds die volledigste vertaling in Spaans was.

’n Bladsy van die 13de-eeuse Pre-Alfonsynse Bybel (links) en van die Alfonsynse Bybel (regs)

Albei hierdie werke het gehelp om die ontluikende Spaanse taal te vestig en te verryk. Die geleerde Thomas Montgomery sê aangaande die Pre-Alfonsynse Bybel: “Die vertaler van hierdie Bybel het ’n uitmuntende werk voortgebring wat akkuraatheid sowel as smaakvolle taalgebruik betref. . . . Die taal is eenvoudig en duidelik, wat nodig was vir ’n Bybel wat voorberei is vir mense wat nie Latyn verstaan het nie.”

Daardie vroeë Spaanse Bybels is egter uit die Latynse Vulgaat vertaal en nie uit die oorspronklike tale nie. Vanaf die 14de eeu het Joodse geleerdes etlike Spaanse vertalings van die Hebreeuse Geskrifte regstreeks uit die Hebreeus vertaal. Spanje het destyds die grootste Joodse gemeenskap in Europa gehad, en Joodse vertalers het toegang gehad tot akkurate Hebreeuse manuskripte om hulle vertaalwerk te doen. *

’n Uitstekende voorbeeld is die Alba-Bybel, wat in die 15de eeu voltooi is. ’n Vooraanstaande Spaanse edelman, Luis de Guzmán, het rabbi Moisés Arragel versoek om die Bybel in castizo (suiwer) Spaans te vertaal. Hy het twee redes vir sy versoek om ’n nuwe vertaling gegee. Eerstens: “Die Bybels wat vandag in die Romaanse taal beskikbaar is, is baie onakkuraat”, en tweedens: “Mense soos ons het kanttekeninge vir die moeilike gedeeltes dringend nodig.” Sy versoek toon dat mense van sy dag die Bybel graag wou lees en verstaan. Dit toon ook dat die Skrif in die volkstaal al redelik wyd verspreid was in Spanje.

Danksy die Middeleeuse vertalers en kopiïste  was dit vir geletterde mense in Spanje moontlik om die Bybel sonder veel moeite in hulle eie taal te lees. Gevolglik het die geskiedkundige Juan Orts González gesê dat “die Spaanse volk die Bybel baie beter geken het as wat die mense van Duitsland of Engeland dit voor die tyd van Luther geken het”.

‘Die Spaanse volk het die Bybel baie beter geken as wat die mense van Duitsland of Engeland dit voor die tyd van Luther geken het.’ —Die geskiedkundige Juan Orts González

Maar teen die einde van die 15de eeu het die Spaanse Inkwisisie verbied dat enigiemand die Skrif in ’n volkstaal vertaal of besit. ’n Lang donker tyd het vir die Bybel in Spanje aangebreek. Drie eeue het verloop voordat die verbod uiteindelik opgehef is. Gedurende daardie moeilike tyd het ’n paar moedige vertalers nuwe Spaanse vertalings in die buiteland voortgebring en dit in Spanje ingesmokkel. *

Soos hierdie geskiedenis van die Bybel in Middeleeuse Spanje toon, het teenstanders die Woord van God op baie maniere probeer verberg. Tog kon hulle nie die woorde van die Almagtige stilmaak nie.—Psalm 83:1; 94:20.

Weens die onvermoeide werk van talle geleerdes was die Bybel in Middeleeuse Spanje geredelik beskikbaar en het dit versprei. Hedendaagse vertalers het in die voetstappe gevolg van daardie baanbrekers wat die Skrif in Latyn, Goties, Arabies en Spaans vertaal het. Miljoene Spaanssprekende mense kan dus vandag God se Woord lees in die taal wat hulle hart raak.

^ par. 10 Dit sluit Galisies, Kastiliaans, Katalaans en Portugees in.

^ par. 17 Vandag is Spaans die eerste taal van sowat 540 miljoen mense.

^ par. 20 Sien die artikel “Die goddelike naam en Alfonso de Zamora se strewe na tekstuele akkuraatheid”, in Die Wagtoring van 1 Desember 2011.

^ par. 23 Sien die artikel “Cassiodoro de Reyna se stryd om ’n Spaanse Bybel”, in Die Wagtoring van 1 Junie 1996.