Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Johannes 14:6 – “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”

Johannes 14:6 – “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”

 “Jesus het vir hom gesê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.’” – Johannes 14:6, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” – Johannes 14:6, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Johannes 14:6

 Iemand wat die Vader, Jehovah a God, wil aanbid, moet Jesus se lewensbelangrike rol erken.

 “Ek is die weg.” Jesus voorsien “die weg” om God op ’n aanvaarbare manier te aanbid. Byvoorbeeld, mense wat tot God bid, moet dit in Jesus se naam doen (Johannes 16:23, 24). Jesus se dood maak dit vir mense moontlik om met God versoen te word, of om weer sy goedkeuring te kry (Romeine 5:8-11). Jesus het ook die voorbeeld gestel wat mense moet volg as hulle God gelukkig wil maak. – Johannes 13:15.

 “Ek is . . . die waarheid.” Jesus het altyd die waarheid gepraat en dit uitgeleef (1 Petrus 2:22). ’n Persoon wat na hom geluister het, kon die waarheid oor God leer (Johannes 8:31, 32). Jesus was ook “die waarheid” omdat hy Bybelprofesieë vervul het. Daarom het hy God se beloftes ’n werklikheid gemaak. – Johannes 1:17; 2 Korintiërs 1:19, 20; Kolossense 2:16, 17.

 “Ek is . . . die lewe.” Jesus het sy lewe gegee sodat diegene wat geloof in hom beoefen, die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16, 36). Hy is ook “die lewe” vir diegene wat dood is omdat hy hulle weer lewend sal maak. – Johannes 5:28, 29; 11:25.

 “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” Mense wat ’n goedgekeurde verhouding met God wil hê, moet Jesus se unieke rol aanvaar. Hulle doen dit deur tot God in Jesus se naam te bid, en so wys hulle dat hulle Jesus Christus se gesag erken (Johannes 15:16). Hulle erken ook dat redding net moontlik is as gevolg van Jesus. – Handelinge 4:12; Filippense 2:8-11.

Konteks van Johannes 14:6

 Johannes hoofstuk 13 tot 17 bevat Jesus se raad wat hy sy 11 getroue apostels op die aand voor sy dood gegee het. In hoofstuk 14 het Jesus sy dissipels aangemoedig om geloof in hom en sy Vader te beoefen en om hulle te gehoorsaam en lief te hê (Johannes 14:1, 12, 15-17, 21, 23, 24). Hy het gesê dat hy ’n hegte verhouding met sy Vader het (Johannes 14:10, 20, 28, 31). Hoewel Jesus kort voor lank terug hemel toe sou gaan, het hy sy dissipels verseker dat hy hulle nie in die steek sou laat nie (Johannes 14:18). Hy het hulle ook ’n “helper” belowe, wat hy beskryf het as “die heilige gees, wat die Vader in [sy] naam sal stuur” (Johannes 14:25-27). Op hierdie en ander maniere het Jesus sy volgelinge voorberei op die uitdagings wat hulle in die toekoms sou hê.