Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Johannes 1:1 – “In die begin was die Woord”

Johannes 1:1 – “In die begin was die Woord”

 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was ’n god.” – Johannes 1:1, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” – Johannes 1:1, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953). a

Betekenis van Johannes 1:1

 Hierdie teks gee besonderhede oor Jesus Christus se lewe voordat hy aarde toe gekom het as ’n mens (Johannes 1:14-17). In vers 14 word “die Woord” (of “die Logos”, Grieks ho loʹgos) as ’n titel gebruik. Die titel “die Woord” beskryf blykbaar Jesus se rol om God se bevele en instruksies aan ander oor te dra. Jesus het aangehou om God se woord of boodskap bekend te maak terwyl hy op die aarde was en nadat hy teruggekeer het hemel toe. – Johannes 7:16; Openbaring 1:1.

 “In die begin” verwys na die tyd toe God sy skeppingswerk begin het en hy die Woord geskep het. Daarna is die Woord deur God gebruik om alle ander dinge te skep (Johannes 1:2, 3). Die Bybel sê dat Jesus “die eersgeborene van die hele skepping” is en “deur middel van hom is alle ander dinge . . . geskep”. – Kolossense 1:15, 16.

 Die frase “die Woord was ’n god” wys dat Jesus, voordat hy aarde toe gekom het, magtig was en ander eienskappe gehad het wat soortgelyk is aan God se eienskappe. Hierdie beskrywing pas by hom as gevolg van sy rol as God se Woordvoerder en sy unieke posisie as die eersgebore Seun van God deur wie God alle ander dinge geskep het.

Konteks van Johannes 1:1

 Die Bybelboek Johannes is ’n verslag van Jesus se aardse lewe en bediening. Die eerste verse van die eerste hoofstuk beskryf Jesus se voormenslike bestaan, sy unieke verhouding met God en sy belangrike rol in God se handelinge met die mens (Johannes 1:1-18). Hierdie besonderhede help ons om te verstaan wat Jesus gedurende sy bediening op die aarde gesê en gedoen het. – Johannes 3:16; 6:38; 12:49, 50; 14:28; 17:5.

Verkeerde idees oor Johannes 1:1

 Verkeerde idee: Die laaste woorde in Johannes 1:1 moet vertaal word met “die Woord was God”.

 Feit: Hoewel baie Bybelvertalers die vers op hierdie manier vertaal, besef ander dat dit op ’n ander manier vertaal moet word. In die oorspronklike taal verskil die twee gevalle waar die woord “God” (Grieks the·osʹ) in Johannes 1:1 voorkom, grammatikaal van mekaar. In die eerste geval staan die Griekse bepalende lidwoord voor die woord “God”, maar in die tweede geval is daar nie ’n lidwoord nie. Baie geleerdes sê dat die feit dat daar nie ’n bepalende lidwoord voor die tweede the·osʹ staan nie, belangrik is. Byvoorbeeld, The Translator’s New Testament sê oor die feit dat daar nie ’n lidwoord is nie: “As gevolg hiervan is die tweede gebruik van Theos (God) soos ’n byvoeglike naamwoord of ’n beskrywing sodat die frase ‘die Woord was goddelik’ beteken.” b Daar is ander geleerdes c en Bybelvertalings wat dieselfde verskil beklemtoon.

 Verkeerde idee: Die vers wys dat die Woord dieselfde is as God die Almagtige.

 Feit: Die uitdrukking “die Woord was by God” wys dat twee aparte persone in hierdie vers bespreek word. Dit is nie moontlik vir die Woord om “by God” te wees en terselfdertyd God die Almagtige te wees nie. Die konteks bevestig ook dat die Woord nie God die Almagtige is nie. Johannes 1:18 sê: “Geen mens het God al ooit gesien nie.” Maar mense het die Woord, Jesus, gesien, want Johannes 1:14 sê: “Die Woord het ’n mens geword en onder ons gewoon. Ons het sy heerlikheid gesien.”

 Verkeerde idee: Die Woord het nog altyd bestaan.

 Feit: Die “begin” waarna hierdie vers verwys, kan nie “die begin” van God beteken nie omdat God nie ’n begin gehad het nie. Jehovah d God is “van ewigheid tot ewigheid” (Psalm 90:1, 2). Maar die Woord, Jesus Christus, het ’n begin gehad. Hy is “die begin van die skepping deur God”. – Openbaring 3:14.

 Verkeerde idee: Om die Woord “’n god” te noem, bevorder die lering van politeïsme, die aanbidding van baie gode.

 Feit: Die Griekse woord vir “God” of “god” (the·osʹ) stem dikwels ooreen met die Hebreeuse woorde ʼel en ʼelo·himʹ. Hierdie Hebreeuse woorde word gebruik in wat gewoonlik die Ou Testament genoem word en beteken basies “die Magtige; die Sterke”. Dit word gebruik om na die almagtige God, ander gode en selfs mense te verwys (Psalm 82:6; Johannes 10:34). Die Woord is die een deur wie God alle ander dinge geskep het, so hy kan beslis as ’n magtige beskryf word (Johannes 1:3). Wanneer die Woord as “’n god” beskryf word, stem dit ooreen met die profesie in Jesaja 9:6. Dit voorspel dat die een wat God gekies het, die Messias of Christus, “Magtige God” (Hebreeus ʼEl Gib·bohrʹ) genoem sou word, maar nie “God die Almagtige” (ʼEl Shad·daiʹ, soos in Genesis 17:1; 35:11; Eksodus 6:3; Esegiël 10:5) nie.

 Die Bybel bevorder nie die lering van politeïsme nie. Jesus Christus het gesê: “Jy moet Jehovah jou God aanbid en hom alleen dien” (Matteus 4:10). Die Bybel sê: “Want selfs al is daar sogenaamde gode, of dit nou in die hemel of op die aarde is, net soos daar baie ‘gode’ en baie ‘here’ is, is daar in werklikheid vir ons net een God, die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe. En daar is een Here, Jesus Christus, deur wie alles is, en deur wie ons lewe.” – 1 Korintiërs 8:5, 6.

a Bewoording is dieselfde in die King James-vertaling van die Bybel.

b The Translator’s New Testament, bladsy 451.

c Die geleerde Jason David BeDuhn verduidelik dat die feit dat daar nie ’n bepalende lidwoord is nie, die twee gevalle van “God” “so verskillend maak as wat ‘’n god’ van ‘God’ is in Engels”. Hy voeg by: “In Johannes 1:1 is die Woord nie die enigste ware God nie, maar ’n god, of goddelike wese.” – Truth in Translation: Accuracy and Bias in English Translations of the New Testament, bladsy 115, 122 en 123.

d Jehovah is die persoonlike naam van God. – Psalm 83:18.