Spring na inhoud

Wat is die onvergeeflike sonde?

Wat is die onvergeeflike sonde?

Die Bybel se antwoord

Die onvergeeflike sonde verwys na dade wat gepaard gaan met ’n gesindheid wat verhoed dat ’n sondaar ooit God se vergifnis sal ontvang. Hoe kan so ’n gesindheid ontwikkel?

God vergewe dié wat berou toon oor hulle sonde, sy standaarde in hulle lewe volg en geloof in Jesus Christus beoefen (Handelinge 3:​19, 20). Maar ’n persoon kan so verhard raak in sy sondige weg dat hy nooit sy gesindheid of gedrag sal verander nie. Die Bybel beskryf so ’n persoon as iemand met “’n goddelose hart” wat “deur die bedrieglike krag van die sonde verhard” is (Hebreërs 3:​12, 13). Soos klei wat in ’n oond gebak is en nooit weer verander kan word nie, het die persoon se hart permanent teenoor God verhard geraak (Jesaja 45:9). Daar is geen grondslag waarop so ’n persoon vergewe kan word nie, en daarom het hy hom skuldig gemaak aan die onvergeeflike sonde.​—Hebreërs 10:26, 27.

Party Joodse godsdiensleiers in Jesus se dag het die onvergeeflike sonde gepleeg. Hulle het geweet dat God se heilige gees die krag agter Jesus se wonderwerke was, maar hulle het kwaadwillig gesê dat hy sy krag van Satan die Duiwel ontvang het.​—Markus 3:​22, 28-​30.

Voorbeelde van sondes wat vergewe kan word

  • Godslastering uit onkunde. Die apostel Paulus was voorheen ’n lasteraar, maar hy het later gesê: “Barmhartigheid [is] aan my bewys, omdat ek onkundig was en in ’n gebrek aan geloof opgetree het.”​—1 Timoteus 1:​13.

  • Egbreuk. Die Bybel maak melding van party wat voorheen egbreuk gepleeg het, maar hulle gedrag verander het en deur God vergewe is.​—1 Korintiërs 6:​9-​11.

“Het ek die onvergeeflike sonde gepleeg?”

As jy jou sondige gedrag van die verlede werklik haat en opreg wil verander, het jy nie die onvergeeflike sonde gepleeg nie. God kan jou vergewe, al pleeg jy ook herhaaldelik dieselfde sonde, solank jy jou hart nie permanent teenoor hom verhard het nie.​—Spreuke 24:16.

Party voel dat hulle ’n onvergeeflike sonde gepleeg het omdat hulle deur knaende skuldgevoelens geteister word. Die Bybel toon egter dat ons nie altyd ons gevoelens kan vertrou nie (Jeremia 17:9). God het nie aan ons die mag verleen om enigeen te oordeel nie​—nie eers onsself nie (Romeine 14:​4, 12). Hy kan ons vergewe, al veroordeel ons eie hart ons.​—1 Johannes 3:​19, 20.

Het Judas Iskariot ’n onvergeeflike sonde gepleeg?

Ja, hy het. Sy gierigheid het hom beweeg om geld te steel wat vir ’n heilige doel geskenk is. Hy het selfs voorgegee dat hy oor die armes besorg was, terwyl hy in werklikheid meer geld wou hê sodat hy dit kon steel (Johannes 12:​4-8). Toe Judas se hart permanent in sy sondige weg verhard geraak het, het hy Jesus vir 30 silwerstukke verraai. Jesus het geweet dat Judas nooit waarlik berou kon hê oor wat hy gedoen het nie, en daarom het hy hom “die seun van vernietiging” genoem (Johannes 17:12). Dit het beteken dat Judas, toe hy gesterf het, permanent vernietig is, sonder enige hoop op ’n opstanding.​—Markus 14:21.

Judas het nie opregte berou oor sy sonde getoon nie. Hy het sy sonde bely, nie teenoor God nie, maar teenoor die godsdiensleiers met wie hy saamgesweer het.​—Matteus 27:​3-5; 2 Korintiërs 7:​10.